Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Diederick During (1917–1991) – ’n Ywerige verkenner op soek na ’n outentieke stem

Diederick During (1917–1991) – ’n Ywerige verkenner op soek na ’n outentieke stem


Amanda Botha - 2010-12-07

Diederick During – ’n Ywerige verkenner op soek na ’n outentieke stem
Diederick During (1917–1991) se werk bied ’n oorsig oor die periode waarin hy geleef het en spesifiek hoe hy die sosiaal-politieke struktuur verbeeld het. Hy het die leefwêreld van swart mense onder die aandag gebring, veral trekarbeiders wat noodgedwonge aan verstedeliking onderwerp was. Dit is ’n belangrike rekord met ’n outentieke stem. Sy gewete het op ’n menslike vlak die onreg aangespreek wat sy medemens van hul waardigheid beroof het. Hiervoor verdien hy erkenning as ’n vroeë proteskunstenaar. Amanda Botha kyk na sy nalatenskap oor bykans ’n halfeeu aan die hand van ’n aantal van sy sleutelwerke wat in die Sanlam Kunsversameling opgeneem is.

Die kunsproduksie van George Diederick During (1917–1991) oorspan meer as vier dekades. Hoewel daar altyd erkenning vir sy werk was, het daar sedert 1990 ’n nuwe waardering daarvoor gekom, veral na die insluiting van ’n sleutelwerk in die gekeurde 150 skilderye wat as hoogtepunte in Suid-Afrikaanse kuns beskou is deur die twee gerekende Kaapse kunshistorici, Lucy Alexander en Evelyn Cohen.

During was sterk in die Duitse Ekspressionisme ingebed, en het die Kubisme, Surrealisme en later Abstrakte kuns verken. Sy individualistiese benadering en sy sterk sosiale gewete het hom met ’n eie stem gelaat.

Met ’n besinning oor sy werk en inagneming van verskillende fases waarin hy gewerk het, is dit duidelik dat hy vroeër jare aan erkenning ingeboet het, juis oor sy eksplisiete kommentaar oor die apartheidsbeleid, spesifiek oor die verstedeliking van die swart man en die verbrokkeling van huishoudings wat deur die trekarbeidstelsel veroorsaak is. Dit was nie ’n gewilde tema in die post-1948-Suid-Afrika nie. In ’n artikel in die prestige-tydskrif Standpunte, wat in 1954 verskyn het, is dit veral treffend hoe gepoog is om nie na die polities-maatskaplike strekking van sy werk verwys is nie, maar dat hy “intuïtief sy eie pad gevolg het”. Dit word ook erken dat sy onderwerpe nie “in openbare smaak geval het nie”.

In latere jare het hy steeds aspekte van die sosio-ekonomiese lewe van die swart mense as tema gehad, maar is ook geboei deur die lewe van bruin mense in die Kaapse Skiereiland. In laasgenoemde uitbeeldings plaas hy werkers in ’n bepaalde milieu en was hy veral aangetrokke tot die lewens van Kaapse vissermanne.

Die literatuur oor During is skraps – enkele koerantresensies, benewens die Standpunte-artikel en kennisgewings en verwysings in kunspublikasies soos Art Look, is al om na terug te keer. Hieruit kom ’n bepaalde beeld na vore: dié van ’n man met sterk oortuigings om in sy kuns ook uiting te gee aan die wêreld rondom hom en die omstandighede waarin sy medemens lewe. In die Sanlam Kunsversameling waarin ’n aantal van sy sleutelwerke opgeneem is, kan ’n beeld gevorm word van sy kunstenaarskap.

During, wat in Roodepoort gebore is, het eers in die regte studeer en hom as prokureur bekwaam voordat hy besluit het om erns te maak van sy kunsstudies. Hy studeer onder Maurice van Essche aan die Witwatersrandse Tegniese Kunsskool en besluit in 1946 om as professionele kunstenaar voltyds aandag aan sy kuns te wy. Hy het aan heelwat groepuitstallings deelgeneem en ook ’n aantal solo-uitstallings in al die hoofsentra van die land aangebied. In 1949 deel hy met Johannes Meintjes (1923-1980) die Randse middagblad Die Vaderland se kunstoekenning vir die “mees oorspronklike kuns” van die jaar vir sy werk Vangs van die Dag, waarna weer teruggekeer word.

In Esmé Berman se gesaghebbende Art & Artists of South Africa (1988) is die belangrikste erkenning wat sy aan hom gee, die feit dat hy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar was wat akrielverf vir olieverf verruil. Teen hierdie tyd was die korpus van die During se werk reeds bekend, maar Berman bied ’n uiters oorsigtelike beeld aan waarin sy ten nadele na hom verwys as ’n “consciously decorative painter”.

