Anton van Niekerk - 2008-03-18
Praatjie gelewer by die Woordfees 2008: Filosofiekafee (ondersteun deur De Kat)
‘n Pot is nie gewoonlik ‘n plek waar ‘n mens soek vir die dood nie. Die dood pas beter op ander plekke. ‘n Pot – ek praat natuurlik nou van die soort waarin ‘n mens kos maak, nie die soort wat halfvol elke oggend onder Oupa en Ouma se bed verwyder word nie – lewer verrassings; die dood, aan die ander kant, soos inkomstebelasting, is seker. Dat die dood in die pot kan wees, beteken daarom dat die einde van iets op hande is, maar op ‘n wyse wat ons nog glad nie verstaan nie. Soos ek die uitdrukking verstaan, beteken die dood in die pot dat iets gebeur het – beter: iets gedoen is - wat onherroeplik destruktief vir ‘n saak is, terwyl die een wat daarvoor verantwoordelik is, eintlik dink dat hy besig is om die saak te bevorder.
Voorbeeld: Hitler wat Rusland aanval op 22 Junie 1941 – volgens Paul Johnson die belangrikste datum van die 20ste eeu. Hitler doen die, vir hom, deurslaggewende ding om sy 1 000-jarige ryk op die steppe van Rusland te gaan vestig. Maar die aanval is die dood in die pot vir die Derde Ryk; dit word die belangrikste oorsaak van Hitler se neerlaag en sy uiteindelike ondergang.
Voorbeeld twee, hierdie keer uit die Bybel: Eendag, soos 2 Samuel 11 dit ironies stel, in die lente, die tyd wanneer die konings normaalweg uittrek om oorlog te gaan maak, maar koning Dawid al te oud is daarvoor (asof oorlog maak een of ander sport vir jongmense is), gaan hy een laatmiddag wandel op die dak van sy paleis – iets wat ons nogal veel vertel, nie alleen van Dawid nie, maar ook van sy paleis. En daar sien hy die sensuele lyf van ‘n jong vrou wat besig is om te bad. Hoe dit werk dat jy sit en bad sodat die koning jou kan sien, weet ek nie presies nie. Ons ken die res: Dawid roep haar in, en skielik is sy ouderdom ook nie meer te veel van ‘n probleem nie – Batseba werk soos Viagra. Sy word swanger. Dawid kom agter hy het gedoen voor hy gedink het.
Nou begin hy “scheme”. Batseba se man, Uria, ‘n soldaat in Joab se leër, moet teruggeroep word en toegelaat word om by sy vrou te kom slaap, sodat dit kan lyk of die kind syne is. Maar Uria is ‘n veel meer lojale soldaat as wat Dawid ooit sou kon verwag. Daarom verkies hy om weg te bly van Batseba en liewer te oornag in die stadspoort saam met sy makkers. Daarmee onderteken hy onwetend sy doodsvonnis. Hy dink hy doen iets wat lojaal is. Maar vir hom is dit die dood in die pot. Want die wandelaar op die paleis se daktuin het teen hierdie tyd gewetenloos geword. Uria word teruggestuur om in die voorste linie te veg. Hy sterf in die volgende dag se geveg. Dawid kry vir Batseba.
Voorbeeld drie, hierdie keer uit die afgelope week se koerante: Vier studente in die Reitz-kamerwonings op Kovsies is gatvol vir wat hulle noem “gedwonge integrasie”. Dié groot menere sal ‘n bietjie die owerhede wys wat hulle daarvan dink. Daardeur sal hulle ‘n opstand begin wat universiteitsbeleid sal omkeer. Daarom word ‘n video gemaak waarin kwesbare, swart vroulike skoonmakers op ‘n wyse verneder word wat enige regdenkende mens sprakeloos laat. Wat hierdie studente in hul oomblikke van waansin nie besef het nie, is dat die gebroedsel in die pot, die drek wat hulle in weerlose mense se kele probeer af forseer, inderwaarheid vir hulle die dood in die pot was. Hierdie studente verstaan nie die verskil tussen ‘n pot waarin ‘n mens kosmaak en ‘n pispot nie. Laat ons hoop dat dit nie ook die dood in die pot is vir hul universiteit en vir gesonde menseverhoudinge in die reënboogparadys waarvan Mandela en baie ander gedroom het nie.
Wat my fassineer van die uitdrukking die dood in die pot, is dat dit dui op iets wat gebeur en wat die einde van ‘n saak is, terwyl die akteurs in die handeling presies die teenoorgestelde bedoel het. In dié opsig wil die uitdrukking eenvoudig sê: dinge is nie altyd soos hulle lyk nie. Dit weet ons tog – dinge is nie altyd soos hulle lyk nie: ‘n vuurvlieg is nie ‘n vlieg nie, maar ‘n kewer. Indiese ink kom nie van Indië af nie, maar van China en Egipte. ‘n Loodpotlood bevat geen lood nie, slegs grafiet. ‘n Sywurm is nie ‘n wurm nie, dis ‘n ruspe. ‘n Verskietende ster is nie ‘n ster nie, dis ‘n meteoor. ‘n Piesangboom is nie ‘n boom nie, maar ‘n struik. ’n Komkommer is nie ‘n groentesoort nie, maar ‘n vrug. ‘n Turkse bad is nie Turks nie, maar Romeins. ‘n Koalabeer is nie ‘n beer nie, maar ‘n buideldier. Barack Hoessein Obama kom nie van Afrika of van Saoedi-Arabië nie, maar kan die volgende president van die VSA wees.
