Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Stukkies van New York!

Stukkies van New York!


Egon - 2010-06-25

Ek kyk by die venster uit. Die vliegtuig se vlerk verdwyn kort-kort soos slierte sneeu my uitsig belemmer. Ons skrik verbaas toe die wiele die aarde soos ’n ligvoetige danser raak. Omdat dit bedek was onder ’n poeierwit mantel, kon ons nie die aanloopbaan sien nader kom nie.

 
JFK

“Welcome to John F Kennedy Airport,” kom die stem oor die interkom. “New York, New York,” volg Frank Sinatra in my kop. “These vagabond shoes are longing to stray; right through the very heart of it – New York, New York.”

 Sneeu-beelde

Ek wou nog vra hoe ons die strate gaan verken as dit so aanhou sneeu, toe dit duidelik word dat Judy haar nie deur ’n duim of 10 sneeu sal laat onderkry nie. Sy’t gesorg dat ons die regte skoene en baadjies inpak. Haar tannie in Baltimore gee vir my ’n sagte pelshoed. Die sneeu smelt onder elke tree en verander in grys Cola slush puppy, maar ons stap voort om die omgewing te verken en dit herinner my aan Jan FE Celliers se osse, behalwe dat óns stof nat en koud is.

 Sneeubedekte strate

Die stad is oorweldigend. Ons lê alles op film vas. Die Gugenheim se bekende rondings. Central Park, waar alles ’n studie van kontras tussen nat, swart boomstamme en wit sneeu word. Die bekende hoë geboue: die Universiteit van Columbia met sy statige geboue, die Chrysler-toring, die Empire State-gebou; en Time Square met te veel liggies en kommersialisme.

Judy dring aan op ’n bootreis om Manhattan-eiland. Sy lê die perseel waar die World Trade Center was, op kamera vas en treur: “There’s a big hole there!” Ons fotografeer die bekende Dame met haar Vryheidslamp – ’n geskenk van die Franse aan die nuwe onafhanklike Amerika in 1886.  Ons kan nie Emma Lazarus se pragtige woorde onderaan die standbeeld vanuit die boot lees nie en die gids, wie se vader as vlugteling uit Europa gekom het, dra dit met belaaide emosie aan ons voor:

Give me your tired, your poor,
Your huddled masses yearning to breathe free,
The wretched refuse of your teeming shore.
Send these, the homeless, tempest-tossed to me,
I lift my lamp beside the golden door!

New York en die Statue of Liberty

Die wind op die water is ysig en brand ons longe. Ons oë skiet vol trane van koue, maar ook as gevolg van Emma Lazarus se woorde wat 989 vlugtelinge wat in 1939 skuiling teen Hitler gesoek het, verraai het. Dié Joodse vlugtelinge is teruggestuur na Duitsland en die Nazi-gaskamers. Ons neem die Dame af van alle kante af en besluit dat dit seker nie alles haar skuld was nie.

Ons kuier vir ’n paar dae by familie in Baltimore en Washington DC, waar ons die Smithsonian Museum terdeë geniet. Baie jare gelede het National Geographic ’n artikel oor die Mall, die nuwe Space and Aeronautics Museum en die East Wing van die National Gallery of Art geskryf. Dit was sedertdien vir my ’n droom om dié plekke te besoek. Ons eerste blik van hierdie bekende area in Washington DC is asemrowend. Die Mall is wit onder die sneeu met die wit Capitol Hill aan die een kant en die wit Lincoln Memorial aan die ander. ’n Mens het eintlik  ’n paar dae nodig om alles te verken, maar ons geniet die tydjie wat ons het en belowe mekaar om eendag terug te kom. Ons neef neem ons op ’n daguitstappie oor die Potomacrivier om “clam chowder” op die Chessapeakebaai te gaan eet en nog ’n droom word so bewaarheid! En dan vat ons die bus terug na New York. (www.megabus.com)

 

Washington DC

Ons verken die laer suidekant van Manhattan. Eers China Town met sy straatverkopers en eindelose juweliers- en koswinkels, dan Little Italy met mooi restaurante, en ons geniet ’n heerlike ete daar. Volgende op ons roete is die gay “Mecca”, Greenwich Village en Chelsea met hul baie restaurante en gayklubs, vandag amper uitsluitlik vir mans. In Christopherstraat by die Stonewall Inn gesels ons met Tree, die kroegman wat vertel dat hy die aand van 28 Junie 1969 in die kroeg gekuier het toe die polisie instorm. Dié aand se gebeure, nou bekend as die Stonewall Riots, was die begin van die “gay human rights”- beweging. Ons het baie aan hulle te danke! Maar Christopherstraat is ook bekend vir die figure uit die literêre en teaterwêreld wat daar gewoon het – die filosoof Theodor Adorna, digter ee cummings, akteur Philip Seymour Hoffman, om net ’n paar uit te sonder. Ons besoek die LGBT Sentrum (http://www.gaycenter.org) op 13de Straat, waar hulle diverse gemeenskapsaktiwiteite aanbied. Tydens ons besoek is daar oa die Beyond The Blue Sky- uitstalling van foto’s oor die Mongoolse LGBT-gemeenskap wat onder verdrukking leef.

 


Beyond the blue


Ons vind skuiling teen die koue in ’n klein koffiekroeg en Judy vra my: “Sou jy regtig hier wou woon?” Ek het haar jare gelede vertel dat iemand voorgestel het dat ons daarheen verhuis - na hul mening is Israel ’n onmoontlike plek vir twee gay vrouens om “kreatief” te woon. Ek kyk haar verras aan. “Ek aanvaar dit is nie as ’n ernstige vraag nie – hier is net een ding wat my aantrek,” sê ek en sy begin dadelik lag. “Die talle wonderlike boekwinkels.”

Die bekende Oscar Wilde Bookshop het na veertig jaar gesluit. ’n Man op straat vertel: “Die eienaar het haar minnaar na Australië gevolg en so word ons een oggend in 2009 wakker en die boekwinkel is weg!” Om ’n lang hoek vind ons Three Lives & Co boekwinkel, maar dit bedien ’n ander soort klant.

Maar die grootste lekker lê etlike blokke verder in 12de Straat voor. The Strand Book Store is in 1928 deur Ben Bass gestig en behoort steeds aan dieselfde familie. Vandag word dit deur sy seun, Fred, en sy kleindogter, Nancy Bass Wyden, bedryf. Dit is ’n plek waarheen mens, soos na ’n goeie vriend of museum, herhaaldelik wil terugkeer. Ons was twee maal daar en moet eerlik sê dat dit ’n oorweldigende ervaring was – 18 myl van nuwe en tweedehandse boeke. Alles streng georden volgens onderwerp teen pryse wat jou asem wegslaan – al moet jy met rande betaal. Ek dink ons is in die hemel!  (Besoek gerus hul webtuiste, www.strandbooks.com.)

Uit nuuskierigheid kyk ek watter Suid-Afrikaanse skrywers ek kan vind: vanselfsprekend JM Coetzee en  Nadine Gordimer, maar ek vind ook Deon Meyer se Blood Safari, Charles Herman Bosman-stories, Agaat deur Marlene van Niekerk, minstens agt verskillende romans, onder meer Dry White Season deur André P Brink. Ek vind ook boeke wat jare reeds uit druk is, soos Erri de Lucca se Sea of Memory and Three Horses. Twee maal steier ons, oorlaai met boeke, daar uit.

 Judy glimlag net en vra: “Happy, my love?”

Báie! Volgende keer bring ons net ’n leë tas saam!”