Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers > Langs die Breede

Langs die Breede


Helena Gunter - 2008-03-19

Die stilte ná Annabelle se begrafnis, dit onthou ek. ’n Stilte waarin jy net die petrolpomp gehoor het, motorbande op los gruis, die klap van ’n luik in die suidoostewind. Nie mense wat voor die winkel roep na mekaar of uitvra na die saaiery nie. Almal het net hul sake afgehandel, stigtelik bedrywig, en vertrek. Selfs oom Datie, wat lief was vir gesels, het op sy kort been agter die toonbank gehink, geld uitgekeer en dan met sy kop beduie vir die volgende een.

Dit was eers ’n paar weke of so ná die begrafnis, toe oom Hannes Saalperd die oggend met die koerantberig van die dorp af gekom het, dat dinge weer na normaal teruggekeer het. Mens kon aan oom Hannes se stilhou en uitklim uit sy nuwe Datsun sien dat iets gebeur het. Ook aan tant Hester, wat nie afgeklim het as dit nie nodig was nie.

Oom Hannes het Witsand se stapel koerante op die toonbank neergesit, vir oom Datie gewink en op ’n koerantberig getik. Oom Datie het sy broek met sy elmboë opgetrek, nadergehink en gelees.

“Deon-kind, kry gou daar vir my ’n pakkie patch en solution, asseblief,” het oom Pietie Negetoon agter my gevra waar ek sponsmuise aan die inpak was by die glasflesse. In die verbyloop na die fietsrak kon ek op die voorblad sien: "Boerseun misreken hom met Harley", in swart letters, en daarby ’n foto van Arnold Malherbe op sy Harley Davidson.

“Tag, mar lat die kêrel hom nou só kon misgis,” het oom Pietie gesê. Dit het geklink asof hy van ’n nuwe baanrekord by ’n atletiekbyeenkoms praat.

“So kom elke hond se dag, nè?” het oom Hannes van hom laat hoor, doodtevrede.

“Ja-nee, God slaap nie,” het oom Datie saamgestem en sy broek opgetrek. “Polieste sal spyt wees; het hulle seker reggemaak om nog jare lank Malherbe-skap te eet.”
Dit was die eerste keer in ’n lang tyd dat mense in die winkel in volsinne gepraat het, wat nog te sê van met bly stemme.

“Skaam vir julle,” het tant Hester vermaan, haar handsak toegeknip en haar mond platgetrek.

“Hester, jy kan nie stry nie, daai ondersoek was darem net te gou oor en dit sonder dat ’n speurder van bo af ooit hier was,” het oom Pietie haar herinner.

Tant Hester het die belt van haar fitted middellyf-rok reggeskuif en die mans skeef aangekyk. “Mens verlekker jou nie in die dood nie, Pietie. Niemand se huis is só aan kant dat hulle kan oordeel nie.”

Toe ek kans kry, het ek gelees:

Arnold Malherbe, van die plaas Sandspruit in die distrik van Heidelberg, het by ’n halfklaar brug in Kaapstad afgery en gesterf. Nadat hy en vriende ’n nagklub besoek het, was meneer Malherbe vermoedelik van voorneme om na sy woonstel terug te keer. Hy het vermoedelik teen ’n hoë snelheid deur padversperrings gebars en na sy dood geval.

Miskien het die grootmense se houding ’n invloed gehad; ek weet nie, maar ek onthou dat ek nie jammer of hartseer was oor Arnold se dood nie. Omdat dit oor Annabelle gegaan het. Destyds – ek was sewentien – was ek nie klaar met wat Annabelle tot my lewe toegevoeg het nie. En ek het, net soos die grootmense, die skuld vir haar dood op Arnold gepak. Haar dood was nie iets wat jy van jou af kon weggooi soos ’n jas wat jy uittrek nie, nie ná die gesig waarop ek en Stephanus daardie oggend tussen die melkhoute en bietoubosse afgekom het nie.

Annabelle het presies gelyk soos Raquel Welch op die prent bokant my bed, ’n poster wat ek met ons laaste besoek aan die Kaap gekoop het, die een waar Raquel met die diervelbikini in One Million Years BC uit die water stap.

