Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Woordfees-onderhoud: Bibi Slippers gesels met digter Pieter Strauss oor sy aandeel in Rymreise


Bibi Slippers - 2011-02-24

Pieter, jy is onderwyser, kortverhaalskrywer en self ook digter. Wat was vir jou as digter die grootste uitdaging met die samestelling van Rymreise?

In die algemeen was dit vir my belangrik dat verse opgeneem moes word wat tot die moderne kind se psige sal spreek. ʼn Gesonde balans moes dus deurgaans gehandhaaf word tussen die teenwoordigheid van enkele ouer, meer gekanoniseerde tekste (waarvan leerders beslis ook kennis behoort te neem) en nuwe, kraakvars, sprankelende stemme – sommige daarvan selfs voorheen nog ongepubliseerd – wat eietydse temas op unieke wyses verwoord.

Dit bring my by ʼn volgende, meer spesifieke uitdaging: deurlopende, kontinue gehalte. Omdat daar relatief min gepubliseerde gedigte in Afrikaans vir hierdie ouderdomsgroepkind (10- tot 13-jariges) bestaan, moes uitnodigings aan digters, voordrag- en ander onderwysers gerig word om die pen op te neem om geskikte bydraes vir moontlike plasing in Rymreise te lewer. My taak was dit die afgelope drie jaar om in samewerking met my medesamesteller, die uitgewer en die betrokke digters aan sommige van hierdie voorheen ongepubliseerde gedigte te timmer en te skaaf totdat hulle op ʼn waardige wyse skouers kon skuur met dié van ou gunstelinge soos Eugène N Marais, C Louis Leipoldt, AG Visser, Totius, George Weideman, Antjie Krog, Daniël Hugo, Philip de Vos en ander.

Kuns: Alida Bothma

Het jy as kind ook graag gedigte gelees, en indien wel, hoe sou jy sê het jy by die lees van gedigte gebaat?

Van kindsbeen af het die geskrewe woord my gefassineer. As laerskoolseun was dit veral die rympies en sprokies in die Die skatkis-versameling (my oorlede pa het die volledige stel destyds by ʼn rondreisende kolporteur aangeskaf) wat ʼn blywende indruk op my kindergemoed gemaak het. Ook die mooi ritme en ryme van sommige Halleluja-liedere moet, in die vorming van my generasie se digters, beslis nie buite rekening gelaat word nie!

In die hoërskool was ek so bevoorreg om die digter/skrywer George Weideman as Afrikaans-onderwyser te kon hê. Hy het my as leerder blootgestel aan meer moderne digters se werk en het my as’t ware ingelei in die mistieke wêreld van die poësie as sodanig. Ook ons dorpie se destydse bibliotekaresse, Dana van Zyl, moet hier uitgesonder word: sy het literêre tydskrifte soos Contrast spesiaal, so glo ek vandag, vir my en George bestel en my ook altyd op die hoogte gehou van nuwe toevoegings tot die biblioteekrakke.

Iemand wat lees, en spesifiek gedigte lees, sal altyd ʼn voorsprong bo ʼn nielesende hê. Dit gee aan jou daardie fassinasie met en verwondering aan die woord. Ook dit wat die juiste woord kan be-téken en vermag. Jy begin woordbewus lees, woordbewus luister, woordbewus lewe. En uiteindelik ook woordbewus skryf.

Ek sê altyd aan my leerders: Die eerste plek waar hulle, hul ouers en hul onderwysers die verskil sal bemerk, is aan die hoë punte wat hulle skielik vir hulle opstelle sal verwerf! Gaandeweg sal ook die ander vakke se punte verbeter: Hoe vinniger en doeltreffender jy kan lees, hoe vinniger en doeltreffender sal jy ook kan leer en kennis verwerf.

Wat is dit van gedigte wat jou vandag nog so lief maak vir hierdie kunsvorm?

Met ʼn goeie gedig kan jy iets sê – vir die hier en die nou, maar inderdaad ook vir toekomstige generasies – wat jy op geen ander wyse só gesê kan kry nie. Jy kan iets uit die donkerste (of mees verligte!) kamer van jou siel loop haal, dit die nodige woordvlerke gee en sien hoe dit wegfladder die toekoms in.

Wat is jou gunsteling-vers wat in Rymreise opgeneem is en waarom?

Dit is ʼn moeilike een. Dalk omdat daar nie net een is nie, maar vele. Tog sal ek nie graag sommige verse (en, derhalwe, bydraende digters) hier bo ander wil uitlig en bevoordeel nie. Maar hiermee sal ek wel volstaan: ʼn paar ou sterre is skitterblink afgestof en ʼn hele paar nuwes is gebore!

Ken jy kinders wat lief is vir gedigte? En met al die tegnologiese ontwikkelinge en vermaak wat op kinders se aandag aanspraak maak, is daar hoop vir die voortbestaan van die boek?

Ja, daar is inderdaad heelwat leerders wat steeds lief is vir gedigte. Vir die lees én die skryf daarvan. Vir so lank daar nog ʼn hart in die menslike liggaam bly klop, vir so lank daar nog warm bloed deur ons are vloei en ons emosies soos liefde, haat, teleurstelling en ʼn groot verskeidenheid ongebreidelde vreugdes mag ervaar, sal mense hierdie gewaarwordinge op skrif wil stel, of van ander, soortgelyke wedervaringe wil lees. Op papier of met behulp van die elektroniese media.

Jaarliks kry ek steeds leerders wat met handevol gedigte of liedjies by my om raad en hulp kom aanklop. Ware kreatiewe siele sal daar altyd wees. ʼn Al groter uitdaging sal dit egter voortaan vir gevestigde skrywers, Afrikaans-onderwysers en ander kultuurwerkers en -instansies (ook uitgewershuise) begin word om leerders sodanig te stimuleer en te motiveer dat hulle steeds in Afrikaans sal wil skryf, sing en dig. Geen doekies durf verder omgedraai te word nie: sit ʼn Afrikaanssprekende leerder deesdae met sy of haar neus in ʼn boek, is daardie boek nege uit die tien kere ʼn Engelse boek. Voel hy of sy die behoefte aan om sy/haar siel op vlaktes wit papier vrye teuels te gee, is daardie gedig meestal in Engels. Dit is die realiteit: wat die uitleef en die uitskryf van die huidige generasie tieners se kreatiwiteit betref, suig Afrikaans lank reeds aan die agterspeen. Ons durf onsself nie verder flous nie. Eerder moet ons, in die woorde van een van ons ouer digters, finaal besef: “Komaan! Daar’s ʼn stryd te stry, daar’s werk!” Ek vertrou dat die baie ure se werk wat in Rymreise ingeploeg is, ʼn positiewe bydrae in hierdie verband sal kan lewer.

 

Uit die Woordfees-program:

BEKENDSTELLING: RYMREISE

Aangebied deur Nasou Via Afrika

Uitgewers Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise sal jou deur die kosmos van die poësie laat vlieg op die rug van ’n perd. Alida Bothma se illustrasies van dié unieke bloemlesing vir laerskoolleerders en alle liefhebbers van poësie sal jou eweneens betower. Kom luister hoe van die digters voorlees en bekyk ’n uitstalling van die oorspronklike illustrasies. ’n Lekker vrolike partytjie vir oud en jonk!

Bywoning is gratis, maar bespreek voor 7 Maart by rudi.venter@nasou.com.

11 Maart 19:00 | US Kunsgalery | 50min | Gratis, maar RSVP noodsaaklik

Klik hier om die volledige program te sien.