![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Kleinboer - 2008-03-26 *
My ma was nie depro in die sin van neerslagtig nie, maar depro in die sin dat sy ’n dogtertjie was in die depressiejare van die 1930’s, toe die ekonomie geknak en mense noustrop getrek het, toe kommoditeite soos meel, suiker en vleis so skaars was dat mense gerantsoeneer was en allerlei planne moes maak om hulle lewensmiddele langer te laat hou, toe kinders dikwels klere moes dra wat tuis uit meelsakkies gemaak is. Iets daarvan het in my ma bly sit, want selfs in latere jare van relatiewe voorspoed het sy steeds oormatig spaarsamig opgetree. As die brood in ons huis amper klaar was en sy ons gestuur het om ’n varse te gaan koop, het sy altyd gemaan: “Maar eet eers die oue op!”, al het ons monde gekwyl vir die warm brood. My tweelingbroer het ons dikwels agter my ma se rug laat lag as hy beduie hoe sy ’n laaste snytjie uit die korsie se kake red met vingers wat aan die stukkie brood se rugkant vasklou en die ander hand wat die broodmes asof op ’n operasietafel maneuvreer. Daardie laaste snytjie is dan aan een van ons gegee, en my ma self het die korsie geëet. Sy het haarself ingeprent dat die korsie, oor dit in die oond droër gebak is, ’n mens minder vet maak as die binneste van die brood. My ma het nie winkeleiers gekoop nie, maar ons gestuur om by die Van Dyks boontoe op in Kerkstraat te koop – groot, lekker eiers teen nege en ’n halwe sent per dosyn. In ’n stadium het my pa mense op ’n plot buite Kemptonpark ontmoet. Hulle van was Bakkes en hulle stuk grond het vet, rooibruin kluite gehad en ’n weiveld met ’n klompie melkkoeie. Oom Bakkes en sy seun het drie keer per week met ’n bakkie vars melk in die dorp kom aflewer. My ma het ook van dié melk gekoop, teen heelwat goedkoper as die winkel s’n. Dis uit groot silwer melkkanne in mens se eie houers geskink, sommer op die sypaadjie. Ons kinders het dit Bakkes-melk gedoop en gegril as ons dit drink – ons was nie gewoond aan soveel room in melk nie. My ma het vir my en my broers skooltruie gebrei, en ook ons onderbroeke self gemaak. Ek het tot op 13 slegs tuisgemaakte onderbroeke gedra. Dit was van ’n roomkleurige katoenstof, en het ’n groot rek bo (vir die middellyf) en twee rekke by die bene gehad. Die probleem was dat die rekke gouer as winkel-onderbroeke s’n “uitgerek” het. Ek moes gedurig die onderbroek optrek wat binne my broek afgesak het. Die beenrekke het ook slap geraak en die onderbroek los en weg van my bene laat hang. Toe ek in standerd 6 (deesdae graad 8) was, het ons skool met ander Oos-Randse hoërskole meegeding op ’n atletiekbyeenkoms op PAM Brink-stadion in Springs. Al ons skool se kinders het een weeksoggend in Maart 1969 by Kemptonpark-stasie op die trein na Springs geklim. Dit was ’n wonderlike, avontuurlike oggend. Die seuns, veral, het nie stilgesit nie, maar half by die vensters uitgehang of baldadig van wa na wa beweeg. Meisies het in die gangetjie op die vloer van die een wa gesit, en ek moes noodgedwonge oor hulle klim onderweg na die volgende wa. Ek onthou toe ek my een been so oor die een meisie se skouer lig, het sy toevallig opgekyk. Wat moes sy nie gesien het nie, met die slap onderbroekrek wat verhoed dat die haartjies en dinge van puberteit weggesteek word! Die insident het my so skaam laat voel dat ek my ouers agterna gesoebat het om vir ons winkel-onderbroeke te koop, en hulle het darem. My eerste winkel-onderbroek was wit, met so ’n belaglike gulpie aan die voorkant wat ek nooit gebruik het nie. *