“Jis, Deon, ek wens mens kon besluit wat jy elke nag droom,” het Stephanus eendag gesê terwyl hy hande agter die kop op my bed na die prent lê en kyk het, “dan sou ek wou droom oor daai twee kanne in my hande.”

Ek het aan ’n katrol by my lessenaar sit en peuter. “Om van die res van daai lyf nie te praat nie.”

Nie een van ons het ’n vergelyking met Annabelle getrek nie, nie in soveel woorde nie, maar soms as ek alleen was, het ek oor die kaal papiermaag van die prent gestreel en my allerhande dinge oor Annabelle verbeel.

Ek onthou die fudge-makery in die kombuis agter die winkel. Ek en Stephanus het graag gekyk wanneer Annabelle fudge maak. In die breë vensterbank van die kombuismuur het ons gesit, rûe na die oggendson, en met ons oë gehang aan haar arms, die ronding van ’n dy, ’n kuitspier, haar rok wat los om haar knieë swaai, die beweging van haar mond as sy praat, die dun enkels. O, en die borste. My kop het hoendervel geword, my ooglede swaar. Hoe bang was ek nie dat ek iets kon mis nie, of dat haar oë myne op verkeerde plekke sou vang.

Ek en Stephanus moes die opgemaakte pakkies aflewer. Ons beloning was ’n pakkie verniet. Ek wou altyd met my voete in warm sand sit as ons Annabelle se fudge eet. Teen die sandkop by die see het ek my tyd geneem: eers die satynstrikkie mooi losgetrek, en my ’n haarlint in haar hare verbeel. Daarna die sellofaan afgeglip, maar versigtig sodat dit nie skeur nie, en gewonder oor ’n roksband wat van haar skouers afgly. Stephanus het gekla dat ek te lank neem; sy lus kon nie hou nie. Soms het ek die blokkie gesuig, soms happie vir klein happie afgebyt. Maar nooit sonder gedagtes oor Annabelle nie.

Sou sy iets vermoed het? “Toe-toe, buitetoe met julle,” het sy altyd gemaan as ons strammerig uit die vensterbank klim. Sy het haar lippe getuit, haar wimpers neergeslaan en dan iets gesê soos: “Kyk die pragtige dag, dis tyd dat julle buite kom”, asof ons stadskinders was wat nie geweet het hoe om die tyd op so ’n dorpie om te kry nie.

By die winkel het ons El Camino- en Ranchero-bakkies volgetap, aandagtig geluister na nuus van vangste uit die diepsee, of na die boere se praatjies oor politiek of die oes, enigiets, want daarná, wanneer jy die winkel ingestap het, was sy dáár. Op ’n trapleertjie, agter die toonbank, by die vroueklerasie, iewers het haar lyfgeur ’n ruimte volgemaak, haar bewegings, haar praatjies. Ek en Stephanus het dikwels geloer wanneer sy die doppie van ’n botteltjie Yardley Lavender oopdraai en aan haar polse en nek druk, haar romp regtrek of haar pearl-pienk naellak aanverf. Vandag nog sal die reuk van skoon linne en vars reukwater, ’n vrou se handbeweging deur haar hare, ’n wegswaai van die kop, my die lug laat snuif.
Ná haar dood het ek myself dikwels betrap dat ek wag vir haar om by die deur in te kom. Tot die reuk van oom Datie se sweet en dié van uie en fietswiele my tot die werklikheid teruggebring het.

Dat Annabelle soos Raquel Welch gelyk het, was nie haar enigste bate nie. Daar was nog iets. Iets wat ek by Kallie Kleinspeen van Klipdrif gehoor het vir die waarheid. Annabelle se pa was ’n Nazi. Kallie se dringende gefluister het geklop met die ontsag waarmee meneer Viljoen in ons standerd vyf-geskiedenisklas verduidelik het hoe Hitler sy Nazi’s laat vliegtuie bou het wat onder die aarde uit gebrul het, nadat Woodrow Wilson en sy nare Diktat alles van die arme Duitsland af weggevat het. Met skuim in sy mondhoeke en uitgestrekte arms het meneer Viljoen voor in die klas rondgehardloop en gemaak soos ’n vliegtuig wat opstyg. Sy vlug het by die venster gestop, waar hy op aandag gespring en met ’n saluut by die venster uit geskree het: “Heil Hitler!” Bewondering, dis wat ons destyds na dié vertoning vir die hardwerkende, verontregte Führer en sy mense oorgehou het. Party kinders het swastikas op hul arms geteken.

