![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
EKM Dido - 2007-08-29
EKM Dido se jongste roman, ‘n Ander ek, het pas by Umuzi verskyn. Melt Myburgh het met haar gesels oor bergies, skryf en die Suriname. Jy het drie jaar lank gewerk aan jou jongste roman. Word die proses om ‘n boek die lig te laat sien, makliker? Nee, ek vind dat die proses glad nie makliker raak nie. Ek voel dat dit eintlik met elke boek moeiliker raak. Seker omdat ek druk op myself plaas om nie net dinge wat deur kritici tydens elke uitgawe uitgelig is, te probeer verbeter nie, maar veral ook omdat ek nie die lesers wil teleurstel nie. ‘n Ander ek ondersoek onder meer die bergiesubkultuur. Het jy die wêreld van die Kaapse bergies begin verken met die oog op hierdie roman, of het iets anders jou gemotiveer? Oorspronklik wou ek iets oor die bergies skryf, daarom dan die belangstelling in hul leefwyse. Tog was ek ook bewus van en bekommerd oor die kapings in ons land. En toe ek begin skryf, het die storie net gekom en gelukkig kon alles saamsmelt. Tydens die bekendstelling van die roman in Stellenbosch het jy gepraat oor die klassebewustheid wat heers binne die bergiegemeenskap. Het jy hierdie hiërargie doelbewus by die struktuur van die roman ingewerk? Nee, die klassestruktuur van die bergies was nie doelbewus in die roman ingewerk nie. Wat my opgeval het, was dat hulle regtig baie bewus is van hul "sosiale strukture", en dit het net vanself by die storielyn ingeval. Luister maar as hulle met mekaar praat, of mekaar uitskel, en jy sal hoor: “Ek hou my toggie op met low-class robbies ’ie!” of soos aan my gesê is: “Ek gooi vandag ‘n lange na die hoipolloi toe. Sleep jy saam?” En toe ek my later kom kry, sit ek onder ‘n boom teen die hange van Seinheuwel wat aan een van die "high society"-bergies "behoort". Hulle sien die "middelklas" as diegene wat gereeld hul nagte in nagskuilings deurbring. Wat kom eerste, skryf of verpleging? Aai, dis nou ‘n moeilike vraag. Ek het ‘n passie vir albei. En tog ... soms wanneer die karakters my soggens nie werk toe wil laat gaan nie, of ek nog net een laaste sin of paragraaf wil skryf, dink ek aan die lied: “… ek sal kan doen met ‘n miljoen ...”, of so iets. En dan, wanneer ek en my kollegas swoeg en ek later sien hoe die studente onder ons leiding groei, en ek die werksatisfaksie in my binneste voel borrel, weet ek dat skryf en verpleging nog vir vele jare lekker saam-saam in my lyf sal moet kuier. Jy handhaaf ‘n sterk siening oor wit mense se houding ten opsigte van Afrikaans. Brei asseblief uit. Ek weet nie of ek die vraag verkeerd lees, en of dat dit dalk nie reg gestel is nie. Dis nie die witmense se houding ten opsigte van Afrikaans wat my pla nie. Wat haak, is dat my taal – Afrikaans – nog steeds na twaalf jaar se demokrasie verpolitiseer word, so asof dit net wit mense is wat my taal praat, en alle Afrikaanssprekendes van alle rassegroepe vir ewig en altyd daarvoor moet boet. Ja, 1976 en 1985 se geskiedenis kan nie weggepraat word nie. ‘n Handjievol mense het daardie besluit geneem. Nou toe! Dankie dat die wit mense my taal verfyn het en dit tot die hoogte van ‘n erkende landstaal gebring het. Maar Afrikaans se oorsprong lê nie by die wit mense se deure nie, dus kan die wit mense ‘n bietjie help om die saak reg te stel. Miskien is dit dan moontlik dat Suid-Afrika sal registreer dat dit nie net wit mense is wat Afrikaans praat nie. Hierby is die wete ook dat ‘n taal nie die alleenreg van ‘n sekere groep is nie. My taal is dit beslis ook nie, en kan met enige ander taal blad skud. Juis noudat ons jeug gewoontes en kulture verleer, is dit baie belangrik om moedertaal op alle vlakke aan te