Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Koos Kombuis: Kaalkop die waarheid > Van Trompie tot Fokofpolisiekar

Van Trompie tot Fokofpolisiekar


Koos A Kombuis - 2006-09-19

Daar is twee soorte mense in die wêreld: dié wat lees, en dié wat nie lees nie. As jy iemand die vraag vra: “Wat lees jy op die oomblik?” sal die persoon wat lief is vir lees, dadelik vir jou kan sê: “Ek is op die oomblik besig met hierdie of daardie boek of boeke.”

Mense wat graag lees, lees elke dag. Al is dit nie noodwendig ernstige boeke wat hulle lees nie – dit kan selfs net speurverhale wees – is lees vir sulke mense ’n gereelde aktiwiteit. Hulle gaan lê saans in die bed met ’n boek.

Ek sien nie neer op mense wat nie lees nie, maar ja, ek is ’n leser. My vrou is ’n leser. Die meeste mense wat ek ken, is lesers.

Waar het hierdie leestradisie in my lewe begin? Waarskynlik by Trompie.

Soos alle kinders, het ek van kleins af prentjieboeke deurgeblaai. Maar dit was tydens laerskool dat ek Trompie as karakter leer ken het, en die feit dat daar ’n hele reeks Trompie-boeke beskikbaar was, het my laat aanhou lees. Toe die Trompie-boeke op was, het ek aanhou lees; ek het die Uile gelees, en Jasper. Toe my Afrikaanse storieboeke op was, het ek begin lees aan William the Rebel en The Hardy Boys.

Gister toe die uitgewers vir my die nuut herdrukte Trompie- en Saartjie-boeke aflewer – en hoe mooi en fleurig is dit nie herdruk nie (dis baie nicer as die destydse fotoverhaal in Patrys)! – het ek lank sit en dink oor die pad wat ek en die kinders van my generasie met Trompie geloop het. Ek het ook gewonder hoe Trompie vandag daar sou uitsien as hy in ons tyd geleef het. Sou hy ’n iPod gehad het? Sou hy selfoon-pornografie gedownload het? Waar sou iemand soos Trompie vandag ingepas het in die nuwe jeug-leefwêreld van dwelmmisbruik, sinisme en Fokofpolisiekar?

Mens hoef maar net vir een dag lank na MK89 te sit en kyk om te besef in watter vakuum ons jongmense hulleself deesdae bevind.

Wat weet vandag se kinders van vrugte steel? En van kleilat gooi? Ek het in my jeug nog vrugte gesteel, maar selfs in ons tyd was kleilat gooi al haas onbekend – ek het dit net een keer gedoen, teen die plaasklonkies, en agtergekom dat dit nogal ’n geniepsige speletjie kan wees, veral as jy speel teen kinders met groter vaardigheid as jyself. So ’n bol klei maak seer!

My eie geslag het ook in ’n vakuum grootgeword, maar dit was ’n ander soort vakuum. Dit was ’n vakuum sonder enige inligting van buite. Vandag se kinders word gebombardeer met te veel inligting. Vandag se kinders het nie net die internet nie; selfs met die jeugboeke wat aan hulle opgedis word, soos byvoorbeeld ’n Pot vol Winter, word hulle oor die kop geslaan met seksuele issues en didaktiese waarskuwings. Daar is te veel opsies; hulle word te vroeg groot.

Toe ek jonk was, het ek die era van die Bothas baie negatief ervaar. My lewe was oorheers deur ouers, onderwysers en dominees. Daar was geen humor nie. God was ’n nors ou omie met ’n baard wat alles dophou wat ek doen. Slegs die Trompie-boeke het my ’n sin van selfrespek besorg. Trompie was stout, en dit was oukei. Die Trompie-boeke en soortgelyke ontspanningsjeugverhale was vir my ’n lig in ’n donker tonnel.

Omdat ek as gevolg van Trompie besef het dat dit okei was om stout te wees, het ek later in my lewe sommer baie stout geraak. Natuurlik was Trompie se leuse altyd “stout, maar nooit lelik stout nie”. Dis ’n middeweg wat nie net ek nie, maar ook vandag se jongmense maklik verloor. Vandag se jongmense is óf té stout, soos Fokofpolisiekar, óf nie stout genoeg nie. Dink maar aan die nuwe Idols-wenner, die Dewald-mannetjie. Dis asof beide Fokofpolisiekar en die Dewald-mannetjie te min Trompie-boeke gelees het toe hulle klein was. Want die een groep is te stout en die ander groep skynheilig soet.

Ek weet nie of dit ’n vloek of ’n seën was nie, maar wat vir my en die jongmense van my tyd eindelik ’n fokus gegee het, was die Voëlvry-protes. Vandag se kinders het nog nie so ’n fokus nie. En om so ’n fokus te kry is vandag heelwat moeiliker as in ons tyd, want die issues waarmee vandag se jongmense gekonfronteer word, is eenvoudig so oorweldigend dat hulle waarskynlik nie weet waar om te begin optree nie. Daar is byvoorbeeld die vernietiging van die natuur. En, vir blanke Afrikaanse kinders, die verlies aan identiteit en seggingskrag in die Nuwe Suid-Afrika.

Tog is daar raakpunte. Tog is daar iets inherent in die jeug wat altyd tydloos bly. In ’n mate is die vraag wat ek gestel het: “Is Trompie nog relevant vandag?” reeds so pas deur Carina Diedericks-Hugo beantwoord toe sy vertel het dat Trompie-boeke steeds die gewildste jeugboeke is by biblioteke. Dit word selfs meer gelees as Harry Potter!

Ek wil afsluit met ’n paar paragrawe wat ek gister per e-pos ontvang het van ’n sestienjarige meisie van die Paarl, Euonell Grundling:

Ek lê in my bed, luister na die serenade van krieke. Die nag-goggas. Hulle sing van die nuwe maan wat hulle sal lei, wat oor hulle sal waak. Ek word bekoor deur die vars geur van jasmyn wat die koel suidooster by my venster inwaai. Ek het dit gemis. Die koue hiberneer-maande het die vreugde van lentegeure weggejaag. Elektrisiteit het die spoke en God se wakende liggies weggejaag.

Ek mis goed wat ek nog nooit gehad het nie. Ek mis my somershuisie in die Weskus wat grens aan die ruwe rotse. Ek mis my droomryke slape met oop deure in my huisie sonder diefwering. Ek mis die eenvoudige kafees in die blok wat hulle die middedorp noem. Ek mis die mense by die kaai wat lewe van elke dag se vangs en hulle nie bekommer oor môre nie. Ek mis die rustigheid van die alleen seevoël oor die magtige branders.

Die lewe gaan my verby. Raka is besig om baas te word en ek staan en kyk toe.

So lank as wat daar jongmense is, so lank sal daar verbeelding en woorde en nuwe idees wees.