Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Potch-groepe se “happy message”: The bearable lightness of being

Potch-groepe se “happy message”: The bearable lightness of being


Henry Cloete - 2010-06-02


“Ons maak nie hip hop waarin jy iemand se ma vloek nie … ons wil nie laster verkoop nie. As dit vir ander mense werk is dit fine, maar ons wil ’n ander message oordra.”

Aan die woord is Louis Janse van Rensburg, bestuurder van die gewilde Potchefstroom-groep Straatligkinders. Deesdae hou hy egter ook sy lyf rapper en rym agter die mikrofoon onder die alias van Raptor. Sy groep se naam is Ekhouvanjou,okay! (alles so, sonder spasies), en hulle maak “Steri-voetstamper”-musiek.

Hulle maak deel uit van die Potchefstroom-beweging, ’n repliek op die Bellville-verskynsel wat met Fokofpolisiekar begin het en nou al ook met aKing, Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel en Jack Parow sit, om ’n paar te noem. Al die bogenoemde groepe het lede as gemene delers, buiten Parow – maar die Heuwels se Fred den Hartog, Hunter Kennedy en Johnny de Ridder bestuur Parow se platesake en is ook prominent as musikante en vervaardigers op sy nuwe album.

Die Potchefstroom-beweging is iets anders. Waar Fokofpolisieker et al sterk bemoeid is met die destruktiewe elemente van die samelewing, identiteit, samesyn en emosie is die Potchefstroom-beweging die Jin tot Fokof se Jang.

Straatligkinders, reeds bekend daarvoor dat hulle grapperigheid voorstaan (sien maar hul weergawe van Kurt Darren se “Kaptein span die seile” op YouTube), geheelonthouers is en so aan, het ook nou vir splintergroepe begin sorg. Bouwer Bosch (hoofsanger van Straatligkinders), saam met sy vriend Deon Meiring, speel kitaar en sing vir die groep Dans Dans Lisa. Die musiek is draakstekerig … of dit kom ten minste so voor in hul musiekvideo “My eks(kuus)”, waar die twee knape in ’n kamer vol ballonne kerjakker. Die begin van die lied ook – ’n naïewe soort monoloog wat afspeel oor ’n man wat met ’n dame probeer praat. Dit ontstaan egter in iets wat op die oor af meer en meer ernstig en desperaat klink. Dalk is dit eintlik dieselfde ding?

Die Facebook-site gee meer leidrade, waar die twee lede in onderskeidelik ’n Barney die Dinosourus-kostuum en ’n rot-of-muis-of-haarbol-kostuum verskyn.

Hul ander lied, “Die mense hier,” waarop Meiring en Bosch se vokale vermoëns in ’n effens groter mate ingespan word, dien as temalied op YouTube vir hul optrede aan die begin van die jaar vir wat lyk soos ’n oriëntasiegeleentheid op Potchefstroom se kampus. Volgens YouTube is dit hul eerste optrede ooit. Duisende meisies dreun soos by ’n skole-atletiekbyeenkoms: “Dans dans lisa! Dans dans lisa!” en glow-sticks word geswaai. Dit moet ’n oriëntasiegeleentheid wees, want ek sweer ek kan koshuis-cheer-songs sporadies in die video hoor. 

Dan is daar Ekhouvanjou, okay!, ’n elektronika-hip-hop-rock-rap-groep van wie die lede lyk of hulle reguit uit ’n MTV Crazy Monkey-skets geval het.

Ek kliek rond op hul Facebook-site, waarop twee liedjies reeds gelaai is.

“Haar gunsteling-kleur is Mayonnaise,” heet die eerste lied. Dis ’n vreemde mengsel van genres, met ’n skertserige spel tussen ’n ou en ’n meisie (met geloof in kys-potensiaal van die man se kant) in die kletsrym-versgedeeltes. Die koortjie is ’n rock-ballade met ’n elektroniese agterklank wat afskop met die liriek “Ek wens ons was saam in ’n wentelbaan” en afsluit met “Jy gaan net jou asem moet ophou.” Ek wonder of dit is oor die dame skynbaar so baie van mayonnaise hou, en of dit eerder gaan oor suksesvolle flankeringspogings wat noodwendig met die verbygaan van heelwat tyd gepaardgaan.

Hul volgende lied skreeu “Di-nosourus! Di-di-nosourus!” terwyl die sanger/rapper die luisteraar aanraai om nie te huil nie, aangesien dinosourusse lankal dood is.