In die artikel in Standpunte word meer agtergrondinligting van During verskaf, waarvan die belangrikste is om kennis te neem dat hy op sy eerste buitelandse reis in 1934 sterk onder die indruk van die Postimpressioniste was. Kort daarna het hy in België heelwat aandag gegee aan die Vlaamse primitiewe kuns en in Duitsland deeltydse skilderklasse geneem in Berlyn, waar hy regstreeks beïnvloed is deur die Duitse Ekspressionisme.

Dat die impuls van die Ekspressionisme sterk neerslag in sy werk gevind het, maak hom ná die baanbrekerswerk van Irma Stern, Maggie Laubser en Wolf Kibel een van die belangrike eksponente daarvan in Suid-Afrika. Soos vir Johannes Meintjes het die Ekspressionisme aan During ’n skilderwoordeskat verskaf wat hom in staat gestel het om ’n persoonlike simboliek te ontwikkel. Hy het ’n karnavalagtige verbeeldingswêreld geskep waarin karakters binne ’n geografies dubbelsinnige ruimte optree, soortgelyk aan die ruimtes waarin rolprente in die twintigerjare geskep is. Die patroon van ruimteverkenning is eie aan die Ekspressionisme. Later word dit ’n belangrike komponent in die verbeeldingslandskappe wat deur William Kentridge, Deborah Bell en Robert Hodgins ontwikkel is.

During was ’n produktiewe kunstenaar en het hom dit ten doel te stel om voortdurend met nuwe temas, tegnieke en kunsmateriaal te eksperimenteer. Verskeie periodes kan in sy kunsontwikkeling onderskei word – nie altyd afgebaken nie, maar dit dui tog op voortdurende verkenning. ’n Mens sou ook die invloed kon naspeur van skilders soos Georges Roualt, Maggie Laubser, Alexis Preller, Fernand Léger, Henri Rousseau en Pablo Picasso.

Sy vroeë werk, sedert ongeveer 1935 waarin hy hoofsaaklik met houtskool en waterverf gewerk het, dui op ’n baie naturalistiese siening van die landskap. In dié werke sou ’n mens tog na die invloed van die Postimpressionisme kan verwys.

Diederick During (1917–1991), Dice Players / Dobbelaars, geen datum, gemengde media op kartonbord.

Na sy blootstelling aan Europa, en spesifiek Duitsland, is daar in sy werk sedert 1940 sterk temas waarin hy gestalte gee aan die mens en sy wêreld binne die landskap waarin hy hom bevind. Sy werk dra hier reeds die invloed van die Ekspressionisme in die meer geronde vorme en helder kleure van sy palet. Daar is ook ’n groter stroping van detail. In sy werk Dobbelaars (olie op kartonbord) en veral in die werk Snoekverkoper (olie op papier) word die sterk beïnvloeding van die Ekspressionistiese impuls gesien – in die gestroopte vorme, die helder, byna skel kleure en die groteske uitbeelding van die figuur.

Diederick During (1917–1991), Snoek Seller / Snoekverkoper, geen datum, gemengde media op kartonbord.

Met sy eerste solo-uitstalling in Johannesburg in 1947 is daar reeds ’n eie stem in sy werk wat kommentaar lewer op die maatskaplike probleme. Meer sentraal in sy werk is die uitbeelding van mense, en daar is duidelik sprake van ’n protesstem teen die gebrek aan menswaardige behandeling van veral swart verstedelikte mense. Hier is reeds ’n outentieke stempel wat van During ’n vroeë proteskunstenaar maak. Daar is in sy oeuvre heelwat werk wat byvoorbeeld wys op die karige kos wat aan swart arbeiders voorgesit word en wat kommentaar lewer op verhongering en armoede waar die proses van verstedeliking, en later die trekarbeidsisteem, swart mense tot nadeel strek.




In die laat veertigerjare vestig hy en sy gesin hulle vir ’n jaar in die Strand, waar hy veral bewus word van die maatskaplike wêreld waarin die Kaapse bruin mense hulle bevind. Die werke die Vangs van die Dag en Visserman met net, (gemengde media op bord) is uit hierdie periode ’n goeie voorbeeld. ’n Soortgelyke voorbeeld is Die Saaier, wat ’n swart vrou op die lande in die Vrystaat uitbeeld wat mielies plant. Hierdie is sjarmante voorbeelde van sy interpretasies van die ongeskonde plattelandse lewe.

