Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > DigSange van die hAp vier tweede fees met woord en lied – nuwe klanke vir die lente

DigSange van die hAp vier tweede fees met woord en lied – nuwe klanke vir die lente


2010-10-14

Sondag 17 Oktober, 14.30; UP-Groenkloofkampus, Pretoria

’n Groep digters, letterkundiges,voordragkunstenaars, sangers en musici trek Sondag in Pretoria saam om die Huis van Afrikaanse Poësie (hAp) se tweede fees, DigSange, aan te bied. Afrikaans – en wyle Uys Krige se 100ste geboortejaar – sal luisterryk met woord en lied gevier word..

Die fees word Sondag 17 Oktober om 14.30 in die Groenkloof-ouditorium van die Universiteit van Pretoria aangebied.

Die gevierde sangeres Mimi Coertse se ander groot liefde is van kleintyd af reeds poësie. Sy sal ’n gedig van NP Van Wyk Louw voordra – elke kunstenaar kies wat hy of sy wil doen.

“Sedert ek klein was, het ek het baie goed voorgedra, en op kunswedstryde was ek dié outjie gewees! In ’n mate het dit gelei tot my liefde vir die kunslied, want dink net daaraan: die Afrikaanse kunsliedere is toonsettings van onder meer Leipoldt en S Le Roux Marais se gedigte! Maar ek moet eerlik sê my liefde vir die lied het eerste gekom, maar dis so fantasties dat die wonderlike gedigte dan daarby gekom het. Later jare, toe ek volwasse geword het, het dit vir my ook om die gedigte gegaan, soos Pieter de Villiers se toonsettings van Boerneef-gedigte (Sewe Boerneefliedjies); en Arnold van Wyk se Vier weemoedige liedjies is van die móóiste gedigte wat ooit getoonset is!

“Ian Raper-hulle, vriende van my (hy dien in die bestuur van die hAp), het my die eerste keer na hul poësievoorlesings geneem. Hy is ’n letterkundige wat my tweede boek, ’n Stem vir Suid-Afrika,* reggeskryf het,” aldus Mimi.

Louis Heyneman, ’n musikoloog en uitvoerende direkteur van die Kaapse Filharmoniese Orkes, skryf in ’n resensie oor dié boek onder meer:

Die grootste kompliment aan ’n spookskrywer (Ian Raper) is dat mens die persoon kan hóór praat. Ek het Mimi deurgaans hoor praat soos ek haar in radio- en televisie-onderhoude gehoor en ook dikwels persoonlik ervaar het.

In die geheel gesien lewer ’n Stem vir Suid-Afrika ’n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis juis omdat dit so ’n eerstehandse, eerlike beskrywing van ons bekendste operasangeres se ideale, drome, sukses en terugslae gee. Mens kan nie help om diep geroer te word deur Mimi Coertse as kunstenaar én mens nie.

Mimi gesels voort: “In Julie 2005 het ek hul Boekerij geopen. Ek het seker al ’n duisend boeke aan hulle geskenk. Toe my Mammie-hulle en my broer oorlede is, het ek al hul boeke hier gehad en deurgelees. Ek het dit en ook van my eie boeke geskenk. Ek het net die kinderboeke vir my kinders en kleinkinders agtergehou.”

Om Mimi te vereer het die hAp twee jaar gelede die Mimi Coertse Museum van Afrikaans gestig. “Dis ’n klein kamertjie wat ons nou wil groter maak. Daar is allerhande memorabilia van my, ook sommige van my Afrikaanse boeke. Daar is nou nog boeke en bundels wat bekende digters, soos ID du Plessis en NP Van Wyk Louw, aan my gegee het met boodskappe voor in geskryf, wat ek ook aan die Museum wil skenk. Hulle sal daar goed bewaar word.”

Die goue voordragkunstenaarspaar van Pretoria, Petru Wessels en haar man, Carel Trichardt, is soos in die eerste DigSange in Maart vanjaar vanselfsprekend weer deel van die program. Dis aan hulle te danke dat ’n breër gehoor deel kan hê aan hul viering van Uys Krige, legendariese Afrikaanse digter, skrywer en vertaler se kleurryke lewe in hul program Sol y sombra – ’n Heildronk op Uys Krige. Krige, wydberese en -belese woordsmid wat op 4 Februarie 1910 gebore is, sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. Hy is op 10 Augustus 1987 oorlede.

 Petru en Carel sal ’n verkorte weergawe opvoer van hul woordkunsprogram Sol y sombra, wat tot verlede week by die Universiteit van Pretoria se Woordpoort – drink ’n heildronk op Afrikaans aangebied is.

