Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Dinsdagoggende in die sonnetjie: Chris Chameleon gesels oor sy solo-loopbaan en besige skedule

Dinsdagoggende in die sonnetjie: Chris Chameleon gesels oor sy solo-loopbaan en besige skedule


LitNet-redaksie - 2010-12-07

Dis wonderlik om jou oor die jare dop te hou. Hoe voel dit vanaf toe tot nou, vandat jy 5-6 jaar terug jou solo-loopbaan begin het?

Die solo-ganery was een van die grootste vlinder-in-die-maag-ervaringe van my lewe. Ek het dit nie gekies nie, maar was daartoe gedwing deur my kollegas in Boo! se uittrede. Ek onthou die eerste optrede by die ironies-genaamde Back to Basics in Westdene, Jhb. Sonder die bystand van ’n orkes voel ’n mens baie blootgestel en kaal alleen daar op die verhogie. Maar dit het uitgewerk, die terugvoering was geweldig en my groei onverwags groot. Die verskil tussen toe en nou is dat ek nou ’n bestaan kan voer uit die opbrengs van my musiek, wat voorheen of geensins of bloot nouliks die geval was. Dis heerlik om jou brood uit jou passie te verdien. Maar destyds was daar ook meer tyd vir skep. Om tienuur op ’n Dinsdagoggend in die sonnetjie op die balkon te sit en te tokkel tot daar iets uitkom. Nou is daardie geleenthede skaars, wat, so voel ek soms, die gehalte van my skeppingsvermoë beïnvloed. Ek was die afgelope jaar intens bewus van die mate waarin my werksdruk my die geleentheid ontsê om intiem met die skeppingsproses om te gaan en begin toenemend my toewy aan ’n verandering in my aanpak ten einde daardie behoefte aan te spreek. ’n Mens kan seker nie alles hê nie.

Jy is pas terug van jou derde jaarlikse teatertoer in Nederland. Min mense weet dat dit ’n groot eer is om genooi te word om so ’n toer as solokunstenaar aan te bied. Hoe het dit gebeur dat jy die eerste keer genooi is?

Ek toer al sedert 1999 elke jaar in Nederland. Tot 2004 was dit met Boo!. Gedurende hierdie tyd het ek dus kontakte opgebou en die land en die kultuurtoneel leer ken. Dis ’n langsame proses wat, soos in alle besighede die geval is, goed beskerm word en vol geheimenisse lê. Met Boo! het ons natuurlik die hele Europa gereeld getoer, maar dit was veral in klein Nederland waar ons gemakliker oor die weg gekom het. Daar is ’n paar redes daarvoor - die taal, die goed-ontwikkelde kulturele infrastruktuur, en bloot geluk. Na Boo! het ek besluit om myself minder wyd te saai en eerder te fokus waar dinge reg verloop, wat plekke soos Kroasië en Hongarye buite spel gelaat het en Nederland en België groter rolle laat speel het. Uiteindelik is ek na ’n solo-openingsgeleentheid vir die Nederlandse groep Spinvis deur ’n impresariaat raakgesien en aangeneem, wat die besprekingsproses en al die logistieke daarom baie makliker gemaak het.

Hoe lyk die musiektoneel daar in Nederland? Hoe vergelyk die Suid-Afrikaans musiektoneel daarmee?

In Nederland het hulle ’n veel sterker teaterkultuur as hier. Suid-Afrika funksioneer meer volgens die Amerikaanse model, waar televisie, film en pretparkagtige vermaak die botoon voer. Daar is natuurlik ondersteuning vir die Suid-Afrikaanse teaterkultuur, maar dit is beperk en in die lig van die min mense oor die groot oppervlakte van die land, ’n moeilike teelaarde vir ’n toereikende opbrengs. Nederlanders is ook meer geneig om ’n kans te waag op die onbekende, om hulleself toe te laat om verras te word met ’n onbekende kunstenaar. Elke dorp het ’n teater wat tussen drie en ses aande per week een of ander produksie aanbied. Ook het hulle daar ’n bevolking van 15 miljoen betreklik homogene burgers op ’n oppervlakte kleiner as die Vrystaat, terwyl ons hier, wat die Afrikaanse toneel betref, sit met vyf miljoen op ’n oppervlakte 30 keer groter as die hele Nederland. Hulle ly, net soos ons, aan die anglo- en amerisentriese (is dit ’n woord?) kultuurverslawing en die kulturele imperialisme van Engelstalige werk staan daar ook diepgeworteld. Maar in hulle eie werk staan hulle ook sterk. Ek kry ook die gevoel dat Nederlandstalige werk daar beter ontwikkel is as ons s’n. Neem byvoorbeeld Jack Parow, wat tans so ’n groot ophef in die Afrikaanse mark veroorsaak (en trouens ook die Suid-Afrikaanse geur van die jaar in Nederland en België is). Watter ander Afrikaanstalige kletsrymelaar ken die meeste Afrikaanse mense? Die antwoord is waarskynlik: geen; terwyl daar in Nederland honderde sulke groepe is wat almal in ’n goed-ontwikkelde mark kompeteer. Dat dit Afrikaans so lank geneem het om hierdie genre aan te neem en tot die hoofstroom te promoveer is ’n aanduiding van hoe traag ons is met vernuwing en hoe ver ons eie musiek agter die res van die ontwikkelde wêreld s’n verkeer.

