Die Krokodil - 2007-07-23
Dit bring my by die derde kwessie, naamlik die hoop wat sommige media klaarblyklik nou op Sexwale as 'n ewe “beskaafde” opvolger vir Mbeki vestig wat die belange van die middelklas, so hoop hulle, grotendeels onverstoord sal laat. Perish the thought! Daar is 'n snelgroeiende aandrang op voetsoolvlak dat die people nou ook 'n slag aan die beurt moet kom en ek dink nie 'n ou in 'n Armani-suit is wat hulle in gedagte het nie. Daarom is ek nie so seker dat Tokyo die man is nie, ten spyte van die tjek wat hy vir die “80 minute vir Madiba”-sokkershow uitgeskryf het. In elk geval nie sonder ingrypende politieke heroriëntering en 'n totale “herverpakking”, wat 'n kas vol Madiba-hemde insluit nie. En definitief nie as Thabo hom “endorse”, soos een naweek-koerant dit wou hê nie. Dít sal juis die dood verhaas van 'n kandidaat wat in elke geval waarskynlik reeds weens BEE-vergiftiging aan’t beswyk is. Dalk hoop hy om met die sokker-"gesture" 'n endorsment uit Mandela self te kry – hê-hê-he, die Ouman háát opportuniste. Vra ma' vir FW de Klerk!
Die politieke invloed van die amaGucci is op grondvlak baie kleiner as wat in die media blyk (wat hulle raminge bloot op byeenkomste van verteenwoordigers baseer). Die gelieg en gepaai van twaalf jaar terwyl die sharp suit-brigade hulleself mildelik aan die melk en heuning van die beloofde land gehelp het, het veroorsaak dat ons met 'n dreigende krisis sit omdat miljoene mense nou agter die een met die nicest sounding slogan wil aanhardloop – ja, ook bo-oor die "boere" en hulle gekerm oor Afrikanerskap, taal en die simplistiese retoriek oor property values, korrupsie, BEE, affirmative action en what have you.
Vierdens: Die nicest slogan van die oomblik?
“Bring me my machine gun!”
(Die geknies, lank nademaal, oor die MK edellied, Hamba Gahle, Mkhonto, is interessant in die lig van die feit dat daar min “wit” beswaar was toe ons gewese vise-president in die openbaar sy AK vra, oënskynlik om sy nemesis af te maai. Net 'n paar ape wat gedink het hy wil boere doodmaak, het gemoun. Tipiese Afrikaner-dubbele standaarde, hoor ek klaar weer die kamerade lag. “Amabhulu”, in die konteks van die MK-lied, verwys bowendien nie na witmense per se nie, maar na gewapende teenstanders – die lied het laaank voor '92 ontstaan en is by geleenthede as 'n tipe van sub-anthem gesing, baie soos "Hoor jy die magtige dreuning?" op Republiekdae deur Afrikaners gesing was.)
Vyfdens: Daar is vir die whiteys/wittes/Afrikaners/ens geen aanbod van 'n alliance met die gatvol gewagte have nots en hulle dansende leier op die tafel nie. (Hy sal lekker saam met die boere braai en gemeenplase deel, maar when push comes to shove, sal hy slegs vir hulle iets aan te bied hê as hulle kan resiprokeer met iets wat vir hom van soortgelyke of groter waarde is – “daar is geen vrye passasie op die politieke trein van die NSA meer nie; daardie free ride wat oom Nelson destyds vir “die witmense” gegee het, het in ‘99 ge-expire.)
Punt ses. Weer eens: “Die Afrikaner” as onderwerp is lankal nie meer op die nasionale agenda nie. Daar is te veel ander vure om dood te slaan in hierdie land van wanadministrasie. Daarom het die Afrikaanses eintlik al die tyd in die wêreld om onder mekaar te baklei en te stry oor wie en wat hulle nou eintlik is of wil wees – solank hulle net nie dink enigiemand anders gee 'n moer om nie.
(Vervolg)
Die Krokodil