Helene de Kock - 2008-04-08
Dieper water
Helene de Kock
Die eerste vraag wat leeskringe en lesers gewoonlik vra, is hoe en waar het die verhaal begin? Wat was die inspirasie vir Dieper water?
Die stimulus vir die roman was my idee dat daar ’n geslag is wat voor of tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore is wat noodgedwonge moes gewoond raak aan paradigmaskuiwe of vervreemd raak van hul leefwêreld. Hulle moes byvoorbeeld die digitale en kommunikasie-revolusie leer begryp. Hulle is ook blootgestel aan die hibridisering van werklikheidsbeelde, aangesien hulle sowel die naoorlogse jare as die huidige era rondom die millenniumwending ervaar het. Hul leefwêreld was, na alle waarskynlikheid, blootgestel aan die meeste veranderings en nuwighede waaraan enige generasie nog ooit blootgestel was. Hulle het byvoorbeeld op wetenskaplik-tegnologiese gebied baie dinge vanaf die wye gebruik van plastiek tot die ontdekking en gebruik van antibiotika, hartoorplantings, die landing op die maan en die ontdekking van DNS, ensovoorts beleef. Hulle moes leer om met tikmasjiene te werk en toe rekenaars bemeester. Hulle moes van slingertelefone tot die mees moderne selfone en ipods leer gebruik. Of agterbly en verstar.
Hierdie generasie wou ek graag in ’n ontspanningsroman vergestalt. Dit het meegebring dat die titel van my MA (waarvan die roman deel was) toe die volgende was: Dieper water: die skep van werklikheidsbeeld in ’n komplekse ontspanningsroman en ’n skryfteoretiese besinning daaroor. Dit het tot gevolg gehad dat ek verskillende vorme van tydgees (postkoloniaal en postmodern) in die roman moes uitbeeld. Ek het dus besluit om die roman oor ’n eeu te laat afspeel. Drie (en meer) storielyne sou nodig wees om dit te kan doen, sodat ek die verskille in vorme van werklikheidsbeeld of vorme van tydgees daar kon stel. Die karakters (vernaamlik die hoofkarakters Rachel en Hektor) sou sedert die Tweede Wêreldoorlog tot en met die einde van die millennium blootgestel wees aan verskillende vorme van tydgees wat hul lewens ten seerste sou beïnvloed.
Maar - dit was nog net die idee. Toe moes ek drie storielyne uitdink wat hierdie tema sou kon dra.
Dieper water is dig verweef en die familiegeheime word so langsamerhand ontbloot dat mens met die lees dikwels voel jy lees van werklike mense en plekke - miskien juis omdat dit duidelik is dat jy ook intens navorsing gedoen het. Waar het jy jou stof vir die verskillende stories gaan haal? Is fiksie plek-plek hier op werklikheid geskoei?
Die roman se storielyne is geheel en al fiktief. Uitgedink omdat ek moes. Ek moes immers ’n roman skryf as deel van ’n tesis. Die drie storielyne (daar is eintlik meer) is werklik bloot gefabuleer. Maar, in énige fiksie is daar elemente van die werklikheid. Daar is byvoorbeeld die werklikheid van my verlies. Ek het, alhoewel dit geensins ’n treurige boek is nie, byna onbewustelik die dood van my oudste kind hierin ingewerk. Verlies is dus ’n tema in die boek. Enige skrywer skryf ook uit herinnering en ervaring. Elemente van my herinnering aan die Oos-Vrystaat, waar ek lank gewoon het, asook my ervarings met mense oor die algemeen vind sekerlik neerslag in die boek soos in enige boek van my. Daar is ook die soeke na identiteit wat in Dieper water voorkom. Feitlik almal van ons in die Nuwe Suid-Afrika is op soek na ’n alternatiewe identiteit wat ons in ons eie land gemakliker sal laat inpas. Dit wat ek dus uit ervaring en herinnering met my saamdra, plus, soos George Weideman dit stel, “die wilde perd van die verbeelding”, het geïntegreer en uiteindelik die verhaal gevorm.
