Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays > NALN, kultuurskatte en gemeenskaplikheid

NALN, kultuurskatte en gemeenskaplikheid


Hein Willemse - 2007-12-05

Erfenisberaad, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
13–14 November 2007

 

Vir Elize Botha


1
Dankie vir die uitnodiging om aan hierdie Erfenisberaad deel te neem. Ek stel dit hoog op prys. Ek dra my voordrag op aan prof Elize Botha, ’n gewaardeerde kollega, ’n voormalige voorsitter van die Akademie, een van my voorgangers as hoofredakteur van Tydskrif vir Letterkunde, om maar enkele van haar talle leiersrolle te noem. Oor die jare wat ons mekaar ken, het ons dikwels ontmoet, dikwels oor sake van die dag besin en ja, dikwels verskil. Sy was ’n meelewende, ingeligte, kritiese en meesal ’n prikkelende gespreksgenoot. Sou sy in beter gesondheid gewees het, het ek geen twyfel dat sy innemend sou verskil met van die uitsprake wat ek vandag hier gaan kwytraak.[1]

Hierdie beraad volg op die gebeurde en gerugte rondom interne beleidsaanpassings en personeelverskuiwings by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum. Naln is vir my nie onbekend nie. In die verlede het ek dikwels in die sentrum se leeskamer navorsing gedoen of dokumente per pos aangevra. Die personeel het altyd flink op my versoeke gereageer. Ek het selfs oor die jare al ’n paar skenkings aan Naln gemaak. Ek staan dus nie onverskillig teenoor die instelling nie. Toe die organiseerders my ’n paar weke gelede genader het, het ek aangedui dat ek bitter min van die huidige woelinge weet. Wat ek wel van die situasie weet, is gebaseer op berigte wat ek sedert April 2007 van tyd tot tyd in die Afrikaanse koerante gelees het. Om my dus oor detailsake uit te spreek, sal grens aan die arrogante, want ek weet gewoon net te min. Indien ek uitsprake sou maak oor interne beleidskwessies, sou u my – tereg – kon beskuldig van beterweterigheid.

Ons gesprek vandag vind natuurlik plaas in die konteks van die grondige verandering wat ons land en sy instellings die afgelope twee dekades beleef. Van die kernvrae van hierdie aanpassings is: Wie is ons? Wie of wat wil ons wees? En wat moet ons doen om daardie toekoms te bereik? Hierdie is nie net vrae oor identiteit nie, maar ook vrae oor sosiale waardes. Dikwels word die vrae in ons konteks vertolk as ’n spanning tussen partikularisme en gemeenskaplikheid: die nouer omskrewe “ons” teenoor ’n omvattender “ons”, en veral ’n spanning tussen etniese Afrikaanse kulturele uitdrukkings en ’n wordende nasionale identiteit. Om die saak só te sien, suggereer ’n konstante antagonistiese dualisme.

Ek wil aanvoer, sonder om uitgebreid die saak te beding, dat hierdie spanning nie die enigste manier is om ons sosiale en kulturele diversiteit te hanteer nie. Dit is vir my ’n basiese aanname dat Suid-Afrika gedefinieer word deur sy diversiteit, net soos die land se volkslied bestaan in sy musikale disjunksie en sy veeltaligheid.

2
Ter voorbereiding van hierdie toespraak het ek doelbewus nie weer enige van die berigte oor die woelinge om Naln wat die afgelope paar maande verskyn het, geraadpleeg nie. Die rede daarvoor is dat ek so ver moontlik onbevange en veralgemenend wou skryf – dus nie noodwendig afgespits op die besonderhede van hierdie saak nie.

Maar daar is tog één oorheersende indruk uit my lees van die aanvanklike nuusberigte wat ek wil aanraak. In talle van die berigte het ek ’n ondertoon van beleg, van oorlewingsangs en van ’n gemeenskap in krisis gelees. Verskeie samesweringsteorieë is deur artikel-, rubriek- en briefskrywers ontwikkel waarin hierdie bepaalde kwessie vertolk is as ’n teken – nogeens – van die huidige staat se stryd téén die Afrikaner. In soms oordrewe reaksies is die woelinge om Naln gestel op ’n kontinuum, as voortsetting van plaasaanvalle, die verhoogde misdaadvlakke, die uitskuif van die Afrikaner, en die oorname van “ons kosbaarhede” deur vreemdes.

