Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Die Woordfees: brood én sirkus

Die Woordfees: brood én sirkus


Naomi Meyer - 2010-08-04

Afrikaanse kunstefeeste

Dis 2010 en Afrikaanse kunstefeeste verrys in die land soos Zoeloe-krygers voor die Voortrekkers by die Slag van Bloedrivier. Noem hulle legio, want daar’s baie: die ABSA KKNK (selfs met sy groter tweetalige aanbod as sommige van die ander, klop sy hart, as die verwysing na die GRA verskoon sal word, steeds Afrikaans), Aardklop, Volksblad Kunstefees, Innibos, die Woordfees en, onlangs, Woordpoort.

Toe ek in die laerskool was, het daar nog ’n vak bestaan met die naam Gesondheidsleer. Elke hoofstuk in die handboek is voorafgegaan met die woorde “Wat ons reeds weet” (bye maak heuning; te veel son laat jou verbrand; warm lug styg op en koue lug sak af; moenie popmusiek luister en dans nie; en ander algemene kennis).

Omtrent Afrikaanse kunstefeeste weet ons eintlik almal:

  1. Daar is nie regtig geld vir die kunste nie (wat ook kan beteken: diegene wat dit sê, praat Afrikaans en bedoel daar is nie geld vir Afrikaanse kunste nie).
  2. Afrikaanse kunstefeeste laat kunstenaars rondtrek soos sigeuners in waens en gee vir hulle werk soos wat swanger vroue of mense met eetafwykings eet – te veel op een slag en dan weer niks vir lang rukke aaneen nie. 
  3. Afrikaanse kunstefeeste sou waarskynlik in die eerste plek nooit ontstaan het as dit nie was vir die val van apartheid en die meegaande verlies van subsidie aan Afrikaans nie.
  4. Afrikaanse kunstefeeste word dikwels beskou as boerebasaars, daar is mense wat daarheen gaan om te drink en gratis vertonings in die beskonke toestand by te woon, maar daar is ook mense wat werklik hul hele jaar se kunsoordosis op een slag indrink en, dronk van die baie kuns, huis toe vertrek, hopende dat die kuns in hul bloed lank genoeg sal hou voordat die onttrekkingsimptome toeslaan.
  5. Kunstefeeste in Afrikaans het ’n manier om mekaar te kruisbestuif. Hulle is trekpleisters vir mekaar: “Soos gesien by die KKNK” of “Op pad Aardklop toe” is lokkers van dieselfde produksie by ander feeste.

Daar is natuurlik baie méér wat ons reeds weet.

Van kunstefeeste, in die algemeen.