Bo die deur is Blue Naartjie in oranje letters op ’n stuk blou muur geverf. Mens moet die knoppie van ’n sekuriteitsdeur druk en dan na die tweede verdieping opklim om in die Blue Naartjie te kom. Dis ’n aandkroegie naby Louis Bothalaan in Orange Grove wat deur Jay besit word. Hy was voorheen ’n sjef, en het later pizzas in ’n hoekie op die dak van Tandoor in Yeoville gemaak en verkoop. Mens kon kies of jy ’n bietjie dagga in jou pizza ingemeng wou hê of nie. Ek kom slegs ’n paar keer per jaar in die Blue Naartjie, meestal nadat ek by die Radium Beer Hall daar naby was. Dit lyk asof die plek genoeg geld inbring, want Jay het nie meer vrot voortandjies nie. Hy het hulle óf laat kroon óf dis valstande wat hy nou in sy mond het. Sy gesig met die bokbaardjie is minder skraal as tevore. Hy dra ’n bril en het van sy hare bo sy voorkop begin verloor. Hy het ’n welluidende, basserige stem wat soms ’n krakie maak. Hy hou daarvan om grappe te maak. Daar is baie posters teen die Blue Naartjie se mure geplak, soos die bekende een van ’n alien met ’n zol in die mondhoek en die woorde TAKE ME TO YOUR DEALER. Die meeste van die koerantplakkate teen die plafon het aliens as ’n tema. Jay het ook sedert my laaste besoek ’n swart-en-wit kopie van ’n bladsy teen die muur agter die kroegtoonbank geplak – dis ’n foto van ’n streng toppie met sy wysvinger vermanend gelig. Onderaan die bladsy is STOP BEING A CUNT gedruk. Langs my sit ’n man in ’n wit frokkie. Sy gespierde arms is omtrent toe van die tatoeëermerke. Hy is nog nie dertig nie, skat ek. Hy stel homself nie voor nie, begin net met my praat. Hy sê hy het sewe jaar laas alkohol gedrink maar rook gereeld weed. “Another shot, Thabs!” roep hy die swart kroegman nader. Die mense wat gereeld hier kom, noem Thabo Thabs. Hy haal ’n bottel melk uit die yskas en gooi ’n sopieglasie voor die tattoo-man vol. Die ou steek ’n blou arm uit, vat die glasie en gooi die melk in sy keel af. Hy klap die glasie op die toonbank en laat sy skouers ril asof hy iets baie sterks gedrink het. “Hit me with another shot, Thabs!” Die prosedure word herhaal, en as dit lyk of ’n derde shot onnodig gaan wees, bêre Thabo die melk weer in die yskas. Die ou met die tattoo’s kyk na Jay en vra dat hy die musiek harder moet sit. Jay wys na die outoppie met die vermanende wysvinger en sê: “Stop being a cunt.” Ons almal lag, behalwe die tattoo-man, maar Jay draai die musiek tog ’n bietjie harder. Dis trippy musiek, elektronies. Ek vra Thabo om nog ’n bier te bring, my derde, en ook sommer ’n pen en papier, ek het myne in die kar vergeet. Ek ruik die walms van die Swazi wat die mense buite op die stoepie rook. “Wat skryf jy?” vra Jay en probeer om oor my skouer te loer. Hy is Engels maar hou daarvan om sy Afrikaans op my uit te probeer. Eers wil ek hom nie wys nie, maar sê dan half verskonend dat ek soms kroeggedagtes kry, veral na aanleiding van dinge wat ek in koerante gesien het. Ek lees aan hom voor wat ek gekrabbel het: “Sal ek Candice Morgan, Mej Dowe Wêreld, kan laat kreun? Ek reken so, ja. En sy sal ten minste die vibrasie van my eie kreune kan voel.” Jay bars uit van die lag, maar die tattoo-man kyk onbegrypend na ons. Hy roep Thabs nader vir nog ’n skootjie melk. Ek was halfelf tuis. Lungi was nugter in die bed met die Job Mail. Haar oë is goed, sy kan die klein skrif van die advertensietjies sonder ’n bril lees. Meer as 40 persent van Suid-Afrika se swart mense is werkloos. Lungi is een van hulle. Sy wil so graag ’n werk kry. Sy het eenkeer ’n kort kursus gedoen oor hoe om ou mense en siekes te versorg. Ek klim langs haar in en sy wys my ’n advertensietjie. Met die hulp van my bril kan ek dit darem uitmaak as ek dit naby die bedlampie hou. “They’re looking for someone to care for Alzheimer’s patients in an old-age home, a very difficult job,” sê ek. “I’ll do it,” sê Lungi. “Will you fax them my CV tomorrow?” Ek kyk na die kontakbesonderhede aan die einde van die advertensie. “No, this place is not in Johannesburg, it’s in Pretoria.” Lungi vat die Job Mail by my om verder daarin te soek, maar ek sê ek is moeg, ek wil die lig afsit, kom ons slaap, asseblief. *
