Lidia - 2007-08-02
Dis ’n boek wat ek met groot verwagting begin lees het. Ek was nie teleurgesteld nie; trouens, ek het veel meer gekry as waarop ek gehoop het. Hoekom? Omdat ek so baie raakpunte met my eie kinderjare en my eie lewe raakgelees het. Dan tog, het dit nie gegaan oordat ons dieselfde soort kinderlewe gehad het nie; inteendeel, dit het ligjare ver van mekaar verskil. So het ek ook nooit ’n ‘peerboom’-ervaring gehad nie, maar ek het steeds ’n meelewing daarmee gehad. Ek het deurentyd daaroor gewonder, tot ek op p 97 my antwoord gekry het. In een enkele sin:
Daar was nog nooit ’n tyd waarin my lewe nié kompleks en intens was nie.
Daarin het die antwoord vir my opgesluit gelê en ek het geweet dat dit is omdat ek die lewe nét so ervaar, wat ek kon identifiseer. Daarom dan, alhoewel ons lewenservarings totaal verskillend was, is dit met Annelie die mens wat ek kon identifiseer. Daarmee wil ek my ook nie self aanmatig deur te sê dat ons dieselfde is nie, verre daarvan. Dit gaan oor die belewing van die lewe. Hoekom ervaar mens die lewe so intens? het ek myself afgevra. Omdat ons al twee ewe individualisties is? Omdat ons dit dalk altwee ewe moeilik vind om te konformeer, maar dit tog so dikwels in die lewe moet doen? Ek moes eenvoudig weer onwillekeurig aan Hennie Aucamp se woorde in die voorwoord tot Koos du Plessis se Kinders van die Wind dink. Ek haal weer die sielsmooie deel aan:
Maar om mense te bereik, moet jy bereid wees om sélf mens te wees: moet jy dikwels ja gesê het vir die lewe en net so dikwels seergekry het.
Daarom dink ek dit is omdat ek en sy nie een bang was om te lewe nie, wat ons dinge so intens ervaar en die lewe vir ons nooit anders as kompleks kan wees nie. Dalk is dit die rede hoekom ek so met haar in hierdie boek kon identifiseer.
Verder oor die boek: Dis met ’n ruwe eerlikheid, wat soms ontstellend is, geskryf. Maar hoe dan anders? Soms het ek gewonder wat haar man sê omdat hy so “ontbloot” is. In die afgelope Sondag se Perspektief (Bylae tot Rapport) het ek half teruggedeins vir die resensent, Hennie van Coller, se verwysing na “owerspeligheid”. Maar was dit dan iets anders? As mens met soveel eerlikheid oor jouself kon skryf, moet jou geliefde ook maar sterk staan as hy deel van die suiweringsproses wil wees. Mens kan nie net sekere dele van ’n rou wond skoonmaak en hoop dit gaan genees nie. Die skoonmaak het alkante toe diep gesny. Boetedoening as ouer, vir verkeerdhede waaraan ons almal skuldig is in ons groot onkunde. Wanneer ons kinders moet grootkry, terwyl ons self nog soos kinders is. Self steeds bang is, verwerp voel en opstand in ons binneste het. Wanneer jy aan kinders vrae moet beantwoord, terwyl jy by jou eie voorsate nog soek na antwoorde. Ek moes self eers voor ’n muur van verwyte verbykom voordat ek vrede kon hê met verwyte wat ek teen ouers gehad het. Terwyl ek nog nie antwoorde het vir hierdie verwyte wat my toegeslinger is nie, begin ek om die verwyte wat ek gehad het, skoon te maak omdat ek nou my eie ouers beter verstaan. Hulle was ook maar net so onkundig. Maar Sabbatsreis gaan nie oor my reis nie, tóg het dit my baie gehelp met my reis.
Met die lees van hierdie boek het ek meer as een keer, net soos Luke in die boek, gesê: “Annelie is an amazing woman!” Ek buig laag en haal my hoed af vir hierdie skrywer. Dis ’n terapeutiese reis na innerlike heling. Dis ’n boek wat ek met ’n oop hart aan almal, nie net vroue nie, kan aanbeveel.
Lidia