Kunstefeeste, in die algemeen

  1. Ons weet mense besoek al die teater vir eeue en eeue lank. Die Romeine se motiewe was dalk nie aldag so edel as hulle vir die massa “brood en sirkusse” verskaf het nie, maar die nalatenskap van hul teaters1 dui daarop dat mense al baie lank al dié soort vermaak beoefen.
  2. Wêreldwyd beoefen baie mense kuns in die vorm van feeste. Een enkele internetsoektog na kunstefeeste lewer letterlik miljoene moontlikhede op. Daar is ’n fees vir elke smaak op elke terrein van musiek, teater, boeke, kos, wyn en kultuur.
  3. By ’n fees geld ander reëls as gewoonlik. Mense tree verskillend op by ’n fees as wat hulle normaalweg binne die samelewing sou optree. (Alhoewel dit nie ’n kunstefees was nie, het die hele Suid-Afrikaanse samelewing pas tydens die Wêreldsokkerbeker partytjie gehou soos nooit tevore nie. Almal het anders opgetree as gewoonlik: wit huisvroue het sokker gekyk, die skole was toe, Malema het nie wilde uitsprake in die media gemaak nie, die polisie het seker gemaak mense bly veilig, sommige restaurant-eienaars het hul ore gespits vir buitelandse aksente sodat hulle hul pryse kon aanpas, ensovoorts. ’n Voorbeeld van andersoortige gedrag by ’n kunstefees is die middeljarige feesganger wat ’n week lank, aand vir aand, dronk tussen die KKNK se hooibale rondval, terwyl hy in sy tuisdorp baie sedig en vroom in die openbaar optree. Ten spyte van die verskillende reëls wat by ’n fees geld, is en bly daar gewis reëls midde-in die chaos: sokker word aangebied op vasgestelde tye, of ’n feesprogram verloop soos in die program bepaal.) Bahtin, Russiese kritikus, verstaan juis hierdie andersoortige gedrag van mense by ’n fees aan die hand van die begrip karnavalesk.2
  4. Temple Hauptfleisch3 praat van die polisistemiese aard van feeste. Vir hom is enige fees “beide eenheid en kompleksiteit, ’n enkel gebeurtenis, maar ook ’n polisisteem van afsonderlike – soms botsende – gebeurtenisse. Die komplekse sosiale, kulturele, politieke en ekonomiese fenomeen wat ons ’die fees’ noem, het verskeie kragte wat daarop inspeel, en natuurlik sekere oorkoepelende waardes en doelwitte wat dit wil saambind tot ’n groter, geïntegreerde eenheid – en terselfdertyd aan so ’n fees sy unieke karakter verskaf.” Anders gestel: geen fees geskied in isolasie nie. Die omgewing beïnvloed die fees – en dit sluit in die geografie, demografiese verteenwoordiging, kultuur van die streek, aard van die dorp of stad waar dit aangebied word.
  5. Die polisistemiese aard van feeste beteken ook dis onmoontlik vir een individu om alle feesitems by ’n spesifieke fees by te woon. ’n Mens oefen noodwendig keuses uit van wat mens bywoon – en nie bywoon nie. (Cremona4 meen dis hierdie moontlikheid van meervoudige-keuse-uitoefening wat beteken dat mense by ’n fees nie gewone teatergangers is nie, maar meer interaktief betrek word as feesgangers.)
  6. By elke feesitem is daar eintlik dubbel die aantal mense in die saal. Want elke individu wat ’n item bywoon, verpersoonlik twéé mense: die teaterganger is die werklike mens wat koffie drink en kaartjies koop en geïrriteerd is as sy medetoeskouer rondskuif terwyl die vertoning aan die gang is; die toeskouer is die een wat deelneem aan die fiktiewe wêreld van die teater, wat weet dat hier ander reëls geld: die een op die verhoog sterf nie werklik nie, drink nie ware wyn nie, ook al lyk die aksies eg.5

 Eintlik, as mens dink oor al die ooreenkomste tussen Afrikaanse kunstefeeste en feeste in die algemeen, besef mens daar’s eintlik maar net één verskil.

 Afrikaans

En nou, die onderwerp waaraan geeneen met ’n tang wil raak nie, maar hier sit sy, so vet soos ’n swanger vrou in die kamer (almal wil half sê “geluk” of “o hel”, maar niemand waag dit nie, want sê nou jy sê iets en jy’s verkeerd, is dit nie iets wat jy weer kan regmaak nie ...): Afrikaans is politiek.

Afrikaans is die taal van die Afrikaanse kunstefees. Sy’s die grootste verskil. En die grootste, vetste tameletjie.

’n Mens kan sien die taal is ’n kopseer: eens op ’n tyd was die naam van die Woordfees op Stellenbosch byvoorbeeld die Afrikaanse Woordfees. Dis nie meer die geval nie. En g’n wonder nie: Afrikaans se politieke bagasie is alombekend. Want Afrikaans verpersoonlik nog steeds mag.

Hauptfleisch skryf oor die magsvraagstuk in sy LitNet-artikel van 2004: 6

Menige emosiebelaaide maar verwarrende gesprek is al oor die afgelope paar jaar rondom die aard en sondes van die onderskeie feeste gevoer. ... Dis duidelik dat die fokus van al die ongelukkigheid heelwat te doen het met persepsies van mag, toegang en eienaarskap. Aan wie behoort die fees eintlik? Wie het die finale seggenskap oor hoe dit sal lyk, wat dit sal doen, wat aangebied sal word, en dies meer? En natuurlik: Wie behoort die seggenskap te hê? Dit is die vrae wat implisiet gestel word, waaroor die meeste geworstel word en waaroor die meeste geestelike bloed vloei.