Boonop moes ek hoor hoe my pa vir oom Datie vertel dat oom Koos Sample tydens die oorlog so bang was vir die Nazi’s dat hy die Union Jack van sy dak afgehaal het toe hy van die duikbote agter Potberg hoor. Oom Datie het lekker gelag, op sy kort been geslaan en gevra wat dan tóé van die ou Sap se British heritage geword het waaroor hy so hoog opgee. My pa en oom Datie was Natte en ons het nie van oom Koos gehou nie; hy het ons altyd “unrefined” genoem as ons sandspore op sy gangmat trap. Stephanus het gesê hy lyk nes een wat permanent in ’n wieldop kyk – met sy afdraand gesig en agtertoe tande.

“Wat is ’n Nazi presies, Pa?” het ek by die huis gaan vra, net om seker te maak.

My ma het vinnig opgekyk by “Nazi”. Pa het in sy stoel met die koerant voor sy gesig gesit.

“Hoekom wil jy weet?” het Ma gevra toe sy sien Pa gaan nie antwoord nie.

“Want Kallie sê Annabelle se pa is ’n Nazi.”

My ma het haar breiwerk opgetel. Vir my gelyk asof sy haar hande wou besig kry.

“’n Nazi is ’n Duitser; hulle het vir Duitsland geveg in die oorlog.”

“Het hulle regtig in oorlogtyd van die duikbote af Witsand toe gekom vir diesel en vars kos?”

“Ja, hulle het.” Sy het begin brei.

“En Annabelle se pa? Wie was hy?”

Stilte.

“Hy was bevelvoerder op ’n duikboot,” het my pa se stem van agter die koerant gekom.

“Maar hoekom het Annabelle se pa nie by haar en haar ma gebly nie?”

“Ag, my kind, dit was ’n moeilike tyd, met die oorlog en so …” het my ma gesê.

“Maar is ’n Nazi dan iets slegs?”

My pa het versit, maar niks gesê nie. My ma het opgehou brei en oor die dakke van die huise in die baai tot in die diepsee gekyk. “Ons het hom nooit as ’n Nazi geken nie, of soos ons later uitgevind het die Nazi’s was nie.” Sy het weer begin brei. “Fyn van gedrag, sou ek eerder sê. Ek kon verstaan dat Annabelle se ma – met haar andersheid – verlief kon raak op só ’n man.”

“En iets wat julle nie moet vergeet nie,” het my pa gesê, “hy was nét so verlief op haar.” Koerant steeds voor die gesig.

“Ja, die twee was ’n prentjie, Saterdagaande in die Oysterbeds.” My ma het ’n laggie gegee en na my pa gekyk. “En om te dink hy het dit gewaag om in die Oysterbeds te kom dans …” Sy het haar hand voor haar mond gesit soos een wat iets verkeerds gesê het.

Pa het nie sy koerant laat sak nie.

“Ag, ek sien hulle nog: die mooie vrou en haar Duitser, gesigte teen mekaar, asof daar nie ’n ander wêreld op hulle gewag het nie.” Ma het gesug.

“Ja,” het my pa gesê en sy koerant geskud, “en moenie dat enigeen jou óóit vertel dat Annabelle se pa enige hierjy was wat haar ma misbruik het nie, o nee. As daar nou een mens is wat uit liefde tussen twee mense gebore is, is dit onse Annabellie.”

My ma het op haar stoel geskuif.

My pa het sy koerant opgevou en in die opstaan gesê: “Ja, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie; met bloed en gene kan jy nie stry nie, en oor styl kan jy nie redeneer nie.”

