![]() |
![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
![]() |
||
![]() |
Deborah Steinmair - 2007-06-05 Ek het na Helena Nogueira se dokumentêr oor Ingrid Jonker gaan kyk. Een foto wat telkens gebruik is, bly by my spook: van die grootoog Ingrid, soos ‘n bokkie in jou brights, soos ‘n brandende mot wat verlief is op die kers. Dit laat my dink aan Irma Stern se aangrypende skildery Die Ewige Kind. En aan Frida Kahlo se skildery van die Fridahgesig-bokkie met haar lyf vol pyle. Partykeer dink ek Ingrid is ‘n soort nasionale aanklag teen ons. Soms dink ek almal van ons, selfs dié wat haar nie geken het nie en dié wat nog nie gebore was nie, het haar nie lief genoeg gehad nie. Behalwe miskien heiliges soos Nelson Mandela en Laurens van der Post. Ons liefde het gefaal, dit was te flou. Nou soek ons na sondebokke: haar fascistiese pa (ongenaakbare Abraham, hoeveel spieëls het daar nie gebreek tussen ons deur die dekades nie) en die jong André Brink, serieuse reeksveroweraar met sy krulkuif en adamsappel. Ek dink hy was in tot oor sy ore: jonk, ernstig, op pad, ‘n Man, ‘n Sestiger, ‘n Skrywer. Besig. En drie maal seks op ’n agtermiddag was blykbaar nie genoeg vir die digteres met oë soos kladpapier vol ink nie. Ons Ek dink Ingrid is een van die min mense wat my kleintyd-fantasie suksesvol deurgevoer het. Wanneer ek onder die kombuistafel gesit en warm trane drup het oor niemand my lief genoeg het nie, het ek gefantaseer dat ek gaan wegloop en doodgaan en almal gaan só sleg voel. Die meeste van ons ontgroei hierdie fantasie op drie jaar, maar Ingrid het bly soek waar die lelieblom kan wees wat haar hart van pyn genees. Ek dink daar is mense vir wie ‘n mens nooit lief genoeg kan wees nie. Hulle is nie genoeg bemoeder nie, of iets het êrens skeefgeloop en nou benodig hulle te veel van jou slagaar-bloed. Hulle dans te na aan die vlam, lag te hard en klou aan jou vas met wit kneukels. Min van ons sou byvoorbeeld met Vincent van Gogh as gas kon huishou. Ek dink sy asem en sy voete sou stink, hy sou jou beddegoed vol gate brand, die badkamervloer taai piepie, oopmond eet, spoeg as hy praat, in die nag al jou Amarula opdrink, en wanneer die inspirasie oor hom kom, sou hy die wit tafeldoek wat jou oumagrootjie regdeur die konsentrasiekamp met haar saamgedra het, opsny vir skilderdoeke. Hy sou té intens wees: nee, vat asseblief terug jou bloederige oor, ek het nie daarvoor gevra nie. Ek erken: as Ingrid vandag geleef het en ek het haar geken, sou ek waarskynlik laatnag my selfoon afskakel nadat sy 30 dronk sms’e gestuur het. Ek sou die foon moedeloos afskakel en hoop vir die beste: moet asseblief net nie vannág selfmoord pleeg nie, ek kan nie meer waak nie, ek is te vaak. Ek hét dit immers al gedoen met maniese, selfdestruktiewe skrywers. Ek het vlak en afgemat my kussing omhels en gedink aan die gekleurde pie charts vir môre se Power Point presentation. In retrospek is dit maklik om vingers te wys na Jack Cope, André P en al die mans in haar lewe. Kon een van hulle haar nie maar namens ons almal lief genoeg gehad het, met haar getrou en vir haar gesorg het nie? Maar nee, sy was nie ‘n trouvrou nie. Let’s face it: niks is so moeilik om te bemin soos rou behoefte nie. Ons het Ingrid nie lief genoeg gehad nie. Sy is die seevoël wat verhongerd dwaal en dooie nagte opdis as ’n maal. Sy is die hond wat op die strande draf en dom-allenig teen die aandwind blaf. Sy leef weerloos voort in ons nasionale bewussyn. Sy is die ewige nimf, soos Marilyn Monroe, Sylvia Plath, Lady Di. Sy is Die Kind wat nooit doodgaan nie. Briljante Ingrid se lyk lê uitgespoel in wier en gras. Deur die landskap van ons psige reis sy sonder ‘n pas.
|