Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Larry Scully (1922–2002): Visionêr en mistikus: ‘n reus onder kunstenaars

Larry Scully (1922–2002): Visionêr en mistikus: ‘n reus onder kunstenaars


Amanda Botha - 2010-07-15

Larry Scully (1922–2002): Visionêr en mistikus: ’n reus onder kunstenaars
Dit was sy bemoeienis met die stad, en spesifiek Johannesburg, as landskap waarvoor hy ’n spoor getrap het waarin ander kon volg – veral ’n latere generasie swart kunstenaars gemoeid met stadstonele van die Goudstad. Sy betrokkenheid met byvoorbeeld Hillbrow in dié tyd kan terugskouend gesien word as die vestiging van ’n soort ”Manhattan in Afrika”. In sy laaste fase het hy afgesien van die stilering van voorwerpe. Toe het dit ’n spel van abstrakte orkestrasie van kleur en tekstuur geword om “’n grootse, hemelse arena vir natuurkragte te skep”. Amanda Botha skryf oor sy kunsproduksie, wat oor meer as ’n halfeeu strek, na aanleiding van werke in die Sanlam Kunsversameling.

Die werk van Larry Scully is ten nouste gemoeid met die uitbeelding van die landskap – die betonoerwoud van die groot stad, wat ’n watermerk van sy werk is, maar ook die uitgestrektheid van die landskap en veral die uitbeelding van ’n kosmiese verbintenis met die grenslose heelal. Hy verken die misterie van ruimte en gebruik motiewe wat abstraksies is van landskappe, argitektuur en beeldhouwerk uit Afrika.

Sy werk het tonale kwaliteite soos sterk kontraste tussen lig en donker, terwyl sferiese en eliptiese vorme dominante kenmerke van sy meestal groot doeke is. In sy werk is daar ook sprake van ’n sterk mistieke inslag wat landskap spiritueel definieer.

Met ’n hernieude kennismaking van Scully se werk is ek opnuut onder die indruk van ’n visionêre gevoel van landskapuitbeelding wat reeds in die 1960’s vir hom spontaan was. Dit was sy bemoeienis met die stad, en spesifiek Johannesburg, as landskap waarvoor hy ’n spoor getrap het waarin ander kon volg – veral ’n latere generasie swart kunstenaars gemoeid met stadstonele van die Goudstad. Sy betrokkenheid met byvoorbeeld Hillbrow in dié tyd kan terugskouend gesien word as die vestiging van ’n soort “Manhattan in Afrika”.

Lewenslank was hy besig om die abstraksie van sy onderwerpmateriaal, wat hom as jong kunstenaar reeds geboei het, verder te ontgin. Verskeie stadia kan in sy werk bespeur word: ’n periode in die 1950’s met ryklik–geskilderde doeke, gevolg deur meer formele kontruksies in die laat vyftigs. ’n Voorbeeld hiervan is sy landskap Petrified forest (1956), olie op bord [1]. Sy werk in die sestigerjare kan as onstuimige, amper vormlose skilderye beskryf word, waarna ’n liries–poëtiese styl van sy “blou periode” in die laat sestigs volg. ’n Verdere ontwikkeling in die sewentigerjare is werk met sterk hoekige buitelyne wat rotsagtige vorme beklemtoon, wat daarna die amper sirkelvormige vorme opneem in kleiner swart vierkante.

Larry Scully, 1922, Petrified Forest, 1956, olie op bord

Dit lui ’n laaste fase in waar hy deur middel van simboliese tekens en kleure om, soos hy dit gestel het, “aan al die strate van ons innerlike wêreld van sintuie, gevoel en denke” uitdrukking te gee. In wese was hy op soek na “die essensiële misterie van die lewe” om uit te kan reik “na ander wêrelde gesien vanuit die bekende raamwerk van ons eie”.

Scully het ook ’n groot bewondering vir die argitektuur gehad en het dit “die moeder van die kunste” genoem.