Laat dit vir ons duidelik wees: dié soort oorreaksie beduiwel ’n ingeligte gesprek. Naln is in dié kampanje afgekamp en begrendel as ’n eng etniese saak eerder as deel van ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse saak. Dié soort benadering stook die vure van diegene wat Naln slegs as ’n Afrikaner-kampie wil sien, wat dit wil isoleer as ’n instansie van beperkte omvang met weinig impak op ons nasionale psige.

Ek hoor dikwels in die openbare debat hierdie melancholie gepaardgaande met ’n nostalgiese teruggryp na ’n verlede toe dit vermoedelik beter gegaan het. Hierdie beriggewers en meningsvormers skep vir my as buitestander – en ek dink vir die meeste ingeligte Suid-Afrikaners – ’n onaantreklike beeld van ’n alewig-ontevrede, alewig-verontregte, alewig-beleerde, alewig-temende gemeenskap. Met elke geskil eis dié leiers dat regeringslui en -amptenare hulle van allerlei spesiale “versekeringe” moet voorsien of openbare knievalle in die rigting van “rekonsiliasie” en “versoening” moet maak.

As Afrikaanssprekende deel ek nie die oorlewingsangs wat ek telkens by monde van selfaangestelde Afrikaanse en Afrikanerleiers hoor nie. Terselfdertyd ontken ek nie dat die antagonieë van die verlede in sommige situasies ons huidige beleidsomgewing befoeter nie, maar ons kan nie elke liewe kwessie vereng tot ’n aanval op die Afrikaner – of op dit wat hy as sy eiendom beskou nie. Ons sit midde-in ’n herskikkings- en veranderingstyd waar grondige aanpassings gemaak word – en gemaak moet word. Maar in plaas van onttrekking, inwaartse migrasie, droefgeestige samesweringsteorieë, versoeningshonger en die onophoudelike gekla moet ons met alle Suid-Afrikaners kreatiewe saam dink én werk om in hierdie land te leef, nie ter wille van ’n isolerende etniese gemeenskap nie, maar ter wille van ons gemeenskaplike voortbestaan as Suid-Afrikaners.

Ons leef met ’n dubbele bewussyn – om WEB DuBois, die formidabele vroeë twintigste-eeuse Amerikaanse intellektueel, buite konteks aan te haal. Ons ontspring uit verskillende agtergronde, ons beleef verskillende geskiedenisse, ons het met verskillende lewenspaaie hierdie punt in ons bestaan as Suid-Afrikaners bereik. Mark Gevisser formuleer in sy biografie Thabo Mbeki – The dream deferred, die volgende karakterisering van Suid-Afrikaners: “Being South African has meant, always, the perpetual negotiation of frontiers, the marking of territories, us and them, the known and the unknown, the safe and the fearful” (49). Tog moet daar ’n punt wees waar die setlaar, om met die Ugandese politieke wetenskaplike Mahmood Mamdani, te praat, ’n keuse maak om ’n burger te word, om onbevange Afrikaan en Suid-Afrikaner te wees. Vir derduisende Suid-Afrikaners het daardie proses reeds plaasgevind; tog word in sommige gevalle nog, ten spyte van uitsprake tot die teendeel, naarstiglik geklou aan die eiendomlikheid van separatisme en eie sake.

 

3
In die openbare debat verstom ek my dikwels vir die gebrek aan insig wat meningsvormers demonstreer vir waarom ons ons in ’n tyd van aanpassing en verandering bevind. Uit hierdie oorde is die beskuldigings maklik dat hier wéér ’n slag van ons weggeneem word. Ons vergeet te maklik ons geskiedenis. Neem maar my vakgebied – die Afrikaanse letterkunde. Ek kan nie my vakgebied met insig bedryf as ek nie ’n begrip het vir die sosiale en politieke faktore en konteks of die institusionele steun wat die Afrikaanse letterkunde die afgelope eeu of wat te beurt geval het nie. Ek kry ’n nog groter insig in hierdie historiese prosesse wanneer ek onthou dat Sotho- en Zulu-ortografieë omstreeks dieselfde tyd en selfs vroeër as Afrikaans gevestig is. Maar kyk wat het met die Sotho- en Zulu-letterkundes gebeur? En wat het met die Afrikaanse letterkunde gebeur? Wat boekpublikasie in Afrika betref, is tot redelik onlangs meer boeke in Afrikaans gepubliseer as in Afrikatale met dermiljoene sprekers, soos KiSwahili en Yoruba, terwyl in vergelyking die Sotho- en Zulu-letterkundes piepklein gebly het.

