![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Neville Alexander - 2010-08-12 Inleiding Onlangse debatte oor die vraag: Bestaan daar iets soos “Suid-Afrikaners”? (HSF 2010a en HSF 2010b) het twee aspekte duidelik na vore gebring. Enersyds is dit duidelik dat al hoe meer mense die illusionêre karakter van die “reënboognasie” begin verstaan en dat hierdie gewaarwording die einde van die euforie en die katarsis wat die vrylating van Nelson Mandela en die daaropvolgende historiese gebeure in die land veroorsaak het, aankondig. Die geledere van diegene, veral in die middelklas, vir wie hierdie begrip in die 1990’s die aantreklikste was, word al hoe minder. Hulle betwyfel nou of ’n gevoel van nasionale eenheid en sosiale saamhorigheid (kohesie) verwesenlik kan word onder die huidige omstandighede van sosiale ongelykheid, hoë werkloosheid, toenemende, veral swart, armoede, wydverspreide geweld en misdaad, asook die gevoel van onveiligheid, die MIV/VIGS-pandemie en die alomteenwoordige vreemdelingehaat, dit wil sê, die sogenaamde xenofobie (eintlik Afrofobie); anders gesê: onder omstandighede van ’n versnelde afname in die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners. Andersyds is daar blyke van ’n identiteitskrisis, weer eens hoofsaaklik by middelklasmense, wat van meervuldige opvattings omtrent nasionale identiteit getuig, asook van die sonderlinge onbeholpenheid van die kulturele en politieke leierskap van die land om vir die burgery die moontlike nasionale ontwikkelingsbane uit te stippel en die uitvoerbare opsies wat ons inderdaad het, aan te dui. Natuurlik is dit nie eenvoudige aangeleenthede nie en is dit altyd makliker om agterna vas te stel hoekom ’n spesifieke keuse en nie ’n ander gemaak is. Wat die belangrikste in ons demokratiese praktyk is, is die feit dat ons hierdie uiters moeilike onderwerpe openlik moet bespreek en dat ons ons uiteenlopende opvattings nie – altans nóg nie – as antagonisties beskou nie. Hierdie praktyk, en nie skrale idees van so gewonne, so geronne “nasionale eenheid”, wat uitgebeeld word deur middel van vlae, syspieëlsokkies en ander patriotiese mondering nie, is wat van Suid-Afrika ’n land van goeie hoop maak. ’n Kort oorsig van ons geskiedenis sal ons help om hierdie glyerige maar fundamentele kwessie meer vorm te gee. Verowering, weerstand en bevryding As ons hierdie 250 jaar van die wording van die moderne kapitalistiese stelsel in suidelike Afrika tot die instelling van die Unie van Suid-Afrika in 1910 as gegewe aanvaar, is dit voldoende dat ons die sosiale bestel wat in hierdie proses ontstaan het, in breë trekke beskryf. Die onderhandelde skikking tussen die Britse regering en die verslane Boere-generaals het die model geskep, of in sekere aspekte versterk, waaruit die politieke dinamika van die volgende eeu voortgespruit het. Dit is ’n feit dat die sosiopolitieke stelsel van segregasie en sy natuurlike seun, apartheid, in wetgewing gevestig is, waarvan die bron ’n bloudruk was wat in die verslag van die South African Native Affairs Commission wat in 1903-05 onder die voorsitterskap van sir Godfrey Lagden vergader het, verwoord is. Sy mees beslissende aanbevelings was die grootskaalse apartheidvoorstel van gebiedsafbakening, waarvolgens die swart bevolking van die landelike gebiede in reservate gekonsentreer sou word, onderhewig aan die gesag van tradisionele en regeringsaangestelde hoofmanne en kapteins met die mag om grond aan die gemeenskapslede toe te wys. Swart mense in stedelike gebiede moes in “lokasies” – vandag se townships – gevestig word en hul “instroming” moes deur middel van paswette gereguleer word.1 Politieke skeiding is aanbeveel