![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Toast Coetzer - 2007-07-13 Ek dink dit was 1986. Ek was in standerd 1 in die Voorbereidingskool Cradock. Ons het een keer ’n jaar Boeresportdag gehou op die Rovers-sportvelde, agter die hoofpawiljoen op die B- en C-velde. Ek was altyd goed in die hindernis, waarin jy onder ’n seil moes deurkruip, dan deur ’n leer se sporte, en so aan. Sakresies en hardloop met lepel en eier en driebeenresies was egter nie my forté nie. Aan die einde van daardie jaar se verrigtinge het ons skoolhoof, mnr Joubert, oftewel Piesangvingers, omdat hy sulke groot hande en vingers gehad het, aangekondig dat ons met ’n spesiale item gaan afsluit. Sien, dit was ’n jaar waarin daar ’n sprinkaanplaag was, en terwyl ons besig was met die Boeresport, het ’n swerm sprinkane op die Rovers-veld toegesak. Die gras het geblink van hulle. Mens kon hulle hoor vreet. Iemand se pa wat by ’n bank in die dorp gewerk het, het honderde plastiek-banksakkies gaan haal en mnr Joubert het aangekondig dat ons gaan kyk wie die meeste sprinkane kan vang. Die een met die meeste banksakkies vol sprinkane is die wenner. Die arme sprinkane het nie geweet wat hulle getref het nie. Nooit, maar nooit tevore is ’n swerm so vinnig uitgewis nie. Kinders het in beheerde chaos oor die veld rondgehardloop en die harde bruin rakkers meedoënloos in die banksakkies gestop. Boland Bank – ek dink dit was Boland Bank-sakkies. As ek reg onthou, was ek derde, na Ginkel Jordaan en sy neef Gunther Jordaan. Al die sakkies is toe in ’n drom gegooi en iemand se pa het dit aan die brand gesteek. Terwyl ons ma’s ons kar toe begelei het, het die rook dik en swart in die lug opgestyg.
|