Dis ’n interessante kwessie hierdie, van wat werklik ís en wat nié. Clara Reeve het in 1785 al gesê: “The novel is a picture of real life and manners, and of the time in which it is written.” Enige roman se plot weerspieël dus ’n bepaalde beeld van die werklikheid en hopelik doen die plot van die roman Dieper water dit ook. Enige skrywer se siening van die lewe vind neerslag in sy of haar skryfwerk en my eie beeld van die werklikheid, asook ander vorme van tydgees wat ek in my lewe ervaar het, het sekerlik deel van die grondgedagte of temas van Dieper water geword.
Die volgende vraag sluit aan by die vorige een, want ek wil graag oor jou karakters praat. Waar gaan soek jy hulle? Hoeveel van so ’n karakter begin by werklike persone en “steel” jy so nou en dan van/by jou vriende?
Nee, ek steel nooit by my vriende nie. Ek voel nie gemaklik met die idee dat ek mense wat ek ken, probeer naboots nie. Dat sekere eienskappe van mense uiteindelik in die een of ander karakter neerslag vind, is seker ook waar, maar dit word nie bewustelik gedoen nie. My karakters word wel vooraf deeglik uitgedink. ’n Skrywer moet sy/haar karakters baie goed ken voordat daar geskryf word. Ek moes toe karakters skep wat in Dieper water sou pas, byvoorbeeld Ouma Ragie, wat tydens die Anglo-Boereoorlog geleef het, en Rachel Froneman, wat beide die postkoloniale tydperk en die postmoderne tydperk beleef. Sy moes byvoorbeeld soepel genoeg van aard wees om in verskillende eras aan te pas – al sou sy ook, nes die ander karakters in die roman, teen die draai van die millennium begin soek na ’n alternatiewe identiteit. Die ander karakters is ook so geskep en voorgestel sodat hulle in die verhaal pas. Dit mag nou vreemd klink, maar die verhaallyne het ook veel te danke aan die karakters self. Daar is noodwendig en onvermydelik ’n intieme wisselwerking tussen verhaal en karakters.
So ’n skelm vraag tussenin miskien, en heeltemal onregverdig: Wie is jou gunsteling-karakter in Dieper water en hoekom?
My gunsteling-karakter is Hektor. Miskien omdat hy sterk en tegelyk weerloos is. Hy is dislekties en sukkel om sosiaal aan te pas. Tog het hy onwrikbare integriteit. Maar hy is ook uiters hardkoppig en trots. Dit veroorsaak vir hom baie verdriet. Die naam Hektor was vir my aantreklik. ’n Naam wek assosiasies op wat dan versterk word deur eienskappe en kenmerke wat deur ’n skrywer aan die karakter toegeken word. “’n Karakter begin as ’n ‘oop ruimte’ in die teks, benoem deur ’n naam; daarvandaan word daar algaande, op ’n verskeidenheid van maniere eienskappe, attribute ens in- en aangevul waarvolgens die leser ’n geheel opbou” (Brink). Hektor se naam kan byvoorbeeld assosiasies met die historiese Hektor van Troje oproep, wat goed mag wees, want die Hektor in Dieper water is ook ’n sterk, brawe tipe met ’n skynsel van die tragiese. Hektor se naam vorm ook by my ’n kragtige assosiasie van ’n sterk en tog soepel en deernisvolle karakter. Deur verder voorgestel te word as iemand wat dislekties, maar daadkragtig en stoer is, word hy effens weerloos en tog sterk gemaak. Hierdie opbou van identiteit deur middel van naamgewing het weer aanleiding gegee daartoe dat ek as skrywer die karakter se siening van die werklikheid kon begin waarneem. Dán begin ’n karakter lewe kry.
Die verhaal speel af in ’n sterk patriargale stelsel, maar jou manskarakters word juis déúr die vroue vertel en verkry nooit werklik self stem nie. Hoekom het jy gekies om die verhaal juis deur vroue te vertel?