Dis iets wat hy dikwels van mense gesê het, en altyd as kompliment.

My ma was reg: Annabelle se ma wás anders. Nie soos ons ma’s nie. Ek en Stephanus het baie keer as ons met laaggety arikreukel uithaal, gesien hoe haar ma langs die see stap, in ’n lang deurskynrok. Dan kyk sy ver oor die see, soos die houtbeeld op die voorpunt van oom Niekie Beukes se boot. Ek het ook gehoor dat sy niks wat haar aan Annabelle se pa kon herinner, oorgehou het nie, nie eens één foto nie; dat sy glo nadat hy weg is, al met die sandbanke in die riviermond langs geloop het en alles in die blousloep gegooi het – tot droë blomstele, kaartjies en juwele.

Annabelle het ’n heldin geword, maar anders as die Racheltjie de Beer van ons geskiedenisboek. In die dorpie van ons jeug, waar wit sandduine jou vasgekeer het aan die soom van ’n wye, magtige oseaan, het die sameloop van ons sewentienjarige behoeftes en begeertes veroorsaak dat Racheltjie nie kon kompeteer met ’n Raquel Welch van Nazi-inbors nie, verwek by ’n ma so anders as ons s’n, in sulke ongewone omstandighede.

Op stormdae het ek tussen die kusslaaibos sit en kyk hoe die Breërivier sy wye mond oopmaak in die see, en ek het my verbeel: donker wolke op die horison, donderweer en blitse, ’n huilende wind, die silhoeët van ’n imposante figuur wydsbeen op ’n roeiboot, ’n wapperende jas, manskappe wat roei teen branders so hoog soos huise, ’n stormlantern wat heen en weer swaai, ’n geliefde aan die kus wat hand oor die oë soek, en wag, ’n deurskynrok wat kleef, die ontmoeting, en twee verliefdes wat draai en draai op maat van Mantovani se strykorkes, gesigte teen mekaar.

Dit was eers later dat ek uitgevind het waarom ’n Nazi nie iets was om mee te spog nie.

Een dooigety – Annabelle was net klaar met skool – het Annabelle se ma weer met die sandbanke langs geloop tot by die blousloep en deurgeswem na Infanta. Sy het dit dikwels met dooigety gedoen, gesê sy hou daarvan om op haar rug met die stroom langs te dryf tot by die rotse waar die Kadie gestrand het.
 
Dit was dieselfde tyd dat hengelaars in die rivier met net die koppe van kabeljoue by die jettie aangekom het. “’n Blouvin,” het hulle uit hul bote gekla, met stemme en lywe wat saam met die golwe op en neer wieg; “jy kan dit aan die bytplekke sien.”
Toe Annabelle se ma met hoogwater in die baai aan Witsandkant uitspoel, was dit sonder ’n kop, met ’n pansy-skulp in die een hand en bloublasiedrade oor haar lyf. Vissermanne wat krewels op die sandplaat uitgehaal het, het haar gekry.

“Onstigtelik van die dood, om só ’n kind se ma op só ’n manier te kom vat,” het tant Dorie, ons buurvrou, by my ma gesnik. Haar oë het diep in haar kop gesit, soos twee rosyntjies. Sy het ’n sakdoek onder haar horlosieband uitgetrek.

By die voorhekkie uit het haar suster, tant Soena, getroos: “Ja-nee, die dood is nie ’n ding op wie se goeie maniere jy kan reken nie.”

Hulle het weggestap: twee kropduiwe, met hulle kort treetjies en ronde borskaste.

Oom Datie het sy kop geskud en geklik met sy tong, maar hy het raad geweet. "Toemaar, sy kan in die winkel kom werk, nes haar ma voor haar.”

“Weet nie of dit so ’n goeie ding is om dié kind agter ’n toonbank te laat suiker afweeg en fiets-tyres verkoop nie,” het oom Hannes oor sy koppie tee by die begrafnis gesê. “Jy teel nie ’n volbloedrenperd en span hom dan in voor ’n kar nie.”

Tant Hester het hom met ’n ingetrekte ken aangekyk, maar niks gesê nie.

