Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Die Ekspressionistiese drang in Suid-Afrikaanse kuns

Die Ekspressionistiese drang in Suid-Afrikaanse kuns


Amanda Botha - 2007-10-31

’n Kort reeks artikels word aangebied rondom werk in die Sanlam Kunsversameling wat betrekking het op die Duitse Ekspressionistiese beweging soos dit in Suid-Afrikaanse kuns neerslag gevind het.

Agtergrond

Die invloed van die Duitse Ekspressionisme het wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, 'n weerklank gevind. In Suid-Afrikaanse kuns is die Ekspressionisme as kunsuitdrukking besonder relevant. Hoewel dit nooit amptelik hier as beweging erken is nie, is drie van ons pionierkunstenaars – Irma Stern, Maggie Laubser en Wolf Kibel - direk daardeur beïnvloed. Die Ekspressionisme het ook die grondslag gevorm van die kunsopleiding van baie swart kunstenaars. Dit was ook waarop die estetiese uitdrukking van protes- en versetkuns van die jare sewentig en tagtig gebou is. Die invloed van die Ekspressionisme geld steeds in Suid-Afrikaanse kuns.

Die Ekspressionisme het persepsies van kuns bevry uit ’n rigiditeit met ’n onderliggende voorskriftelikheid. So is betekenis gegee aan die uitdrukking van kuns as narratief en kommunikasie. ’n Eeu nadat die term expression geskep is, dra dit steeds die invloed van vernuwing.

Die benaming Ekspressionisme vir 'n bepaalde kunsuiting is in die vroeë 20ste eeu deur die Franse kunskritikus Louis Vauxcelles geskep, gegrond op die konsep expression soos deur Henri Matisse verwoord in sy invloedryke Notas oor 'n Skilder (1908). Die volgende jaar is dit ook in Duits gepubliseer. Matisse meen "ekspressie" lê in die rangskikking van die elemente in 'n skildery. "Komposisie is die kuns om op 'n dekoratiewe wyse verskillende elemente wat tot 'n skilder se beskikking is, so aan te bied dat dit uitdrukking aan sy gevoelens gee." Hy benadruk dat emosie deur doelbewuste ordening van kleur, vorm, ritme en balans so in 'n werk uiting vind.

Die balans tussen vorm en gevoel onderskei die Franse van die Duitse Ekspressionisme. In die Duitse Ekspressionisme is die "ekspressie" van gevoelens vervat in die hartstog van die persoonlike reaksie op die onderwerp.

Die eerste groepuitstalling van Ekspressioniste (Franse en Duitse kunstenaars) is in 1911 in Berlyn onder die opskrif Expressionisten aangebied. Losweg is dit ook as term vir Modernisme gebruik. In die volgende twee jaar het die toepassing van die term op die Franse verval en het Ekspressionisme geleidelik die kunsrigting geword wat regstreeks betrekking gehad het op die werk van die Duitse kunstenaars in die bewegings Die Brücke (Die Brug, Berlyn) en Der Blaue Reiter (Die Blou Ruiter, Münich).

As kunsrigting het Duitse Ekspressionisme stilistiese eksperimentering oor 'n groot gebied ingesluit. 'n Bewustheid van kreatiewe vernuwing is geskep wat aansluiting gevind het by die filosofie (veral dié van Friedrich Nietzsche), die letterkunde en musiek. Ekspressionisme het die romanties naturalistiese impulse geabsorbeer en deur verbeelding en irrasionele ordening die grondslag van "moderne" kuns gelê.

Die Brücke en Der Blaue Reiter het in hul onderskeie manifeste wel geen ondersteuning aan partypolitieke ideologieë gegee nie, maar was onomwonde in hul kritiek op die samelewing se establishment-norme en -konvensies. Binne die omwenteling wat verstedeliking en industrialisasie meegebring het, het hul sosiale kommentaar invloed gehad. Die wyse waarop hulle na die wêreld gekyk het en die visuele verbeelding wat vooraanstaande Duitse kunstenaars soos Ernst Ludwig Kirchner, Max Pechstein, Karl Schmidt-Rottluff, Erich Heckel, Max Beckmann, Otto Müller, Emil Nolde, Wassily Kandinsky en Franz Marc ontwikkel het, het die funksie van kuns – binne 'n gemeenskap – herdefinieer en relevant gemaak.

Hoewel kuns in die verlede wel gebruik is om kritiek op die staat en gemeenskap uit te spreek, het Duitse Ekspressionisme by kunstenaars 'n bewustheid geskep van hoe kuns persepsies kan beïnvloed en slyp. Kuns kon, as uitdrukking, op publieke meningsvorming inwerk. Binne die gemeenskap was kuns aktueel en het sy uitdrukking die status gehad van 'n standpunt.

Die betekenis van 'n skildery het hierna nie net meer van die onderwerp afgehang nie, maar het nou betrekking gehad op die manipulering van die medium as draer van betekenisse en simbole uit eie reg. Die fors en uitspattige gebruik van kleur, doelbewuste verwringing en kompulsiewe aanwending van verf vorm 'n kragtige ingreep wat 'n skok was vir die gewaarwordinge en fyngevoeligheid van die publiek. Die skokgolwe veroorsaak deur die Impressionisme, wat aanvaarde waardes van kuns verwerp het en die Ekspressionisme voorafgegaan het, het nog by die kunspubliek vibreer.