Die dood is in die pot wanneer dinge nie alleen anders is as wat hulle lyk nie, maar wanneer die vergissing die begin is van die einde. Toe ek ‘n student was, het ons almal Tassenberg gedrink; ek het dit beleef dat die prys vir ‘n bottel in my tyd as student gestyg het van 35 sent tot 75 sent, wat obseen duur begin word het – hoewel natuurlik steeds ‘n bargain. Toe kry een of ander “wise guy” by Farmers Winery dit in sy kop om Tassenberg van die mark af te haal, en twee of drie jaar later weer terug te bring, hierdie keer met ‘n nuwe etiket, en ‘n minstens verdubbelde prys. Wat hy nie geweet het nie, was dat dit die dood in die pot was vir studente se lojaliteit aan die handelsmerk; tot vandag toe het Tassenberg nog nooit die gewildheid onder studente herwin wat dit in my tyd gehad het nie.
Dinge is nie soos hulle lyk nie. Daarby doen ons dinge met bepaalde bedoelings, en bereik die teenoorgestelde daarmee – ‘n teenoorgestelde wat destruktief en katastrofaal kan wees: die dood in die pot. Eintlik is dit een van die heel oudste temas in ons pogings om die wêreld filosofies of letterkundig te verstaan. Die verhaal wat die idee van die dood in die pot die beste uitbeeld, is die mite van Oedipus. Niemand was nog ooit meer die slagoffer van ‘n onvermoë om te onderskei tussen hoe dinge lyk en hoe hulle regtig is nie, en vir niemand was die dood in die pot sy lewe lank ‘n meer onvermybare lot nie.
Oedipus word groot in die paleis van koning Polybus van Korinthe, wat hy reken sy vader is. Op ‘n goeie dag word die orakel van Delfi geraadpleeg oor Oedipus se toekoms. Die orakel voorspel iets wat te afgryslik is om aan te dink: Oedipus sal sy pa vermoor en met sy ma trou. Vadermoord en bloedskande is die twee universele taboes. Oedipus se eerste gedagte is daarom: Laat ek wegkom uit Korinthe, uit my ouerhuis, ten einde so ‘n vergryp ten alle koste te vermy. Hy besluit om na Thebes te vlug. Onderweg na Thebes val ‘n ou man hom lastig en dwing hom later selfs hardhandig van die pad af. Oedipus vererg hom – hy moet immers so gou moontlik afstand plaas tussen homself en Korinthe. In die skermutseling wat volg, maak hy die ou man dood. Hy kom in Thebes aan, waar hy verwelkom word aan die hof van koningin Jocasta, wie se man, koning Laius, ‘n tyd gelede verdwyn het en wat almal aanneem dood is. Oedipus raak op haar verlief en trou weldra met haar.
En dan kom die ysingwekkende ontknoping: ‘n skaapwagter vertel die verhaal dat hy Oedipus as baba by koning Laius gekry het met die opdrag om hom Korinthe toe te neem sodat hy kan grootword aan die hof van koning Polybus, die man wat Oedipus altyd gedink het sy pa is. Koning Laius van Thebes is onlangs op die pad tussen Korinthe en Thebes vermoor. Oedipus begin besef wat hy gedoen het. “En waar het Lauis die baba gekry?” wil Oedipus dringend by die skaapwagter hoor. “By die kind se ma, sy vrou Jocasta” - die een met wie Oedipus pas getrou het.
Vir die ou Grieke was hierdie verhaal die versinnebeelding van een van die grondliggendste waarhede van ons bestaan: dat ons elkeen ‘n lot het, en dat dit ons niks help om daardie lot te probeer vermy nie. Oedipus verneem sy lot by die orakel. Van daardie oomblik af doen hy alles in sy vermoë om sy lot te ontvlug. Maar hoe harder en hoe verder hy oënskynlik wegvlug van sy lot af, hoe nader kom hy aan die vervulling daarvan. Dinge is nie soos hulle lyk nie. Elke aksie van Oedipus – die moord op ‘n ou man wat hom ophou in sy vlug, die trou met ‘n beeldskone vrou honderde myle van sy ouerhuis – ‘n vrou wat blyk sy ma te wees – elke ding wat hy doen om weg te kom van sy lot, is, inderwaarheid, vir hom die dood in die pot.
Ons, aan die ander kant, is moderne mense – mense wat op die oog af nie meer glo in orakels en in ‘n onontkombare lewenslot nie. Ons meen ons het sake onder beheer. Ons neem elke dag rasionele besluite, en ons dink ons bepaal daarmee die toekoms. Maar die een lot wat ons steeds nie kan ontwyk nie, is die dood. Hy bly vir ons in die pot. Hy lag die laaste.
Mag ek u ten slotte herinner aan hoe die Afrikaanse Sofokles, Eugène Marais, die Afrikaanse Oedipus-verhaal vertel – ‘n verhaal met die naam van "Skoppensboer":
‘n Druppel gal is in die soetste wyn,
‘n traan is op elk' vrolik snaar
In elke lag ‘n sug van pyn,
In elke roos ‘n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer en laaste lag
is Skoppenboer …
Die heerlikheid van vlees en bloed
Die hare wat die sonlig vang
En weergee in ‘n goue gloed:
Die dagbreek op elk’ sagte wang
En oë vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begin die rimpel sny;
Oor alles hou die wurm wag
En stof en as is al wat bly:
Want swart en droef
Die hoogste troef
Oor al wat roer
is Skoppensboer.
Anton van Niekerk
Filosofiekafee, Oude Libertas Sentrum
Woordfees
5 Maart 2008