Dit was daarná dat ek en Stephanus winkelwerk gaan soek het. Tóé het ons nie omgegee vir oom Datie se sweetruik nie, ons wou net kyk hoe Annabelle se hande ’n glasfles oopdraai, hoe sy haar wimpers opslaan en vir jou kyk.

“Soos daai twee blou albasterghoens van jou wat jy nooit wou afgee nie,” het ek haar oë vir Stephanus probeer beskryf, “wat voel asof hulle in ’n mens inskyn.”
“Ja, tot jou kop groot en lig voel soos in ’n droom waarin jy opstyg tot teen die plafon van jou kamer en daar rondsweef.”

Ek en Stephanus het graag op die muur langs die winkel sit en kyk hoe die grootmanne kabeljou weeg as hulle uit die diepsee kom. Wanneer Annabelle verbykom op pad winkel toe, het hulle rondstaan en raakvat anders geword.

“Ónse Annabelle,” het Floors Dassiekloof eendag gesê en ’n kabeljou met ’n vrolike hup! gelig tot by die haak. En toe sy verby is: “Dis nou ’n voorkind wat my kan krý. Waar-ág-tag!”

Hulle het haar agternagekyk. In stilte. Ek wou nie hê hulle moes so vir haar kyk nie, en het gewonder of sy hulle oë op haar rug voel. Hoekom sou sy so ’n krink in haar stap sit? En haar glimlag. Sy het nooit só vir my en Stephanus geglimlag nie.

Stephanus het gesnuif langs my. “En wie’s hý om van voorkind te praat? Ek’s liewer ’n voorkind as ’n ingeteelde duinemol soos hý.” Hy het ’n kalkklippie teen ’n sandwal vasgegooi.

Op ’n dag ná haar ma se dood – die suidoos het mense op onvas bene by die deur ingewaai – kla Annabelle by my ma: “Mens kan nogal moeg word van brood toedraai en suurklontjies verkoop.”

“As sy ’n pa gehad het wat vir haar gesorg het, sou sy nie in die winkel hoef te gewerk het nie. Dan kon sy verder gaan leer het, soos haar skoolmaats,” het my ma by die huis vir my pa vertel, ’n bekommerde trek om haar mond.

“Ja, moet seker maar verlang na ’n pa.”

Ander dae weer het dit gelyk asof sy nêrens anders wou wees as in die winkel nie. Dan klim sy teen die leertjie voor die rakke op, lig haar hare met haar hande, lag, en gooi dit oor haar skouers terug.

“Tag!” hoor ek eendag oom Pietie vir iemand sê, “so ’n meisiekind kyk reg in jou maag af tot waar dit kielie.”

“Ja,” verdwyn ’n antwoord op die lug by die deur uit, “die soort kielie wat gevaarlik word as hy laer sak.”

Hulle het nie geweet ek hoor nie; ek het meel opgevee agter die toonbank.

Annabelle het weer haar glimlag gegee, soos iemand wat ’n geheim hoor.

Mans wat die winkel ingekom het, het altyd gelyk asof hulle vir haar ’n guns wou doen. Maar nie Arnold nie. Wanneer hy op sy een voorarm op die toonbank leun, sy wenkbroue lig en na haar opkyk, het die twee diep kepe langs sy mond nie padgegee in ’n glimlag nie. Die punte van sy hoëhak Beatles-boots was nerfaf, en sy kort vingers het lomp om die helm van sy Harley gevat. Sy uitstaanwenkbroue het skadu’s oor sy oogkasse gegooi. Stug en onhandig, het my ma hom genoem.

“Probleem met ’n onnosel mens,” het oom Hannes een oggend by die petrolpomp gesê, terwyl hy Arnold agternakyk; “hy het nie ’n sin vir humor nie.”

“Groot moeilikheid as ’n bedorwe mens meer geld het as verstand,” het oom Pietie gemeen en sy pyp teen sy Ford Cortina se agterwiel uitgekap.