waarvolgens swart mense wat aan sekere geletterdheids- en eiendomsvereistes voldoen het, in die parlement deur blankes verteenwoordig kon word. Al hierdie voorstelle het die strategiese baarmoeder gevorm waaruit die honderde segregasie- en apartheidswette vir meer as 60 jaar na 1911 gekom het. Hierdie maatreëls is, soos bekend, deur ”sosiale Darwinisme” en ander sogenaamde “wetenskaplike rassisme”, insluitend Nazisme, geregverdig. Bloubaard se Kasteel en die verydelde droom Die oortuiging dat Britse “fair play”en liberaal-demokratiese beginsels uiteindelik die verdruktes “na binne” sou nooi, was ’n hardnekkige illusie onder hierdie middelklasmense. ’n Mens kan dit baie mooi vergelyk met die tragies-allegoriese weergawe van Bartok se opera Bloubaard se Kasteel, soos op onnavolgbare wyse deur Derek Bell (2001:553-590) oorvertel, om die Sisyphus-soeke van die burgerregte-beweging in die Verenigde State uit te beeld. Terugblikkend sal die kampvegters vir hierdie geleidelike en pasifistiese strategie beweer dat die kumulatiewe effek en morele impak van hul benadering suksesvol was, al het dit ook meer as ’n eeu geduur. Hierdie bewering laat belangrike besonderhede van die storie weg, veral die feit dat die outeurs van die strategie in elke geval onmiddellike verligting van die onderdrukkingsmaatreëls beoog en verwag het. Dit is trouens nie oordrewe om te beweer dat die kurwe van “sukses” wat menseregte in Suid-Afrika betref, inderdaad ’n volgehoue afwaartse neiging tot aan die begin van die 1970’s getoon het. Vroeër “mylpale”, soos die rasgebaseerde stemreg van die Grondwet van 1910 en beperkte toegang tot universiteitsopleiding en vakleerlingskappe vir sekere kategorieë “nie-Blankes”, is stelselmatig geskrap deur die afskaffing van tersaaklike wetgewing deur die apartheid-regime. Dit is ook ’n feit, wat terloops die neigings en praktyke waarna hier verwys word, verklaar, dat met enkele toevallige uitsonderings, die beweging vir nasionale bevryding die internasionale wetlikheid, maar nie die legitimiteit nie, van die Suid-Afrikaanse staat aanvaar het. Die sleutel tot die sinchronisering van hierdie twee op die oog af teenstrydige probleemvelde was die verkryging van die stemreg vir alle volwasse manlike (later ook vroulike) Suid-Afrikaners, dit wil sê die verwesenliking van die slagspreuk “Een Mens, Een Stem”. Die territoriale integriteit van die Suid-Afrikaanse staat, soos dit in 1910 gedefinieer was, is nooit deur enige faksie in die beweging in twyfel getrek nie, alhoewel die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) in die vroeë 1930’s ’n ruk lank die idee van ’n Federasie van Onafhanklike Sowjetse Sosialistiese Republieke op ’n etnies-linguistiese grondslag gepropageer het. Dit is trouens glad nie seker of die Bantoestan-kollaborateure in die ’70’s en ’80’s in alle erns aan die ongevraagde “onafhanklikheid” wat op hulle en “hul mense” afgedwing was, geglo het nie. Niekollaborasie en geweldloosheid Politieke programme Ons kan die ideologiese terrein waarop die stryd vir nasionale bevryding uitgevoer moes word, kortliks skets. In Suid-Afrika, soos elders die geval was, het die Russiese Revolusie, en nog meer, die Koue Oorlog na 1945, ’n blywende stempel op die ideologiese stryd binne die beweging afgedruk. Die hele politieke spektrum, vanaf die liberaal-demokratiese middelpunt tot die uiterste sosialistiese linksgesindes, was hier aktief.3 Hoewel daar verskeie variante binne elk van hierdie politieke milieus was en die voortdurend veranderende persepsies van die belangrikheid van “ras” enige klasgebaseerde analise bemoeilik, is dit tog toelaatbaar om in sekere mate veralgemenings te