Vir hom was dit ook belangrik om sy lewensbestaan binne ’n bepaalde nalatenskap te voer – “omdat ek in die ruimte lewe – ’n oneindigheid”. In sy werk het hy daarna gestreef om ’n bewustheid te skep van “hede, verlede en toekoms” wat in ’n enkele werk geïnkorporeer kon word.

Tog was dit sy oortuiging dat sy stadslandskappe binne die Afrika–konteks (spesifiek as stad in Afrika) geplaas moes word. Dit is verkry deur die gebruik van vorme in kleure soos goud, oker en swart en simboliese gebruik van beelde soos maskers, totempale en skilde wat binne die konteks betekenisvol is. In 1975 stel hy sy siening só op skrif: “I wish to express in my paintings the simple fact of my living in a city in South Africa which belongs to Africa and to the World in the Universe in infinity.”

Scully se werk was nooit bloot ’n realistiese interpretasie nie, maar was altyd simbolies diep veranker. Wat hy probeer verbeeld, het hy op ’n keer gesê, “moet sweef soos ’n idee”. Binne die visuele konteks wou hy dus ook die intellek en die emosie betrek. ’n Voorbeeld hiervan is Blue Elipse (1973) olie op doek [2].

Larry Scully, 1973, Blue Eclipse, 1973, olie op doek

Kenmerkend van hierdie stadstonele was geselekteerde dele wat visueel ’n stad in abstrakte terme verbeeld, soos hoë torings en geboue waarin die ligte van die nag soos straat- en robotligte weerkaats. Vir hom word dit ’n ode aan die misterie van die onvoorspelbare naglewe van die stad. Medekunstenaar Andrew Verster skryf in 1980 in The Natal Mercury só oor Scully se werk: “The fascination … in all these pictures is not only in their intrinsic compositional qualities and content, but in the way he suggests new ways of looking at much that we take for granted in the world around us.”

Sy reuse-doeke, wat dikwels indrukwekkende muurpanele geword het, staan as bakens in sy loopbaan en ook as mylpale in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis. In 1971 skep hy die muurpaneel CityScape in die ingangsportaal van die Dudley Heights-gebou in Hillbrow, Johannesburg. Die werk, geïnspireer deur die tempels van Griekeland, veral die Parthenon met sy verweerde suile wat oor die hedendaagse Athene uitkyk, gegroefde klipsuile, gekombineer met geskilderde vertikale skagte in die komposisie, wil ’n suggestie wees van stede van die toekoms.

Hierdie verbeeldingryke muurpaneel was ’n bron van inspirasie van baie van sy latere werk.

Iets van die aura van CityScape vind weer neerslag in sy opdrag van ses reuse-doeke in 1972 vir die Jan Smuts–lughawe (vandag OR Tambo Internasionale Lughawe). Vyf van hierdie doeke, met die uitsondering van die kantruimtes, word met sirkel- of amper-sirkelvormige beelde bedek. In hierdie werk, Astral City, skep kleur en vorm ’n kosmiese krans wat die verbeelding na die oneindigheid van ruimte wil lei.

Nog ’n belangrike openbare werk word veral ondervang deur die invloed van argitektuur en musiek op hom as visuele interpreteerder. Dit is die muurpanele Music Murals (1978) in die foyer van die Endler-konsertsaal van die Konservatorium vir Musiek in Stellenbosch. Hier werk hy as kunstenaar ten nouste saam met die argitek Hannes Meiring, en uiteindelik word die gebou hul loflied vir musiek (’n intense liefde wat albei gedeel het). Hierdie werk, wat as monument dien vir Scully se kreatiwiteit, het hom die eretitel “ikoon van Stellenbosch” besorg.