Ek kom uit ’n familie met sterk manlike figure wat ook verwag dat hul vroue sterk opinies moet hê. Ek is gelukkig groot gemaak om my sê te sê en my man, Jos, sal dalk bekommerd raak as ek te stil is. Ek dink ek het intuïtief gekies om die verhaal deur vroue te vertel omdat ek ’n vrou is en graag by monde van vroue praat.
Dieper water speel oor meer as drie generasies af, van die Anglo-Boereoorlog tot tien jaar na apartheid. Die mans in jou roman is nogal uitgesproke oor die politiek. Ek dink byvoorbeeld aan die gesprekke tussen eers Hektor en Jan, en later Deon en die twee Van der Merwe-broers. Nie dat die vroue nie ook sterk opinies het – en uitspreek – nie, dikwels uit “plek” uit. Hulle voel die politiek meer aan die lyf as die mans. Wou jy so klein bietjie kommentaar lewer op die politiek en die toestand in die land? Of het jy dit juis gebruik om te wys hoe weerloos ons as mense is in ’n wêreld wat voortdurend verander en terugloop op sy eie spoor?
Ek wou uiteraard ’n bietjie kommentaar lewer op die politiek, ook omdat die tesis wat oor die boek geskryf is, oor die skep van tydgees in ’n roman gaan. Die dialoog wat in die verskillende tydperke gebesig word, kon onder andere dit help doen. Ek kon vorme van tydgees probeer weerspieël deur die verskillende vorme van Afrikaans wat gebesig is, te probeer weergee. Ouma Ragie se Afrikaans is byvoorbeeld heelwat stywer as Nadia, die jong predikant, se loslit Afrikaans. En ja, ek wou ook wys hoe weerloos ’n mens is te midde van die veranderinge wat in die makrokosmos gebeur. Jy kan nooit net in jou plekkie waar jy woon, jou mikrokosmos, dink jy’s veilig nie. Die hele wêreld om jou beïnvloed jou klein lewe, of jy dit nou wil hê of nie.
Waarom die titel Dieper water? Wat simboliseer water vir jou en wat wou jy met die titel sê?
Baie skrywers skryf graag met ’n titel voorop in gedagte. Ek is een van hulle. Ene Rozelle het gesê: “Your title is your very first offering to your reader.” Ek het deur jare lange ondervinding vasgestel dat ek moeilik skryf sonder ’n titel wat vooraf uitgedink word. Toe die idee van hierdie roman begin ontvou, het ek dadelik aan ’n plaas met die naam Diepwater gedink. Die naam het my bloot geval en aangesien daar ’n (uitgedinkte) spruit met diep poele op die plaas sou wees, het dit soos die gepaste naam vir die plek geklink waar ek ’n storie wat oor ’n lang tydperk strek, kon laat afspeel. Op dié denkbeeldige plaas, Diepwater, as basisruimte, sou daar dan drie verhale in drie verskillende periodes afspeel.
Ek het gedink dat die titel Dieper water moontlik beelde en assosiasies by die leser kan oproep wat hom/haar kan prikkel om die boek te begin lees. Water is so ’n metafoor wat organies uit hierdie konteks kon ontwikkel. Die titel kon hopelik dus reeds ’n beeld by die leser oproep. Die titel Dieper water bevat moontlik sensoriese beskrywing wat ’n aanspraak op die leser se sintuie mag maak.
Die titel vir hierdie roman was vir my dus byna van meet af aan Dieper water. Nie alleen sou dit dui op die plek Diepwater met sy diep spruit nie, maar die Dieper in Dieper water sou hopelik ook assosiasies wek van simboliese graadverskille in lief en leed. Dit kan ook dui op verskillende tydperke wat dieper die verlede in lê. Ek het gevolglik gedink die titel Dieper water sou wel aanduidend wees van die inhoud van die roman. Die eerste vlak van kommunikasie tussen die skrywer en die leser is dikwels die titel van die werk, waardeur sekere verwagtinge geskep word. Ek sou dus hopelik reeds deur die titel iets soos water, wat ’n sintuiglike aanklank het en soms as simbool kan dien, met die leser kon deel.