Soos hier bo ook genoem, is konteks altyd ter sprake. Dit wil sê die samelewing is nie heterogeen nie (kunstefeeste in Afrikaans skyn nodig te wees), maar die ander kant van munt is ook dat die samelewing se geskiedenis en nalatenskap van apartheid dit nie ’n eenvoudige kwessie maak om ’n Afrikaanse fees te regverdig nie (is dit ’n nuwe apartheid?).

Afrikaans is egter nie die enigste taal in die wêreld wat met politieke bagasie sit nie. Die Iere7 sukkel ook al eeue lank hiermee as dit kom by die Ierse taal. In die laat 1900’s is verenigings gestig met name soos Society for the Propagation of the Irish Language, met die verwagting “to revive Irish as both a spoken and literary language.” 

The notion that such a mission could long remain non-political seems naive and, despite the important pioneering work done by Protestant preservationist zealots, it was to be as a weapon in the hands of Catholic Irish nationalists that the language would become most piercing. Here we’re back again both to the importance of distinctive culture as a means of communication, and also to the politics of exclusivism (in this case, exclusivism of an emphatically non-English variety).

Twee van die grootste Ierse boekefeeste, wat ek al die afgelope paar jaar bywoon (die Dublin Writers Festival en die Cúirt International Festival of Literature in Galway) bied bloedweinig Ierse items op hul program aan. Meestal is daar geen Ierstalige item by die Dublinfees nie en in Galway, die hartland van die Ierse taal, hoogstens een Ierse item per jaar. As ek met mense hieroor praat – of dit persoonlike gesprekke is, of gesprekke met die programorganiseerders van die Dublin Writers Festival – is die algemene konsensus: “A sticky subject”.

In Australië het ene Walsh8 ’n studie omtrent inheemse tale gedoen, asook navorsing omtrent maniere waarop mense hul (minderheids-)tale wil lewend hou. Feeste sou een so ’n moontlikheid wees. Walsh het tot die slotsom gekom dat dit onduidelik is waarom sommige mense se pogings om hul tale lewend te hou slaag en ander s’n misluk. “What is clear is that the process is profoundly political.”

Hierdie stelling skyn waar te wees, ook as mens kyk na motiverings om kunstefeeste aan te bied.

New festivals are also often launched for the sake of preserving and promoting language and culture. One of the main reasons for the People’s Festival Ceilidhs in Edinburgh, which only took place from 1951 to 1954, was to promote traditional Scottish culture, due to the perception that it was neglected by the official international festival.9 Although this festival was short-lived because of political reasons, it spurred the Scots Folk Revival that began in the 1950s. It also fed the Fringe festival, one of the most interesting Edinburgh festivals.10

Selfs die universele protes-rede vir die ontstaan van feeste kry ’n politieke kleur as dit by Afrikaans kom. Die gedagte dat teruggegryp word na die Ou Suid-Afrika.

But then comes the issue of the Klein Karoo Nasionale Kunstefees. It’s a simple story, theirs: an Afrikaner festival for the benefit of the Afrikaner. If Afrikaners are of national importance and interest then theirs might be a national festival, but if they’re not, it’s another story. I went to the Klein Karoo Festival this year with an English-language play Tshepang, and the people didn’t come in numbers. So why would I be interested in their festival if it has nothing to do with me? Unfortunately enough I won the Best Actor Award and made my speech in Siswati and they were offended because they didn’t understand what I said. Funnily enough, I wasn’t offended for not understanding Afrikaans.11

Dit kan as gegewe aanvaar word, onbetwisbaar. Afrikaans beskik oor bagasie. Dit gaan nie maklik verdwyn nie. Afrikaans dra dit met hom saam, Totius se doringboompie met die letsel, vlak by die pad.

Hokaai met die ossewa; net ’n oomblik.

Wáárheen is ek op pad hiermee? Wat sou nou juis die doel wees daarvan om almal se neuse in politieke bagasie te vryf?

Wel, die doel hiervan is bloot om te sê: dis soos dit is. Ons almal weet dit eintlik, ook al wil ons dit nie weet nie.
Maar net omdat die bagasie swaar is, beteken dit nie hy kan nie op vakansie gaan nie. Om die waarheid te sê, sonder daardie einste swaar tas gaan mens sukkel om aan te trek en tande te borsel – om te lééf.