moedig. Binne die bergiegemeenskap heers daar, volgens jou, ‘n besonder interessante ingesteldheid teenoor Afrikaans. Vertel. Ja, die Afrikaanssprekende bergies is lief vir hul taal, en dring daarop aan dat dit reg gebruik moet word - dis nou wanneer hulle in jou geselskap veilig voel en nie kru taal as verdediging hoef te gebruik nie. Dis juis hul pragtige taalgebruik wat my nuuskierigheid geprikkel het en my telkens terug na hulle geneem het. Sien, as hulle algar saam is, tuit jou ore van die vloeke en gons dit van die mengelmoes tale wat in een sin gesit word. Als om hul posisie en sosiale strukture binne die kring te behou. Maar wen hulle vertroue en kry hulle een vir een alleen en nugter, verstom die Afrikaans jou. Onthou, amper al die bergies wat ek ontmoet het, het eens ‘n professie of ‘n hoë status in ‘n gemeenskap beklee en is glad nie onnosel nie. Ek was dikwels sommer lekker op my plek gesit! “Praat reg of hou jou mond!” het een my byvoorbeeld toegesnou toe ek wou weet of sy dan op straat beland het omdat sy nie met haar probleme kon "cope" of nie die "stress" kon vat nie. Jy is bevoorreg om die legendariese Annari van der Merwe as uitgewer te hê. Hoe sou jy jul kreatiewe interaksie beskryf? Ja, dis beslis ‘n hengse voorreg om Annari van der Merwe as uitgewer te hê. Haar soort is min gesaai. Ek hou van die professionalisme wat sy aan die dag lê. En veral van haar reguit manier van praat en dinge doen - ek weet te alle tye waar ek met haar staan, en dit is vir my belangrik. Moet tog nie dink dat mens bane om haar kan hardloop nie. Aikôna! Maar mens kan met Annari oor ‘n punt redeneer, of haar opinie oor iets vra. Onder haar leiding en die lesers se kritiek het ek definitief gegroei. Soos ek kan aflei, is jy nog vlugvoos na ‘n besoek aan die Suriname. Wat het jy daar gaan maak? Hoe voel die mense in daardie geweste oor Afrikaans en sy skrywers? Aai, my lyf is al terug, maar my gees is nog steeds by die 5de Internasionale Literatuurfees in die Republiek van Suriname wat deur die Schrijversgroep ’77 Suriname met samewerking van Suid-Afrikaanse kunstenaars gehou is. Wat ‘n woordkunsfees! Die ATKV en LAPA-uitgewers het dit moontlik gemaak dat Diana Ferrus, Kirby van der Merwe, Thulani Cekiso en ek die fees kon meemaak. Dioné Prinsloo van Pretoria was ook saam en het net so hard saamgewerk. Vir die tien dae het ons poësie- en prosa-werkswinkels aangebied, skole en universiteite gaan besoek, en voorlesings op verskillende plekke in Suriname gehad. Hulle kom besoek ons November volgende jaar. O, die Surinamers is dol oor Afrikaans (seker omdat dit vir hulle ‘n vreemde taal is, en die oorgrote meerderheid nog nooit van Suid-Afrika gehoor het nie) - hulle praat mos elk geval Nederlands, Sarangtong en Engels (laasgenoemde word deur net ‘n paar gepraat). Ek het dus my taal met hulle gepraat - “nie snel” - en hulle het Nederlands met my gespoeg. En was dit nou lekker om al my boeke daar onder hulle te sien! Hulle is mal oor Suid-Afrikaanse skrywers, daarom dan my planne om in 2009 nog ‘n groep skrywers daarheen te neem. Wat is volgende op jou skryfagenda? Of herstel jy nog? Daar is ongelukkig geen herstelkans nie. Ek is besig om iets vir Die Burger voor te berei terwyl die volgende boek alreeds in my agterkop broei. Sien jy jouself as ‘n “swart skrywer”? Om die etiket "swart skrywer" te dra, laat my trots op my herkoms voel, maar plaas my terselfdertyd in ‘n spesifieke skrywershokkie waar daar seker mense is wat, as gevolg van die benaming, bevooroordeeld teenoor my werke staan. As etikette dan moet bly, sou ek verkies om liefs “swart Afrikaanse skrywer” te wees, al sien ek myself as ‘n Suid-Afrikaanse skrywer.
|