Hoewel Gauguin, Matisse en Van Gogh vroeër weggebreek het van die Europese naturalistiese tradisie en hul werk reeds ontwikkel het tot 'n integrale persoonlike simbolisme, was die keuse van hul onderwerp steeds verbind aan die uitbeelding van die "reële" in die tasbare wêreld. Duitse Ekspressionisme het radikaal afgewyk van die siening dat slegs naturalistiese voorstellings betekenis aan 'n skoonheidsin kan gee. Hulle was voorstanders daarvan dat inhoud wat deur 'n innerlike drang geskep word, sinvolle uiting aan innerlike gevoelsmomente gee.

Die gebruik van lyne word outonoom en word nie net aangewend om iets voor te stel nie. Die vorm, kleur en die posisie daarvan in die tekening of skildery was ook belangrik. Daar is ook betekenis in die wyse waarop die gegewe in konflik staan met die eise van uitbeelding. So verkry die kunstenaar se innerlike behoefte aan selfekspressie gestalte wat ook handel oor pyn en lyding, woede en verontwaardiging en blootlegging van wat as skynheilig voorkom. Die funksie van kuns word ook op psigologiese vlak ingespan om in portret- en selfportretstudies gestalte aan die innerlike persoonlikheid te gee.

Ekspressionisme, as die kuns van selfekspressie, is uiteraard 'n persoonlike siening. Dit impliseer ook 'n gewilligheid tot eksperimentering om die nuanses van 'n kritiese verhouding met die wêreld, die self en die ander te verken. Dit word 'n poging om gapings te oorbrug en kommunikasie te skep.

Vir avant-garde-bewegings in die visuele kuns is die Ekspressionistiese impuls steeds relevant en is daar steeds periodieke herlewings van die onderliggende estetika, soos met die opkoms van Die Neuen Wilden, 'n uiteenlopende groep kunstenaars wat in die tagtigerjare van die vorige eeu in Berlyn bekendheid verwerf het.

Eerste Suid-Afrikaanse eksponente

Die werk van Irma Stern en Maggie Laubser het die Ekspressionisme aan die Suid-Afrikaanse kunspubliek bekendgestel. Albei kunstenaars het eerstehands met die kunsrigting kontak gehad terwyl hulle in Duitsland studeer het. Hul eerste uitstallings op eie bodem is met teenstand en minagting begroet. Die kritiek was dat hul werk bestaande norme verontagsaam het.

Ondanks die sterk teenstand het die kunstenaars binne die idioom bly werk. Eers twee dekades later het hul werk byval by die kunspubliek gevind en byna 'n halfeeu later is hul werk ingesluit by 'n internasionale kunsverwysingsraamwerk, en vandag ontvang hulle die erkenning wat hulle waardig is. Lewenslank het hul werk die kenmerke getoon wat deur die Ekspressionisme gedefinieer is.

In Duitsland het Stern en Laubser aangetrokke gevoel tot die Ekspressionisme en hulle kon hulle met die doelwitte en ambisie van die kunsstroming vereenselwig. In Suid-Afrika was hulle pioniers van 'n nuwe estetika, sonder die beskerming van hul Duitse kollegas. Hier het geen formele Ekspressionistiese beweging tot stand gekom nie. Benewens Stern en Laubser was ook Wolf Kibel 'n vroeë eksponent van die kunsstyl. Die kunstenaars het onafhanklik van mekaar gewerk en hul onderlinge verhouding was gespanne weens persoonlike vooroordele. In hul skilderye het hulle 'n alternatiewe benadering voorgestel waarin die kyker visueel betrek word – emosioneel en intellektueel - in die belewing van hul werk.

Irma Stern se litografiese reeks, Dumela Morena (1920) [Irma Stern, Dumela Morena 1 | Dumela Morena 2 | Dumela Morena 3 | Dumela Morena 4 | Dumela Morena 5 | Dumela Morena 6 | Dumela Morena 7 | Dumela Morena 8 | Dumela Morena 9 | Dumela Morena 10 | Dumela Morena 11, 1920, handgekleurde litografie, 360 x 250 mm x 11] toon haar affiniteit met die Ekspressionisme se belangstelling in primitivisme en die ongekunstelde leefwyse wat dit kenmerk. Hierdie beelde weerspieël 'n verlange na 'n paradys, vry van die sosiale druk van die stedelike leefwyse. Die tekenstyl word deur 'n spontaniteit gekenmerk wat aan die tekeninge 'n byna kinderlike naïwiteit verleen. In haar halfeeu lange skildersloopbaan was Stern altyd op soek na die idilliese lewe wat sy by ongekunstelde mense, vry van die druk van beskawing, ervaar het. Deur hul flambojante kleure en energieke kwaswerk toon haar portretstudies 'n psigologiese empatie met haar poseerders [Irma Stern, Portrait of a young Girl, 1939, olie op doek, 620 x 510 mm]. Deur visueel boeiende elemente was dit haar strewe om deur middel van haar kuns die verhouding tot die self en die eksterne wêreld te verken. Met Pechstein as haar mentor het sy noue bande met die Duitse Ekspressionisme gehad. Sy het die konserwatiewe openbare beskouing van visuele kuns gekonfronteer, uitgedaag en blywend beïnvloed.