waag. In wese het al hierdie bewegings die nalatenskap van menseregte aanvaar, wat ’n integrale bestanddeel van die politieke diskoers in al die kolonies van Europa, veral na 1945, geword het. Die sosialiste en die KPSA het egter hierdie eise vir gelykheid en vryheid as minimum-eise eerder as die einde van die stryd gesien, aangesien sosio-ekonomiese regte óf nooit in die verskeie variante van die burgerlik-demokratiese program uitgespel is nie, óf hulle is deur die eksplisiete aanname van die reg op privaat eiendom van produksiemiddele ingeperk, dit wil sê enige herverdelende trajek is van meet af aan gedwarsboom. Tussen die niekommunistiese linksgesindes en die KPSA, later die SAKP, was daar hewige verskille met betrekking tot die vraag of die verkryging van burgerregte die segmentering van die nasionale bevrydingstryd in twee fases sou behels. Volgens die KPSA sou die minimum-program in die eerste, burgerlik-demokratiese, fase verwesenlik word, waarna die tweede, sosialistiese, fase min of meer vreedsaam gerealiseer sou word. Vir party strominge onder die niekommunistiese linksgesindes, byvoorbeeld in die Non-Euopean Unity Movement, was die grondvraagstuk die “alfa en omega” van die stryd. Omdat die “kleinboere”, dit wil sê die plaaswerkers en trekarbeiders, op die vooraand van die burgerlik-demokratiese revolusie nie in staat sou wees om grond te koop nie, alhoewel hulle die reg op koop en verkoop sou geniet, sou die revolusie onvolledig bly. Hierdie feit sou die spil word waarom die burgerlik-demokratiese in die sosialistiese revolusie sou verander. Die aktuele historiese ontwikkeling het baie van die aksiale debatte van veertiger- en vyftiger jare irrelevant gemaak. Maar afgesien van die feit dat hierdie debat oor die grondvraagstuk, onder andere, van ’n fyn bewustheid van die verskil tussen substantiewe en minimalistiese opvattings van die begrip demokrasie getuig, is dit ook duidelik dat die deelnemers deur die globale waterskeiding tussen radikale en liberale begrippe van sosiale transformasie skerp beïnvloed was. Belangriker as al die ander aspekte van die debat is die feit dat almal aanvaar het dat demokratiese regering noodgedwonge “swart meerderheid”-regering sou wees. Die vertrekpunt van die konserwatiewe elemente in hierdie debat was vanselfsprekend dat hierdie ’n eeu lange proses sou wees wat deur die tempo van “die wit man” se aanvaarding van gelyke regte sou bepaal word. Dus is sedert die begin van die besprekings in die KPSA oor die Swart Republiek aan die einde van 1920’s as vanselfsprekend in die destydse maskulinistiese diskoers aanvaar dat die bestemming van die stryd “Een Mens, een Stem” was. Groepregte was nooit ter sprake nie, met uitsondering van die vroeë vyftiger jare, toe die Vryheidsmanifes in die Kongresbeweging (tussen die “Afrikaniste” en die “Chartiste”) gedebatteer is. Maar selfs in hierdie konteks is punt 2 van die Manifes4 so vertolk dat die individu die reg sou hê om sy of haar sosiale en kulturele voorkeure binne die sosiale kategorie waarmee hulle hulle identifiseer, uit te leef. Afgesien van die hegemonie van die individualisties-liberale verwysingsraamwerk was die hoofrede vir hierdie sienswyse ongetwyfeld die vrees dat ’n gebaar in die rigting van groepregte die posisies van apartheid se strateë en ideoloë sou verstewig. Dit is trouens duidelik dat een van die groot uitdagings wat Suid-Afrika ná apartheid in die gesig staar, die kreatiewe oplossing is van die spanning tussen die histories ontwikkelde etniese en rasbewussyn van die bevolking en die intuïtiewe afkeer van groep-affiliasie in die politieke sfeer vanweë die manier waarop segregasie en apartheid