Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Venda-beeldhoukuns: Van landelike tot hoofstroomkuns

Venda-beeldhoukuns: Van landelike tot hoofstroomkuns


Amanda Botha - 2010-05-19

Vir die eerste keer is in 1985 ernstig kennis geneem van die werk van beeldhouers uit Venda en is hulle werk op die uitstalling Tributaries, ’n mylpaalgebeurtenis in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis, erken as deel van professionele kunsproduksie. Objekte wat voorheen gerelegeer was tot die orals te vinde kategorieë van etnografie en township-kuns is nou binne die raamwerk van eietydse kunsproduksie gebring. Venda-beeldhoukuns het van landelike artefakte tot hoofstroomkuns ontwikkel. Amanda Botha vertel van wat as ’n renaissance-beweging beskou is en kyk na die werk van twee beeldhouers, Johannes Maswanganyi en Albert Munyai, wie se werk ook internasionale aandag getrek het. Die werk is deel van die Sanlam Kunsversameling.

Toe die Suid-Afrikaanse kunswêreld in die sewentiger- en tagtigerjare weens politieke boikotte geleidelik geïsoleer is totdat dit in ’n vakuum ingeforseer is, is verskeie kunskompetisies geloods om vir kunstenaars geleenthede te skep om hulle werk op ’n nasionale platform aan te bied. Hieronder tel die prestigeryke Kaapstadse Triënnale (1982–1991), die Standard Bank Gaskunstenaarprogram by die jaarlikse Grahamstadse Nasionale Kunstefees, en die Standard Bank Tekenkompetisies.

’n Mylpaalgebeurtenis in hierdie tyd was die aanbieding in 1985 van die uitstalling Tributaries. Vir die eerste keer is ernstig kennis geneem van die werk van beeldhouers uit Venda en is hulle werk as deel van professionele kunsproduksie in Suid-Afrika erken. Objekte wat voorheen gerelegeer was tot die orals te vinde kategorieë van etnografie en township-kuns is nou binne die raamwerk van eietydse kunsproduksie gebring.

Min versamelaars het aanvanklik die waarde en belang van hierdie werk waardeer. Dit is onder meer beskryf as “oorgangskuns” – ’n term wat gelukkig lank reeds in onguns verval het. Hierdie werk verteenwoordig ’n landelike tradisie van beeldhouwerk wat onafhanklik ’n eie plek in die kunsmark kan inneem.

Johannes Maswanganyi, 1949, Jesus loop op die water, 1988, hout

Teen die einde van die tagtigerjare het die werk van kunstenaars soos Jackson Hlungwane, Noria Mabasa, Doctor Phutuma Seoka, Johannes Segogela, Johannes Maswanganyi en Albert Munyai deel van museumversamelings geword. Hulle het terselfdertyd ook gesogte insluitings geword op tentoonstellings wat in die buiteland aangebied is.

Erkenning en insluiting van hierdie werk in die breër Suid-Afrikaanse kunsproduksies het nie sonder teenstand plaasgevind nie. Die kern van debatte was rondom die outentisiteit van hierdie objekte as artistieke uitdrukking teenoor die kommersiële en toeristiese curio- en handwerkmark. ’n Sterk kritiek was dat die werk geskep is met die oog om die hoofsaaklik wit kunsmark te wen en dat kompromieë aangegaan word om wit smaak te bevredig. Ook is aangevoer dat hierdie werk onbeïnvloed of selfs afsydig is van die eietydse artistieke diskoers.

Gelukkig is die patroniserende toon van die debatte ook geblus en kán die werke, reeds geïdentifiseer as Venda-beeldhoukuns, hul regmagtige plek in ’n ryker en meer komplekse begrip van die breër Suid-Afrikaanse kunsproduksie inneem.

Nou is daar begrip en aanvaarding dat kunstenaars in ’n laer sosio-ekonomiese omgewing, waar werk om den brode kritiek is, die geleentheid kan benut om deur die slyp van professionele vaardighede plaaslik beskikbare materiale vir kwaliteitproduksie aan te wend.