Diederick During (1917–1991), The Sower / Die Saaier, geen datum, gemengde media op kartonbord.

Terug aan die Rand in die begin vyftigerjare raak During opnuut bewus van die sosiopolitieke omstandighede, maar terselfdertyd soek hy na ander vorme om sy besorgdheid uit te druk. Hy verken die Kubisme, wat die voorkoms van sy werk radikaal verander, maar inhoudelik nog getrou is aan sy visie van ’n samelewing wat op gelykheid gebaseer moet word. Die werk is ryker in kleur met sterk kontrasterende vorme en kleure. ’n Goeie voorbeeld is Cubist Nude (olieverf op papier).

Diederick During (1917–1991), Cubist Nude, geen datum, gemengde media op kartonbord.


Hy vind ook sterk aanklank by die Abstrakte kuns, en veral by die werk van Picasso, wat duidelik sy latere werk beïnvloed het. In hierdie tyd verander hy weer van medium en verkies om met gouache te werk, wat hom ’n groter vryheid van uitdrukking gegee het. Ironie wat deur humor getemper word, word ’n kenmerk van sy werk. Nog later beweeg During na ’n periode waarin hy ook die Surrealisme as uitdrukkingsvorm verken. Sy belangstelling word sterker in Afrika-temas en hy soek ’n vorm van integrasie met Afrika-kultuur en tradisies.

Sy werk van ’n Basutho-landskap – binne die grense van die hedendaagse Lesotho – dui op hierdie waarneming en inlewing. Die Basuthoman met sy kombers en hoed ry op die perd, terwyl die vrou met ’n kruik op die kop stap.

In sy verdere werk vanaf die middel-sestigerjare beweeg During steeds nader aan die leefwêreld van swart mense. In sy werk gee hy ook gestalte aan die stamgebonde en plattelandse omgewing van hierdie mense. ’n Voorbeeld hiervan is Twee vroue wat melk karing.

 

Hy word bekoor deur die grafiese patrone van Afrika-kuns en handewerk. Sy laaste werk getuig van ’n dominante teenwoordigheid van hierdie ontwerpe in sy komposisies. Hy eksperimenteer ook met linodrukke.

Teen die sewentigerjare beweeg hy terug na landskappe, waarin die Ekspressionisme meer dominant is. Hy integreer sy Wes-Kaapse ervaringe in hierdie temas. ’n Goeie voorbeeld is Bo-Kaap met ’n blik op Leeukop wat in die Bo-Kaapse Maleierbuurt geskilder is. In die dekade voor sy dood het hy gereeld die Wes-Kaap besoek en het die meerderheid van sy landskapwerk Kaapse tonele verbeeld.

Diederick During (1917–1991), Bo-Kaap, geen datum, olie op bord.


Diederick During se werk bied ’n oorsig oor ’n bepaalde periode in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy het die onreg van sy tyd sterk aangevoel en in sy werk beslag gegee aan die sosiopolitieke struktuur waaronder veral swart mense, as trekarbeiders na die Rand, noodgedwonge moes verstedelik. Dit is ’n belangrike rekord van die apartheidstyd en During se stem is outentiek. Hy het nie slagspreuke nagepraat nie, maar sy gewete het op ’n menslike vlak die onreg aangespreek wat sy medemens van menswaardigheid beroof het. Hiervoor verdien hy meer erkenning en aandag.

 

Bronnelys
Art Look, Maart 1967 – Diederick During, p 8.
Alexander, Lucy en Evelyn Cohen. 1990. 150 South African Paintings. Past and Present. Struikhof Uitgewers, Kaapstad.
Berman, Esmé, 1988, Art & Artists of South Africa, AA Balkema, Kaapstad.
Botha, Amanda en Stefan Hundt. 2006. Impuls. Die Ekspressionistiese Drang in Suid-Afrikaanse Kuns. Katalogus, Sanlam, Bellville.
Bothma, Manena. 1952. Hy Verkies die Esel bo die Balie. Die Vaderland, Johannesburg.
Die Volksblad. 1964. Kunswerk het tipies SA gees. 8 Augustus, Bloemfontein.
Oglivie, Grania. 1988. The Dictionary of South African Painters and Sculptors. Everard Read, Johannesburg.
Olivier Burgers, MP. 1954. Die Kuns van Diederick Dűring(sic). Standpunte, 27 Junie, Pretoria.
www/http://diederich.hareyamaryu.com/intro.html - George Diederick During life’s works, 1917 to 1991, an overview. (Afgelaai 8/27/2010.)