sulke rassistiese en etniese kategorieë afgedwing en misbruik het om die agenda van verdeel en heers van agtereenvolgende blanke-baasskap-regerings te bevorder. Die bevordering van nasionale eenheid, ’n nasionale identiteit en maatskaplike saamhorigheid, onder andere, met inagneming van die teenstrydige en dikwels botsende potensiaal van hierdie doelwitte, sal uiteindelik afhang van hoe ons hierdie fundamentele vraag benader. Wat ook al die besondere uitlegging van die verskeie programmatiese dokumente van die Suid-Afrikaanse bevrydingstryd, was die onuitgesproke uitgangspunt van die meeste daarvan dat ’n demokratiese Suid-Afrika onvermydelik deur ’n nierassige etos gevorm sou word, ’n sisteem waarin idees en praktyke gebaseer op die rasbegrip, hetsy dit deur die twyfelagtige lens van biologie, hetsy deur die meer realistiese lens van sosiologie gesien word, sou verdwyn op grond van die demografiese werklikheid van ’n swart meerderheid wat spesifiek op die basis van hierdie begrip ras brutaal verdruk was. Daarom is dit pertinent om daarvan kennis te neem dat dit die Kongresbeweging met sy veelrassige fokus wat op die ongetwyfelde sosiale werklikheid van die vier “rasse” (Afrikane, blankes, kleurlinge en Indiërs) gegrond is, wat die erfgenaam van die apartheid-regime is en nie een van die ander strominge wat uitdruklik nierassig-georiënteerd is nie. Die dilemmas en dubbelsinnighede van hierdie kritieke ideologiese aangeleentheid word besonder duidelik in die sewentiger- en tagtiger jare toe die Swart Bewussynsbeweging begin het om ’n verenigende paradigma vir die hele bevrydingsbeweging te skep, ’n verwysingsraamwerk wat op die prioriteit en onafhanklikheid van die “swart man” sou steun, maar wat daarop gemik was om ’n nierassige bedeling in te lui ná die verwagte afsterwe van apartheid. Die politieke mobilisering van die 1980’s onder die vaandel van die Nasionale Forum, en veel meer prominent en blywend onder dié van die Verenigde Demokratiese Front, het die indruk geskep dat die fokus van die verdrukte meerderheid op beslissende wyse na die nierassige tradisies van die beweging verskuif het, maar dit was duidelik vir die meer versiende ontleders en kommentators dat dié fokus na gelang van die kragte-ewewig maklik terug kan skuif. Vandag is dit nie te betwyfel nie dat dit inderdaad terug na die wedywerende veelrassige tradisies verskuif het. Die feit dat die verhouding tussen ’n onvermydelike nasionale Suid-Afrikaanse identiteit en die moontlike subnasionale identiteite nog altyd die kern van politieke debat en twis in postapartheid-Suid-Afrika uitmaak, dui aan hoe hardnekkig die houvas van die geskiedenis op die bewussyn van die massas is. Optimisties gesproke kan ons sê dat daar duidelik geen “einde van die Suid-Afrikaanse geskiedenis” in sig is nie. Onbeplande gevolge van die historiese kompromis en regstellende aksie Vir die eienaars van Suid-Afrika se kapitaal5 was die ooreenkoms die gewenste “Sesam, gaan oop” vir die instroming van direkte buitelandse beleggings, multinasionale samesmeltings en “joint ventures”, vry van die beperkings van sanksies wat gehelp het om die apartheidsregering en sy ekonomie dood te wurg. Die konsekwente groei van die postapartheid-ekonomie in terme en ten gunste van kapitaalakkumulasie is onbetwisbare bewys vir hierdie stelling. Vir die swart middelklas is die nuwe bedeling ’n droom wat waar geword het, maar op die wyse en in die sin van Bell se weergawe van die sprokiesverhaal van Bloubaard se kasteel. Want aan die een kant is daar die behoefte aan geskoolde arbeid, administratiewe vaklui, asook middel- en junior bestuurspersoneel wat noodgedwonge die uitdrukking