Twee dekades later word nog kunswerke tot die musiek-muurskilderye toegevoeg. Die drie werke, Homage to Debussy, Homage to Satie en Prelude, sluit by die eerste werke aan. Die sirkelvorm word herhaal en die misterieuse, driedimensionele kwaliteit herinner aan ’n kosmiese oneindigheid wat die “gevoel van die estetiese, etiese, ewige en onmeetbare vergestalt”.

’n Avontuurlike ontwikkeling wat sy skilderkuns gekomplementeer het, was die eksperimente met fotografie waaruit ’n nuwe kunsvorm, fototekeninge, in die sewentigerjare ontwikkel het. Die bekendste fotoreeks in hierdie medium is sy Last Days in District Six, nou op permanente uitstalling in die Sasol Kunsmuseum van die Universiteit Stellenbosch. In die tagtigerjare het hy verskeie teatervertonings met hierdie fototekeninge aangebied.

Die fototekeninge is voorafgegaan deur multibeeld-‘happenings’ wat Scully ontwikkel het uit kleurskyfies wat hy tydens sy vele reise geneem het. Dit het bestaan uit foto’s van mense en plekke wat gelyktydig met behulp van vyf projektors vertoon is en met die hand beheer word volgens ’n voorafbepaalde rankskikking en wat hy dan vrylik wysig volgens die reaksie op beelde wat reeds vertoon is. Musiek wat oordeelkundig gekies is, word saam met die skyfies vertoon en help om die nodige atmosfeer te skep. Hoewel beeld en klank in mekaar verweef is, bly die vertoning steeds ’n visuele ervaring. Geen kommentaar vergesel die vertoning nie. Dit is slegs die beelde wat die kunstenaar se boodskap oordra.

Laurence Vincent (Larry) Scully is in 1922 in Gibraltar gebore en is as jong kind bekoor deur stories van Afrika wat sy Suid–Afrikaanse moeder hom vertel het. Hoewel hy sy kinderdae en adolessensie in Engeland deurgebring het, was hy voortdurend bewus van sy Afrika-erfenis. In 1938 vestig sy ouers hulle in Suid–Afrika. Die Tweede Wêreldoorlog het egter kort voor hulle aankoms uitgebreek en gevolglik het Scully die volgende sewe jaar militêre diens in Kaapstad en Pretoria gedoen. Sy frustrasies in die weermag het hy te bowe gekom deur tekeninge van sy makkers te maak en tussendeur kuns- en musiekklasse te neem. Hy behaal die grade BA (1950) en MA (1963) in die skone kunste onderskeidelik aan die Universiteite van Witwatersrand en Pretoria. Sy medestudente het onder andere kunstenaars soos Cecil Skotnes, Christo Coetzee, Nel Erasmus, Esmé Berman en Gordon Vorster ingesluit.

Hy was vroeg aangetrokke tot die noordelike binneland en sy bergreekse en het dikwels uitgebreide reise in Suid-Afrika en Zimbabwe (destyds Rhodesië) onderneem. ’n Voorbeeld uit hierdie periode is die werk Rhodesian Chevron (1963), olie op doek [3]. Zoeloeland en Sekoekoenieland (vandag Gazankulu) het hom veral beïndruk. In 1946 het hy die skrywer-avonturier TV Bulpin ses weke lank te perd vergesel deur die Maluti-bergreeks van Basoetoland (vandag Lesotho), waar hulle die Maletsynyana-waterval besigtig het. Hierdie ervaring het uitdrukking gevind in ’n reeks skilderye wat tydens die 1963 São Paulo Biënnale uitgestal is en vandag deel is van die Hester Rupert-versameling in Graaff-Reinet.

Larry Scully, 1922, Rhodesian Chevron, 1963, olie op doek

Aanvanklik was realisme ’n kenmerk van sy vroeë werk wat geleidelik ’n simboliese inslag verkry het. Interessant is dat sy werk vanuit die veertigerjare deur Afrika-maskers, -skilde en totempale geïnspireer is. Dwarsdeur sy loopbaan het hierdie Afrika-motiewe inherent deel van sy werk gebly.

