Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare > NALN as ongeëwenaarde nasionale kultuurskat

NALN as ongeëwenaarde nasionale kultuurskat


Malcolm Hacksley - 2007-04-20
Gun my die geleentheid om in my hoedanigheid as direkteur van NALN se Engelstalige eweknie, NELM op Grahamstad, my stuiwer – was dit maar meer! – in die armbeurs te gooi. En as my Afrikaans gebrekkig is, moet die leser maar self die foute regmaak!

Die feit dat ‘n nasionale (en internasionale) kultuurskat onderworpe kán wees aan die grille van onkundige maar alte magtige provinsiale beamptetjies is niks minder nie as ‘n nasionale skande. NALN behoort al lankal weggeneem te gewees het by die Vrystaatse provinsie en direk oorgeplaas gewees het na die Nasionale Departement Kuns en Kultuur. Dis nog nie heeltemal te laat om dit te doen nie, maar dit lyk my die tyd raak gevaarlik min.

Waaroor dit hier gaan, is nie alleen die ongeëwenaarde versamelings dokumente en die rykdom ander artefakte wat deur die dekades heen ter goeder trou deur ‘n menigte skrywers, uitgewers, akademici en ander aan NALN geskenk is nie, maar ook die onmisbare kundigheid van NALN se toegewyde personeel wat dié versamelings in stand hou, uitbrei, bewaar en aan die lesende wêreld beskikbaar stel. Meer nog: dit is juis hulle ervaring, hulle vertroudheid met die versamelings en hulle seldsame vakkennis en -kundigheid wat dit moontlik maak dat die inhoud en betekenis van die versamelings ontsluit kan word. Sonder soortgelyke vaardighede bly die versamelings kwalik meer as stof wat ruimte beslaan.

My eerste pleidooi is dus dat die bestaande personeel behoue moet bly, en dat dié wat reeds weggewys is, of onwillig herontplooi is, teruggebring word. Dis juis hulle kundigheid wat sin verleen aan die hele versamel- en bewaringsopset. Blykbaar het die Vrystaatse amptenary nóg die insig, nóg die belangstelling om dit te wil doen, dus moet die sentrale regering ingryp. Ek wens van harte hulle wil, dan kan ons as NELM ons ouboet hartlik verwelkom in die huis waar hy nog altyd tuis moes gewees het.

Die vaardighede wat hier ter sprake is, is uiters seldsaam. Dit vat baie lank om aan te leer en kan verbasend gou verlore gaan. Dit gaan oor argivarisse, vakkundige bibliotekaresses (ja, en bibliotekarisse!), letterkundige deskundiges, navorsers, hoogs gespesialiseerde bewaringstegnici en dies meer. Die feit dat universiteite maar min sulke spesialiste oplei, noodsaak ‘n museum soos NALN om indiens-opleiding te onderneem om in sy eie behoeftes te voorsien. Sulke opleiding strek, letterlik, oor jare. Die moontlikheid bestaan nie dat kort kursusse enigsins bevredigende werknemers sal kan oplewer nie. Dit is nou eenmaal so dat daar party dinge in die lewe is, ook in die nuwe Suid-Afrika, waarvoor daar nie kitsoplossings is nie. Die opleiding van museumpersoneel is een daarvan.

Dit ís wél moontlik dat die DAC (die Departement van Kuns en Kultuur op nasionale vlak) tot NALN se redding kan kom, en as dit gebeur, noop NELM se ondervinding van ons departement my om te voorspel dat dit dan, na al die jare van misbruik en verwaarlosing, weer met NALN sal begin goed gaan. Ek verduidelik kortliks waarop ek dié stelling baseer.

NELM funksioneer as ‘n sg DCI (Verklaarde Kulturele Instelling) kragtens die Wet op Kulturele Instellings van 1998 en ressorteer onder die nasionale departement in Pretoria. NELM kry sy eie toekenning wat elke jaar deur die DAC bepaal word en wat alle uitgawes moet dek. Presies hoe die koek verdeel word, is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die museum self. NELM is gemagtig om sy eie besluite te neem. NALN behoort ook so te kan funksioneer. Ons toekenning is nie uitermate groot nie, maar toereikend is dit beslis, in die sin dat alles wat NELM nodig het, wel geldelik binne ons bereik is. Dit geld personeel, aankope, instandhouding, lopende uitgawes, de lot. Wat nog meer is, is dat die begroting oor drie jare heen strek, maw die DAC sorg daarvoor dat NELM vanjaar reeds weet wat sy toekenning in die 2009/10-boekjaar gaan bedra. Deur die feit dat dit mediumtermyn-beplanning moontlik maak, verleen dit aan die museum die stabiliteit waarsonder enige instelling maar swaar sy personeel se moraal kan behou. (Die feit dat NELM nog steeds, na 27 jaar, geen eie of behoorlike gebou besit nie, is ‘n ander saak waarmee ons ons nie hier hoef te bemoei nie.) En daar moet bygesê word dat DAC nog altyd stiptelik die eerste week van elke maand NELM se toekenning in die NELM-rekening inbetaal het. Dit klink dalk na ‘n woordspeling (‘n Engelse siekte ...) maar op die DAC kan ‘n mens staatmaak. Ons gun NALN niks minder nie.

As die toekoms van die NALN-personeel eers verseker is, kan die aandag weer toegespits word op die inhoud van die versamelings. En hier moet openlik gekonstateer word dat dié versamelings die mees omvangryke en bes-versorgde versamelings Afrikaanse letterkundige stof ter wêreld is, en dié feit word allerweë erken. Wanneer ‘n mens die feit in ag neem dat dié letterkunde ‘n verbasend veelvuldige beeld van die suider-Afrikaanse werklikheid in sy geheel weerspieël – en dit geld al die uiteenlopende ervarings wat oor dekades heen deur die menigte Afrikaanse skrywers geboekstaaf is – dan verbaas dit nie dat dit as so ‘n onmisbare deel van die nasionale kultuurskat geag word nie. En nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal. By NALN word dit alles onder een dak bewaar en beskikbaar gestel. Om dit te sê, doen nie afbreuk aan belangrike versamelings elders nie, oa by Stellenbosch, maar dis NALN wat die toon aangee en hy behoort permanent in staat gestel te word om daarmee aan te hou.

As die Vrystaatse owerhede nie die pragtige ou geboue wat NALN al byna drie dekades huisves, aan die nasie wil oordra nie, dan moet die Staat versoek word om dit te onteien en sodoende aan NALN ‘n permanente tuiste te waarborg. Dit is hulle nie net aan die Afrikaners of die Afrikaanses of die Afrikane verskuldig nie. Dit is ‘n menslike kultuurskat wat hier bedreig word, sonder dat dit enigsins nodig is dat dít die geval hóéf te wees. Daar het geen natuurramp of iets dergeliks gebeur nie. As die wil daartoe nie ontbreek nie, is die oplossing binne menslike bereik.

Fluit, fluit.