Laubser het Stern in 1924, kort voor haar terugkeer na Suid-Afrika, in Duitsland ontmoet. Sy het nie soos Stern direkte kontak met die Ekspressioniste gehad nie, maar die spore van die beweging is duidelik in haar werk afgedruk. Laubser het Duitsland besoek nadat sy in Nederland en aan die Slade School of Art in Londen studeer het. Hierdie kontak het haar bevry om 'n eie ekspressie te vind. Haar kleur- en vormgebruik is eie aan die Ekspressionisme en kom veral tot uiting in die ekstase van haar Europese landskappe. [Laubser, Maggie, Cypress – Italy, 1920, olie op karton, 425 x 355 mm | Maggie Laubser, Lake and Snow Covered Mountains, 1921, olie op karton, 280 x 340 mm | Maggie Laubser, Black Sails, 1924, olie op karton, 425 x 355 mm | Maggie Laubser, Poplars, sonder jaartal, olie op bord] Haar portretstudies en vermoë om haar poseerders tot psigologies te verken toon ook Ekspressionistiese kenmerke [Maggie Laubser, Portrait of a Woman with Hat Berlin, 1924, olie op papier op bord, 490 x 370 mm | Maggie Laubser, Young Girl, sonder jaartal (1924 - 1927), olie op papier op karton, 495 x 370 mm].

Laubser se Suid-Afrikaanse landskappe is in 'n ander toonaard as haar Italiaanse landskappe. Anders as Stern, wat aangetrek is deur 'n ideaal van die paradysagtige, was Laubser gemoeid met die uitbeelding van landelike aktiwiteite van haar kindertydse Swartland. Plaaswerkers besig met hul daaglikse bedrywighede was hoofsaaklik die onderwerp van haar studies [Maggie Laubser, Hoeing, 1924, olie op doek, 505 x 605 mm | Maggie Laubser, Two African Women carrying Children, 1925, olie op papier op bord, 455 x 385 mm]. Die eise wat oorlewing van hul geverg het, word deur Laubser in haar portretstudies verbeeld. Die samestelling van haar skilderye en haar onderwerpkeuse – gewone mense in hul vertroude omgewing - het sterk aansluiting getoon by die Ekspressionisme.

Kibel was deur 'n ander Ekspressionistiese impuls gevoed. Sy kunsbenadering is geslyp deur die armoede en ontbering wat hy beleef het op sy reise deur Pole, Duitsland en Palestina na Suid-Afrika. Sy visie was nie die ekstatiese hermodellering van die wêreld of 'n soeke na die ongekompliseerde idilliese in die eksotiese nie. Sy uitbeelding van lyding en armoede getuig van deernis, wat sy werk met patos vul. Sy interieurs word deur 'n afwesigheid van figure gekenmerk. [Wolf Kibel, Studio / Ateljee, sonder jaartal, olie op doek, 500 x 300 mm | Wolf Kibel, Interior, sonder jaartal, olie op doek, 310 x 670 mm] Sy verfgebruik is ryk en sy obsessiewe kwasgebruik verbeeld 'n nostalgiese hunkering na 'n vervloë, opwindende lewe. Wanneer hy wel figure skilder, weerspieël hulle Kibel se eie verlange na innerlike voldoening.

  • Volgende aflewering: Verkenning van die werk van Irma Stern, Maggie Laubser en Wolf Kibel.

Bronnelys

Alexander, FL. Art in South Africa since 1900/Kuns in Suid-Afrika sedert 1900. A.A. Balkema, Kaapstad, 1962.

Arnold, Marion. Irma Stern – A Feast for the Eye. Fernwood Press for Rembrandt van Rhijn Art Foundation, Stellenbosch, 1994.

Botha, Amanda. Impuls. Die Ekspressionistiese Drang in Suid-Afrikaanse Kuns. ’n Keur uit die Sanlam-Kunsversameling. Sanlam Katalogus, 2006.

Grohmann, Will. Expressionists. Collins Fontana Pocket Library of Great Art, London, 1957.

Hundt, Stefan. Impulse. The Expressionist Impulse in South African Art. A selection from the Sanlam Art Collection. Sanlam Catalogue, 2006.

Moeller, Magdalena M. Der Blaue Reiter und seine Kunstler. Brücke-Museum, Berlin, 1998.

Myers, Bernard S. The German Expressionists. A Generation in Revolt. Frederick A Praeger, NY, 1957.

Tobien, Felicitas. Die Künstlergruppe Brücke. Artbook International. Berghaus Verlag, 1987.

Weinstein, Joan. The End of Expressionism. University of Chicago Press, Chicago, 1990.

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<