![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Peter Lor - 2007-04-24 Wie kan iets liefhê met ’n naam soos NALN? Wat beteken dit vir die breë publiek? Vir die nie-Afrikaanssprekende publiek? (Die mode om van afkortings selfstandige naamwoorde te maak, kan die herkenbaarheid van ’n instelling skade berokken. Kentucky Fried Chicken het KFC geword eers toe die firma al ’n stewige markaandeel en wêreldwye bekendheid verwerf het.) Mense moet weet wie jy is voor hulle harte warm vir jou kan klop. In omstandighede soos dié wat klaarblyklik in Bloemfontein geld, help emosionele argumente slegs as daar groot getalle mense is om aan te steek. My vraag gaan dus eintlik oor draagvlak. (Hier in Den Haag word baie van draagvlak gepraat. Ek kan nie onthou dat ek die woord in Suid-Afrika gehoor het nie. Dit het betrekking op hoe breed die ondersteuning vir iets is. Partykeer maak die Hollanders tog sélf mooi woorde in plaas daarvan om dit uit Engels oor te neem.) Wie is die doelgroep? Hoeveel mense word daadwerklik deur NALN gehelp en geraak? Wie is hulle? Wat dra NALN by tot onderwys? Wat is die ekonomiese betekenis van NALN? Hoeveel word bygedra tot die ekonomie van Bloemfontein deur navorsers en andere wat die stad besoek om NALN se bronne te raadpleeg? Hoeveel word tot die nasionale produk bygedra deur die skryf en uitgee van boeke, artikels, verhandelinge en toneelstukke met behulp van bronnemateriaal wat NALN beskikbaar gestel het? Goor vrae, ja. Die soort vrae wat Mr Gradgrind sou gevra het. Maar die British Library – wat, soos alle kultuur- en erfenisinstellings, deurlopend vir sy voortbestaan moet baklei – het ’n paar jaar gelede ’n wetenskaplike studie onderneem om sulke vrae te beantwoord, en gebruik die skietgoed wat so verkry is, nog steeds met welslae. Wêreldwyd stel regerings steeds meer belang in die ekonomiese betekenis van kulturele “industrieë”. Dit geld ook vir die Suid-Afrikaanse Departement van Kuns en Kultuur. Hoe kan die draagvlak vergroot word? Dis nie iets wat mens oornag kan doen nie. As die pôpô die fên gestraaik het, is dit eintlik te laat om daarmee te begin. Maar mens kan strategies te werk gaan met dit wat jy het. Wie is NALN se “constituency”? Wie van hulle het invloed? Mobiliseer hulle, stig ’n aksiegroep en gaan veg dan vir NALN met die koue staal van feitelike argumente.
<< Terug na die “Wat word van ons argief?”-miniseminaar <<
|