Jy self is al ook deur diep water. Hoe het dit hierdie boek beïnvloed?
’n Skrywer skryf uit herinnering en ook deur ervaring. Die dood van ons oudste seun in ’n motorongeluk het vir my die begrip verlies vir altyd oopgemaak. Ek ken die onnoemlike verskrikking van rousmart, maar Goddank ook die onweerlegbare vertroosting van die Here. Ek glo in Christus en sy opstanding en daarom sal dit altyd in my werk iewers ’n weerklank vind. Daarby wil ek nou onmiddellik ook sê dat ’n Christen-skrywer se werk ook áltyd aan die estetiese eis moet beantwoord. Geloof alleen kan nie ’n goedgeskrewe roman voortbring nie. Daarom, ja, verlies is sekerlik ’n tema in Dieper water, maar ek hoop dat dit so integraal deel is van die storielyn dat die leser dit nie daaruit sal kan haal sonder dat die storie skipbreuk ly nie. Dit wat ’n skrywer onthou en ervaar, asook die skrywer se emosies, moet muteer en geheel en al ánders word voordat dit in ’n fiktiewe verhaal opgeneem kan word.
Ek weet jy het per geleentheid genoem dat skryf vir jou terapeuties is. Hierdie verhaal is eintlik in wese vir my ’n verhaal van “heelword” en vergifnis. Rachel skryf haar lewensverhaal op vir haar kleindogter, Nadia, en kom deur die proses van skryf en herlees tot heelwat insigte omtrent haar lewe, die liefde en verhoudings. Jy het ’n paar jaar terug in ’n onderhoud gesê: “’n Mens leer nie net die verhaal van ’n goeie boek ken as jy dit lees nie, maar jy leer jouself bo alles ken. Jy ontdek jou eie verlangens en belangstellings, begeertes en drome. Jy leer in ’n goeie boek wat liefde en wysheid is, hoe deernis behoort te wees, wat alles tot rampe kan lei, hoe om regtig méns te wees en waar om na God te soek.” Dink jy elke storie of boek bring sy eie insig en wyshede? Indien so, wat het Dieper water jou geleer?
Die skryf van die roman was heel moontlik terapeuties omdat dit geskryf is in ’n tyd toe ek rou van binne was. Maar ek moes die boek skryf omdat dit deel van die tesis was. Ek moes toe juis versigtig wees om nie alles wat ek voel, in die verhaal te wil uitstort nie. Dit sou in so ’n geval na alle waarskynlikheid onpubliseerbaar gewees het. Miskien het die skryf van die boek my as skrywer juis geleer om elke woord binne sy konteks te weeg. Mý emosies was nie ter sake nie; die karakters s’n wel. Die skryf van die boek het my opnuut geleer dat ’n mens in kompartemente kan lewe. Dit was my pa, ds Herman van Schalkwyk, se sêding as die lewe begin moeilik raak. Leef in kompartemente, dit wil sê, leef in die oomblik. Leef ten volle daar waar jy besig is. Rou as jy wil rou, skryf as jy wil skryf, lag as jy wil lag. Ek dink dit het my ook gehelp om my balans te hou. Om my geheel en al in te dink in die lotgevalle van die karakters van Dieper water. Ek dink dis wat mens verbeelding noem.
Jy is al ’n gesoute skrywer met meer as 30 titels onder jou naam. Jy’t jeugboeke, tydskrifverhale, romans en geestelike boeke geskryf, en ook al kreatiewe werkswinkels en -klasse aangebied. Vertel ons bietjie van die skryfproses. Hoe het jy hierdie verhaal geskryf?