Buiten die gekreun van ’n geliefde op die bed en die geluid van reën op die sinkdak soms, sou ek beter af gewees het as ek snags stokdoof kon wees. Dan sou blaffende honde en rasende voëls en die gefluit van mense en die getoet van karre my nie gesteur het nie, sou ek kon slááp. Maar ek sou sterker diefwering voor die vensters moes insit, want ek sou boewe nie kon hoor inbreek nie. Ek het oorproppe by die apteek gekoop. Hulle stel my teleur. Die geluide van buite is sagter, maar ek hoor dit steeds. Ek haal die proppe uit voor ek en Lungi seks het; ek wil nie daai bietjie kommunikasie ook nog bedons nie. Laas nag het ek die proppe weer in my ore gedruk na die seks. Ek was moeg, het ’n goeie nagrus baie nodig gehad, maar word toe gepla deur blaffende honde straatop. Later word ek weer wakker van ’n geruis, iets wat klink of dit skuifel. Ek haal my oorproppe uit om beter te kan hoor. Lungi is ook wakker. Dis seker ’n rot, sê sy. Ek skakel die bedlampie aan. My god, daar is ’n vlermuis wat bo teen die plafon sirkel! Ek is bang vir dié grillerige goed. Hy het seker deur die skoorsteen van die kaggel in ons slaapkamer ingekom. Ek maak ’n venster oop en sit die lig af; ek hoop die maanlig sal hom buitentoe lok. Na ’n ruk sit ek die lig weer aan. Die vlermuis sit bo in ’n hoek en maak tjiertgeluidjies. Hoekom vlieg die fokken ding nie uit nie? Ek loop na die skryfkamer, gaan lê op die spaarbedjie daar, en ek hoor hoe Lungi na Jomo se kamer loop en langs hom op die dubbelbed gaan lê. In die oggend word ek laat wakker, want daar is nie ’n wekker in die skryfkamer nie. Die vlermuis is nie meer in die hoofslaapkamer nie. My oë is moeg maar ek skeer, bad, trek skoon klere aan en ry werk toe. Onderweg, in Jan Smutslaan, by die kruising met Bompasweg, kom die verkeer tot stilstand. Daar was ’n ongeluk by die kruising. Ek swets. Ek is berispe oor ek eers twintig oor nege by die werk aangekom het. Die baas het nie my naam genoem nie, maar in ’n departementsvergadering in die konferensiekamer gemor oor die mense wat na nege soggens indrentel. Dit het gevoel asof ’n groot vinger uit die plafon herhaaldelik reguit na my kop wys, of ’n neonpyl op die tafel na my bors flits-flits. Ek het myself gevoel bloos en was verlig toe die baas die onderwerp verander. Toe ek in die aand tuiskom, kry ek Lungi effens dronk in die kombuis. Sy sê ek moet haar volg en loop in die gang in. Sy wys na ’n ligblou plastieksak op die vloer. Sy sê die vlermuis was in die dag skielik in die gang, en die honde het dit daar doodgebyt. Sy het dit in die plastieksak gesit en vir die mense by die sjebien in Pagestraat gaan wys. Wat is die Zoeloe-bygeloof oor vlermuise? wonder ek, maar ek vra haar nie. Sy sê sy het die plastieksak weer toegebind met die dooie vlermuis daarin en dit teruggebring na ons huis toe. En nou, en dis die vreemde ding, sê sy, is daar geen gat in die toegebinde sak nie, maar dis leeg, en die “dooie” vlermuis is in die skryfkamer. Ek loop na die skryfkamer en maak die deur versigtig oop en sit die lig aan. Ja, daar is die vlermuis, dit dartel teen die plafon rond! Lungi kyk beskuldigend na my. Ek loop koes-koes onder die vlieënde vlermuis en maak die skryfkamer se venster oop. Dan maak ek die deur toe en loop kombuis toe om te eet. Ek en Lungi het woordeloos in ons slaapkamer gaan lê. Dit was ’n kreunlose nag. In die oggend gaan loer ek in die skryfkamer. Daar is geen teken van die vlermuis nie. Lungi kom staan agter my en sê: “Is your thing gone?” “Yes,” sê ek. Maar dan strip ek my moer en sê: “Why is it MY THING? It’s a bat that flew into our house, maybe to nest, and now it’s gone. Why is it my thing and why must I stand accused because it was here?” Sy antwoord my nie. Ek loop na die kombuis om water te kook vir koffie met ’n gevoel in my bors wat ek nie teenoor haar sal erken nie: Ja, sy is reg, dis mý ding, dis mý gerondfok wat die vlermuis na die huis aangetrek het. *
|