![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Charles Malan - 2007-04-26 Dryfsand is so bedrieglik omdat dit oënskynlik so stabiel is, maar die dood is stadig dog onvermydelik. Daar is talle tekens dat die politieke besluitnemers die basis van die stewig-gevestigde fondament van NALN in dryfsand omskep. Besluitnemers verseker ons nogtans dat die sentrum "nie in gevaar is nie", dit bly stabiel. Die feite in hierdie seminaar wys nogtans duidelik: GEVAAR: DRYFSAND. Ek deel graag enkele perspektiewe op grond van my ervaring as stigterhoof van die eertydse SENSAL. Dr Rudi Venter beskryf die sentrum soos volg in hierdie seminaar:
Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) was nog ’n institusie wat ’n kernrol gespeel het in die voorsiening van infrastruktuur vir letterkundenavorsing. SENSAL het gedurende die 1980’s op ’n deurlopende basis die ontwikkeling van al die Suid-Afrikaanse literatuursisteme (Afrikaans, Engels en al die Afrikatale) gemonitor en daaroor verslag gedoen deur middel van die literêre-jaaroorsig-reeks SA Literature/Literatuur – in werklikheid ’n lopende ensiklopediese literatuurgeskiedenis en die beste voorbeeld nog van ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Dit is ironies dat die hele grondslag van NALN, en dus ook direkte steun van die staat, deur die RGN prysgegee is om al die letterkundes van die land te akkommodeer. In die oorgang na ’n demokratiese bedeling het ons by die RGN uit eie beweging besluit om die eertydse Sentrum vir Afrikaans uit te faseer. Onder leiding van prof PJ Nienaber en dr PG du Plessis was hierdie sentrum as ’n voorbeeld vir die hele land goed gevestig. Die grootste deel van die argief, boekery en navorsing het as gevolg van prof Nienaber se ywer as NALN na Bloemfontein verskuif. SENSAL was ook daadwerklik betrokke by die uitbou van soortgelyke sentra, byvoorbeeld die Xhosa-sentrum by die Universiteit van Fort Hare en die Engelse NELM in Grahamstad. Dieselfde steun word deur NALN aan ’n Xhosa-museum gegee. In ’n ope brief aan minister Pallo Jordan het ek ’n maand gelede onder meer die volgende geskryf: Ek en jy het in 1989 by die Victoria-waterval ontmoet toe ’n groep Afrikaanse skrywers met die verbode ANC gaan beraadslaag het. Ek was beïndruk met jou intellek, kultuursensitiwiteit en veral gematigde politieke standpunte. Jy was verbaas dat ek nie slegs van jou pa, die gevierde skrywer en taalheld AC Jordan, geweet het nie, maar inderdaad al in verskeie literatuuroorsigte oor hom geskryf het. Daarin is veral verwys na sy grootse roman, Ingquambo Yeminyanya, vertaal as The Wrath of the Ancestors, die viering van ’n trotse Xhosatradisie. By die beraad het jy verwys na mense wat jou goeie Afrikaans loof en jy het geantwoord dat jy dit elke dag hoor. Jy het ter afsluiting gehoop dat daar nog meer sulke berade sal wees, "not as Afrikaners and ANC, not as freedom fighters and Afrikaner writers, but as South Africans, as Africans, brothers and sisters, in our own country which we all love". Jy, Pallo, het ons Afrikane genoem.
Ons het meer gemeen gehad as wat ons sou kon vermoed. As hoof van die sentrum vir letterkundenavorsing by die RGN het ek gesorg dat daar heelwat publisiteit aan die soms sukkelende Afrikataalletterkundes gegee word. Tot vandag is dit die enigste en volledigste gepubliseerde oorsig. Afrikaans het daarin bloot naas die ander landstale plek gekry. Die punt is dat daar nog altyd ’n bereidwilligheid was om ander letterkundes te akkommodeer, ook by NALN. Daar is geen sprake van eksklusiwiteit nie, maar juis inklusiwiteit. In die brief het ek veral verwys na die agteruitgang van ’n Afrikaanse kultuurerfenis soos plekname, maar NALN is uiteraard ook volledig ter sake. Na weke is daar selfs nie ontvangserkenning op die brief nie, maar dit sal dwaas wees as ons ons deur die gebrek aan reaksie by politici en ander besluitnemers laat afskrik om nie aanhoudend ons stem te laat hoor nie. Ek stel graag voor dat Rudi Venter, wat die veldtog oor NALN op ’n lofwaardige wyse aandryf, of die Erfenisstigting onder leiding van Gert Opperman, die voortou neem om ’n versoekskrif op te stel. Daarin moet veral versoek word dat: · NALN op dieselfde basis as NELM en ander sentra in sy huidige vorm behoue bly en uitgebou word · staatsteun soos in die geval van NELM direk aan NALN en ander talesentra gegee word, dus nie bloot provinsiale steun nie · die huidige personeelkundigheid van NALN nie verminder en versprei moet word nie, maar eerder uitgebou moet word · die jare lange kundigheid en ervaring van NALN en NELM planmatig met sentra vir die Afrikatale gedeel word. Die versoekskrif moet deur letterkundiges, uitgewers, navorsers en ander belanghebbendes onderteken word, meestal per e-pos. Prof Hans du Plessis se skryfskool by UNW het ’n uitgebreide adreslys, waarby my adresse van die informele Boekebelange-groep geïntegreer is. Die versoekskrif moet aan die betrokke nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede gerig word. ’n Klein komitee kan die aksies koördineer. Aangesien die personeel van NALN klaarblyklik nie mag saampraat nie, stel ek voor dat die komitee die versoekskrif opstel, versprei en die nodige opvolgwerk doen. Dit is verontrustend dat daar letterkundiges is wat direkte belang by NALN het en nogtans nie voel dit is dringend dat hulle moet optree nie. Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer ... So kan ons, soos op talle terreine van Afrikaans, rustig in die dryfsand wegsink.
<< Terug na die “Wat word van ons argief?”-miniseminaar <<
|