van die bloeiende ekonomiese groei is en wat op die oog af onbeperkte moontlikhede skep vir diegene wat die geluk te beurt val om uit die nypende armoede en die verlatenheid van die landelike gebiede en die stedelike blikkiesdorpe te ontsnap. Hierdie groep is klaarblyklik die teikens en begunstigdes van rasgebaseerde regstellende aksie, want alleenlik hulle het die vaardighede en sertifikate wat met dié van hul wit eweknieë vergelykbaar is. Dit is terloops ironies dat die bekwame wit personeel self deur ’n beleid van regstellende aksie vir blankes, veral vir Afrikaners, wat dekades lank onder apartheid en selfs eeue lank onder die koloniale owerhede geduur het, bevoordeel is! Aan die ander kant het die swart middelklas nie die voordeel van opgehoopte ekonomiese en – in die Eurosentriese heelal waar hulle veronderstel is om te wedywer – die kulturele bates wat hul blanke eweknieë het nie en bevind hulle hulle dus altyd op gevaarlike terrein. Die verwoestende gevolge van hierdie scenario is besig om voor ons oë as’t ware in die eerste jare van die nuwe millennium gestalte te kry. Verdedigende en rassistiese houdings van entitlement en professionele onbevoegdheid wat tot die ontstaan van minderwaardigheidskomplekse en dikwels tot ’n afkeer teenoor enige uitnemendheid lei, elitistiese houdings en aspirasies, glansende lewenstyle te midde van die verwoesting van die townships en die voormalige Bantoestans, fantasiewêrelde wat op huurkoop berus en gereeld binne ’n paar maande ineenstort, die pes van korrupsie, bedrog en openlike diefstal, asook ’n neiging tot die ontkenning van enigiets wat op die nagmerrie-karakter van hierdie “droom” dui: hierdie praktyke, onder andere, is besig om die voordele van die demokratiese bedeling, wat in die skoot van die middelklas beland het, tot niet te maak. Dieselfde handelswyses is natuurlik net so teenwoordig onder die wit middelklas, aangesien hierdie mans en vrouens deel is van ’n geïntegreerde ekonomie waar daar altyd druk is om jou kanse te gryp, maar die versoeking is op grond van hul historiese en sosiologiese posisies ongetwyfeld baie groter in die geledere van die “swart” middelklas as wat dit by hul sogenaamde wit eweknieë is. ’n Nuwe historiese gemeenskap? Hier wil ek kortliks na ’n paar van die belangrikste insigte oor ras en rassisme verwys wat ons oor die laaste eeu of so begin verstaan het. ’n Bekende studie is namens die VN Konferensie teen Rassisme deur die Internasionale Raad oor Menseregtebeleid (2001:6) onderneem. Dit steun op ’n groot aantal gevallestudies en formuleer een van hul kerninsigte soos volg: [D]it is passend – inderdaad noodsaaklik – om die sistemiese karakter van diskriminasie en stigma uit te wys. (...) In al die gemeenskappe wat ondersoek is, is bevind dat diskriminasie op grond van “ras” deur ekonomiese marginalisering versterk word, en omgekeerd. Lede van verontregte groepe word uitgebuit en ekonomies gemarginaliseer en terselfdertyd of in verskillende periodes word hulle as minderwaardig beskou. Soos die dominante groepe dit sien, “regverdig” hierdie minderwaardigheid hulle uitbuiting en die gevolglike verarming is weer die bewys van hulle minderwaardigheid. Hierdie twee prosesse versterk mekaar wedersyds. Met verloop van tyd word die voortspruitende politieke en ekonomiese ongelykheid verskans. Die veronderstelling dat een groep “van natuur” arm is omdat dit minderwaardig is, word van geslag tot geslag gevestig en gevolglik verkry die bestaande ongelyke geleenthede, soos toegang tot gesondheids- en onderwysgeriewe, werksgeleenthede, ens ’n sistemiese karakter. Omdat daar geen teenmag is wat na hervormings strewe nie, kan die