Johan Stemmet - 2008-05-15
Wat maak die lirieke van ’n liedjie goed?
Vanselfsprekend ’n goeie, sinvolle struktuur en rym, en dan natuurlik die tema wat jy aanpak en hoe jy dit aanspreek. Jou speel met en gebruik van die taal om ’n gedagte op ’n interessante manier oor te dra maak jou liriek anders as dié van die volgende skrywer.
Watter vyf albums behoort elke musiekliefhebber op sy/haar rak te hê?
Rod McKuen se The Sea, The Earth, The Sky. Enige Jacques Brel: “L'homme de la mancha en ne me quitte pas” (“He goes to the limit of his strength because, through his singing, he expresses his reason for living and each line hits you in the face and leaves you dazed” - Edith Piaf.) Songs van Leonard Cohen en sy Songs from a Room. Dan kan mens nie verkeerd gaan met die liedjies van Chris Torr wat Laurika opgeneem het nie, en natuurlik ook nie met ’n Koos Dup-album, asook een van Anton Goosen se vroeëre albums nie.
Dink jy die skryf van lirieke is die digkuns van die nuwe geslag? Is daar tegniese vaardighede wat bemeester moet word om 'n goeie liriekskrywer te wees?
Hang af of jy jou in ’n gedig of ’n liedjie wil uitdruk. ’n Liriek is nie ’n gedig nie. ’n Liriekskrywer steun baie sterk op struktuur, maat, ritme en rym wat óf getoonset moet word óf aan die struktuur van ’n melodie moet voldoen. Of jy skilder of ’n melodie skryf of ’n liriek skryf of enige vorm van kuns beoefen, daar is vaardighede wat aangeleer moet word. Daarna is dit wat jy van die vaardighede kan maak om jou te onderskei van ander skrywers.
Oor die wisselwerking tussen musiek en lirieke: Kan die regte musiek lirieke goed maak of benodig musiek goeie lirieke om dit suksesvol te maak? Hoe het die een die ander een nodig?
Die twee gaan hand aan hand. Sinatra het gesê: "It’s not the singer, it’s the song." ’n Goeie liedjie kan ’n ster van ’n gemiddelde sanger maak, maar ’n goeie sanger gaan nie ’n treffer van ’n swak liedjie maak nie. Goeie lirieke gaan nie ’n swak wysie red nie en ’n goeie wysie gaan nie posvat met swak lirieke nie. Daar is wel uitsonderinge, veral met sekere kommersiële musiek waar dit om die ritme/"vibe" gaan en wat die sanger te sê het nie eintlik van belang is nie. Solank die "song" stamp, is die saak reg!
Is die skryf van lirieke vir jou 'n emosionele of logiese ding? Het jy maw eers inspirasie nodig om te kan skryf? Wat dryf jou om lirieke te skryf?
Inspirasie is net ter sprake by die bepaal van die tema wat jy gaan aanpak. Daarna is dit perspirasie. Sou jy met ’n wysie sit waarvoor jy lirieke gaan skryf, sal die atmosfeer/“mood” van die wysie ’n tema by jou laat ontstaan. Daarna is dit jou vaardigheid om iets daarvan te maak. Weet eers wat jy wil sê en besluit dan hoe jy dit gaan sê, beplan die struktuur en "vat hom dan soos hy kom", reël vir reël! Dit help geweldig as mens ’n goeie "hookline" het waarom jy kan bou. Die "hookline" word gewoonlik die titel van jou liedjie.
<< Terug na Liriekfabriek <<