Tant Hester het gekeer vir die opwaai van haar rok in die suidoos. “Foeitog, mens kan hóm nie verkwalik nie, die kind het in alles nog net sy sin gekry. Mens moet eerder probeer help.”

Saans wanneer die son agter Potberg afsak en die riviermond se water soos aftapolie lyk, stap Annabelle om die sandbank se punt. Ek en Stephanus het bo van die groot sandkop af vir haar lê en kyk. Daar waar die rivierstroom in wit skuim teen seestrome opstaan, waar haar ma die water ingestap het, gaan staan sy met haar gesig na die see toe.

“Verlang seker na haar ma,” het Stefanus gesê.

Ja, en miskien ook na haar pa, het ek gedink, want dis wat my pa gesê het. Dit moet snaaks wees om te weet jy het ’n pa, maar jy het hom nog nooit gesien nie. Of miskien wonder sy of die duikboot gelê het waar die walvisse nou opkom vir asem.

Dit was op so ’n aand dat Arnold se Harley bo in die pad om die draai gekom het, sy borskas breed onder die leerbaadjie wat wegstaan in die wind, sy hare lank agter hom aan. Hy het stilgehou en vir haar sit en kyk.

“Lyk mos nes daai opgestopte gorilla in die Kaapse museum, vir wie mens altyd skrik as jy om die draai kom,” het Stephanus gesê en ’n hand vol sand teen die wind ingegooi.

Ek moes koes vir my oë.

Put-put-put-put, het die Harley later teen die bult op gery, Annabelle agterop, haar arm styf om Arnold se lyf. Ek het lus gevoel om die motorfiets agterna te hardloop, om haar arm om Arnold se lyf los te maak, maar het toe maar vir Stephanus gerace tot in die koue vlakwater.

Ek en Stephanus het elke aand geluister vir die gedreun van die Harley. Ons het agter ’n melkhout gaan wag om te kyk hoe Annabelle die deur vir Arnold oopmaak. Sy het haar hande na hom uitgesteek en hom na binne getrek. Sou sy dan gedink het tant Hester was reg? Dat iemand Arnold moes help? het ek gewonder.

Die meeste grootmense het begin praat oor Arnold en Annabelle, maar altyd die weerstoestande as onderwerp gevind as hulle een van ons in die omtrek vermoed.

Tot die oggend dat oom Hannes met ’n missie voor die toonbank gestaan het. Tant Hester was by.

“Annabellie, oom Hannes wil nie vir jou voorskryf nie; jy is al mooi groot, maar jy moet versigtig wees.”

Annabelle het haar hare teruggegooi.

“Waarvoor, oom Hannes?”

Oom Hannes het keelskoongemaak en aan sy belt gevat. “Hoe goed ken jy vir Arnold?”

“Ek léér hom ken.”

By die petrolpomp het oom Hannes en tant Hester in hulle Datsun sit en praat terwyl ek intap.

“Miskien is Annabellie die een wat nodig is om hom op die regte pad te lei, Ouman,” het sy gesê.

“Hoekom moet sý die een wees? Hoekom het hy in die eerste plek iemand nodig om hom op ’n régte pad te lei? Hy het alles: grond, geld, aansien – al die kanse.”

Tant Hester het na oom Hannes gekyk soos een wat nie kon glo wat sy hoor nie. “En wié praat nou?” Haar stem was hoog, haar ken ingetrek.

“Hester, dis glad nie dieselfde nie. Ek het my wilde sade gesaai en was roekeloos, ja, maar ek’s g’n wreedaardig nie.”

Tant Hester het hande in die skoot bly sit, soos een wat gewag het op oom Hannes se verduideliking van wié dan wreedaardig was.

“Ek kan probeer keer dat ’n werfetter wat een van sy plaasvolk doodgeslaan en in die rivier gegooi het, ’n kind sonder ma en pa se lewe opmors,” het hy na ’n rukkie gesê.

“Hannes!” Tant Hester se stem was kwaai. “Daar is geen bewyse gekry nie.”

“Natuurlik is daar nie bewyse nie, Hestertjie, sekere mense se bewyse verdwyn.”

“Annabelle is ’n grootmens. Sy moet self besluit.”