Soortgelyke prosesse van onderontwikkeling kan natuurlik gevind word op alle samelewingsgebiede in ons land. By die lees van Gevisser se indrukwekkende biografie het ek weer, soos destyds met Charles van Onselen se The seed is mine, onder die indruk gekom van hoe koloniale en apartheidsregerings vir dekades aktief die ontwikkeling van ’n swart middelklas ondermyn en swart mense doelbewus pagters en houthakkers gehou het.

Maar ons kan nie net hierdie geskiedenis bly ophaal en voortdurend herbedink nie. Ons moet ook iets daaraan dóén. Die aard van verandering neem soms dimensies aan wat ons nie vooruit kan beplan nie.

Ek neem weer ’n voorbeeld uit my eie vakomgewing. ’n Paar jaar gelede is ek genader om die hoofredakteurskap van Tydskrif vir Letterkunde oor te neem. Dit is die oudste Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) letterkundige tydskrif, wat, in verskeie gedaantes, vir meer as 70 jaar bestaan – in alle opsigte dus ’n Afrikaanse en Afrikaner-kultuurskat. Met my oorname het die tydskrif vir nagenoeg ’n jaar nie verskyn nie – en algehele sluiting was ’n besliste moontlikheid. Daar was talle redes vir hierdie toestand, maar ’n bepalende faktor was die skerp afname in die artikelpublikasie van ’n krimpende korps van gevestigde Afrikaanse letterkundenavorsers. Vandag is die situasie natuurlik beroerder: ek sal verbaas wees as daar meer as dertig gevestigde Afrikaanse letterkundenavorsers aan Suid-Afrikaanse universiteite bedrywig is. Hierdie groepie moet, terloops, vyf akademiese letterkundige tydskrifte in stand hou en bedien. In elk geval: ons moes Tydskrif vir Letterkunde weer staan maak – nie net ter wille van oorlewing nie, maar op so ’n wyse dat dit kreatief kon voortbestaan. Die tyd was reg vir totale herposisionering. Ons het Tydskrif vir Letterkunde aangepas tot ’n meertalige “tydskrif vir Afrika-letterkunde” (in die kontinentale sin van die woord) – ’n fokus wat die Afrikaanse letterkunde moes posisioneer as ’n Afrika-letterkunde naas ander Afrika-letterkundes. Die strategie was tot dusver grotendeels suksesvol, maar daar is natuurlik geen langtermyn-waarborge nie.

Daar is ook ’n strategiese storie agter hierdie besluit. Tot redelik onlangs – tot so onlangs as 1998 – was daar geen verwysing na Afrikaanse letterkunde in die belangrikste Afrika-letterkundehandboeke of -verwysingstekste nie. Trouens, talle Afrika-letterkundige vakgenote beskou die Afrikaanse letterkunde as ’n aberrasie, ’n oorblyfsel van ’n koloniale wêreld. Hul grootste medewerkers aan hierdie algehele uitsluiting was Afrikaanse literatore: dit moet ook gestel word dat plaaslike letterkundiges oor die dekades weinig gedoen het om die Afrikaanse letterkundige bedryf aktief as deel van ons kontinentale letterkundes te bevorder; vir hulle was in hoofsaak die Europese verbintenis van ons dubbele bewussyn bevorderbaar.

