Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Resensie: Dan Roodt se Aweregs (2)

Resensie: Dan Roodt se Aweregs (2)


Klara Majola - 2007-02-06

 
Roodt se gunsteling mense op hierdie aardbodem bly maar die Afrikaners. Vir hom is hulle is die mooiste en die slimste. Nie net was hulle die wêreld se eerste anti-imperiale vryheidsvegters nie - selfs Lenin het dit erken - maar dis net 'n kwessie van tyd voor die "verborge vonke van grootsheid aangeblaas gaan word om weer in 'n vuur uit te slaan", skryf hy.
 
Die strakke eenvoud van die NG kerk in Nylstroom en die skeppende verbeelding van Karel Schoeman se Na die Geliefde Land is vir Roodt tekenend van sy mense se uniekheid. Hy het interessant genoeg mooi woorde vir André P. Brink (bladsy 371) maar 'n grondige weersin in Eugene Terre Blanche (bladsy 422).
 
Sy brief aan Annesu de Vos bevat hierdie stukkie suiwer poësie:
 
"'n Hele konstruksie verrys as jy iets uit jou kinderdae proe of ruik. As jy die boerebeskuit in jou koffie druk, kom jou wêreld te voorskyn, die huis uit jou kinderdae, die strate waarin ons gery het met ons fietse toe dit nog veilig was, die kleurbaadjies wat ons gedra het, die skoolbus, Somer deur CM van der Heever wat jou voorgeskrewe boek was, die gay taalonderwyser wat iets van die misterie van die lewe voor jou laat oopgaan het met sy terloopse ironieë. Dit was alles so onbenullig, maar dit was ons lewens".
 
Tog het sy geliefde volk skadukante wat hom om die beurt teleurstel en laat rooi sien.
Al plan wat hulle (die Afrikaners) het teen die verguising van hul taal en geskiedenis, sis hy êrens, is om te emigreer of Engels te word. As hulle oorheers word, soos nou die geval is, word hulle volgelinge en sikofante.
 
Hy gril vir sy mense wat hul kinders los voor Cartoon Network: "So verinnerlik die kind die Amerikaanse leefwêreld nog lank voor hy behoorlik Afrikaans leer praat het". Kader Asmal se skoolleerplanne verdom sy volk in so mate dat hulle hul taal swak praat en eenvoudige somme op 'n rekenaar moet doen.
 
En so van rekenaars gepraat: "Meer en meer Afrikaners verruil hul kultuur, wat kan meeding met die beste van Wes-Europa, vir 'n kennis van Windows of Microsoft Outlook, asof dit nie iets is wat in enkele dae aangeleer kan word nie". (Roodt het 'n broertjie dood aan die woord "rekenaargeletterdheid").
 
Oor Cecile Celliers kan hy slegs ween: " (Sy) kon 'n Afrikaner gewees het, dog nou het sy net 'n Amerikaanse dogter en 'n identiteitskrisis. Haar kleinkinders praat met daardie slepende tongval wat u en ek net van rolprente en TV ken".
 
Hy haal beroemdes met groot effek aan. My gunstelinge:
 
"'n Groot oorwinning is 'n groot gevaar. Die menslike natuur verdra dit moeiliker as 'n nederlaag" - Nietzsche
 
Na aanleiding van die rusie tussen Kader Asmal en die kerke, haal hy vir Perikles aan: "As jy nie 'n belang het by die politiek nie, moenie dink dat die politiek nie 'n belang in jou kan ontwikkel nie".
 
Die boek het hier en daar taal- en setfoute: dis nie Braam nie, maar Bram Fischer, hoedens is nie die meervoud van hoed nie, 'n mens sê nie iets " veiliglik" nie ensovoorts. Daar is 'n "onstaan" op bladsy 135, 'n "fliklooi" op bladsy 371 en "unversiteite" op bladsy 375. Dis egter kleinighede.
 
Die boek se beste eienskappe is die erudisie van die skrywer en sy aansteeklike entoesiasme. Aan die einde van Aweregs het ek die volgende om-te-doen lysie in potlood gemaak:
 
  • Bestel die film "If" by Amazon
  • Lees weer VS Naipaul se Een bocht in de rivier
  • Lees oor Slag van Poitiers
  • Lees Herman Charles Bosman se kortverhaal The Rooinek
  • Soek tweedehands by Protea en in Langstraat: WF Hermans se "Het Sadistische Universum", Grass se "Kopfgeburten" en enigiets van Malraux
 
Roodt wil net die beste vir sy volk hê: "Gooi jou Pocachontas en Toy Story in die asblik, laai jou TV by die naaste plakkerskamp af. Klim uit McWorld. Leer eerder jou kinders gedigte van Jan F. Celliers en AG Visser. Lees vir hulle Alba Bouwer voor. Bring hulle onder die indruk van uitnemendheid, van hoe moeilik dit was om tot hier te kom".
 
Die kerngedagte wat soos 'n goue draad deur die boek loop is: Dit is nie genoeg om vryheid na te streef sonder om terselfdertyd daardie vrygeworde ruimte skeppend in te vul soos wat Malraux dit gedoen het nie. Ons moet 'n vrye ruimte hê waarin ons skeppend ons eie kultuur kan uitleef.
 
Teen R214 is die boek van 544 bladsye 'n winskoop. Om hom in die hande te kry, gaan egter die uitdaging wees.
 
Klara Majola