Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > The Buckfever Underground: Kop en skouers ondergronds

The Buckfever Underground: Kop en skouers ondergronds


Riana Wiechers - 2007-11-13
“Wat’s die band se naam?” vra my suster.

“Buckfever Underground.”

“Wie’s hulle?”

“So ’n cult band.”

’n Paar oomblikke stilte. “Wat’s ’n cult band? Newwermaaind. Ek moet vanaand die hond bad.”

Dis twee ure voor die amptelike vrystelling van The Buckfever Underground se derde album, The Buckfever Underground Saves. Opgeneem in 2005, gemeng, oor en weer ge-e-pos, ’n paar keer vergeet in Inboxes en uiteindelik vanaand losgelaat in die Durbanville Kunskafee, ’n agterstraatteatertjie in ’n noordelike voorstad van Kaapstad, net om die hoek van Spiro’s Hardware en oorkant ’n parkie waaroor Spur-aromas op die aandwind aanwaai. Agter die kroeg is ’n kennisgewing: No alcohol served to under 18s/red stamps!!!!

Vier jong latte kom ingedrentel, op soek na Battery 9. Die bestuurderes lig hulle in dat dit The Buckfever Underground is wat vanaand speel. Sy wys na ’n advertensieplakkaat teen die muur. Die 8 van 28 September is vernuftig met ’n swart kokiepen in ’n 6 omskep. “Wie’s hulle?” vra die kort outjie vir sy vriend met die peroxide-kuif terwyl hulle deur se kant toe mik.

’n Kraakvars TygerBurger lê oop op ’n tafeltjie langs ’n groot rangskikking blomme. ’n Depressie-en-angs-groep ontmoet kwart oor sewe op Maandagaande by die Durbanville NG Kerk. Oormôreaand hou die Boeremusiekgilde ’n dans in die saal van die Northlink College in Goodwood.

Vanaf die verhoog vra voorbok en skrywer Toast die klankman om die instrumente se volume af te draai. Hulle probeer weer, Toast se woorde dié keer ’n ietwat duideliker. "… Uit die tong van ’n mespunt kom moord uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel en die plukkers is die punte wat verlief is op die kommas." Die ouens op die verhoog kyk na mekaar, kom dan woordeloos tot ooreenstemming. Die klanktoets is verby. Toast kom groet en ons verskuif na die piepklein rokersafdeling.

“Ons het die Geraas SABC2 Vuurdoop Liedjieskryf-kompetisie in 1998 gewen,” verduidelik die plaasseun van Cradock wat tydens besigheidsure sy brood as rondreisende skrywer vir ’n bekende Engelse reistydskrif verdien. “Ons het ’n song record - die demo version van “Dink Harder” (op Jou Medemens Is Dood). En by amazing fluke het ons die Alternatiewe deel van die kompetitise gewen.”

“We only entered because it would be an excuse for us to record a song,” vertel Gilad Hockman, baskitaarspeler en medestigterslid.

“Ons was op na Jo’burg vir ’n interview en video show,” vertel Toast tussendeur happe van ’n reusagtige avokado-en-spek-burger. “Daar was geen awards ceremony nie. Op pad terug het ons gestop vir koffie by die Gariepdam. Toe bel iemand en sê ons het gewen.”

Al die lede, met die uitsondering van kitaarspeler Righard Kapp (wat eers in 2005 by die groep aangesluit het), het mekaar ontmoet toe hulle by Rhodes studeer het. Vandag is dit nege jaar en drie albums later.

Hoekom dan die tweejaargaping tussen die opname en vrystelling van hulle jongste album?

“We recorded in October 2005 and we planned to release it immediately. But a whole lot of life got in the way,” verduidelik Gilad.

“Ek dink mens noem dit procrastination en slapgatgeid,” merk Toast op.

“But I think it’s fine that it came out now,” meen Gil. “It feels like were in a position to do more with it now than we were two years ago. As for the sound – it still sounds good today. And it was a good experience. We learnt a lot.”

“Dit was die mees straightforwardste musiekprojek wat ek nog ooit by betrokke was,” meen Righardt (volgens Gilad die “kunstenaar in die band”) oor die sielvolle album wat tans fantastiese resensies ontlok in die Afrikaanse en Engelse media. “Dit was vir my lekker. Oor die algemeen stel ek meer belang in abstrakte, noise musiek. Improvisasie. Maar ek begin al hoe meer hou van mooi liedjies maak.”

En mooi is The Buckfever Underground Saves wel. Diepsinnige lirieke, hipnotiese beats, Toast se dreunstem, humor en skerp observasies, dikwels sag en snydend tergelykertyd.

“He’s nice, tuned in, like a commentator on stuff going on in the world and South Africa,” sê tromspeler Stephen Timm oor Toast. “It’s like rap without the pretention. But Toast is actually just a regular farm guy who gets on with everyone.”

Toast vat die laaste hap van sy komplimentêre maaltyd en loer na sy horlosie. “Dis nege-uur. Ons moet begin speel.”

Die Durbanville Kunskafee is halfleeg en in lae lig gehul. Die gehoor sit meestal twee-twee om ronde tafeltjies, aandagtig aan’t luister na die viertal op die verhoog. "Prys die here god vir gemeenskapsdiens, padblokkades, kots in potplante, plak in nasionale parke, klipgooi, skaapsteel, drankmisbruik, donkiekarre in main road, prys die here god vir eenvoud, jubel sy naam vir n misverstand, prys die here god vir megan mckenzie, jubel sy naam vir hardekoolhout …"

Skuins voor my maak ’n blinkoog-bootlegger seker sy diktafoon werk soos dit moet. Die vrou by die tafel langsaan vertel haar metgesel fluisterend van die twee Kanadese wat spesiaal vir vanaand se vertoning opgevlieg het en môre weer terugkeer na Aardklop in Potchefstroom. “Hulle het ’n cult following,” deel sy haar metgesel asemloos mee.

Jong laaities in baggies en flip-flops stap sleepvoet in, steek onseker vas, tuur na die verhoog, loer na mekaar en drentel weer uit.

My metgesel skuif rond op haar stoel, stap na agter, draai haar kop ’n paar keer rond en kom kondig aan dat Toast se woorde duideliker is as mens reg by die ingang, reg langs die kroeg sit.

“Ek is hulle grootste fan,” kondig ’n vrou aan wat voor die kroegtoonbank wag vir ’n bier. “Ek het al hulle albums. Toast is groter as Breyten. Julle sal sien. Die wêreld sal dit nog sien.”

En dis dan seker hoe jy weet jy’s by ’n cult band se show.


Foto's: Samantha Reinders