Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Vertaling is stiplees: Nadine Petrick gesels met Francois Smith

Vertaling is stiplees: Nadine Petrick gesels met Francois Smith


Nadine Petrick - 2010-11-17

Nadine Petrick het die vertaler van ’n Vrou gaan dokter toe, Francois Smith, ’n paar vrae gevra oor die vertaalproses, die boek en nuwe projekte in sy vertalings-pyplyn.


Hoe benader jy vertalings? Lees jy eers ’n boek deur om ’n gevoel te kry van die verhaal, of begin jy by bladsy een en lees soos jy aangaan?

Jy moet eers ’n gevoel vir die toonaard en styl van ’n boek kry voordat jy wegspring, maar vertaling self is ’n soort stiplees. Jy hersien ook voortdurend soos wat jou vertaling gestalte kry.

Die boek is ’n internasionale topverkoper. Dis seker ’n groot eer om vir so projek genader te word, maar seker ook uiters spanningsvol?

Ek was baie in my noppies dat die uitgewer my gevra het, hoewel ek dankbaar is vir enige werkgeleentheid. Dit was twee maande se ysere dissipline om die spertyd te haal. Omdat ek ook net die helfte van elke werkdag daaraan kon wy, moes ek 2 000 woorde per dag vertaal. Klink min, maar vir iemand wat met twee vingers tik ...

Dis ’n geweldig emosionele en omstrede verhaal. Hoe het dit jou persoonlik geraak?

Dit is nie werklik goed geskryf nie, maar dit is nogal ’n merkwaardige verhaal, ’n uitdaging van ’n mens se opvattings omtrent verbondenheid-in-liefde. Waar ek aanvanklik geamuseerd na ekwivalente uitdrukkings vir die rowwighede gesoek het en plek-plek lekker gelag het, kan ek onthou dat ek op ’n kol ’n hele ruk lank uit pure ontroering nie my twee tikvingers kon gebruik nie.

Het jy nóú met die skrywer saamgewerk of het jy digterlike vryheid toegepas met verwysings wat buite jou verwysingsraamwerk val?

Nie by die skrywer self nie, maar soek moes ek soek; raai kon ek nie. Die Amsterdamse sleng wat die verteller gebruik, is soms nogal obskuur, en selfs Nederlandse vriende in die uitgewersbedryf moes hier en daar namens my kopkrap. Gelukkig het ek al ’n paar keer saam met Nederlanders sokker gekyk, en dit het gehelp met die voetbal-jargon. Ek moes ook besluit in watter mate ek die karakters nog Nederlands moes laat klink. Moes hulle byvoorbeeld hier en daar op ’n tipies Nederlandse manier vloek? Uiteindelik het ek gereken dat Nederlands, ondanks sy verwantskap met Afrikaans, vir die meeste van die teikenlesers van hierdie boek ’n vreemde taal geword het, en dat iets soos “godverdomme” juis as gevolg van hierdie onbekende verwantskap vir hulle oubollig eerder as kru sal klink (soos wat “oubollig” ook al ouderwets klink).

Watter boek was die lekkerste vertaling wat jy nog ooit gedoen het en wat sal jy graag nog wil vertaal?

’n Vrou gaan dokter toe was my eerste groot vertaalprojek. Ek dink een van die redes waarom ek gevra is om die vertaling te doen, was vanweë my betrokkenheid by planne om ’n Nederlandse briefroman te vertaal, en ek sal steeds baie graag Hart en nieren deur die broers Jacques en Dick Meerman wil vertaal. Hierin is die aanknopingspunt vir die korrespondensie tussen twee broers die feit dat afval van die wêreld se spyskaarte verdwyn, maar uiteindelik gaan dit ook oor die eet van vleis, slag, doodmaak in die algemeen, en spesifiek ’n moord. Die probleem is net dat Hart en nieren nie, soos Ray Kluun se boek, ’n wêreldtreffer is nie, en soms lyk dit my dis nog net ek wat van afval hou.