Die veranderingsdruk by Tydskrif vir Letterkunde kan gewis nie vergelyk word met die veranderingsdruk wat Naln of soortgelyke instansies beleef nie, maar ek wil dink dat die onderliggende vraagstelling dieselfde bly: Hoe pas ons aan? Hoe leef ons kreatief in die toekoms? Dus, in plaas van: Hoe beskerm ons die verlede? is die vraag: Hoe verbeel ons die toekoms? Op alle vlakke van ons samelewing is daar mense wat kreatief verandering leef – ten spyte daarvan dat daar geen versekering is dat sulke inisiatiewe vrugte sal afwerp nie.

4
Dit is gemene saak dat argivale instellings soos biblioteke of ander bewaarplekke nie los staan van die idees van hul tyd nie. Dit is in hierdie ruimtes dat ons ’n sin kry van heersende tendense. Dit wat bewaar word, en die wyse waarop dit bewaar word, gee vorm en betekenis aan ons kennis van die intellektuele en sosiale omgewing. ’n Hele paar jaar gelede, tydens my eerste besoek aan Ghana, het ek die Nasionale Museum in Akkra aangedoen. Die museum is gewy aan Wes-Afrikaanse etnografiese uitstallings en bring prekoloniale artefakte byeen van die gebied wat voorheen as die Goudkus bekend gestaan het. Na ’n betaling van die duur dagfooi en ’n kamerapermit het ek daarna uitgesien om ’n insig in die Ghanese psige te kry. Die naasliggende praalgraf van die eerste Ghanese president, Kwame Nkrumah, bevat onder meer die uitstalling van enkele meubelstukke, ’n kledingstuk of wat, ’n paar verwaarlooste boekeksemplare en, in kru plastiekomslae, foto’s van voormalige presidente. Die museumgids het teen ’n verdere fooitjie die verhaal van Nkrumah vertel. En toe ek vra of gewone Ghanese die geboue besoek, was sy antwoord, sonder enige ironie: “Nie eintlik nie; dis net oorsese mense wat kom kyk. Ons ken ons geskiedenis en het nie museums nodig nie.” Wat ek by die museum gekry het, was ’n stowwerige uitstalling sonder enige noemenswaardige beskrywings wat die uitstallings in konteks kon plaas. ’n Stoflap en ’n bietjie liefdevolle versorging sou grootliks kon bydra tot die besoeker se waardering. Ek was bedruk toe ek daar weg is, want,  was my vraag, sien die gewone Ghanees regtig waarde in dié afgeskeepte museum, of is dit maar net nog ’n toeriste-aantreklikheid – inherent eksoties en sinies afgestem op die toeristefooi? Is dit dan vir die gewone Ghanees betekenisloos? As dié indruk van vervreemding waar is, wat is dit dan wat die gewone Ghanees as vergestalting en draers van hul intellektuele, geskiedkundige of kulturele waardes ag? En waar is dit?

Vra ons dieselfde vraag in vandag se Suid-Afrika, is daar ’n soortgelyke bedruktheid wat my oorval. In die verlede is kultuurinstellings geskep wat dit vir ons moeilik maak om ons gemeenskaplikheid as Suid-Afrikaners te herken. Van ons bestaande bewaarinstellings reproduseer die sosiale en ideologiese aannames van ons verlede. Die waardes van separatisme, afsonderlike ontwikkeling, afsonderlike kultuurgroepe en apartheid bly diep gevestig in hierdie aparte instellings. Praat besoekers van “Suid-Afrikaanse letterkunde”, bedoel hulle eintlik daarmee “letterkunde gepleeg deur Engelsskrywende Suid-Afrikaanse skrywers. Vir talle in ons land – ingeligte beleidmakers en kundiges – staan Naln byvoorbeeld in die teken van ’n verbygegane era – ’n vertoonstuk van witheid, nog ’n bewaarplek van Afrikaner-nasionalisme of ’n omheinde afvalterrein van die Afrikaanse letterkunde. As sodanig kan dit geïgnoreer word of kan mense onverskillig daarteenoor staan. Ek stem kennelik nie saam met sulke argeloosheid nie, want selfs in hul politieke en kulturele spesifisiteit het sulke instellings inherente waarde en dra dit by tot ons ontwikkelende Suid-Afrikaansheid.

Tog bly daar vir my ’n wesenlike vraag: Hoe skep ons instellings wat dit vir ons moontlik maak om ons koloniale en apartheidsverlede te oorstyg? Hoe verbeel ons die toekoms?Ons toekoms kan nie net ’n eenvoudige, onproblematiese voortsetting en reproduksie van die verlede wees nie.