’n Walliese digter is onlangs gevra waarom sy reken klein tale is van belang. Sy het geantwoord:

That’s because the fate of any language, even if you don’t speak it, is important to the whole ecosystem of eloquence. It matters desperately because it covers a certain surface area of experience which no other language can cover.

Nobody is going to speak all the languages in the world, but as a total, it gives the maximum contact with reality possible. Any diminution in that is a serious liability for us as a race.

We should be concerned about these mass extinctions of languages. Too often, it is regarded as a minority interest. It’s going to impact us all eventually.12

 Die Woordfees

En dis waar die Woordfees in die prentjie kom.

Midde-in die veelheid van aanbod van kunstefeeste wonder mens soms wat ’n betrokke fees uniek maak. Die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch, wat vanjaar sy elfde bestaanjaar gevier het, is “die enigste fees in Suid-Afrika (Afrika?) wat skrywers en woorde sentraal stel, soos uit die Woordfeesmissie blyk: Die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch is ’n viering van die woord binne sy konteks en in soveel vorme moontlik – soos poësie, prosa, verskillende vorme van drama en sang. Die fokus val op Afrikaans, maar ander tale waarmee geografiese of ander verwantskappe bestaan (onder meer van Afrika en die Nederlande) is ook welkom.13

2010 se Woordfees (met die “baljaar”-tema, verwysende na die sokkerbeker) had als op die program wat mens sou verwag van ’n kunstefees wat die klem op boeke en skrywers lê: teater en musiek, gesprekke met skrywers (sommige hiervan op die verhoog, sommige oor die radio), boekbekendstellings, kinderteater, studentegekuier saam met mense wat YouTube bekend gemaak het. Wynplase het geborg, lugverkoeling het in die tente en die sale geblaas om die veertig grade daarbuite te fnuik. Computicket was van lyn af op die eerste dag van die fees, maar dit het nie die sale leeg laat staan nie – daar is meer kaartjies verkoop as ooit tevore. Rooi vlae het aan die straatligte in Stellenbosch gewapper, parkeerplek was min.

’n Paar dae na die fees verby was, het Stef Bos geskryf:

Dit was lekker om laas week deur Stellenbosch te loop en te voel hoe die taal gevier word – maar ek sou dit volgende keer straat toe neem.

Gedigte teen huismure, gedagtes op doeke langs die pad opgehang en nie net die logo’s van borge nie.

’n Taal moet nie net in universiteitsgeboue en teaters gehuisves word nie. Gee dit bietjie lug en son, dan kry dit kleur op die wange. Maar dis geringe kritiek, want in die algemeen was ek mal oor die oorgawe waarmee mense hulle taal probeer vier. ... Ons gebruik elke dag taal: om mekaar lief te hê, mekaar te ontstel, bier te kry en brood te koop. Soms vergeet jy hoe lief jy vir taal is. En daarom het jy soms ’n fees nodig – soos ’n verjaardag – om die woorde te vier.14

En toe, ’n paar weke na die Woordfees verby is, verskyn die brief van Breytenbach in Rapport: “Daar’s vier groeperinge in Suid-Afrika wat Afrikaans doodwurg ...”15

Afrikaans, nie net die taal nie, maar ook die fokus van die Woordfees, is en bly as primêre voertaal by die universiteit onder bespreking. Die reaksies op hierdie brief skiet rond soos koeëls:

sien Die Burger en LitNet.

In die middel van die skietgeveg tref dit my toe: dis nie net die Afrikaans en Afrikaanse skrywers wat die Woordfees op hierdie tydstip ’n soort uniekheid gee nie. Daar’s baie Afrikaanse feeste en baie feeste waar Afrikaanse skrywers ’n platform vir hul werk kry.

Die universiteitsomgewing is ook nie uniek vir ’n Afrikaanse fees nie. Daar word ander feeste in universiteitsomgewings aangebied, soos Aardklop.

Maar die plek waar die debat en diskoers omtrent Afrikaans by universiteit tans woed, is juis Stellenbosch.

Die uniekheid van die Woordfees is juis die storm wat daar woed oor die voortbestaan van Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch, die omgewing waar die Woordfees aangebied word. Die hele legkaart pas: konteks en omgewing, taal met al sy bagasie en kopsere.