geviktimiseerde groep nie maklik uit die armoede ontsnap of die stigma wat dit versterk, afwerp nie en met verloop van tyd word die kloof tussen die heersende en oorheersde groepe al hoe dieper. Dit gebeur dan ook dikwels dat lede van die verdrukte groep hul minderwaardige status internaliseer en deur hul gedragspatroon die vooroordele wat die heersende groep teenoor hulle koester, bevestig. Uit sulke vergelykende studies behoort dit duidelik te word dat tensy die ekonomiese basis van maatskaplike ongelykhede wat deur middel van rassistiese ideologie (ras-denke) geregverdig word, aangespreek word, die rassistiese bestel eenvoudig gereproduseer word. Ook in Suid-Afrika kan ons sonder meer sê dat tensy ’n radikale herverdeling van materiële bates binne die leeftyd van hierdie en die volgende geslag onderneem word, al die mooi retoriek oor “sosiale transformasie”, nasionaal-demokratiese revolusie en Afrika-Renaissance na hul outeurs en pleitbesorgers gaan terugkeer om by hulle te spook en hulle te bespot. Die ontslape Beyers Naudé het dit soos volg formuleer: [E]gte versoening sal net dan moontlik word, as ons die ekonomiese kloof oorbrug, want jy kan nie ’n gemeenskap van geregtigheid op die toenemende gaping tussen ryk en arm bou nie. Eers wanneer die regering aanstaltes maak om ’n gelyke verdeling van rykdom, van grondbesit en van inkomste teweeg te bring, sal die politieke “wonder” begin om die kwaad van rassisme wat “diep gewortel is in Suid-Afrika , te ontwortel”. (Murray en Garrido1997:8) Dit is hier waar die debatte in verband met regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging tuis hoort. Dit is belangrik om te herhaal dat daar in Suid-Afrika geen sosiale revolusie soos byvoorbeeld in Kuba in 1959 was nie. As so ’n revolusie gebeur het, sou die eiendom en bates van die heersende klas onder omstandighede van burgeroorlog en traumatiese geweld gekonfiskeer gewees het. Pleks daarvan is regstellende aksie van een of ander soort, as gevolg van die onderhandelde skikking van 1994, ’n politieke imperatief vir die bevrydingsbeweging. Enige postapartheid-regering moet hom verbind tot die herverdeling van ekonomiese, maatskaplike, kulturele en politieke mag en bates wat die fundamentele rede vir die stryd teen rassistiese kapitalisme en apartheid was. Anders sal sy ondersteuningsbasis dit as ’n neo-apartheid regime afskryf. Dit is egter nie die fokus van hierdie artikel nie. Ek wil liewer die manier waarop die beleid van historiese redres uitgevoer word en die implikasies wat dit vir die toekoms van ons kinders kan hê, bespreek. Dit is die rede waarom ek die vraag stel: Bou ons regtig ’n nuwe historiese gemeenskap? Ons kon ook vra of ons die historiese geleentheid wat ons in 1994 gegun is om ’n nuwe Suid-Afrika te skep, ’n Suid-Afrika waar rasdenke en rassediskriminasie, onder andere, net so anachronisties en bejammerenswaardig soos die geloof aan hekse kan wees. Dit behels, in beginsel en onder andere, dat ons moet toesien dat verskanste, oorgeërfde, rasgebaseerde identiteite wat die populêre bewussyn gedurende die koloniale en apartheid-tydvak in Suid-Afrika ontsier het, verander en in die laaste instansie uitgeroei word. Dit is geen maklike taak nie en ons sal nie oor die volgende paar geslagte heeltemal suksesvol wees nie. Die blote feit dat mense in 1994 hul stem uitgebring het, kon nie die wonderwerk verrig om die rasvlek van hul bewussyn uit te wis nie. Hoe dit ook al sy, vandag moet dit die doel van alle kreatiewe en denkende mense in hierdie land wees om seker te maak dat, onder andere, etikette soos “swart”, “wit”, “kleurling” en “Indiër” as ’n manier om mense in die nuwe Suid-Afrika