As ons aan dié gedagte gehoor wil gee, behoort Naln bevorder te word as deel van ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse literêre bewaarplek – desnoods gedesentraliseer. Dit beteken die erkenning van ons gemeenskaplikheid, want die bydrae van elke kreatiewe Suid-Afrikaner sal op hierdie wyse erken word en elke konstituerende taal- of kultuurgemeenskap se bydrae tot ons Suid-Afrikaansheid sal voorop staan. Dit is in sy bydrae tot ons gemeenskaplikheid dat Naln se toekomstige heil lê.

Ek moet beken dat my ideale Suid-Afrikaanse letterkundige museum dit moontlik sal maak dat ek Mazizi Kunene se boekery, sy manuskripte en mondelinge Zulu-opnames en transkripsies naas dié van Van Wyk Louw, Sol Plaatje of HIE Dhlomo se aantekeningboeke kan besigtig; dat ek naas Ansuyah R Singh se vergete manuskripte ook die Morawiese briefskrywers kan ontdek of dat ek Nadine Gordimer se duisternis Engelse bokslêers naas die ajami-tekste geskryf in Arabiese skrif kan deurblaai; dat ek naas Tshivenda mondelinge vertellings die ou stories van Jan Spies kan beluister; dat ek die bronnemateriaal van stoere gay- of feministiese skrywers naas stoere nasionalistiese skrywers van watter geur ook al sal kan deurblaai. My ideale kenners – as individue en as deel van spanne – sal oor die spektrum bekend wees met die Suid-Afrikaanse letterkundes; hulle sal in die toekoms verskillende letterkundige tradisies met gesag na waarde kan skat, en hulle sal met gemak ons taleverskeidenheid kan hanteer. Anders as vandag, sal almal sonder huiwering uit alle oorde kan protesteer dat die geringste aantasting van enige deel van ons versameling ons almal raak. My innige hoop is dat ons toekoms berus in ons doelbewuste skepping van so ’n gemeenskaplikheid.

5
Die vorming van ’n nasionale identiteit, of nasionale identiteite, is nooit afgehandel nie, maar bly voortdurende skeppings – dit bly in proses. Wat ons nasionale identiteit sou wees, durf nie alleenlik bepaal word deur vandag se heersende modes nie. (In ideale omstandighede sou ek ’n armlengtebeleid voorstel waar die regering die begroting voorsien, maar sy hande van beleidskwessies afhou, sodat ons bewaarplekke as deurlopende instellings kan gedy sonder die tydige en ontydige intervensie van politici.) Net soos dit wat bewarenswaardig is, nie bepaal kan word deur die hegemonie van ’n bepaalde sosiale orde, ’n bepaalde politieke party of  ’n bepaalde intellektuele oriëntasie nie. Trouens, ons grootste uitdaging is om inderdaad daardie artefakte, praktyke, stories en ander geestesgoedere te beskerm en te bewaar wat nie in ons hoofstroom tot uiting kom nie. Dit is ’n opdrag wat ons as Suid-Afrikaners of Afrikane nie altyd behoorlik nakom nie. Ons het dikwels oortuigende redes waarom geestesgoedere nie versamel kan word nie: dit is té duur, dit is té obskuur ... Daar is altyd ’n té ... en soms is dit gewoon dat ons nie waarde heg aan ons geestesgoedere nie – dit terwyl instansies buite Suid-Afrika juis insig het in die noodsaak vir bewaring. Die bewaring van kultuurgoedere moet juis gemeet word aan die mate waarin individuele en gemeenskapspraktyke deel gemaak word van ons gemeenskaplike prestasie. Elke bewaaraksie is ’n bydrae tot ons beskerming van ons tydsmoment in die lang verloop van die geskiedenis van die mensdom.

