Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Jasper van Zyl gesels met Bibi Slippers oor die voordele en ‘pitfalls’ van ’ ''jong'' debuut

Jasper van Zyl gesels met Bibi Slippers oor die voordele en ‘pitfalls’ van ’ ''jong'' debuut


Bibi Slippers - 2011-05-05
Untitled Document

Haai Jasper. Ek het op my vingers getel en reken jy is nou so 24 of so. Is dit reg? Dit maak sekerlik van jou een van die jongste debutante in onlangse dae. Jy sê in ’n ou artikel op LitNet: “Poësie, my enigste ware vriendin, kan nie meer in die hande van die oues gelaat word nie. Dit is moord.” Wie sou jy sê is die jong geslag digters wat die fakkel by die oueres moet oorneem? Kan jy enige jong digters uitsonder? Wat is dit in hulle werk wat jou laat glo dat hulle die toekoms van die digkuns verteenwoordig?

Haai, Bibi! Dankie vir die geleentheid!

’n Mens kan nie anders as om opgewonde te raak oor wat die jonger garde besig is om met Afrikaanse digkuns te doen nie! Mense soos Ronelda, Loftus, Danie is almal mense wat my inspireer. Wat hulle so fantasties doen, is dat hulle almal binne hul eie ervaringsruimte skryf. Dis opwindend, omdat baie minder vaardige Afrikaanse digters in die slaggat trap om baie holisties te skryf. 

Ek wil graag twee dinge hierrondom sê: die eerste is dat my stelling destyds baie meer gehandel het oor wie die digkuns lees as oor wie dit skryf. Dit is ongelukkig so dat poësie op skool op so ’n wyse aangebied word dat dit op die ou end redelik onproduktief is. Wat gebeur, is dat leerders bepaalde gedigte bestudeer en dan ’n eksterne ontleding daarvan gebied word, wat hulle dan in die eksamenvraestelle moet weergee. Ek kies “onproduktief” eerder as “verkeerd” om hierdie benadering te beskryf, omdat die ontledings wat aangebied word, bykans deur die bank uitstekend is – dis immers kennersontledings! Die probleem is dat leerders deur hierdie proses egter nooit geleer word hoe om ’n gedig te ontleed nie en ook nie hoe om dit te skryf nie. Poësie word dan ’n leervak, eerder as die serebrale ontdekkingsreis wat dit moet wees. Dit beteken dat dit leerders (as hulle soos ek is!) soos ’n lig afskakel. Dit sou van veel meer waarde wees om hierdie benadering in die jonger grade te gebruik en dan stelselmatig aan te beweeg na meer gevorderde, individuele ontleding soos die leerders ouer word.

Die tweede is dat kritici graag wys op die “yl oes” wat deesdae in die Afrikaanse digkuns bestaan. Ek treur in ’n mate saam met hulle, maar ek is terselfdertyd daarvan bewus dat binne so ’n beperkte publikasieruimte net die heel beste bo uitkom. Hedendaagse Afrikaanse bundels is bykans altyd uitstekend, iets wat dalk in die verlede nie so vreeslik waar was nie! 

Ek lees in ’n gesprek met Ronelda Kamfer die volgende opmerking van Antjie Krog: “Ek betreur die feit dat jong stemme nie heel vroeg gepubliseer word nie.” Dink jy daar is voordele verbonde aan ’n “jong” debuut? En wat  is die ‘pitfalls’ wat met jou relatiewe jeug gepaard gaan?

Ek dink waarna Antjie verwys, is die groot leemte van “jeugpoësie” in Afrikaans. Vir my is dit belangrik, soos ek by die vorige vraag ook genoem het, dat digters binne hul ervaringsruimte skryf. Dit is baie jammer dat jongmense nie meer geleentheid kry nie, aangesien sterk, relevante digkuns oor die verleenthede, angs, onsekerheid en ontwaking van grootword dan ontduik word.

Antjie en Annesu de Vos is twee digters wat dit kon regkry om hierdie ervarings met sukses neer te pen. Dis baie skaars dat tieners op ’n hoë standaard hieroor kan skryf. Ek het self nooit die vaardighede gehad om dit te doen nie.

Om dan op te som: die uitdaging van jong skrywers is dat daar nie reeds ’n nis binne die poësie bestaan waarin hul gedigte kan pas nie. Jong digters het nie ander jong digters om hulself aan te meet nie, met die gevolg dat baie van hulle in die slaggat trap om baie studentikoos of oppervlakkig te skryf, en dis baie moeilik om daardie gewoontes af te leer!

Ek het al hierdie foute in my eerste gedigte gemaak en ek hoop dat die bundel van baie daarvan ontslae is!