Niemand van ons weet wat die toekoms van Afrikaans inhou nie. Niemand van ons weet wat die toekoms van die kunste inhou nie. Soms bestaan kuns in elk geval bloot as vermaak: die Romeine het immers kos en teater gebruik om die massa tydelik en oppervlakkig tevrede te stel, ’n soort opium wat hulle laat vergeet en miskyk wat onder hulle neuse gebeur. Laat die Woordfees hom gerus oorgee aan die chaos wat kuns is.

Die bewys is reeds daar dat die Woordfees speels (en chaoties, soos dit hoort met ’n fees) gegroei het. Die Woordfees kan gerus ag slaan op wat Stef Bos geskryf het en nog méér baldadig raak in hoe hy die woord gooi. Die fees kan bloot aanhou om die kuns te vier (en hier is die Afrikaansheid van die fees toevallig – die klem lê op kuns in al sy kreatiewe vorme, so ernstig of so gek soos dit ontspring).

Maar die uniekheid van die Woordfees kan op hierdie betrokke tydstip van die taalkwessie by Stellenbosch baie besonders wees. Ek dink egter ook die Woordfees kan voortgaan met lesingreekse, oor verskillende vakgebiede, deur baie verskillende sprekers. Vanjaar was daar regslesings in die Jannasch-saal wat baie swak bygewoon is. Die kwaliteit van die sprekers was egter fantasties. Regsbregippe het name in Afrikaans gekry wat ek nie eens besef het bestaan nie.

Wat verhoed die Woordfees om byvoorbeeld hierdie lesings te boekstaaf?

Dit hoef nie ’n geheime agenda te wees nie. Trouens, dis juis daarom van belang om nie te ontken dat Afrikaans swaar dra aan bagasie nie, ook al is dit 2010.

Die Woordfees meen lankal hy het ’n sosiale rol, soos wat Dorothea van Zyl op LitNet skryf:16

Die opvoedkundige is egter juis ’n aspek wat die Woordfees vanaf sy ontstaan voorop stel. Dit het enersyds daarmee te make dat die Universiteit van Stellenbosch ’n opvoedkundige instelling is, maar ook met ons oortuiging dat die stryd om die voortbestaan van die kunste in die algemeen en Afrikaans in die besonder so vroeg moontlik gespeel – en gewen – moet word indien durendheid en vooruitgang op die lange duur bewerkstellig wil word.

Elders skryf sy oor iets wat nou met hul WOW- (Woorde Open Wêrelde-) projek vir skoliere aangespreek word:

One of the main problems in our divided South African society apart from a prevalence of sports over culture; is is illiteracy. ... We felt that a language-driven project was needed to address aspects like the low priority given to books, readers and the arts.17

Vir ’n taal om te leef, as dit die doel van die fees is, moet daar woorde bestaan. Dalk kan die Woordfees mense nooi om woorde te kom uitspoeg, en ander om dié woorde in stoorkamers te kom bêre. Dat mense dit kan aanhou lees. Sodoende kan die woord, wat die kern van die fees is, ’n werkwoord wees.

Dalk kan hierdie fees ’n rol speel, hier en nou. ’n Rol so groots soos die akteur se rol daar op die verhoog: ook ’n rol in die regte lewe.

 

Bibliografie

English, R. 2006. Irish Freedom, the history of nationalism in Ireland. Londen: Pan Macmillan. 

Hauptfleisch, T, S Lev-Aladgem, J Martin, W Sauter en H Schoenmakers. 2007. Festivalising! Theatrical Events, Politics and Culture. Amsterdam: Rodopi Press.

 

1 ’n Voorbeeld hiervan word aangetref in Provence se Orange, waar ’n groot deel van die oorspronklike Romeinse amfiteater, wat in die eerste eeu opgerig is, nog steeds bestaan (en tydens somerfeeste gebruik word).

4 2007:5

5 Schoenmakers (2007:29)

7 2006: 226,227

10 Van Zyl, D. 2006. The Rhetoric of Festivals. (ongepubliseerde artikel)

17 Van Zyl, D. 2006. The rhetoric of festivals. (Ongepubliseerde artikel)