As Suid-Afrikaners en as Afrikane het ons nie altyd hierdie saak met die nodige erns hanteer nie; dikwels het ons ook hierdie skatpligtigheid nie behoorlik nagekom nie. ’n Hele paar jaar gelede, tydens ’n besoek aan die Universiteit van Texas in Austin, VSA, wys Bernth Lindfors, een van die groot versamelaars van Afrika-letterkunde, vir my ’n handgeskrewe manuskrip. Ek praat onder korreksie, maar ek dink dit was Amos Tutuola se The Palm-Wine Drinkard (om sy volle titel te gee: The Palm-Wine Drinkard and His Dead Palm Tapster in the Dead’s Town). Lindfors vertel hoe die oorspronklike manuskrip destyds vir ’n geruime tyd beskikbaar was. Hy het verwag dat ’n Nigeriese universiteit of ten minste ’n ander Afrika-universiteit belang sou stel in hierdie eksentrieke Nigeriese skrywer se sonderlinge manuskrip. Tog was nie een sodanige instelling of ’n Afrika-museum geïnteresseerd nie. Eers nadat hy – Lindfors – die manuskrip bekom en deel van sy groeiende Afrika-letterkundeversameling gemaak het, is hy uit dieselfde oorde daarvan beskuldig dat hy Afrika se geestesgoedere afrokkel en uitsmokkel Amerika toe.

Dit gebeur egter nie net in Nigerië nie; dit gebeur ook met ons Suid-Afrikaanse geestesgoedere. Hoe dikwels is oorspronklike Suid-Afrikaanse manuskripte nie geredelik in Amerikaanse of Europese bewaarinstansies beskikbaar nie, terwyl ons nie eens van die bestaan daarvan weet nie? Die gevaar bestaan dus dat indien ons nie behoorlike bewaarplekke vir ons geestes- en kultuurgoedere skep nie, ons meer versamelings sal verloor as wat ons reeds verloor het.

Gedrewe versamelaars soos PJ Nienaber is dun gesaai, en hoe het ons vandag nie in alle Suid-Afrikaanse tale sulke versamelaars nodig nie? Prof Lindfors is reg: as Afrikane is dit ons verantwoordelikheid om ons geestesgoedere te beskerm en die moeite te doen om geskikte bewaarinstellings te skep. Geld is altyd ’n hindernis, maar waar daar ’n wil is, moet daar ’n weg wees. Om dit nie te doen nie, is hoogs onverantwoordelik: ons verraai ons plig teenoor onsself, ons deeltjie van die mensdom aan die suidpunt van Afrika, en die totale geskiedenis van menslike bestaan. Wanneer oorsese instellings of individue waarde aan plaaslike geestesgoedere en -materiaal heg, dit versamel en aankoop, en dan in oorsese versamelings opneem, kan ons nie agterna kla nie. Die tyd is haas verby dat ons koloniale of kapitalistiese stropery die skuld kan gee – net soos die tyd vir altyd verby is dat ons kennis van onsself soos in premoderne samelewings afhanklik is van die insigte en geheue van die wandelende, ensiklopediese storieverteller, die wyse, singende griot. As bewaarder van kennis het die wandelende wyse oumens ongelukkig een onoorkombare tekortkoming: hy of sy kan doodgaan en, soos die vermaarde Malinese skrywer, Amadou Hampaté Bâ, in 1962 gesê het, “Wanneer ’n ou man in Afrika sterf, sterf ’n biblioteek.” Dit mag nie die lot van ons geestesgoedere wees nie.

6
Ten besluite: museums, biblioteke en ander bewaarplekke is institusionele vorme van herinnering en onthou. Sulke instellings verteenwoordig narratiewe vorme vir die strukturering van kennis. Ons keuses vir openbare beskikbaarstelling of uitstalling verteenwoordig heersende waardes, net soos dit die konstruering van sosiale verhoudings en verbandlegging in daardie verhoudings suggereer. In Suid-Afrika moet ons sorg dra dat ons instellings die verwikkeldheid en diversiteit van ons samelewing ten toon stel.

Hoe verbeel ons ons toekoms?Ons moet ons oog hou op die uitbou van ’n oop nasionale identiteit waarin al die geledinge van ons land tereg kom, eerder as die terugtrek in partikuliere identiteite.

 

[1] Prof Elize Botha (76) is twee dae na die lewering van hierdie voordrag op 16 November 2007 in Pretoria oorlede.