Vroeg reeds is Scully se merkwaardige skildervernuf opgemerk en hoewel hy eers in 1962 met ’n solotentoonstelling in Pretoria debuteer, word hy reeds in 1965 ’n retrospektiewe uitstalling in die Pretoria Kunsmuseum aangebied. Hierdie tentoonstelling ontvang alom lof, veral van sy medekunstenaars, soos Dirk Meerkotter, Anna Vorster, Cecil Skotnes, en veral Walter Battiss, wat Scully “ ’n absolute egte kunstenaar” noem. Die kenmerk van hierdie werke was Scully se beheer van kleur. Primêre kleure verskyn naas mekaar en gloei in harmonie, en met die kolletjie-tegniek (pointillisme) bereik hy in opwindende resultaat wat hy deur swart kruislyne bedwing.

In 1973 word hy gevra om deel te neem aan die “Madonna en Kind”-projek van Soweto. Een van die indrukwekkende nalatenskappe van Scully is die groot skilderinstallasie, wat vir die eerste keer ’n swart Maria en Christuskind aanbied, in die nou beroemde Regina Mundi Katolieke Kerk in Soweto. Hierdie werk is deur die mynmagnaat Harry Oppenheimer aangekoop en aan die kerk geskenk. In die anti-apartheid-onluste van die sewentiger- en tagtigerjare het die kerk as ’n baken in Soweto gestaan waarheen betogers van die polisie gevlug het. Dit was ook die kerk waarheen die skoliere wat aan die 1976-betoging deelgeneem het, gevlug het nadat Hector Peterson geskiet is. Oor die jare is baie begrafnisse van anti-apartheidstryders uit die kerk aangebied. Die kerk het internasionaal ook die kalklig op hom laat val met sy noue assosiasie met die Nobel Vredespryswenners aartsbiskop Desmond Tutu en oudpresident Nelson Mandela. Ook die Clintons het tydens hul Suid-Afrikaanse ampsbesoek in 1998 hier aan die nagmaal deelgeneem.

Later is opgemerk dat hierdie skildery – een van die beroemdstes in Suid-Afrika – ook ’n profetiese inslag gehad het. Die fokuspunt is die kind se regterhand wat ’n v-teken (victory sign) wys.

Die joernalis Mpho Lukoto skryf met die eerste-dekade-viering van demokrasie so oor die Scully-skildery in The Star: “Perhaps one of the most poignant reminders of the past is the Black Madonna and Child of Soweto, which was painted by Laurence Scully. Beneath the image of the Black Madonna, Scully painted an eye, with the different images in it giving meaning to the picture. The pupil of the eye represents the township. The two black forks that run across the eye towards the pupil represent the pain inflicted on black people. And in the centre of the eye, representing the church, is a cross with a light that illuminates the pupil. It struck me that in the midst of all the painful memories, the painting is a symbol of hope that, like the church itself, was in the heart of the people. I like to believe that it was that hope that makes it possible for us to celebrate 10 years of democracy.”

Scully was vir die grootste deel van sy lewe betrokke by die onderrig van kuns, van skool tot universiteit. Van 1976 tot 1984 was hy professor in die skone kunste aan die Universiteit Stellenbosch. In hierdie tydperk was hy ook direkteur van die US Kunsmuseum (vandag die Sasol Kunsmuseurm) en het hy die US-Kunsgalery in Dorpstraat ingewy. Ook was hy lewenslank betrokke by die bestuur van kuns, hetsy as voorsitter of as ondervoorsitter van kuns- en beheerrade.

Met sy Kaapse verblyf het sy fokus ook op die kuslandskap geval en het hy verskeie suksesvolle uitstallings hoofsaaklik in Kaapstad en op Stellenbosch aangebied. Cecil Skotnes het in dié tyd veral verwys na die subtiele atmosfeer, lig en kleur van Scully se Kaapse kuslandskappe. Volgens Skotnes het hy hierdie elemente gebruik om “poëties uitdrukking te gee aan die angst van Afrika”.