“Die mannetjie ken nie respek nie. Verbeel hom natuurlik hy het vrye reg omdat sy ’n voorkind is en hy baie geld het,” het oom Hannes volgehou. “Hoor nou wat ek vandag vir jou sê. Dis so goed as om ’n vetstert by ’n rasegte merino te laat kom.”

“Die kinders is nie diere wat jy vir ’n teelprogram kan afpaar nie, Hannes Marais. Jy weet nie eers wat Annabelle wil hê nie.”

Tant Hester het haar borste gelig soos een wat klaar gepraat het.

Arnold moes daardie jaar Grens toe.

“Snaaks dat sy pa nie sy kontakte gebruik het om vir hom iewers ’n soft joppie in die vloot of polisie te kry nie,” het oom Hannes een oggend voor die winkel gesê.

Tant Hester het met hoë wenkbroue na hom gekyk. “Ek het gehoor dat as daar nou één ding is wat Arnold wil doen, is dit sy plig op ons landsgrense.”

“Plig? Gmpf!” het oom Pietie gesê en sy hande diep in sy broeksakke gesteek.

Ons is almal stasie toe die dag toe die troepe vertrek het. Ek en Stephanus het op ’n bank voor die oop venster buite die wagkamer gesit. Op die perron naby ons, langs ’n blombak vol pap malvas en sigaretstompies, het Arnold en Annabelle gestaan.

“Kyk hier,” het hy gebrom en na iets op sy voorarm gewys.

Sy het gekyk, vinnig teruggestaan en haar hande om haar wange geslaan.

Annabelle het op sy voorarm gestaan, met ’n mespunt of iets uitgekrap. Tot óns kon dit sien.

Sy het aan die opgehewe, rooi vel geraak. “Hoekom het jy dit gedoen?” Haar stem was hoog.

Hy het haar nadergetrek, en met sy gesig teen hare gestaan: “Omdat jy myne is. Enigeen wat naby jou kom in die tyd dat ek weg is, vermoor ek.”

“Vermoor nogal, nè?” Haar oë was groot en sy het haar glimlag gegee, toe haar voorkant styf teen hom gedruk. Die trein het geblaas. My keel het effens toegetrek van die rook.

Hy het haar nog vaster teen hom aangetrek, sy stomp vingers om haar middel. “Ja, vermoor …” Sy oë donker. “Belowe jy sal wag vir my.”

“Ek sal wag,” het sy belowe.

Stephanus het nog gesê dat Arnold dalk geskiet kon word op die Grens.

Vir my en Stephanus het die lewe voortgegaan. Ons het vis gevang, skool toe gegaan, in die winkel gewerk. Annabelle se fudge het met elke kooksel lekkerder geword. Net soms as die hoof met saalgodsdiens bid vir die manne op die Grens, het ek gedink: Haai, Arnold-hulle is mos op die Grens. Maar weer vergeet van hulle as ons “Uit die blou van onse hemel” uit volle bors moes sing. Die Grens was vir ons ’n plek waar die “insurgensie van terroristegroepe met welslae teengestaan is”, of “skermutselings plaasvind”, waar “ons dapper manne hulle plig moet doen om die bose vyand te beveg”. Dit was wat jy op die radio gehoor het, maar jy het nie geweet wat dit beteken nie. Name soos Angola, Caprivi-strook, Kavango, en wat daar gebeur het, was vir ons onbekend, plekname wat ons nie eers op ’n kaart sou soek nie.

Die dag toe die manne van die Grens af terugkom en op die stasie afklim, het ek Arnold herken aan sy wenkbroue wat nóg digter bokant sy oogkasse gestaan het. Ek het geskrik vir sy kaalgeskeerde kop wat soveel kleiner gelyk het. Die bruin uniform het los gesit en sy oë het anders gelyk, asof hy na iets agter jou gekyk het, nie soos dit gelyk het die dag toe hy weg is en met sy gesig teen Annabelle s’n gestaan het nie.

