![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||||||||
|
Marlise Joubert - 2006-09-28
1. Dink jy daar bestaan iets soos ‘n kunstenaarstemperament? Is daar enige persoonlikheidstrekke in die samestelling van ‘n skrywer wat veroorsaak dat hy/sy die wêreld anders ervaar as ander mense? Ja, tog. Die kunstenaar is gewoonlik 'n meer sensitiewe, waarnemende persoon wat alles om en in hom wil bevraagteken en ontgin, hetsy die gister, vandag of die môre, waarnemings van eie en ander se gevoelens/optrede/idees/gebeure. Hy wil ver-beeld, hy soek na sintese, 'n eie soort segging om dinge miskien te verander of slegs 'n ander perspektief/weergawe daarop te gee. Persoonlikheidstrekke? Ek weet nie! Die kunstenaar is ook maar net 'n skrikwekkend gewone mens met sy eie unieke stel persoonlikheidstrekke.
2. Watter deel van skryf verskaf aan jou die grootste genot: die proses of die eindproduk? Hoekom? Die skryf self, natuurlik. Die oorgee aan die worsteling en uitputting, die vreugde as 'n woord of 'n reël gebeur soos jy dit graag wou, die verrassings wat jy teëkom in die skryfproses, die idees wat dikwels lei tot ander wat jy nooit aan gedink het nie. Ek self werk eintlik baie assosiatief; my intuïsie loop dikwels vooruit. Miskien omdat ek ook baie visueel ingestel is. Niks maak my so benoud soos byvoorbeeld 'n opdragvers nie. Dis onmiddellik inperkend. Miskien hou ander van daardie soort uitdagings. Maar ek vermoed tog dat die skrywer/kunstenaar juis sy eie grense wil verskuif of oorskry, 'n soort vryheid van gedagtegang aanhang oor dit wat hom werklik interesseer en gevange kan hou.
3. Marlise, ek het ‘n wondermooie gedig van jou eenkeer in Tydskrif vir Letterkunde (ook opgeneem in Lyfsange) gelees. Die titel is “in memoriam Strooi”. Die gedig handel oor die afsterwe van ‘n geliefde hond genaamd Strooi. Jou gedig het ontsettend baie vir my beteken, veral hoe jy ’n baie intense dog doodnatuurlike ervaring omskep het in iets wat ontroer. Wat is die geheim om doodnormale/alledaagse ervarings so in te span dat dit ’n kunswerk word, iets wat ontroer? Jy praat van 'n hond? Maar dit was 'n kat! Ek is bly om te hoor dat jy van die gedig gehou het. Strooi was 'n geliefde swart mannetjieskat. 'n Hond het hom verskeur. Hy het nog geleef. Ek het hom toegedraai en veearts toe geneem. Hulle kon niks vir hom doen nie. Ek het gekyk hoe hulle hom inspuit. Hoe hy doodgaan. Die weerloosheid van 'n geliefde huisdier het my laat huil. Tuis het ek voor die rekenaarskerm gesit en my gevoelens probeer verwoord. Dis een van daardie verse waaraan ek min verander het, miskien hier en daar 'n woord. Soms gebeur 'n vers op dié manier. Daar is geen geheim tog in nie? Die alledaagse is ook deel van menswees en dus ook verweef met jou eie kreatiwiteit. Die opkerf van tamaties, die potplant wat omval, die verf van 'n muur, die ring wat gesteel word – enigiets kan aanleiding gee tot die drif om te skep, om iets meer of anders daarin raak te sien. Selfs iets soos boekhouding het my eenkeer 'n vers laat pleeg. Eintlik was die gedig oor my kat sommer 'n gewone private terapeutiese dagboekvers, nie eens bedoel vir publikasie nie! Strooi se afsterwe het egter 'n hele lang rits ongelooflik positiewe gebeure meegebring in my lewe. Maar dis 'n storie vir 'n ander dag ...
4. Dikwels skryf mense oor intense ervarings (soos liefdesteleurstellings of die afsterwe van geliefdes), maar soms ontaard dit in niks meer as ’n emosionele relaas nie. Hoe kry jy as skrywer afstand, en is dit noodsaaklik om afstand te kry? Ja, afstand is broodnodig. Ek laat verse lank rus, maande lank. Kyk dan weer, meer objektief, maak veranderinge, sny weg wat oorbodig is. Soek na die kern. Hopelik ontstaan 'n “nuwe” vers uit daardie amorfe emosionele landskap wat kan saampraat met die leser. Wat ook miskien vir altyd sal voortbestaan.
5. Woorde, en veral die omgaan met woorde, is die enigste uitdrukkingsmiddel wat ‘n skrywer tot sy/haar beskikking het. Hoe kan ‘n skrywer hom-/haarself meer woordskerp maak? Slaap minder en lees meer.
<< Besoek die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskole <<
|