Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Heinrich Zille – satirikus vir die minderbevoorregtes

Heinrich Zille – satirikus vir die minderbevoorregtes


Cornelia de Kock - 2011-01-19

Die dagblaaie berig gereeld oor geld wat vir straatkinders ingesamel word. Dit laat ’n mens weer eens besef dat sosiale probleme so oud soos die mens self is en dat die volgende stelling waar bly: "Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde."

In 2008 is die geboorte, 150 jaar gelede, van Heinrich Zille, “die bekendste van die onbekende” Berlynse kunstenaars uit die vorige eeu, met ’n kunsuitstalling gedenk. Hy het ’n indirekte verbintenis met Suid-Afrika – hy is ’n voorsaat van die premier van die Wes-Kaap en leier van die opposisie, Helen Zille. Hy was waarskynlik haar oupagrootjie se broer. Daar bestaan nog onduidelikheid oor die presiese familieverwantskap.

Hulle is maar altyd daar. Ons sien hulle by die robotoorgange met ons terugkeer van die groot inkopiesentrums, al bedelende in besige state en ook onder die kenmerkende donker komberse met die wit strepe saans naby die gewilde restaurante: ons land se straatkinders. By die eerste aanblik is die kind ’n vreemdeling, maar indien ons langer kyk, sal ons dalk iets bekends opmerk.

Badgesprek, 1904

’n Kunsuitstalling met die titel Kinder der Strasse - Kennen wir uns?* (Kinders van die straat – Ken ons mekaar) in Villingen-Schwenningen, Duitsland, gedurende Julie en Augustus 2008 het opnuut die aandag gevestig op die noodkreet van straatkinders wêreldwyd. In die Eerste Wêreld-lande is die straatkinders veel ouer as hier by ons, aangesien jonger kinders daar in tehuise geplaas word. Daar is die staatkinders die sogenaamde “Off Road Kids” – hoofsaaklik tienderjariges wat hul ouerhuise verlaat het. Saam met kunswerke van die kunstenaar Heinrich Zille is ’n veertigtal foto’s van straatkinders van dwarsoor die wêreld uitgestal. Tagtig jaar na sy dood kon Zille deur sy kuns die mensdom se sosiale gewete opnuut aanspreek.

Heinrich Zille

Rudolf Heinrich Zille is op 10 Januarie 1858 in Radeburg, naby Dresden in Sakse, Duitsland gebore. Hy was die seun van Johan Traugott Zill (die e is in 1854 by die van gevoeg) en Ernestine Louise Heinitz. Zill was baie handvaardig en het dus horlosiemaker en fyn metaalsmid geword. Hy was egter gedurig in die skuld en die jong Heinrich het baie van sy kinderjare by sy grootouers aan moederskant in die dorpie Potschappel deurgebring en aanvanklik daar skoolgegaan. Sy pa se skuldeisers was voortdurend op sy spoor, dus het hy in 1867 met sy familie na Berlyn getrek en die e dié keer uit sy van weggelaat in ’n poging om sy skuldeisers te vermy!

Heinrich het sy skoolopleiding in Berlyn voltooi en tekenlesse geneem. Sy onderwyser het hom aangemoedig om ’n litograaf te word, maar sy vader wou gehad het dat sy seun slagter moes word. Heinrich wou dit glad nie doen nie en het van 1872 tot 1877 sy opleiding as litograaf ontvang en saans kunsklasse by die Köngliche Kunstschule geloop. Hy was aanvanklik reproduksie-tegnikus by ’n fotografie-maatskappy in Berlyn. Toe hierdie besigheid na Charlottenburg, ’n buitewyk van Berlyn, verskuif het, het Heinrich, wat intussen met Hulda Frieske getroud is, met sy vrou en drie kinders daarheen getrek. Hy het tot aan die einde van sy lewe daar gewoon. In 1907 het hy sy werk verloor en voltyds as kunstenaar begin werk.

Zille was aanvanklik veral bekend vir sy tekeninge – dikwels humoristies van aard. Sy sketse van tipiese Berlyners het meestal in die satiriese tydskrif Simplicissimus verskyn. Later het die naam Heinrich Zille ’n bekende naam in die Duitse kunswêreld geword. Zille het bekendheid verwerf vir sy tekeninge, drukgrafika, foto’s en illustrasies in tydskrifte. In 1901 het hy vir die eerste keer sketse uitgestal en daarna met tussenposes van een of twee jaar aan verskeie uitstallings deelgeneem. In 1903 is hy tot die belangrike kunskring die Berliner Secessiontoegelaat, en op aanbeveling van die Duitse Impressionis Max Liebermann (1847-1945) is sy werk in 1924 in die Pruisiese Akademie vir Kuns (die nasionale galery) opgeneem. In dieselfde jaar is hy ook deur die Akademie vir Kuns met die titel professor vereer.

In 1925 het die première van Gerhard Lamprecht se film oor Zille se verhale, Die Verrufenen. Der fünfte Stand (Die slegte reputasie van die vyfde stand) plaasgevind. In dieselfde jaar is ’n liefdadigheidsbal aansluitend by ’n teaterproduksie gehou – al die gaste geklee in Zille-kostuums. Ook in 1925 het Simplicissimus sy litografieë Modelpause gepubliseer, maar ondanks bemiddeling van onder andere Liebermann is Zille weens die pornografiese strekking beboet en moes die drukplate vernietig word.

Twee straatmeisies, 1902

Met die viering van sy 70ste verjaardag in 1928 het sy roem ’n hoogtepunt bereik met ’n retrospektiewe uitstalling, Zilles Werdegang (Zille se ontwikkelingsgang), in die Märkische Museum in Berlyn.

Op 9 Augustus 1929 is Heinrich Zille oorlede. Hy is met volle eerbewys in Stahnsdorf begrawe. In sy sterfjaar is die film Der grossen Mensch und Künstler (Die groot mens en kunstenaar), ’n huldeblyk aan Heinrich Zille,onder die beskerming en leiding van die bekende Duitse kunstenaars Käthe Kollwitz (1867-1945) en Otto Nagel (1894-1967) voltooi en in teaters voor die hooffilm vertoon. In 1983 is ’n Oos-Duitse film, Zille und Ich (Zille en ek), deels gebaseer op die lewe van Zille, deur die regisseur Werner Walroth vervaardig.

Heinrich Zille se belangrikheid is geleë in die sosiale kommentaar wat hy gelewer het. Deur sy kuns het hy die stem van die minderbevoorregtes, die verlorenes en die armes van die Berlynse metropool aan die begin van die 20ste eeu geword. Hy het bitsige sosiale kommentaar gelewer en was die eerste kunstenaar wat die ellende van die mense in die “Mietskasernen” (Versamelhuise) uit te beeld: baie mense woon in een vertrek, mense wat met drome van ’n beter lewe na die industriële metropool Berlyn gekom het en hul spoedig in groter armoede bevind het. Ander onderwerpe wat hy aangespreek het, was die lot van dagloners en veral straatkinders. Heinrich Zille kan met reg bestempel word as ’n kunstenaar vir die swygsame meerderheid.

Bronne

Teks en foto’s: Städtischse Galerie Villingen-Schwenningen, Duitsland.
http://en.wikipedia.org/wiki/Heinrich_Zille
Der Brockhaus, In einem Band, FA Brockhaus, Leipzig, 2000