te identifiseer, irrelevant word. Vandag aanvaar die wetenskap dat “ras” nie ’n geldige biologiese entiteit is nie. Dit beteken egter nie dat ons die sosiale werklikheid daarvan moet ontken nie. Ontkenning is geen oplossing vir enige sosiale siekte nie, hetsy dit oor iets soos Vigs hetsy oor rassistiese vooroordele gaan. Die meeste Suid-Afrikaners dink nog altyd in terme van sulke kategorieë, omdat hulle gekondisioneer is om hul werklikheid te aanvaar. Hulle bekyk die wêreld nog altyd deur brille wat deur ’n uitgeleefde konsep van “ras” besmet is. Maar ons weet dat baie mense vandag nog glo dat die son om die aarde wentel! Meer as 60 jaar gelede is “ras” as “die mens se gevaarlikste mite” beskryf.6 Na die gruwelikhede van die transatlantiese slawehandel in ’n vroeëre periode en in Nazi-Duitsland, die voormalige Joego-Slawië, Rwanda en in so baie ander plekke in die laaste eeu, kan niemand meer twyfel dat “ras” inderdaad een van die vuurhoutjies is wat die briljantste prestasies van die menslike gees kan verwoes nie. In die maatskaplike wetenskappe word vandag algemeen aanvaar dat maatskaplike asook individuele identiteite gekonstrueer word en nie gegewe is nie. Die staat, oftewel die heersende klas in enige gemeenskap, het die prerogatief om die lees waarop die identiteite, insluitend rasgebaseerde identiteite, geskoei is, te vorm. Ondergeskikte groepe en lae van sulke geselskappe beveg of aanvaar hierdie identiteite met verloop van tyd. In ons geval is onlangse voorbeelde van hierdie fenomeen die betwiste kategorieë van “Bantoe” en “kleurling”. Ons moet egter onthou dat hoewel hulle gekonstrueer is, sulke maatskaplike identiteite vir die meeste mense ’n primordiale betekenis het, reeds omdat hulle nie bewus is van die historiese, sosiale en politieke prosesse waardeur hierdie identiteite gekonstrueer was. Dit is die sielkundige verklaring vir die welbekende hardnekkigheid van sulke identiteite. Dat hulle gedekonstrueer en omgevorm kan word, blyk duidelik uit die ontrafeling van die vermeende onveranderbare (graniet) Afrikaner identiteit wat op die oomblik voor ons oë plaasvind. Dit is onaanvaarbaar, en eintlik strook dit nie met die Grondwet nie, dat enige Suid- Afrikaner na apartheid meen hy of sy kan sonder meer aanhou om rasgebaseerde kategorieë te bevorder en te bepleit asof dit een of ander onskadelike speletjie is. Dit is verbouererend en vernederend om weer eens met amptelike vorms gekonfronteer te word waar ’n mens sy of haar “ras" moet invul. Ons wat gedurende die apartheidtydvak teen hierdie praktyk geveg het, weier beslis om dit vandag te doen. Die gebruik van die “kortpad” van “ras” is onnodig om die legitieme bestemming van regstellende aksie te bereik. Dit is waarmee ons ons in publieke debatte en in die vervelige gespreksrondes op radio en TV moet besig hou. Dit is ons plig om alles in ons vermoë te doen om die houvas te ondermyn wat hierdie idees op die mentaliteit van ons mense het. Dit is een van die belangrikste take van ’n antirassistiese onderwysprojek om die onderliggende strukture wat verander moet word, aan die lig te bring sodat ons die omstandighede kan skep waar rassisme en rasgebaseerde vooroordele geen teelaarde het nie. Johann Rossouw, die destydse redakteur van Die Vrye Afrikaan, het ’n paar jaar gelede in daardie hokkie van rassuiwerheid, Orania, in ’n lesing verklaar dat ons ons gemeenskappe moet “herverbeel”. Die tyd het aangebreek het dat ons hierdie herverbeeldinge openlik moet debatteer, aangesien so ’n oop gesprek die aanvang van demokratiese wysheid is. Dit is nogtans belangrik dat ons langs hierdie pad ’n paar tersaaklike punte in gedagte hou. Eerstens,die