In landelike gebiede maak mense lank reeds objekte vir rituele, ornamentele en praktiese gebruik. Dit word van klei, hout, gras en riete gemaak, afhangende van wat in bepaalde gebiede beskikbaar is. Markte is geskep en aangepas om by kopersvoorkeure in te val. Die belangstelling van wit kopers in figuratiewe objekte is dan aangepas om byval by die kopersmark te vind. Die vraag na veral houtgekerfde aandenkings en ornamente het hierdie soort kunsproduksie sedert die laat 19de eeu aangemoedig.

Geleidelik het ’n onderskeid ingetree in die gehalte van die vaardighede van objekte wat hoër pryse regverdig het en individuele erkenning aan die kerwer-kunstenaar gegee het. Die effek hiervan was die buitengewone opbloei van die produksie van figuratiewe kerfwerk in Noord-Transvaal (vandag Limpopo), wat later algemeen getipeer is as Venda-beeldhoukuns, ongeag of die kunstenaars van Lebowa, Gazankulu of Venda was. Beeldhouers van ander stamme – Tsonga, Shangaan, Sotho en Tswana – het ook vir periodes hier gewerk om deel te wees van wat bekend gestaan het as die Venda-“renaissance”.

Twee produksiestrominge het bekend geword: werk wat vir rituele gebruik geskep is en meestal onbekend buite die gebied gebly het en werk wat vir die kopersmark – veral toerisme – geskep is.

Navorsers het in die sewentigerjare bewus geword van die tradisionele werk en die voorheen onbekende werk aan die kunsmark voorgestel. Onder dié belangrike navorsing tel twee doktorale tesisse by die Universiteit van die Witwatersrand oor die tradisionele Shona- en Venda-houtkerfwerk deur Anitra Nettleton en Rayda Backer, en voor dit die navorsing deur die kunshistorikus EJ de Jager wat in die Fort Hare Papers gepubliseer is in ’n reeks bekend as Contemporary African Sculptors.

Deur hierdie akademiese insette is die etikette van “oulike” landelike handwerk en artefakte omskep tot landelike beeldhouwerk met potente estetiese eienskappe om aan die werk ’n regmatige plek in die kulturele diversiteit van Suid-Afrika te besorg.

Hierop volg die bekendstelling van die werk op die Venda-pawiljoen van die Randse Skou (1980 en 1981), en in dieselfde jare die uitbeelding van Venda-houtkerfwerk op ’n reeks posseëls van die destydse Venda-tuisland. Die Venda-Ontwikkelingskorporasie is gestig wat die Ditike Handwerksentrum gevestig het met ’n verkoopspunt in Sibasa in Venda, wat entoesiasties deur David Rossouw bemark is. Daarna volg die belangrike uitstalling Tributaries (1985) met Ricky Burnett as kurator. Die finale bevestiging van erkenning was op die waterskeidende uitstallings The Neglected Tradition in 1988 (Stephen Sack as kurator) en Images of Wood in 1989 (Elizabeth Rabkin as kurator), albei in die Johannesburgse Kunsmuseum.

Houtkerfwerk is as ’n manlike aktiwiteit beskou. Tamboti- en maroelahout is in hoofsaak gebruik. Die enigste vrou, Noria Mabasa, is van die begin af deel van die Venda-beeldhouersgroep.

Gekerfde beeldhouwerk bestaan uit ’n objek wat uit een stuk hout gekerf is en waarvoor spesifiek ’n bepaalde stuk hout gekies word. Donker hout is die hardste en daar word met byle, dissels, messe en geslypte glase gekerf. Die dissel is ’n stuk gereedskap wat gebruik word om die objek vorm te gee deur stukke van die hout sistematies af te kerf. ’n Groot verskeidenheid dissels en messe word hiervoor gebruik. ’n Holbeitel met ’n gebuigde lem word gebruik om groter objekte uit te hol. Vir die afrondingswerk word messe en beitels gebruik om fyner besonderhede in die hout te kerf, spesifiek vir dekoratiewe doeleindes. Gewoonlik word hout gebruik wat nog nat is en dit word deeglik gemonitor om seker te maak dat dit nie maklik sal bars nie.

