Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare > Die keuse vir ’n geërotiseerde toekoms

Die keuse vir ’n geërotiseerde toekoms


Charl-Pierre Naudé - 2007-09-12

Interessante insette is in afgelope weke gelewer ­in verskeie media, en ook op LitNet, oor hoe, en of, ’n mens ’n gedeelde nierassige groepsidentiteit vir Afrikaanse mense in die vooruitsig kan stel. Van hierdie insette – deur leidende meningsvormers in dié debat – toon duidelik die skuiflyne wat die sukses of nié van ’n meer inklusiewe Afrikaanse identiteit kan bepaal.
   
Hier was die belangrikste bydrae vir my Herman Giliomee se Breytenbach-huis-lesing, waaruit ’n mens moet aflei dat die gemoeidheid oor so ’n konsolidering van Afrikaanse identiteit nie ’n opportunistiese nuutskepping sal wees nie, maar die herwinning van ’n wesenskenmerk van Afrikaansheid wat deur historiese faktore verswelg was.   
   
Die inset wat ek wil lewer, sal twee strekkings bevat: die meta-redes waarom dit nodig is om beskermend te wees oor kulturele identiteit, enige plek in die wêreld,  per se. Hier gaan dit nie in die eerste plek oor Afrikaans of oor Suid-Afrika nie, maar oor bepaalde singewende oorwegings agter so ’n benadering, wat universeel waar behoort te wees, in ’n konteks waarbinne die “Afrikaanse vraagstuk” maar een van vele onderdele is. 
   
Die tweede strekking sal enkele praktiese wenke probeer voorstel oor hoe ’n moontlike gemeenskaplike Afrikaanse identiteit bewerkstellig kan word teen die agtergrond van ’n verskeurde verlede.
   
Ek wil Anton van Niekerk se skrywe "’n Verbeeldingsvlug verby identiteitspolitiek" (By, 1 Sept 2007) gebruik as kontrapunt vir wat ek wil sê oor waarom ek kulturele identiteit belangrik ag. Daarin sê die skrywer: “Wat ek moeilik vind om te begryp is die beheptheid met ‘identiteitspolitiek’ in ’n land waarin soveel onreg in die naam van die 'beskerming van identiteit' gepleeg is."
     
Hy waarsku verder dat as mens identiteitspolitiek as ’n sosiale teenwoordigheid het, dan praat jy nie met “Jan Stander, hierdie naamdraende indiwidu wat vir homself kan dink en nie altyd voorspel kan word nie, maar met Jan Stander, die Afrikaner, wat as volg behoort op te tree.”
   
Wat die artikelskrywer in die vooruitsig stel, blyk ’n “Jan Stander” te wees wat die “bagasie” van kulturele identiteit afgegooi het sodat ’n vermeende “ware” Jan Stander, ’n Jan Stander ontbloot en onverbloem en eg, eens en vir altyd in sy “wesenlike” menslikheid en “individualisme” voor jou kan kom staan sodat jy hom ­– hóm – vermoedelik kan ontmoet. 
   
Wow! Welcome to the strip club! Dit lyk vir my na growwe essensialisme hierdie. En tussen essensialisme en pornografie lê ’n opvallende verband.
   
Die “ware mens” in enige individu is tog nie ’n agterliggende punt van egtheid nie, dis eerder ’n sameswering – ’n chimera as jy wil – van swewende eienskappe wat deur ’n stelsel, of stelsels, gegenereer word. Daardie stelsels is onder meer biologie, sielkunde, taal, geloof, moraliteit, en ja, kultuur. Die mens is ’n sistemiese produk. En enige individualisme gaan steeds vir sy kleur en afwykings afhanklik wees van die stelsels wat dit gegenereer het. Daar is geen sonderlingheid wat nie die produk van ’n sisteem is nie, net soos konvensie. En hoe méér stelsels, nié hoe minder nie, hoe meer mens gaan jy wees. Die stelsel van kultuur in die psige hoef nie die ander stelsels te oordonder nie, soos Van Niekerk impliseer. Dit kan medeteenwoordig wees.
   
Trouens, dit móét. Daar is oorgenoeg tekens dat juis die stelsel van kultuuridentiteit die ander stelsels in die psige bemagtig. En ’n bemagtigde mens het die beste kans om ’n etiese sowel as ’n estetiese wese te wees.   
  
Waarom sou enigiemand die stelsel van kultuur in die identiteit van die individu wil verskraal of vernietig of afskeep? Twee redes veral: omdat hulle dink dit hoef nie onderhou te word nie, soos prof van Niekerk impliseer, dat dit “vanself bestaan”. Of, omdat dit die gladde funksionering van die alledaagse bestaan onnodig kompliseer, is nog ’n rede.
   
Sommige tale en kulture bereik soms wel ’n punt waar deur vestiging die kohesiekragte so sterk is dat daar ’n illusie is dat dit vanself bestaan. Maar die interne plurale aard van die Afrikaanse, sy geskiedenis van interne verbrokkeling, sy relatiewe kleinheid, en sy naasbestaan met die wêreld se groot verbruikerskultuurtaal, maak dat dit nie die geval is hier nie.
  
