Leandré Hanekom - 2007-05-02
Liewe AM Nell
Jy vra hoe groot NALN is? Hoeveel personeel en hoeveel vertrekke? En jy vra of die varsity dalk ‘n spesiale plek daarvoor kan inruim?
Dit gaan nie oor NALN se grootte nie. NALN is massief, want soos my dierbare mentor, prof Nienies (PJ Nienaber) op sy segetog deur die Afrikaanse taal geloop en boeke koop, bedel en approprieer (vat!) het, het hy stelselmatig ook die Letterkundige Museum en Navorsingsentrum uitgebrei tot hy stewig in al 80 kamers gesetel was. “As jy weer kyk, is prof Nien in nog ‘n kamer in”, het die mense in die sewentigerjare gebrom. Hy was nie baie lank nie, en lateraan gesellig breed, en hy het ‘n boor en ‘n hamer en ‘n buis tandepasta gehad. Oral waar hy in ‘n vertrek gekom het, het hy so hoog soos hy kon bykom, ‘n gaatjie geboor, ‘n sterk spyker ingeslaan en iets opgehang – van die kosbaarste skilderye ooit, tot Honiball-spotprente. Sodra hy dan ‘n nuwe kamer betrek het, het hy al die goed van die mure afgehaal, die gaatjies met Colgate-tandepasta toegestop en weer gate gaan boor in die volgende vertrek. Hy het een dag gespot en vir my gesê: “Kind, kom by my. Kom kyk hier.” Hy het al die gate op ‘n ry uitgewys, en gesê: “As ek die dag gegaan het, en hulle restoureer hierdie plek, gaan al die kamers waar ek was, op hierdie hoogte ineenstort. Dit lyk soos heuningkoek in die mure en net jy en Ena (van der Walt) weet van al die tandepasta!”
NALN is nie net ‘n gebou vol boeke nie. Dis ‘n instelling, dis ‘n stukkie van die gees van vervloë Bloemfontein. Waarheen gaan die verpleegsterspook wat snags tussen prof Nienies se ou kantoor en die Admin-blok loop as daar getrek moet word? Jy sien nooit haar voete nie, want sy loop nog op die onderste vloer, voor dit opgebou is tydens die herstel na die groot vuur. Wat word van die historiese lemoenboom in die vierkant met sy honderde klein suurlemoentjies wat die lekkerste marmelade en lemoenwitblits maak?
As NALN sneuwel, ruk jy die linker-ventrikel van die hart van die taal uit. Wat gaan van die tydskrifversameling word wat daardie trotse ou proffie so sorgvuldig opgebou, versamel en gebind het? Wat word van die toneelmuseum, die musiekmuseum? My heel eerste kortverhaal het in ‘n tydskriffie genaamd Ster verskyn toe ek ‘n tiener was. Dit is opgevolg deur verhale in Keur en Fyn Goud en die destydse Brandwag. Prof Nienies was al persoon in die land wat al daardie tydskrifte versamel het, en ek kon dertig jaar later fotostate gaan maak van manuskripte wat ek lankal verloor het met elke trekslag, ens.
Gaan asseblief voort met die nuwe Sotho-museum. Mathene, die direkteur, is ‘n wonderlike mens en kan ‘n reuse sukses daarvan maak. Maar gee hom die personeel wat die taal kan praat, en sit NALN se mense terug waar hulle hoort – in NALN se Afrikaanse afdeling. Hoor jy, Rachel Sempe? Van die beste navorsers in Afrikaans sit nou by die Sotho-museum waar hulle nie eers “Dumela” en “ Okae? Tjee, hampe, ke pheha ka mamina” kan verstaan nie, en die afdelings waar hulle was, soos knipsels en ontsluiting, gaan bloot net eers stagneer en dan toemaak.
Ag wel, ‘n enkele stem in die wildernis sal seker niks doen nie, maar ek voel darem beter oor ek kon vra: red daardie pragtige plek waar ek vir soveel jare so lekker gewerk het …
Joy en Blessings
Leandré Hanekom
Sotho-idioom: O kae? Hoe gaan dit? Hampe, ke pheha ka mamina – Nee, dit gaan so sleg, ek kook met snot!