![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Koos A Kombuis - 2007-02-13 Hoe lank lê daai ou hopie Vrye Weekblaaie nou al onder in my laai? Ek weet nie. Ek weet net dit is een van my kosbaarste besittings. So twee of drie maal per jaar haal ek hulle uit, blaai daardeur, en dan vat die nostalgie my. Die nostalgie en die walging. Want dis ’n tyd waaraan ek nie graag terugdink nie. Anders as party van my ou Voëlvry-tjomme, leef ek nie graag in die verlede nie. Tot nou toe kon ek myself nog nie so ver bring om Pat Hopkins se boek behoorlik te lees of eers na die ingeslote DVD te kyk nie … En tog. Those were the days. Wat doen ons die afgelope klompie jare? Tussen die Wêreldrugby-eindstryd en nou? Party van ons het ryk geword, jobs gekry. Ander, soos Constand Viljoen, het afgetree. PW is dood, Adriaan Vlok was voete, Magnus skryf vir ver-regse websites in Amerika. Anton Goosen is ge-“mug”. Ek sien nou en dan vir Valiant – hy’s al ou wat nog presies dieselfde lyk. Ja. Tussen 1995 en nou het ons ons tuine natgespuit, ons koerante gelees, ons tande laat opfieks, beter wyn as Tassies leer drink. Ek sing nog dieselfde songs, met ’n paar nuwes. Elke keer as ek ’n show doen, sing ek: Almal wil ’n huisie by die see hê Totdat ek myself nou die dag betrap dat ek dieselfde song sing met ander woorde. Sonder dat ek dit beplan het. Dis ’n subtiele verskil, maar hel, hierdie klein verskilletjie laat die grond onder my voete verskuif; die besef van hierdie werklikheid bekruip my soos ’n plaasmoordenaar, tref my tussen die blaaie soos ’n tsunami … Almal wil ’n huisie by die see hê Goeie Fok. Is dit regtig so? Is ons werklik daar, by daardie plek wat ons gevrees het, daardie kamer in die geskiedenis waar ons weer dieselfde offers moet bring, dieselfde woede moet ervaar en verwoord? Dit het byna ongemerk gebeur. Maar dalk het ons by die punt gekom waar ons as Suid-Afrikaners dit nie langer kan ontken nie: DIS 2007, EN ONS VEG ALWEER TEEN DIE FAT CATS. Eers was dit Osama, nou Obama. Eers die Bothas, nou die Thabo's. Sal die geskiedenis dan nooit ophou op hom te herhaal nie? Ek ry met my motor deur die strate van ons dorp en ek sien die swart bedelaars rondhang op elke straathoek, by elke robot, en ek sien die koerantopskrifte wat daagliks die slagspreuke van die nuwe anargie uitroep. Ek voel die angs van my vriende. My hart klop opnuut vol adrenalien van verset en daardie ou-bekende, haas vergete strofes van protes. Vir die eerste keer in meer as tien jaar skryf ek weer kwaad liedjies. Vir die eerste keer in meer as tien jaar vergeet ek van my eie career en gaan sing ek omdat ek rêrig iets wil sê, omdat ek beangs is vir ons mense, omdat ek nie wil hê hierdie nuwe protes moet ontspoor en ons in ’n Serbiese tipe burgeroorlog dompel nie. Maar kyk na die feite. Kyk na die parallelle tussen die laat 1980’s en vandag. Dis amper te ongelooflik om waar te wees. Die déjà-vu is absoluut verstommend … Kyk eerstens na die ouens wat almal terug is. Die bekende gesigte. Allan Boesak het ’n comeback gemaak. Ons het almal gedink hy jok destyds toe hy gesê het die ANC het hom verraai, en ons het gedink hy praat nonsens, hulle is nie in staat tot so ’n verregaande daad nie. Nou, na die debakel met Mama Thambo se begrafnis, weet ons beter. Evita Bezuidenhout is weer hier, snaakser as ooit tevore – maar onder die humor bibber die ontsteltenis, die opstand. Want hierdie vrou is kwater as wat sy ooit was vir die Bothas … Ja, selfs Nataniël is weer met ons! Hy wil sy stem dik maak, soos destyds met “Piekniek by Dingaan”! Ek kan nie wag om dit te sien nie! En dan, die look-alikes, die sinchronisiteit. Adam Tas wat ’n toer vir musikante reël teen die plaasmoorde. “Waar is Koos Kombuis?” vra