Een van die belangrike beeldhouers in die Venda-groep, Johannes Maswangayi, wat in 1949 in die dorpie Msengi naby Giyani in Gazankuklu gebore is, was onder die eerstes wat hom by die Ditike Handwerksentrum in Venda aangesluit het. Sy eerste lesse as kerwer ontvang hy van sy vader, ’n kerwer van funksionele objekte soos lepels en bakke. Benewens ’n tienmaande-werksperiode by ’n steenwerkplaas in 1969 verdien hy sy brood deur kerfwerk. Soos sy vader het hy aanvanklik funksionele objekte gekerf en ook kruike met deksels wat vir medisinale gebruik aangewend is. In ’n opdrag van ’n Soweto-sangoma het hy die medisinale kruike omskep in kruike wat menslike figure uitbeeld. Die koppe, wat as deksels dien, kan afgeskroef word. Dit is bekend as Nyamisoro-figure en dit is met hierdie figure dat hy op die 1985 Tribunaries-uitstalling die aandag getrek het. Die mark verander skielik vir hom – die figure wat vir spesifieke tradisionele gebruik aangewend is, word toe as beeldhouwerke gesogte versamelitems.

Geleidelik het Maswangayi sy mark uitgebrei deur ook groter gekerfde figure van mense en diere te maak wat hy (vir effek) met ’n emaljeverflaag versier het. Hy het op subtiele wyse ook so kommentaar op die sosiopolitieke lewe gelewer – vroeër op gewese politieke leiers soos HF Verwoerd en PW Botha, en later op die sosio-ekonomiese vordering van swart mense. Dikwels het sy werk religieuse onderwerpe en soms is dit ook op sy familiegeskiedenis gerig.

'n Uitstekende voorbeeld van Maswangayi se werk is Jona (sonder jaartal, 1998), wat die Ou-Testamentiese tema verbeeld van Jona in die maag van die vis. Dit is uit ’n enkele stuk hout gekerf en in sy kenmerkende emaljeverf gekleur word. Interessant hier is sy vertolking dat man en vis één is – die lewe van die profeet word nie deur die vis wat hom ingesluk het, geneem nie, maar die vis word deel van ’n groter Goddelike plan om gestalte aan die gehoorsaamheid te gee wat mens en dier aan God onderwerp.

In sy werk Jesus loop op water (1988) word die tegniese vaardigheid van die beeldhouer ten beste verbeeld deur ’n fynbeplande beelding van verskillende objekte, onder meer drie menslike gestaltes uit ’n enkele stuk hout. Die Christus, soos verbeeld in die Lukas evangelie, loop nie net op die water nie, maar domineer ook die oseaan waar mens en dier aan Hom ondergeskik is. Die kleurvolle aanbod van die swart Christus trek dadelik die aandag as fokuspunt van die beeldhouskepping.  

’n Ander boeiende voorstelling binne die mitologie van sy stamverband, is sy Familieboom (sonder jaartal, 1985), wat die vader (sy vader van wie hy sy ambag geleer het) as die dominante pater familias uitbeeld, met sy moeder in die tweede posisie, en die res van die familie, waaruit, elkeen afsonderlik, ’n vertakking van die stamboom groei. Weer eens ’n werk uit ’n enkele stuk hout, en op die agterkant van die werk is sy aantekening dat dit op sy familie sinspeel met ’n verwysing na die Ou-Testamentiese inskripsie wat die belang van die gesin beklemtoon, waarskynlik met die Tien Gebooie as vertrekpunt. (Voorbeeld Familieboom)

Albert Munyai, 1956, Sia Lubuli Vha Fhasi Vhalexho (Leave the gaps in your fingers open to feed the needy), 1999, hout

’n Ander opwindende beeldhouer in hierdie tradisie is Albert Munyai. Hy is in 1958 in die distrik Tengwe aan die voet van die Pileberge in die Noordelike Provinsie gebore, waar hy steeds woon en werk. Hier het hy van sy oupa die tegniek van houtkerfwerk geleer. Hy is ’n kleurryke figuur wat ook as profeet gesien word. