Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet > Die mooiste herinnering aan my jeug in Afrika: Die held van my drome

Die mooiste herinnering aan my jeug in Afrika: Die held van my drome


Ellen Botha - 2007-10-09

Dis in my matriekjaar, Julie 1959, dat ons pa genooi word om ’n toespraak op Stellenbosch te gaan lewer. Ons vertrek uit die Vrystaat met sy vaal, plat vlaktes voor ons uitgestrek. Pa en Ma sit voor, met die drie dogters soos sardientjies agter in die Pontiac gepak.

By voorbaat  gewapen met Panado’s vir die hoofpyne wat so seker as môre heeldag gaan kom wanneer Pa met sy minder as goeie bestuursvernuf én hoogtevrees Du Toitskloof-pas agter die stuur moet aandurf.

Asseblief tog, bid ek, moenie laat ons verongeluk nie, want ek gaan my hero in lewende lywe ontmoet!

Ná twee dae kom ons veilig in ’n lowergroen Stellenbosch aan. Vir die heel eerste keer sien die drie Vrystaatse kinders hoe regte berge lyk, en verkyk ons ons aan die diepgroen van die gras, die groot ou eikebome en die waterstroompie van die Eersterivier wat deur die dorp kronkel. 

My opgewondenheid ken nou geen perke nie. Ek kan nie meer wág om my held te ontmoet nie. Ons gaan tuis by Pa se broer, wat reeds al die nodige reëlings getref het.  

Die voorgeskrewe boek vir Afrikaans daardie jaar is Die swerwerjagter van PJ Schoeman en van die heel eerste oomblik toe ek dit begin lees het, was ek (en die meeste meisies in ons klas) smoorverlief op hierdie sagtehart swerwerjagter met sy beskrywings van ’n wêreld wat nie een van ons geken het nie. Die man wat saam met sy Zulu-gids murgbeentjies uitstamp – mooi dinge gesels – wanneer hulle in die verafgeleë dele van die land om ’n kampvuurtjie sit; die jagter wat iewers in midde-Afrika op soek is na ’n leeuwyfie wat sy geliefde hond daardie oggend verskeur het. Wat die spoor volg, mik en met wrewel aanlê vir die doodskoot ... net om die leeuwyfie se welpies by haar te gewaar, “kalbasmagie gedrink aan die moedersmelk”.

Die romantiese swerwer wat ’n lêplekkie in my hart kom vind het.

Dis ’n koel, mistige oggend, maar ek en oom Ben stap sommer na PJ Schoeman se huis, ’n dubbelverdieping met groot palmbome aan die voorkant; ek amper te bang om asem te haal. Hy groet ons vriendelik en oom Ben stel my voor as sy jong bewonderaar.

“Jong bewonderaar?”

Hoe kán hy so iets sê? Was ek dan nie saam met my rustelose held op ál sy ver paaie nie? Het ek nie alles intiem saam met hom beleef nie; ken ek nie sy siel tot in die diepste van sy wese nie?

Ek verkyk my aan sy diepblou, deurdringende oë, onbewus van sy ouderdom; sien nie die ylwordende hare raak nie – is net geheel en al begeesterd deur sy stem wat rustig oor my streel.

Nadat ons tee gedrink het, toe ons moes groet, gee hy my ’n soentjie op die wang! Ek sweef op ’n towertapyt terug na oom Ben se huis, handpalm oor my wang sodat daardie soen deur niks of niemand op aarde ooit weggevee kan word nie.

Met die matriekuitslae is ek een van die vier kandidate in die Vrystaat wat ’n A-simbool vir Afrikaans kry. Onmiddellik word ’n gloeiende dankiesê-briefie aan my held gestuur vir sy groot aandeel in die goeie resultate. 

Twee weke later is daar vir my ’n pakkie uit Stellenbosch. Opgewonde maak ek dit oop en hou Waar ver winde waai in my hande vas. Binne-in is ’n gelukwensing en die volgende woorde:

“Aan Ellen Keet, een wat nog droom ... 
vd Swerwer
PJ Schoeman.”

Eers jare later toe ek die boek weer oopmaak, tref daardie kriptiese boodskap my soos ’n donderslag:

Het my lieflingskrywer tóé al opgehou droom?  

Ellen Botha

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<