Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans > ATKV-huldiging: Charles Fryer

ATKV-huldiging: Charles Fryer


Danie Botha - 2008-05-06
Hierdie toespraak is deur Danie Botha gelewer tydens die ATKV se huldiging van die veteraan-skrywer en -uitgewer Charles Fryer.

Ds Symington, Elias Nel, gaste, Loreinne en Charles

Charles, ons is vanaand bymekaar om te sê: In jou 62 jaar het jy baie beteken vir die Afrikaanse taal en kultuur, vir ons letterkunde en toneel.

Charles het grootgeword in ʼn wêreld wat vele ander ook tot skryf gebring het: Calvinia se kontrei, die Hantam. Die wêreld van Leipoldt, Elise Muller, Boerneef, Rona Rupert, Anna Louw, Elias Nel, Johnita le Roux. Maar daardie jeugjare kon ʼn mens eers later deur Charles se poësie leer ken, en in ʼn aangrypende verhaal soos “Dokter Niemeyer”, van ʼn meisie in haar liefde verlaat, maar steeds met die hoop haar geliefde Dokter Niemeyer is op pad. “Dan het haar swaar lyf soos ʼn rivierboot in Waterstraat opgestoom, en by snuffelplekke het haar skepperke se ketting snaarstyf gestaan.” As jy vandag op Calvinia kom, sien jy die einste Waterstraat. Die uiteinde van die verhaal sal ek nie verklap nie.

In die laat jare sestig maak ek kennis met Charles Fryer, my senior in Helderberg-koshuis op Stellenbosch. Hy is die grote Opperman se assistent in die Departement Afrikaans-Nederlands. Ons het hom bewonder as ʼn kenner van die werk van Breyten Breytenbach. Het jy goed gevaar by Charles met ʼn mondeling oor ʼn voorgeskrewe boekelys, was jy op pad na ʼn goeie eerstejaarpredikaat. Vir my het Charles uitgevra oor WEG Louw.

In dié tyd is Charles ook dramastudent en vertolk hy belangrike rolle vir en saam met die toneelegpaar Fred Engelen en Tine Balder by die Dramadepartement, byvoorbeeld in Macbeth en professioneel in Yerma. Een van Charles se bekendste gedigte handel oor Fred Engelen: “Dood van ʼn akteur”. Hy skryf die drama Vampier, waaroor ons juniors getwyfel het: erns of opstuurdery? Dit is dié tyd dat Charles die hele, maar hele, “Die Hond van God” memoriseer vir die voordragdosent Rina Botha, en toe is sy die dag nie by die klas nie! Toe reeds was Charles kampusdigter saam met Fanie Olivier en EWS Hammond. Laasgenoemde se werk sou hy later publiseer. Daar was ook ander, maar hulle drie het bundels gepubliseer.

Daarna Charles die onderwyser. Ek het altyd verneem dat hy ʼn inspirerende Afrikaans-onderwyser was, veral vir voornemende skrywers. By Tafelberg-Uitgewers begin ek hom gebruik as vryskutkeurder, veral van poësie. Hy word aangestel by Tafelberg, sal afdelingshoof word, letterkundige hoofredakteur en uiteindelik uitgewer. Die eerste dag by Tafelberg was daar nie ʼn kantoor vir hom nie. Later kon hy darem praat in “Rooidag:stad” oor sy “smal kantoor. Die potplant in die venster/ blom pienk gesiggies/ plat teen die ruit”. Van die begin af was dit vir my opvallend hoe hy en sy vrou, Loreinne, wat ons ook as vryskut begin betrek het, so ʼn wonderlike kennis van Afrikaans het. Met hulle onderwysopleiding het hulle presies geweet wat kan en mag.

