Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Regstelling vir Izak de Vries

Regstelling vir Izak de Vries


Marlise Joubert - 2007-10-22
Net 'n regstelling van my kant af, asseblief, oor die volgende afleiding wat jy in jou betoog oor ‘integriteit’ gelewer het op LitNet [“Om uit die dop te klim” van 12 Oktober]. Ek wil ook net byvoeg dat jou artikel my andersins baie beïndruk het en dat jy die ander vrae aan jou gestel besonder goed hanteer het. Daar is egter die één opmerking van jou waarmee ek nie akkoord kan gaan nie.

Jy skryf:

Toe dít aangekondig is, het Margot Luyt vir Joubert voorgestel as ’n “intieme vriendin van Louis Esterhuizen”.

Nou dít het my warm onder die kraag gelaat. Wat op deeske aarde het hierdie inleiding met die prys van poësie te doen?

en:

“Ook kan ek noem dat Marlise Joubert effens geskok gelyk het om só in die gesig gevat te word, maar dat sy toe herstel het en, met integriteit, drie baie mooi verse oor haar grootwordjare voorgelees het waarin sy die draak gesteek het met, en beswaar gemaak het teen, ongevraagde, moralistiese beswadderings. Haar verse het vir Margot Luyt geantwoord. Finish en klaar.

Ek wil graag hierdie mistasting/verkeerde aanname van jou regstel:

· Ek is wel Louis Esterhuizen se ‘intieme vriendin’ – ek is immers met hom getroud. Ons is al agt jaar bymekaar en ek vermoed die meeste mense in die literêre wêreld weet dit seker al? Margo Luyt se verwysing hierna het ek as 'n goeie stukkie humor geïnterpreteer en dit was steeds smaakvol en professioneel in haar aanbieding soos sy is [daarom het ons as Versindaba-organiseerders haar ook gekies as sermonie-leier]. Sy was tong-in-die-kies met hierdie aanmerking/inligting sover dit my aangaan.

· Ek was nie vir een oomblik geskok nie, Izak, ook nie geëmbarrasseerd nie. Nie eens ‘effens’ nie. Ek was verras, ja – oor haar fyn sin vir humor. Jy moes die uitdrukking op my gesig dalk net verkeerd geïnterpreteer het? Ek het dadelik op my gemak gevoel voor die mikrofoon wat dikwels vir my baie intimiderend kan wees omdat ek nie juis 'n openbare soort mens is nie en nie baie daarvan hou om self voorlesings te hou nie. Maar hierdie voorlesing, na Margo se kwinkslag, het ek besonder baie geniet! Sy het 'n manier om 'n mens selfvertroue te gee en te laat ontspan. Presies wat ek nodig gehad het!

· Ek het dus werklik haar opmerking geniet, net soveel soos Riana Scheepers by 'n ander voorlesing die vorige dag wat 'n brokkie inligting aan die gehoor oorgedra het: dat ek die woord “appelliefie” die mooiste woord vind in Afrikaans [wat ek eenkeer wel voorheen aan haar genoem het] en toe boonop 'n hele mandjie vol appelliefies as geskenk van haar ontvang het op die verhoog.


· 'n Bietjie persoonlike inligting rondom 'n skrywer by so 'n geleentheid doen myns insiens geen skade nie en verlig dikwels die spanning waaronder 'n digter verkeer as hy/sy moet ‘perform’! Nee, regtig, Izak, ek het haar sin vir humor geniet, dit het hoegenaamd géén skokgolwe deur my gestuur nie. Trouens, ek het haar dit ook laat weet. Dis jammer dat dit jou warm onder die kraag gelaat het en dat Margo Luyt, wat myns insiens 'n hoogs professionele en eerbare mens is, se integriteit nou hier ter sprake moet kom.

· Ek is egter dankbaar dat jy my verse geniet het!

Groete,


Marlise Joubert