feit dat nasionale state die produk van historiese prosesse is en neig om in ooreenstemming met die eb en vloed van die klassestryd te verander. Dit is die rede waarom ons nie eenvoudig oplossings vir enige nasionale staat direk uit die wedervaringe van ’n ander staat kan aflei nie, alhoewel sekere veralgemenings moontlik is. In elke geval moet die progressiewe leierskap rekening hou met die besonderhede van die plaaslike geskiedenis en die gevolglike eenmalige dinamiek van die maatskaplike formasie. Tweedens ontstaan die potensiële nasionale eenheid op die grondslag van instrumentele kenmerke van enige nasionale identiteit, dit wil sê, die strukturele redes vir die interafhanklikheid van die bevolking wat ’n gebied bewoon waarop kapitalistiese staatswording plaasgevind het. Derdens moet ons verstaan dat die spanning tussen klaskonflik en die behoefte om ’n inkomste te verdien in die geval van die werkersklas, en profyt te maak in die geval van die eienaarsklasse, afgesien van die besondere omstandighede gedurende ’n sosiale revolusie, nie noodwendig hierdie interafhanklikheid, en vir ’n groot meerderheid van die bevolking die sin van die lewe in die relevante nasionale entiteit, ophef nie. Vir ’n toenemende persentasie mense in moderne kapitalistiese state word die politieke gemeenskap, dit wil sê die nasie, deur die kenteken van nasionaliteit gerugsteun wat deur die nasionale paspoort gesimboliseer word, ’n feit wat lewensbelangrik geword het in ’n globaliserende wëreld waar beweging oor baie grense heen die norm is. Vierdens is die sentimentele aspekte van nasionale identiteit, waarom die meeste van die debatte, veral in Suid-Afrika, draai, moeilik om op ’n “rasionele” wyse te hanteer, aangesien so baie van die deelnemers se meervoudige identiteite vir hulle as a priori, dit wil sê outonoom en niematerieel of kultureel blyk te wees. Gewoonlik word aan hierdie kenmerke deur middel van die alledaagse doen en late, vooroordele, houdinge en ander praktyke uiting gegee, waardeur mense met die omstandighede, waarin hulle histories en sosiaal gekonstrueer is, omgaan. Dit behoort dus duidelik te wees dat die herverbeelding van die oorgeërfde groepe en gemeenskappe radikale veranderinge in die alledaagse praktyke, oortuigings, vooroordele en ander houdings van die mense behels. Dit impliseer, met ander woorde, ’n ontwrigting van gekoesterde gemaksones. So sou, byvoorbeeld, van enige Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wat uit sy of haar rashoekie (“Afrikaner” of “kleurling” of wat ook al) wil beweeg, verwag word om onder andere een of ander van die Bantoetale aan te leer. Dit is die rede waarom ’n demokratiese taalbeleid wat taalbeplanning in crèches en skole insluit, ’n kernaangeleentheid vir die volgende twee of drie geslagte van Suid-Afrika se kinders is. Literatuur 1 Dit is ironies dat baie van die apartheid-idees wat met dr Verwoerd en sy mede-ideoloë geassosieer word, hul oorsprong in hierdie “Britse” dokument het! 2 Sien No Sizwe (1979) en Alexander (1986). 3 Vir alle praktiese doeleindes was die invloed van die tradisionele “regsgesindes”, dws die stamhoofde en hul makkers, van geen belang nie. Die uitbreiding van die kapitalisme het van hulle ’n ondergeskikte en kwynende “mag” gemaak en hulle het uiteindelik niks meer as simboliese betekenis gehad nie, soos dié van die Britse koningsgesin. 4 “Alle nasionaliteite alle gelyke regte geniet.” 5 Elders (Alexander 2006a) het ek daarop gewys dat hierdie groep mense om historiese redes amper uitsluitlik “wit” is en dat dit, afgesien van ’n onwaarskynlike radikale sosiale revolusie, nie maklik gaan verander nie. 6 Deur Montagu 1943
|