Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Kersfees en Chanoeka

Egon se nuusbrief uit Israel: Kersfees en Chanoeka


Egon - 2007-01-26

 
en my verse kan leef
omdat die verlange
die asem is van die poësie
               (Uit "Manifes" deur Lina Spies) 
 
Ek belowe dat ek nie nou my nuusbrief uit Israel sal misbruik om vir u oor die verlange te dig nie. Om in Afrikaans te dig sou in elk geval vir my ’n vreemde opdrag wees. Ek dig slegs in Engels en droom van die dag wat ek in Hebreeus ten minste gedigte sal kan léés. Maar dalk is Kersnaweek tog ’n goeie tyd om oor die verlange te skrywe, want in elkeen van ons, glo ek, lê daar ’n groot verlange opgesluit: na die hiernamaals of na ons jeug; na ’n onbeantwoorde of ongevonde liefde; na ons kinders of geliefdes wat vanaand ver in die wêreld sit – ’n bietjie soos Kittie in die ou boereliedjie. En soms is die verlange bloot na ’n plek of na die oop ruimtes van Afrika, waar gister en môre mekaar ontmoet in die helderblou lug bo jou kop.
 
Hierdie feestyd is ek in ’n tweestryd van begeertes gewikkel: aan die een kant verlang ek na die lang stil vlaktes van die Weskus, waar die seemeeue skree op maat van die see en wind sonder die stoornis van mensklanke – stemme, radio’s, vliegtuie. Terselfdertyd verlang ek na my huisie by die see digby Vermont wat oorborrel van stemme, harder elke jaar soos my seuns en hul vriende groter word en die giggelende, geselsende dogters wat alles doen op maat van U2 (of is dit nou Robbie Williams?!). Stilte en rus versus luidrugtige kindergeluk. Maar ek bevind my ver van beide moontlikhede hier in my aangenome land.
 

Wadi Nisnas-strate
 
Ons was sedert Donderdag af vanweë die Chanoeka-vakansiedae en het in een van Haifa se oudste buurte, Wadi Nisnas, gaan rondloop. Dit is ’n tradisioneel Christen-Arabiese buurt met verskeie kerke. In een van hulle het ek en my dogter tydens haar eerste besoek aan Israel per toeval op ’n middag-Kersdiens afgekom – dit was alles in Arabies, maar die musiek was interessant en die atmosfeer heerlik rustig. Hierdie keer loop en neem ons foto’s, want die buurt is ook bekend vir sy straatkuns wat oral te sien is.
 

Wadi Nisnas-kuns
 
Skielik sit die man in die CD-winkel musiek aan en vir ’n oomblik luister ons verstom: dis “I'm dreaming of a White Christmas” wat in Arabies gesing word. Ons lag en begin kliphard in die straat saamsing – niemand gee om nie. "Wel," sê Judy, "hulle gaan lank droom, want ’n wit Kersfees in Haifa is ongehoord!" ’n Dogtertjie kom verby gehardloop in ’n rooi Sinterklaas-pakkie. Die vermenging van kulture en gewoontes is opnuut verstommend.
 
Chanoeka- en Shabbat-kerse
Gisteraand het ons die laaste kers vir Chanoeka aangesteek. Ons het dit vroeg gedoen, want dit moes reeds brand voordat ons die Sabbatskerse aan die begin van die Sabbat kon aansteek. Shabbat het in Haifa om 4.08 namiddag begin! Laasnag was die langste nag van die jaar in die Noordelike Halfrond. Chanoeka is nie ’n Bybelse fees soos pasga of loofhutte nie, maar dateer uit die tussen-testamentiese tydperk. Soos alle Joodse feeste is die tema eenvoudig: “hulle” wou ons doodmaak, God het ons deur 'n wonder gered, kom ons vier dit en eet! In die Chanoeka-storie is "hulle" die Hellenistiese Siriese mag onder Antiochus; die Makkabeërs het die oorwinning behaal en die tempel is weer in gebruik geneem. Toe ontstaan daar die probleem dat die heilige olie vir die tempelmenora te min is, maar ’n wonderwerk gebeur: een nag se olie hou vir agt nagte totdat vars, onbesoedelde olie gevind kon word. So ontstaan die verskillende gebruike rondom hierdie agt dae lange fees: elke aand word daar nog een kers aangesteek, totdat daar op die agtste aand agt kerse plus die shamas-kers, oftewel die diensknegkers waarmee die ander aangesteek word, brand.
 
Al die tradisionele disse wat geniet word, word met olie voorberei – die bekendste is oliebolle of “sufganiyot” met konfyt binne-in en aartappelkoekies, bekend as latkes in Oos-Europa, wat in olie gebraai en dikwels saam met appelsous geëet word. Dit is die fees van lig en olie! En ons is genooi om môreaand saam met die familie van een van ons Christen Libanese studente Oukersaand te vier.
 
Kostafels van Libanon
 
Die tafel sal kreun van die kos met geregte soos tabouleh, koubah wat bietjie aan my pa se steak tartar herinner. Daar sal shish kebabs wees en hoender met rys wat pine-nuts en rosyne in het. Hulle sal gulhartig wyn skink en daar sal Arak (amper soos ouzo) wees. Elke keer as jy dink jy’s klaar geëet, sal ons gasvrou nog kos op ons borde laai, want in die Midde-Ooste word gasvryheid tot nuwe hoogtes gevoer en die Libanese wil hê ons moet verstaan hoe goed die lewe voorheen was. Hulle sal terug verlang na Kersfees in Libanon in die goeie ou dae voor hulle land deur fanatiese Moslemmagte oorstroom is. Ek sal stories vertel van hoe ons Kersfees tydens die Suid-Afrikaanse somer langs die Kaapse kus saam met my kinders gevier het; hulle stories sal handel oor hul ouers en grootouers wat hulle moes agterlaat toe hulle hierheen moes vlug, en Judy sal vertel van ’n wit Kersfees in Freiburg, Duitsland toe sy student daar was. Sy onthou een jaar toe sy en ’n groep studente besluit het om die weduwees en wese, straatmense en bergies onder brûe, in die strate en langs kroeë te gaan soek en vir ’n warm ete te nooi. "Gegewe dat Kersfees ook ’n tyd van meer selfmoorde as gewoonlik is, wou ons iets daadwerkliks doen. Dit was nogal ’n belewenis om die lig van waardering in mense se oë te sien – om konkrete liefde te ervaar, was vir vele van hulle iets nuuts," vertel sy.
 
Ons sal lag en gesels, maar die heimwee sal vlak lê, want Kersfees of Chanoeka - dit maak nie saak nie: feestye is tye van vier en van onthou; van lag en van verlang.
 
En dalk sal ek huis toe kom en 'n gedig skryf, want soos Lina Spies sê: “verlange is die asem van die poësie”, en selfs die voornemende digter kan daaroor dig.

 
Sing en dans
 
Naskrif: Iets waarop ons nie voorbereid was nie, is dat die dogters van die Libanese begin sing het en binne ’n kort tydjie is daar gedans en gesing soos mens dink net in die flieks gebeur. Hulle vier die lewe, dat hulle oorleef het en dat hulle as gesin mal is oor mekaar! Dit was ’n aand wat ons nooit sal vergeet nie – nooit.
 
Die gedig sal ook nou anders klink, maar eers moet dit wag, want soos my aanstaande skoondogter sê: “Ek het my breinselle op vakansie gestuur en die reserwes is vermink deur ’n oorvloed van spyse en drank ...”