Van Antjie Krog gepraat – jy het jou debuut gemaak in Nuwe Stemme 3, wat deur Antjie Krog en Alfred Schaffer saamgestel is. Een van die verse in jou bundel is ook aan Alfred opgedra. In hoe ’n mate het hierdie twee digters destyds ’n invloed op jou werk gehad? Wat het jy deur daardie eerste publikasieproses geleer?

Antjie is ’n ongelooflik groot gees met meer talent in haar pinkie as wat ander goeie skrywers in hul ganse lywe het! Ek het onlangs haar Begging to be black gelees, wat ek dink een van die mees aangrypende boeke is wat nog in Suid-Afrika geskryf is.

Ek het baie min kontak met haar en Alfred gehad gedurende die Nuwe Stemme 3-proses, maar ek onthou dat haar blote teenwoordigheid vir my ’n groot onderskragende ervaring was. Die idee dat sy gedink het daar steek iets in my gedigte, was net die doepa wat ek nodig gehad het om aan te hou skryf.

Vir Alfred het ek voor die proses glad nie geken nie, maar natuurlik het ek daarna sy gedigte begin lees. Daar is iets in die surrealisme van sy gedigte wat my geweldig boei. Charl-Pierre se vertalings van sy werk is vir my van die mees opwindende leeservarings denkbaar.

Ek het geweldige respek en dankbaarheid vir albei hierdie digters.

Charl-Pierre Naude sê op LitNet dat jou verse in Nuwe Stemme 3 volgens hom van die hoogtepunte in die bundel was. Louis Esterhuizen sê weer dat “afgerondheid” jou verse in die nuwe bundel kenmerk. Dis groot komplimente, en ek wonder sommer hoe jy dit so vroeg al reggekry het om so geslyp te wees. Dit het natuurlik met ’n groot gawe te make, maar waar het jy geleer afrond en edit?

Soos ek ook vir Louis gesê het, is baie van die finale afronding van die verse te danke aan my redakteur, Francois Smith.

Iemand – ek kan nie onthou wie nie (dit was moontlik Danie Marais) – het eendag ’n gedig van my gelees en my die raad gegee om elke enkele byvoeglike? naamwoord in daardie gedig te sny. Dis natuurlik soveel ’n geestelike as ’n praktiese uitdaging, aangesien ’n mens heel lief word vir daardie bepaalde woorde! Die gevolg was dat die gedig baie korter was, baie eenvoudiger en baie meer treffend! Dis tog die wonderlike ding van poësie: ’n mens kan sê wat jy wil sê en klaarkry!

Die “slyp” het dus baie te make met die “sny”. Maar verder is ek ook geduldig met ’n gedig. Ek sal dit begin skryf en baie lank daarmee loop. Tyd is ’n wonderlike slypskool en digters moet vir hulself hierdie luuksheid toe-eien.

Jy het op skool al begin skryf, en selfs jou vroeë gedigte was al strepe beter as meeste ander jongelinge se pogings. Wat het destyds aanleiding gegee tot hierdie skrywery, en wat het jy toe gelees?

Ek het aanvanklik Engelse liedjies geskryf, seker maar om my rockmusiekhelde te probeer na-aap. Dit was hier rondom graad 7. Intussen het daar heelparty uitstekende Afrikaanse musikante begin speel, wat Afrikaans vir my oopgesluit het en dit skielik cool gemaak het om in Afrikaans te skryf.

As ek reg onthou, was my eerste “gedig” ’n herskrywing van Koos Kombuis se “Johnny is nie dood nie”, as deel van ’n klasoefening. Die meisies wou die gedig daarna in hul plakboeke afskryf tussen hul prentjies van Josh Hartnett en Freddy Prinze Jr – dis mos daardie tyd! Ek onthou dat ek die aandag nogal geniet het.

Ek het op daardie stadium net-net begin om Afrikaanse digkuns te lees: Gert Vlok Nel, Breyten ... Verder het ek twee van Elisabeth Eybers se bundels op my ma se rak ontdek, wat ek heeltemal verslind het!

Ek het die lysie skrywers wat jy graag lees, so bekyk (en ’skuus, nou gaan my feministiese onderrok onder my langbroek uitsteek) en hulle is almal mans. Dis seker nie ’n probleem nie, hoor! Die rede waarom ek dit noem, is dat daar nogal ’n vroulike stem/perspektief in jou gedigte deurslaan. Jy skryf baie oor vrouens, soos in “emma” en ook “atilla”, en jy weet blykbaar waarvan meisies hou (oa spieëls :)). Dit voel vir my byna of hierdie ondersoek na vroulikheid dalk een van die dryfvere van jou digterskap mag wees? Wat dink jy?

Hoewel ek ’n absolute adonis is, vind ek dit geweldig moeilik om met vroue te kommunikeer. Ek dink dat baie daarvan te make het met my absolute bewondering van vroue. ’n Vrou word gebore met daai onaanraakbare iets, dalk ’n grasie of ’n innemendheid waarop ek nie my vinger kan sit nie. Moet asseblief nie té feministies raak nie! Die feminisme het ’n neiging om vroulikheid te minag – vir baie feministe laat moederlikheid, empatie en sagtheid ’n bitter smaak in die mond. Dit sal ek nooit verstaan nie ...

My gedigte oor vroue gaan dus oor die algemeen oor daardie onaanraakbaarheid, daardie grasie en geheimsinnigheid wat vroue vir my inhou. As man vind ek dit moeilik om vanuit ’n vrou se oogpunt na dinge te kyk, met die gevolg dat vrouedigters se verse nie gereeld met my resoneer nie. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: daar is ’n ontsaglike klomp briljante vroueskrywers vir wie ek geweldige respek het, hoewel ek sukkel om hulle te verstaan: in Afrikaans is dit Eybers, Hambidge, Krog, Cussons.

In “die nuwe winter” (p 17) gebruik jy ’n aanhaling uit ’n Iron and Wine-liedjie as motto. Ek het self al ’n paar van hulle lirieke in gedigte probeer verpak (sonder sukses). Kan jong digters lesse by liriekskrywers leer, of leer ons ook soms slegte gewoontes by hulle aan? Watter liriekskrywers sou jy aanbeveel vir iemand wat iets oor die digkuns wil leer terwyl hulle musiek luister?

Musiek en poësie is twee heeltemal verskillende kunsvorme. In musiek het ’n mens die voordeel dat die klank die stemming skep, in poësie is dit net die woorde. In daardie opsig is liriekskryf makliker. Dis waarom popmusiek tergelykertyd so absoluut inhoudloos en heupswaailekker kan wees!

Nie dat goeie lirieke nie help nie! Ouens soos Iron and Wine maak baie daarop staat (die liedjie waaruit die lirieke kom, “Passing Afternoon”, gebruik byvoorbeeld net ’n lui, slepende akoestiese kitaar!), met enorme sukses.

’n Mens moet dus versigtig wees om digkuns by liriekskrywers te probeer leer. Maar moenie ’n fout maak nie: daar bestaan liriekskrywers wat met woorde kan toor. Die uitdaging is om lirieke te skryf wat sonder enige musiek op die bladsy kan resoneer. Daar is heelwat wat ek kan uitsonder, maar kom ek probeer ’n lysie maak van ’n paar minder bekendes: Sufjan Stevens, The Tallest Man On Earth, Bon Iver, Cherry Ghost ...

As digkuns vir jou so ’n moeisame proses is, waarom doen jy dit? Wat dryf jou? Wat maak dit die moeite werd?

Ja, ek dink dat my woordkeuse miskien oordadig was – dalk probeer die pretensieuse ek uit sy dop kruip! Die proses is nie soseer “moeisaam” nie, eerder “deeglik”. Dis nie asof ek uitgeput is nadat ek ’n gedig geskryf het nie; dis eerder dat ’n gedig aan my bly knaag totdat hy reg is.

Om te beantwoord waarom ek skryf, is vir my moeilik. Maar woorde kan met my toor en ek dink dat ek dalk skryf as ’n soort ode aan taal. Om te weet dat ek iets nuuts skep wat van waarde is binne ’n bepaalde omgewing, is baie vervullend. 

Het jy enige raad vir jong digters wat van publikasie droom?

As jy iemand is wat graag skryf, begin daar waar jy is en vra jou onderwyser om jou te help met die afronding van jou skryfwerk. Afrikaansonderwysers is bykans altyd passievolle, gretige lesers en dikwels ook self talentvolle skrywers. Moet nooit, ooit, wegskram van opbouende kritiek nie, maar bly weg van negatiewe mense. Word ’n student van die skryfkuns. As jy vir ’n wyer gehoor wil skryf, moet jy ongelukkig bereid wees om krities na jou eie werk te kyk. 

Soos ek in my onderhoud met Louis ook genoem het, het jong Afrikaanse skrywers ’n ontsaglike voordeel bo ander deurdat hulle toegang het tot ’n gevestigde skrywerskorps wat baie passievol en gretig is om te help. Maak dus kontak met iemand wie se skryfwerk jy waardeer en laat hierdie persoon toe om jou te lei.

Het jy ’n gunsteling Afrikaanse gedig, of miskien ’n reël uit ’n gedig of liriek wat vir jou spesiaal is, en wat jy met ons sal deel?

My gunstelinggedig is Gert Vlok Nel se “die onredelike blydskap in september”, wat ek ongelukkig nie nou by my het nie. Die gedig verskyn in Gert se ongelooflike bundel, om te lewe is onnatuurlik, en is een van die mees emotiewe, wreedste en kilste stukkies skryfwerk wat ek nog teëgekom het!