Die musiek, die voorkoms van die groepe, die melodieë – alles dui op ’n grapperigheid wat nie uit verveeldheid bloot kon ontstaan het nie. Daarvoor gaan daar te veel moeite in.

“Straatligkinders is nou al amper vier jaar oud,” sê die Raptor. Hy weet, hy bestuur hulle en ander groepe soos Glaskas nou al lank. “Ons het almal so half begin dink, dit is tyd om nuwe dinge aan te pak. As mens nie jouself re-invent nie, gaan mense moeg raak vir wat jy doen.”

Volgens die Raptor is die essensie daarvan om vir mense iets te gee om bloot terug te sit en te geniet.

“Ons wil ’n ander message oordra. Daar is te veel crap in hierdie land. Ons wil iets minder ernstig doen.

“Ons kry nie terugvoer op ons songs soos: ’Wow, daai song het my lewe verander’ nie. Maar nou die dag het ’n ou vir my kom sê hy gaan elke dag ’n uur vroeër in kantoor toe en luister eers ons musiek. Dit maak sy dag beter.”

Dit kom dalk eienaardig voor dat hierdie alles uit Potchefstroom kom – die kampus is immers die tema vir verskeie grappies oor konserwatiwiteit. Op Potchefstroom moet jy nie regop staan en seks hê nie, want mense mag dalk dink jy dans, lui die grappie mos.

“Ek is bewus van daardie reputasie,” sê die Raptor, “Maar dit het nou heeltemal verander. Ons kan eintlik die Straatligkinders bedank vir die deure wat oopgegaan het (in ’n band-kultuur-opsig). Hier is nou hip hop, rock ... die lys gaan aan.”

Hy sê die groepe sing meestal oor ervarings wat hulle ken – meestal van die romantiese aard, en meestal futiel. Hul teikenmark is maar die hoërskool-meisies en studente.

“Veral Dans Dans Lisa is op tienermeisies gemik. Ouens gaan dit vir hulle meisies sing, en die meisies gaan uitfreak.”

Op die “My eks(skuus)”-video op YouTube het iemand hierdie kommentaar gelaat: “Geniet julle 14-jarige fan-base ... almal moet iewers begin. Ugh.” Bosch het self hierop gereageer: “hahah ... is jy 14? hehe ... jy moes die video kyk toe wonder ek! haha nee ek joke net! ons wil net musiek maak ... ek moet self erken hierdie song is nogals intens erg "Jonas brothers" vibe ... what was i thinking! hahaha ... lekke dag verder!”

Ek wil graag meer oor die musiek sê, maar daar’s bloot nie genoeg beskikbaar in hierdie stadium om na te luister nie. Ek hou van daardie xilofoon-ding in Dans Dans Lisa se musiek, dit gee dit so ’n kinderliedjie-gevoel tussen die (gedempte) skree-tegnieke deur.

Die ding van satire is dat dit die beste is wanneer mense nie kan agterkom of dit “ernstig” of “aspris” is nie. Hierin blyk hulle te slaag, maar dis dalk (veral in Ekhouvanjou,okay! se geval) omdat daar soveel groepe is wat wel sulke dinge ernstig doen. Toegegee, die elektronika-aspek onderskei hulle darem. (Kwalifiseer die doef-doef van sokkie as elektronika? Ek hoop nie so nie. Hierdie ouens val in elk geval beslis nie in die sokkie-kategorie nie.)

Kortom, dis moeilik om hierdie beweging, of gemeenskaplike gevoel, of wat ook al dit is, met so min beskikbare materiaal genoegsaam te ervaar om meer daaroor te kan sê en 'n meer samehangende gevoel oor te dra. 

Die Raptor sê vir my: “Ons volgende liedjie gaan oor ’n kinderpartytjie wat skeefloop.”

Ek dink dit som hierdie beweging mooi op. Dis ’n terugwensing na eenvoudiger dinge en minder gekompliseerde komplikasies.

Aan die een kant: bring dit, ons wil lag. Aan die ander kant … voel dit bietjie soos die gelag van gewillige gestrandes.

En ek’s seker Dans Dans Lisa en Ekhouvanjou,okay! besef dit. So dit is die luisteraar, die partytjieganger, die ou in die kantoor se goeie reg op genot. En intussen kan ons seker vir ’n rukkie probeer kind wees.

Foto's
Ekhouvanjou, okay!: Foto deur Bouwer Bosch
Dans Dans Lisa: Foto deur Leon Wolmarans