hy. Ek is hier, ou maat, ek is hier … en ek is nie meer ’n draadsitter nie. Daardie luxury is verby. Soos destyds met Voëlvry, het die beweging ’n spokesman; ja, dit is die ietwat verbaasde, gekneusde, teësinnige gesig van Bok van Blerk wat nou ons tydskrifvoorblaaie versier. Soos Kerkorrel destyds. Die jeug het weer iets om te sê. Die ver-regses wil die energie kaap, dis waar, maar voor mens te fyn volgens die letter van die wet wil sny, dink so daaraan: ten minste het almal nou van die patetiese klomp Idols-wenners vergeet. Ons het weer musiek wat skop. Ons het weer ’n saak om voor te stry. Natuurlik is dit ’n moeiliker stryd hierdie keer, want die stryd is nie teen ’n minderheidsgroepie blanke Afrikaners wat verbete vasklou aan mag nie, die stryd is teen ’n groep swart mense wat wil beweer dat hulle praat namens alle swart mense in Suid-Afrika. Inderdaad, die Mbeki-regering speel die rassekaart, en daar is niks wat hulle inniger begeer as dat hierdie tweestryd ontaard tussen ’n rumoer tussen Boer en Bantoe nie. En daar is niks wat hulle meer vrees as ’n opstand, by die stembus of op straat, deur alle Suid-Afrikaners, wit of swart of bruin, nie. Terwyl hulle die aandag kan vestig op Bok se agterryers, lyk dit soos ’n vuisgeveg iewers in die hoek van die kroeg, ’n fanatiese daad gepleeg deur die erg verwyderde faksie iewers in Orania of die Waterberg. So sinloos en so futiel – en potensieel so tragies - soos die AWB’s wat destyds die Bophuthatswana binnegeval het met Mercedesse om Mangope te ondersteun. Ja, is dit nie ironies nie? Dit wat die ANC wil hê, is presies wat Dan Roodt wil hê. Nie ’n stryd om demokrasie nie, maar ’n etniese stryd. ’n Stryd wat “ons” (wie “ons” ook al is) nooit kan wen nie. Ja, dit is in ’n sin moeiliker, maar dit is ook in ’n sin makliker. Makliker, omdat nie almal in die regerende party totaal korrup is nie. Daar is hier en daar talentvolle leierskap (dink maar aan Trevor Manuel). Daar is die ou wat gepraat het oor nasionale diensplig as ’n teenvoeter vir crime. Daar is tannie Zuma se ondergeskiktes in die Departement van Gesondheid wat klaarblyklik anders voel oor Vigs as sy. Ja, makliker, want ons het nog die opsie van stemreg, en ons het nog ’n grondwet. Natuurlik is hierdie dinge nie die papier werd waarop dit geprint is as die ANC aanhou om alle opposisie uit die pad te vee soos hulle met Helen Zille probeer maak het in die Kaap nie. Maar, helaas, tannie Zille is nog daar. En noudat die spotlight van die wêreld op ons is (vir die eerste keer is die misdaadsituasie in Suid-Afrika hoofnuus op Sky News), gaan dit al hoe moeiliker wees vir die korrupte ANC-lede om te maneuver. Almal weet nou van die wapenskandaal. Almal begin nou besef dat 2010 se sokkertoernooi dalk werklik ’n onbegonne taak is, en dat ons eerder ons hoop moet vestig op die algemene verkiesing van 2009. Die bottom line is dit (en tot nou toe het ek nie die guts gehad om dit reguit te sê nie): die Struggle is weer hier. Effens anders, maar ontstellend dieselfde. Suid-Afrika het weer ’n hart. Daardie hart klop nog. Luister na Bok van Blerk. Luister na Die Helde. Luister na die stem van die jeug. Hier kom iets groter, en suiwerder, en meer verteenwoordigend, as die klein groepie drug addicts van Voëlvry. Ek is bevoorreg om dit te kan sien gebeur. En ek is nog jonk van gees en kinderlik genoeg om te glo, teen alle rede in, dat dit kan slaag. Dat ons nog op pad is na die Beloofde land. Our hinterland is … HERE. Tussen die halfvoltooide HOP-huise, die kragonderbrekings, die onbetaalde polisie, en die oorwerkte verpleegsters, sal ons eindelik ons doel bereik. Met rukke en stote. Met baie waagmoed en gebed. En dalk ’n bietjie geluk. Amen, ja, kom, Azania.
|