En in ’n wêreld waarin ’n weghol-verbruikerskultuur dreig om alle ander vorme van identiteit te verswelg, is selfs sommige groot gevestigde kultuuridentiteite as leef-stelsels vandag onder beleg. Afrikaans as stelsel bestaan nié net vanself nie.
 
Wat betref die onbetwisbare feit dat vele onregte in die naam van identiteitspolitiek gepleeg is, kan mens net vra: onregte so groot soos die onregte gepleeg in die naam van kapitalisme, wat ongebreideld voort-hoereer met almal se instemming? Kwalik. Die afgryslike strukturele geweld van apartheid was – en is! – in die eerste plek ’n kapitalistiese vergryp, ondanks vele voorskootjies en mik-waslappies, soos byvoorbeeld Afrikaner-nasionalisme.
  
Dis ’n beslommernis om die veelheid van identiteit in stand te hou, dis waar. Maar die sin van die lewe lê in veelheid. Uit veelheid word betekenis gebore. Ons sit met ’n situasie waarin die erotisering van die toekoms ­– wat berus op die veelmaking van die bestaan – moet meeding met ’n ongenaakbare utilitarisme, ’n sametrekkende enkelvoud, dié van die huidige tyd. Ons loop gevaar om die keuses van die toekoms met opportunistiese keuses in die huidige tyd uit te skakel! Dit sal ’n onreg wees teenoor die ongeborenes.
  
Hierin lê dié keuse van vandag: die erotisering van die toekoms vs die utilitarisme van nou. En nie net vir Mzantzi nie, maar wêreldwyd. As mens iets as waar aanvaar, moet dit universeel waar wees. Ek het vele probleme met die Afrikaanse kultuur, ek behou ’n veilige afstand. Maar as ek glo in bogenoemde beginsels, dan moet ek dit verdedig waar die toeval my geplaas het – en dis hier. Anders is ek besig om my verantwoordelikheid op andere – in Estland en in Hondsemoer – te skuif. En dis verkeerd!

En nou wil ek iets sê oor hoe ek dink die losse argipel wat Afrikaanse identiteit uitmaak, mekaar kan vind. ’n Absolute onding in ons midde is die mite dat wat ’n meerderheid besluit, reg is. Dis Pallo Jordan se beginsel, dis die fascisme van die huidige bewind. Dis nonsens. Meerderheidsregering is die vertrekpunt, nie die bestemming nie. Sedert almal in die spel is, is die onus op ons om daagliks billikheid te herbedink.

Maar nou: Afrikaanse kommentators sal die regering gou hierop wys, maar hoe trap hulle nie self in hierdie slaggat nie. Die feit dat (byvoorbeeld) Moslem Afrikaanses veel minder is as Christen Calviniste, beteken nie hulle profiel moet laer wees binne die kultuur nie.

En hoe moeilik gaan dit nie wees vir Sakkie Sondagskool om sy woordryke God bietjie op die agtergrond te skuif, terwyl hy stem vir die imam om voorsitter te word van die FAK nie! Maar dié soort ding moet gebeur.

Daar was ’n tyd toe daar Afrikaanssprekende Jode was. My pa het my die storie vertel van hoe my oupa, wat die NG predikant op Aliwal-Noord was, kinderpreke in die sinagoge gehou het. Die rabbi het dieselfde in die NG gemeente gedoen. Dit was voor die slaghuishamer van apartheid ons almal ge-tenderise het.  

Jaap Steyn het jare gelede bepaalde kenmerke uitgewys as sentraal vir die Afrikaner se identiteit. Gereformeerd Christelik was een. Maar dis nodig dat sulke kenmerke nie dieselfde arrogansie aanneem as die regering met sy “meerderheidsetos” nie. Anders kan ons gerus oorgee aan Pallo Jordan. Want wat verkeerd is in groter verband, moet ook verkeerd wees in kleiner verband.

Ek is nie besig om geforseerde “Afrikaanse integrasie” te bepleit nie, maar doelgerigte groter wedersydse blootstelling aan die andersheid in Afrikaanse midde. Dit sal vanself na plekke lei wat nog nie bedink is nie.

Dis nie net die “pre-moderne (Afrikaanse) gemeenskappe” wat moet “ontwikkel” nie. Vandat die moderniteit so gekaap is deur die leë vorme van die verbruikerskultuur, het gemoderniseerde Afrikaanses veel om te leer by die premodernes. Ons moet as’t ware ’n bietjie agteruit ontwikkel. Ons moet in nederigheid voor hierdie mense gaan staan, met ons hande bak na hulle uitgesteek, soos hulle s’n na ons, en besef dat ontwikkeling ’n tweerigting-affêre is.

Ten slotte: die wit Afrikaner moet die versweë kreoolse samestelling van sy eie kulturele afkoms – en toekoms – terdeë besef. Blote akkommodering van die andersheid in eie midde is nie genoeg nie.

Herwinning van daardie andersheid in eie psige is wat nodig is. Daar is nie verniet ’n woord soos boereverneukery nie.

En die boere verneuk hulleself meer as enigiemand anders. 


<< Terug na "Die Afrikaanse ons" Miniseminaar <<