Een Saterdagoggend ná Arnold terug is, staan ’n stormsterk suidoos van Sint Sebastiaanbaai se kant af uit die diepsee op. Die bote kon nie uitgaan nie; die bar was te rof, en groot vragskepe het in die baaitjie voor Infanta gelê. Die winkel was so vol, die mense het voor die toonbank getou. Annabelle was alleen agter die toonbank; oom Datie moes gaan pos haal op die dorp.

“Glo verskriklik tekere gegaan,” het ek iemand hoor vertel; “in die hele kroeg nie ’n enkele heel glas oor toe hy klaar was nie.”

“Ja, en ek hoor die bakkie jaag laatnag deur die dorp, laai glo vroue op wat op die plaas wil gaan kuier. Kry nou die oggend een kaalvoet langs die pad en vra haar waar sy dan vandaan kom. Nee, glo van Arnold se plaas af. Net so.”

Annabelle se wange het al hoe rooier geword. Iemand moes twee keer vra vir ’n pakkie versiersuiker. Ek wou haar help met die bestellings, maar sy het my en Stephanus petrolpompe toe verjaag.

Dié aand stop die Harley voor haar deur. Ek en Stephanus was agter die melkhout. Arnold se kort, stomp vingers het dom om ’n kwartvol bottel J&Bgevat, die vuil skerppunt-boots het langs die Harley rondgetrap.

“Gaan weg!” het Annabelle se stem deur die toe deur gekom.

“Ja, kan jy nie hoor nie, jou gorilla?” het Stephanus langs my gemompel en teen die melkhout geskop.

“Maak oop!” Arnold se stem het gesleep.

“Nee! Gaan lê by die vroue wat jy aanry plaas toe.”

“Fok jou, suurpoes!” het hy geskree, en met die een Beatles-boot teen die deur geskop. Ons het die hout hoor kraak.

“Stuk werfetter!” het ek gesê.

“Ons moet vir hom ’n vislyn span as hy weer baaiplek toe ry, nekhoogte,” het Stephanus besluit.

Arnold het ’n rukkie voor die toe deur rondgetrap, toe op sy motorfiets geklim en weggery. Ons het agter die boom bly staan en geluister na die Harley se enjin, darem ’n mooi klank, en hoe Arnold met sy .38 teiken skiet na die padtekens op sy roete.

Die volgende oggend was windstil. Bo van die rant af kon mens sien hoe die skuim in wit waaiers onder op die sand uitstoot. Branderkoppe het doesjjj! in die vlakwater omgeval; die stormwind het hulle fut uitgehaal. In die lug het seemeeue gehang, koppe heen en weer, voor hulle afduik.

Ek en Stephanus wou see toe.

Ons het met ons visgoed in die sandpaadjie af gestap, hy voor en ek agter. Bokant ons koppe het die melkhoute ’n skadudak gemaak en daar bo het die son geskyn in die blou van onse hemel.

“Dink jy nie dis erg dat daar wragtig nie een mooi meisie in ons klas is nie?” het Stephanus gevra.

“Behalwe miskien Jana du Toit,” was my antwoord.

“As haar oogtande net nie so uitgestaan het nie.”

Ek het gelag. “Kom ons gaan blousloep toe; daar sal lekker skuimwater wees.”

“O God!” het Stephanus hard uitgeroep. Hy het voor my in die voetpad vasgesteek.
Ek het geskrik vir die woord en sy stem, en van agter af in hom vasgeloop, aasemmer uit die hand, witmossels in die sand.

Voor ons in die paadjie het Annabelle gelê. Haar lyf was verkeerd geknak en stil. Haar voorkant was oopgekloof soos ’n slagding s’n waarop padgemaak is. Die albasterghoens was wyd oop, maar het nie meer gekyk nie. Fyn sandkorreltjies het aan die swart ooghare gesit. Haar rok was op oor die plek waar ons seunsoë nog nie geweet het hoe ’n vrou lyk nie.

Stephanus het my vasgegryp. Tot vandag toe onthou ek sy hoë, hees geskree teen die bult uit, die sand teen my kuite, en die reuk van slagkamer, mensmis en geknakte bietoutakke.


Uit: Op 'n plaas in Afrika