“Uys Krige het ’n bundel kortverhale oor Spanje met die titel Sol y sombra gepubliseer, maar ons het bloot die titel gekies om die “son en skaduwee” van Uys se lewe uit te beeld,” vertel Carel.

Maar blote voordrag is dit nie – die bekende klassieke kitaarspeler Charl Lamprecht en veelsydige musikus Katrien Holm sal op viool, perkussie en kastanjette luister aan hul aanbieding van die kleurvolle karakter verleen.

“Dit was so lekker om die pad saam met Charl en Katrien te loop en saam te werk – van A tot die openingsaand. Saam, met hul musikale en ander insette, het ons die gedigte en Krige se vertaalde gedigte uit onder andere Spaans gekies en besluit waar musiek moet wees om verdere atmosfeer te skep en waar nie,” sê Petru en Carel om die beurt.

“Saam het ons hopelik ’n program saamgestel wat vir Uys Krige sinvol sou gewees het, sou hy in die gehoor gesit het.”

Vir DigSange het hulle korter gedigte (geen prosa nie) gekies om tyd vir die veeltal deelnemers in te ruim. “Om afwisseling in ons program te bring het ons die poësie só saamgestel dat daar ligte, sonnige momente ook is. Gedigte wat ons Sondag gaan voorlees, is onder meer “Vishoring”, “Abdolkie”, “Ken jy die see”, “Plaashek”, “Ideaal”, “Heildronk”, “Tramode”en die aangrypende vrye vers wat na prosa lyk: “Taking of the Koppie.”

“Op grond van JC Kannemeyer se biografie van Krige, Die goue seun, het ons kleurspatsels uit Uys se lewe gelig om aan die gehoor ’n idee te gee van wie Uys was: sy werk, sy reise en wêreldburgerskap, die feit dat hy so vlot Frans, Spaans en Italiaans gepraat het, sy vertalings van gedigte uit daardie lettereskat, sy siening oor taal, en so meer,” aldus die teaterveterane.

’n Veeltal ander vooraanstaande sangers en digters sal elk ’n bydrae of twee lewer, soos die joernalis, skrywer en digter Carina Stander, wat verlede jaar met haar digbundel Woud van nege en negentig vlerke gedebuteer het; Cas Vos – teoloog en bekroonde digter van verskeie bundels, soos Intieme afwesige (2009), Die afdruk van ons hande (2007), Vuurtong (1999), Gode van Papier (2001) en Enkeldiep (2003); asook Ian Raper, kabaretster Amanda Strydom, Mathys Roets, Jak de Priester, Philip Nel, Jan Andreas, Libbie du Toit, Lochner de Kock en Magda van Biljon.

hAp bestaan reeds sedert 2002 en het met poësievoorlesings in die voortuin van ’n huis in Malherbestraat, Capital Park, Pretoria begin.

’n Digtersgroep kom sedert 2004 al elke Saterdagmiddag onder leiding van Ian Raper by hAp bymekaar. Verskeie werke is reeds deur groeplede gepubliseer, insluitende die eerste Afrikaanse e-bloemlesing, Klikspringer.

“Kursusse in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde is aangebied, met talle digtersfokusse om veral jong belangstellendes voor te stel aan ouer of minder bekende digters in Afrikaans. Hiermee is ’n private department Afrikaans en Nederlands in die vooruitsig gestel as teenvoeter vir die sluiting en verwatering van sulke departemente by bepaalde universiteite,” aldus Charl Pretorius, organiseerder en lid van die hAp-adviesraad.

“In Julie 2005 is die Boekerij by hAp deur Mimi Coertse geopen, hoofsaaklik met die oog op die ‘huisvesting’ van boekskenkings en redding van versamelings wat toenemend hul weg na hAp gevind het. Vandag het die Boekerij ’n afdeling vir Afrikaanse, Nederlandse en Engelse letterkundige boeke, asook ’n afdeling vir boeke wat te koop is.”

Gedurende 2009 is die hAp se Adviesraad op die been gebring om hAp by te staan met die bevordering van die literatuur in Afrikaans. Die lede is Mimi Coertse, Ian Raper, Marinus Wiechers, Charl Pretorius, Eberhardt Bertelsman, Johan de Beer en André Viljoen.

Die opbrengs van DigSange sal aangewend word vir die uitbreiding van die bestaande hAp Boekerij, om onder meer die Mimi Coertse Museum van Afrikaans en ’n meer volledige Afrikaanse letterkundige biblioteek te huisves.

 * ’n Stem vir Suid-Afrika – My storie. Soos vertel aan Ian Raper. Litera Publikasies. R290

Kaartjies: R120 (R100 vir studente en seniors) by Computicket of my die loket. Bel Charl Pretorius (076 842 9212) of Analize Neethling (076 2929 250) vir meer inligting of besoek hul webblad by www.hap.co.za.