En nou dink ek aan die lange, lange ure wat Charles agter manuskripte deurgebring het. Ons boekeredakteurs is ʼn relatief klein beroepsgroepie. Ons het nie noodwendig die stres om saam met ʼn prins Harry teen die Taliban te veg nie. Nee, ons stres, ons fisieke en geestesuitputting neem byna ongemerk toe. Daardie stiplees, daardie konsentrasie, die wik en weeg, die verantwoordelikheid: Gaan my voorstel vir verandering die teks verbeter of verswak? Moet my eie voorkeure en lewensuitkyk nie maar tru staan nie? Daar’s die druk van keerdatums wat gehaal moet word; jy moet soveel vir ander departemente doen dat jy nie by jou eintlike werk uitkom nie. Jy moet veg vir goeie omslae.

Maar Charles het ook sekerlik die opwinding van redakteurskap gesmaak: dat jy groot letterkunde lees vóór soveel ander mense; voor die letterkundiges en leeskringmense raak jy in vervoering, en nou is dit jou taak en verantwoordelikheid om dit saam met die skrywer met groot omsigtigheid nog helderder te maak.

Daar’s die skrywers wat jou lewe met hulle vriendskappe verryk. Charles het dikwels gepraat van hoe ʼn bevrediging dit is om weg te ry ná ʼn werksbesoek of net ʼn kuier en dan in sy truspieëltjie ʼn ingenome, gelukkige skrywer te sien waai.

Charles het deur die jare met nagenoeg 115 skrywers saamgewerk. Ek beweeg op gevaarlike terrein wanneer ek name noem; aanvaar asseblief dat ek nie wil aanstoot gee nie. Ek wil graag ʼn beeld vir Charles se werk aanhaal uit een van sy groot spanmaats Dalene Matthee se romans. Uit Kringe in ʼn Bos. Saul word ʼn vakleerling by die meubelmaker op Swellendam, oom Abraham Steyn. Ná ʼn ruk is oom Abraham gelukkig met die vakleerling, maar hy wys Saul daarop hoe baie verstand en ʼn goeie oog jy nodig het om ʼn spitspoot en ʼn boogpoot te maak

Met sy baie verstand en sy goeie oog het Charles baie "spitspote" help maak – poësie van TT Cloete, Sheila Cussons, Petra Müller, Trienke Laurie, George Weideman; kortverhale van E Kotze, Petra Müller, Rachelle Greeff; drama, Pieter Fourie; die skolebloemlesings en ander wat hy saamgestel het. Hy wat knaend met ʼn mens kan spot sodat dit ʼn sepie word, hy wat eers meewarig glimlag en dan, soos Annelie Botes sou sê, uit sy milt uit kan lag, hy met sy eie joemorsin het humoriste spitspote laat maak. Daar’s ook die spitspoot van sy eie digbundel Rooiwielwa, sy verspreide kortverhale, en enkele toneelstukke. Hy het in ʼn stadium toneelresensies gelewer, my Marlon Brandon genoem, die jóng Marlon Brando, ʼn televisierubriek hanteer en vir Die Kerkbode geskryf (waarvoor hy bekroon is). Hy het ook "boogpote" help maak: die romans van ʼn Elsa Joubert, Etienne van Heerden, Dalene Matthee, Marzanne Leroux-Van der Boon en ʼn Dan Sleigh. Sy eie boogpoot is die passiespel wat so baie, baie van ons diep geraak het: Só moes die liefde ly. O, as oom Pietie Loubser eers die woorde van Johannes so magtig teen die gewelwe van die Kango-grotte laat opklink! Van die eerste opvoering sou ek nooit die skaretoneel vergeet met hier voor jou ʼn verlamde seuntjie nie. En die apostels wat uit alle rigtings kom en die goeie boodskap so duidelik aan ons bring. Daar is eerskomende Sondagaand 16 Maart geleentheid om na ʼn videoprogram van Só moes die liefde ly te gaan kyk. Sondag, 16 Maart om 19:00 in die NG Kerk De Tyger in Hannes Louw-straat, De Tyger.

U stem seker saam dat Charles Fryer hierdie toekenning van die ATKV wel deeglik verdien. As u nog oortuiging kort, ervaar nou ʼn program oor die skryfkuns van Charles Fryer. Alwena van der Vyver, Helena Conradie en Bram Potgieter is die kunstenaars.