Die vertelde tyd in Dieper Water strek oor byna ’n eeu. Om hierdie logge tydsduur te akkommodeer, het ek drie verhaallyne aan die verhaal gegee wat, alhoewel eers chronologies geskryf, later achronologies vervleg is. Ek het eerste die briewe uit die Anglo-Boereoorlog geskryf, toe die verhaallyn uit die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog, en daarna, en heel laaste, die verhaallyn uit die era net na 1994 tot en met 1998. Toe het ek die drie verhaallyne vervleg. Die boek is ook nie in hoofstukke opgedeel nie, maar die "boek" binne die boek, naamlik Rachel Froneman se outobiografie, Diepwater, is wel in hoofstukke ingedeel. Daarin word dan ook die briewe van Ouma Ragie vervat.
Wat gebeur met jou as jy besig is met ’n boek? Wat lees jy? Word karakters vir jou soos werklike mense in jou huis of kan jy dit alles afstandelik hou?
Ek kan gelukkig alles in kompartemente hou. Ek het ’n bedrywige lewe wat ook van my tyd eis. Ek is ’n vrou, ’n ma en ’n ouma - en dit hou my voete op die grond. Ek lees áltyd. Soms drie boeke tegelyk. Ek is nou besig met twee: Asbesmiddag en (vir die soveelste maal) Modern art and the death of a culture.
Ek lees eintlik alles waarop ek my hand kan lê, maar wanneer ek met ’n spesifieke boek besig is, dws gedurende daardie paar ure, is ek in die oomblik. Ek kan goed konsentreer en op ’n spesifieke saak fokus, maar soos gesê, ek leef in die oomblik. Wanneer ek dus klaar geskryf het vir die dag, is ek letterlik en figuurlik klaar daarmee. Ek het ’n lewe en ek sal niks daarvan hou as karakters daarmee inmeng nie. My skryfwerk is vir my baie belangrik. Ek móét skryf. Maar ek kan dit afstandelik hou.
Dink jy die ontspanningsroman word in Afrikaans behoorlik as genreprosa behandel en geresenseer?
Nee, ek dink nie so nie. ’n Ontspanningsroman is genreprosa wat as sodanig behandel behoort te word. Ontspanningsromans verg net soveel vernuf, vakmanskap en deurdagtheid as ’n literêre roman. Goeie gewilde prosa is inderdaad ’n genre wat, soos wat die naam impliseer, prosa is wat nie minderwaardig is teenoor die letterkunde nie. Dit is uit eie reg ’n genre wat miskien meer op vermaak ingestel is. Van Coller (1990) meen dat daar “oorgange, ooreenkomste en raakpunte” is tussen letterkunde en populêre literatuur. Uit watter hoek goeie gewilde prosa ook al beskou word, dit bly ’n vereiste dat dit inderdaad goed geskryf moet wees. Dit wil sê die skrywer van ’n goeie ontspanningsroman moet die leser kan vermaak en terselfdertyd ’n diepgang in sy/haar roman kan inweef, sonder om toeganklikheid in te boet. Bo alles verg dit dat die skrywer betrokke moet wees by sy/haar roman en aan die estetiese eis van die genre moet voldoen. Dit moet verkieslik “verteerbaar maar terselfdertyd boeiend” wees (Van Heerden).
Ek dink ook ’n goedgeskrewe ontspanningsroman behoort ’n behoorlike resensie te kry waar daar aandag geskenk word aan die skrywer se hantering van karakterisering, ruimte-uitbeelding en die gebruik van die ander skeppingselemente. ’n Goeie ontspanningsroman kan wel literêre elemente hê.
Om af te sluit, jy het per geleentheid gesê “een storie volg noodwendig op ’n ander”. Is daar ’n volgende boek in die pyplyn?
Ja, ek werk aan nog so ’n dik roman, maar ek wil liefs nie te veel sê nie. Die boek self moet maar later praat. Wat ek wel kan sê, en waaroor enige skrywer met my sal saamstem, is dat skryf nie ’n stokperdjie is nie. Dis harde werk wat vakmanskap vereis.