Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare > Literêre integriteit

Literêre integriteit


Charl-Pierre Naudé - 2007-10-15

Wat word bedoel met die “integriteit” van ’n edelmetaal? Of van ’n allooi? Want hierdie term in letterkundige verband het vir my ’n soortgelyke betekenis. Bernard Odendaal impliseer dit ook as hy praat van die “regskapenheid” van ’n teks – ’n “samewerking van semantiese, stilistiese en vormlike aspekte”.

Die term het in die eerste plek niks met etiek te doen nie, hoewel ’n teks met integriteit – omdat dit meer oortuigend sal wees as een daarsonder – implikasies het vir die etiek. Hipoteties is dit dus moontlik om ’n loflied aan iets so afskuwelik soos pedofilie te kry wat integriteit het!

Is integriteit dan sinoniem met literêre gehalte? Ja, en nee. Jy kan ’n fyn edelmetaal soos goud kry wat sonder integriteit is (byvoorbeeld fopgoud) en jy kan ’n allooi, of selfs ’n goeie soort blik kry, wat min of meer goeie integriteit het. Vertaal na letterkundige terme beteken dit dit hang af van die manier waarop ’n teks sy eie oogmerke gestand doen, nie dat een stel oogmerke kwansuis beter is as ’n ander nie.

So, een soort verteltegniek gaan nie noodwendig meer integriteit hê as ’n ander in die poësie óf die prosa nie. Die integriteit van die verteltegniek gaan afhang van hoe gepas daardie tegniek ontplooi word vir die onderwerp en die storie – Odendaal se woorde word weer opgeroep: hoe dit die oogmerke van die stuk skrywe ondersteun, al dan nie. (En die oogmerke hier sal meestal swyende, onbewuste oogmerke wees, die “woordlose bewussyn” van die teks, agter die woorde.)

Oordeelkundige taalgebruik kan wel maak dat ’n teks integriteit win, of dit kortkom. Een soort taalgebruik wat amper altyd integriteit in die gedrang bring, is woordrykheid. Pretensie is nog een (gebare wat meer geswolle is as hul inhoud). Onbeholpenheid, helaas, nog een.

Verstegnies gaan ’n gebrek aan tegniek beslis die integriteit van ’n gedig in die gedrang bring. Daar is hope voorbeelde hiervan. Maar een soort tegniek gaan nie noodwendig lei tot meer integriteit as ’n ander soort tegniek nie, solank die gekose tegniek die tematiek en die sosiale realiteit waarna die tematiek heenwys, ondersteun en daardeur ondersteun word.

Tegnieke kan wel verouder of formalisties word, en wat in een tydperk integriteit gehad het, kan in ’n veranderde tydsopset nie genoeg ondersteun word deur die aansprake van ’n veranderde wêreld om dit te behou nie. Van Wyk Louw is byvoorbeeld ’n groot digter, maar enigiemand wat vandag so probeer skryf, gaan dalk juis integriteit misloop. Waarom? Omdat dit nie ’n samehang met die eise van ’n nuwe tydsopset behoorlik in aanmerking neem nie. Die hele idee van musiek, byvoorbeeld, het sedert 1940 verander. Die digkuns absorbeer sulke dinge op ’n swyende wyse, en raak die heilige klutse kwyt, soos dit veronderstel is om te doen.

Wat is die verband tussen “integriteit” en eerlikheid? Dis hier waar die metafoor van die edelmetaal se toepaslikheid eindig. Want “eerlikheid” in die letterkunde het min te doen met “eerlikheid” in die regte lewe. Dit gaan oor hoe goed die illusie van onmiddellikheid geskep is, hoe oortuigend die teks is. ’n Goedgeliegte teks is dikwels meer eerlik as ’n “eerlike teks”! En dus gaan hy meer integriteit hê …

Wat die verband tussen George Weideman se werk en persoon en die begrip integriteit betref: ek dink die beskrywing is toepaslik. Nou die dag gesels ek en die filosoof Pieter Duvenage, en die persoon en werk van Weideman kom te berde. Ons het albei gereken: ’n letterkunde sonder ’n George Weideman sal wees soos ’n huis sonder ’n vader. Ons het albei gelag vir die cliché, juis seker omdat dit so onvanpas, so “integriteitloos” voorgedoen het in die konteks van Weideman.

Laastens, die verband tussen integriteit en etiek. ’n Teks wat etiese ruimtes oopmaak, win in integriteit. Maar die verband is nie direk eweredig nie. Die keuse van ’n tema kan wel dus integriteit inperk (neem die hipotetiese voorbeeld van die pedofilie-skrywer hier bo). En by verstek kan mens sê die lewe van ’n skrywer kan die integriteit van sy tekste beïnvloed, maar dit moet nie op die inlees-vlak gebeur nie.

Dink maar aan die integriteit van Bob Dylan op sy beste, en die slegte dinge wat mense al van hom gesê het, nie sonder goeie rede nie. Laasgenoemde weergawes behoort nie ’n invloed te hê op die lees van die tekste/musiek nie.

Om te volstaan op dié punt: ’n goeie lewe, miskien eerder ’n geproblematiseerde lewe, kan aanleiding gee tot die skep van tekste met integriteit.

’n Interessante aspek is of mens ’n teks kan lees sonder integriteit. Baie beslis. (Daar is enkele erge voorbeelde hiervan, ook in Afrikaanse kritiese verband!) ’n Teks vra ’n bepaalde openheid van die leser ten einde die kommunikasie te bewerkstellig, en as jy te veel projekteer, of te min afstand behou, gaan jy die heilige balans van die integriteit van die leesdaad skeeftrek. Om dit nie te doen nie, is dalk makliker gesê as gedoen.


<< Terug na "Skryf met integriteit" Miniseminaar <<