In ’n onlangse persverklaring noem jy dat die Nederlandse kunste tans deur die resessie geraak word. Kan jy hieroor uitbrei?

In Nederland bestaan daar baie sterk subsidies vir die kunste. Maar met die ekonomiese krisis word daar op alle vlakke “bezuinig” en die kuns en kultuursektor is daarop geen uitsondering nie. Die inkorting van subsidies beteken dat die publiek meer vir hul kaartjies betaal (Nederlanders is in die algemeen baie goed georganiseerd en sal byvoorbeeld hulle hele jaar se program maande vooruit bepaal en kaartjies koop, en hulle sal nou dus minder produksies kan bywoon) en dat teaters minder kanse met onbekende of vernuwende kuns sal waag, wat natuurlik ’n bedreiging is vir kultuurverryking.
  
Ons hoor dat Boo! ook baie gewild is in Europa. Vertel ’n bietjie meer.

Boo! het van 1999 tot 2004 elke jaar gereeld Europa toe getoer na lande soos België, Nederland, Kroasië, Italië, Slowenië, Duitsland, Switserland, Spanje, Hongarye en nog meer. Ons het nooit ’n hoofstroom-treffer behaal nie en was dus aangewese op ons kultusaanhang, wat, hoewel breed, taamlik klein was. Dit is nou maar eenmaal so met musiek dat tensy jy ’n treffer êrens losslaan, jy altyd op die rand van die voerbak krummels sal opraap. Waar die brode groter is, is die krummels groter, maar krummels is krummels. Nadat Boo! reeds vir jare elke jaar in Duitsland was, het die Suid-Afrikaanse orkes Watershed ’n nommer 1-treffer in Duitsland losgeslaan en daardie jaar meer daaruit gehaal het as wat Boo! in sewe jaar in 17 lande alles tesame kon haal. Natuurlik word nie alle dinge in geld gemeet nie en ’n kultusstatus is ook ’n besondere eer, veral as ’n mens in die landelike suide van die Tsjeggiese Republiek te lande kom en mense wat nie ’n woord Engels kan praat nie, sing jou musiek woord vir woord saam!

Wat kan gehore van jou opkomende Ooskustoer verwag?

Afrikaans, Engels, Nederlands, Duits en Latynse liedjies met liefde, politiek en grappies in vier oktawe!

 

Foto: Reneé Frouws

Het jy planne vir ’n nuwe Afrikaanse album in 2011?

Ja!


Daar is geen keer aan die veelsydige Chris Chameleon se besige program nie. Hy gaan skaars grondvat wanneer hy die komende naweek terugkeer uit Nederland ná ’n baie suksesvolle teatertoer voordat hy volgende week na die Ooskus vertrek vir ’n solotoer vanaf 10 tot 23 Desember.

Chris beplan ’n hele paar nuwe streke wat hy tydens sy toer in Europa toegepas het vir sy opkomende vertonings: hy sing ’n Nederlandse gedig, ’n Duitse gedig (beide self getoonset), asook ’n nuwe weergawe van “Pie Jesu”. In die vertoning trek hy parallelle en ooreenkomste tussen die politiek en die geskiedenis van die land en hoe dit ooreenstem met dié van ons persoonlike lewens. Die resultaat is dat ’n mens sien dat dieselfde kwessies in beide wêrelde staan en dat ons in ons land se situasie dieselfde uitdagings as in die liefde ervaar.

Gaan na www.chrischameleon.com vir meer inligting oor die toer.