In sy laaste fase het hy afgesien van die stilering van voorwerpe; toe het dit ’n spel van abstrakte orkestrasie van kleur en tekstuur geword om “’n grootse, hemelse arena vir natuurkragte te skep”, volgens die resensent Debbie de Beer in Die Burger (1992). In sy werk van hierdie periode is daar ’n sterk Romantiese neiging in die soeke na ’n universele, geestelike ervaring van ruimte. In sy Afrika-landskappe word kosmiese magte en grootse natuurkragte verbeeld.

Later het die kritikus Benita Munitz Scully sy komposisies met dié van musiek vergelyk. Hy kon die optiese kwaliteite van kleur vindingryk aanbied deur manipulasie van die skilderruimte, wat by uitstek sy vakmanskap getoon het. Volgens haar het Scully se verleidelike benadering die kyker as medeskepper betrek – “collaborators in his creative act and participants in a fascinating dialogue”. ’n Voorbeeld uit hierdie periode is die stillewe, Lamp (1989), olie op bord.[4]

Sy indrukwekkende curriculum vitae boekstaaf Larry Scully se prestasies op kunsgebied. Die groot aantal solo- en groeptentoonstellings op sy kerfstok in meer as ’n halfeeu se aktiewe deelname in Suid-Afrikaanse kuns het hom altyd “groter as lewensgroot” gemaak en na hom is meermale verwys as ’n reus onder kunstenaars.

In 2002 bied die Universiteit Stellenbosch vir hom ’n retrospektiewe uitstalling aan om sy tagtigste verjaarsdag te vier. Dit was ook sy laaste – dae daarna is hy ná ’n motorongeluk oorlede.

Die lewe en werk van Scully is swak gedokumenteer, meestal net deur mediaberigte en enkele katalogusse. ’n Monografie van sy werk sal opnuut sy posisie in die Suid-Afrikaanse kuns in waardering roep.



Bronnelys

Dagbreek en Sondagnuus, 13 Desember 1964. “Battiss oor Scully”.
De Beer, Debbie, 1992. “Imposante werk van Scully”, Die Burger, 25 Maart.
Korber, Rose, 1984. “A giant among artists. Larry Scully”. Vlieënde Springbok, Augustus.
Larry Scully 80, 2002. Katalogus van die retrospektiewe uitstalling in die Sasol Kunsmuseum, Universiteit Stellenbosch, met Lydia de Waal as samesteller.
Larry Scully, 1988. Katalogus van sy uitstalling Horizons aan die Universiteit Stellenbosch. Artikel deur Rose Korber.
Lukoto, Mpho, 2004. "Worthy symbol of hope”. The Star, 23 Maart.
Munitz, Benita, 1994. “Diptych for the Promised Land”, Cape Times, 28 Maart.
Parker, Barbara, “Larry Scully”. Ons Kuns 3, Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie. Uitgewers van Lantern. (Datum onvermeld.)
Skotnes, Cecil, 1988, Eikestadnuus. (Presiese datum van knipsel, onbekend.)
The Star, 21 Desember 1973. “Madonna and Child of Soweto”.
Verster, Andrew, 1980, The Natal Mercury. (Presiese datum van knipsel onbekend.)
Viljoen, Mareli, 1998, Musiek–muurskilderye van Scully. Eikestadnuus, 26 Junie.
http://www.soweto.co.za/gallery/Sowetolife/blackmadonna.html.
http://www.soweto.co.za/html/p–scully.htm.

Erkenning aan Lydia de Waal, direkteur van die Sasol Kunsmuseum, Universiteit Stellenbosch, vir die beskikbaarstelling van mediaknipsels en ander tersaaklike dokumente rondom die werk van Larry Scully.