Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > ABSA Ketting: Jan van Tonder gesels met Nanette van Rooyen

ABSA Ketting: Jan van Tonder gesels met Nanette van Rooyen


Nanette van Rooyen - 2006-07-30

  1. Jy't 'n jaar of drie gelede 'n vonkfiksieprys gewen vir jou merkwaardige kort-kortverhaal "Tollie Hans". Jy het verskeie kinderverhale gepubliseer. 'n Kortverhaalbundel, Om te vlerk, het uit jou pen verskyn. En nou is jou eerste roman reeds in gevorderde stadium. Span jy verskillende "skrywers" binne jou vir die verskillende genres in?

    Wanneer 'n idee my beetpak, handel ek volgens sy asemhaling. Instink bepaal aanvanklik hoe en waar ek my woorde sal inspan. In my onderbewussyn skuil 'n Indiaan. Sy is die een wat die rookseine uitstuur. Dis eers heelwat later dat die redakteur in my sal intree om die nodige verstellings te doen. Dit is die gedagte wat my beset, of besmet, wat bepaal watter genre ek sal aanvat. Ek moet erken dat ek met die kortverhaal gemakliker is. Kinderverhale ook. In laasgenoemde staan die huppelkind spontaan in my op, en met die "volwasse" literatuur die denkende duiwel. Albei slegs verskillende hidra-arms van een skrywerslyf.

    Die kortverhaal en kinderverhaal kom makliker, omdat ek van nature 'n naelloper is. My geduld word vreeslik beproef oor 'n lang afstand. Daarom proes ek tans met die skryf van 'n roman. 'n Mens moet vooraf bepaal wat die volume van jou longe is, voor jy 'n bepaalde afstand aandurf. Maar nou ja, oor sekere dinge het jy minder beheer as oor ander. Die roman was 'n kortverhaal wat onder my uitgehol het. Nou loop ek maar op die genade en met die wind van agter.

    Tog waar wat Ray Bradbury te sê het oor die skryfproses: "The faster you blurt, the more swiftly you write, the more honest you are. In hesitation is thought, in delay comes the effort for a style, instead of leaping upon truth which is the only style worth deadfalling of tiger-trapping."

     

  2. Ek doen die meeste van my skryfwerk in relatiewe isolasie op die platteland, en hier woon ek ook. Dit is soms frustrerend om so min stimulasie om my te hê, en so selde kontak met medeskrywers. Moet ek (veral oor laasgenoemde) my sterre dank, of vind jy dat dit vir jou as skrywer goed om in 'n stad te woon?

    'n Aansporing lê na my mening nie op bepaalde grond nie. 'n Prikkel is nie beduidend gepla met 'n spesifieke ruimte nie. Daarvoor is die oog te slu en die oor te skerp. Miskien maar weer 'n geval van "repos alleurs". Wanneer jy in isolasie sit, is dit die verlokking van stadsligte wat jy glo jou skryfstuipe sal lig. En andersom.

    So nee, ek dink jy kan my op die maan sit en ek sal 'n afloer-oog vir die hemelliggame ontwikkel. Tot dusver het die stad, my huidige habitat, nog nie eers in my skryfwerk gefigureer nie. En ek het dit al so bedink, maar telkens is dit die afstand, die terugwink van verre velde, wat in my stories vorm aanneem.

     

  3. Jy is nie van jou skryfwerk afhanklik vir die betaal van die huisverband, 'n motorpaaiement of jou volgende bord kos nie, maar as jy was, sou dit positief of negatief op jou skeppingsvermoë ingewerk het?

    Allamagtag, jy laat my klink soos 'n Stepford Wife! Jy weet nie hoe duur ek afbetaal aan my sondes nie.

    Ernstig, nou. Sou ek alleen moes instaan vir die onderhoud van my huis, kroos en man, sou ek definitief nie voltyds kon skryf nie. Ek sou ongetwyfeld weer die korporatiewe arena moes betree, en skelm onder die lessenaar skryf, soos ek in die jare as boekredakteur gedoen het. Ek glo nie dat 'n vaste betrekking en finansiële angstigheid die dringendheid van skryf sal onderdruk nie. Daarvan het ons genoeg voorbeelde vanuit die geskiedenis en in ons midde. Dit vreet net verskriklik aan jou energie. Daarom dank ek die gode gereeld dat ek relatief in beheer van my eie skryftyd is. Dit maak van my egter geen beter woordsmid as die agt-tot-vyfer nie.

     

  4. Wat doen jy om die eensaamheid van skryf te besweer - of beleef jy dit nie as sodanig nie?

    As ma van twee dogters, waarvan die laaste een in die middel van my roman opgedaag het, ken ek nie eensaamheid nie. Ek soebat Eensaamheid om my met haar asmalyfie (soos Nataniël sê) te besoek en tot afgesonderdheid te besweer. In my lewe, tans, bestaan daar nie die luukse van 'n kopspasie nie.

    Maar wat jy bedoel is die alleenoog op jou eie idees. Daardie tye wat jy voel jou gedagtes wankel so dat dit jou selfvertroue aantas. Daarmee het ek tot dusver ook goeie vrede gehad, want ek was vir baie lank 'n "closet-skrywer" voor ek gepubliseer het. Wat ek wel in die afgelope twee jaar ondervind het, was om in 'n Kreatiewe Skryfkursus aan die Universiteit van Kaapstad te sit, waar daar onbevange gepraat is oor ons verskillende skryfsels. Dit was goed, en baie interessant, maar dit besweer nog steeds nie die eensaamheid waarvan jy praat nie.

     

  5. Hoe hanteer jy die gevoel van ontbloting wat publikasie teweegbring? (As jy van mening is dat jy 'n storie kan skryf sonder om hoegenaamd iets van jouself te verklap, hoe op aarde kry jy dit reg?)

    Soos met enige vorm van ontbloting - ek word hardegat in die lig en week in die donker.

    Miskien as ek jonger gepubliseer het, sou ek knoppe uitgeslaan het oor enige vorm van kritiek, maar ek was daai tyd darem al goed in die dertigs. Die siel het toe al eelte kon kry. Ook het die feit dat ek vir bykans vyftien jaar in die uitgewerswese was, my geleer dat kritiek nie die vyand is nie. Dis die onvoorwaardelike toepassing van alle tipes kritiek wat die boggher is.

    Dit is tog die bed wat ons vir onsself opgemaak het, dan nie? As jy eerstens die binnegoed gehad het om in ink te verwoord, moet jy by daardie woorde kan bly staan solank die boek haar rondtes doen. Met die opneem van hierdie verant-woord-elikheid, moet ek my neerlê by die rawe.

    Wat die laaste deel van jou vraag betref, natuurlik is daar handevol van myself by die letters ingemeng. Die spinnekop spin mos maar met sy eie draad. Goddank dat die fiksie so verbloemend daarop inwerk dat jyself later nie 'n onderskeid kan tref nie.

    So be it, with the grace of the gods and the goddesses, there I go …

 

<< Back to main chain <<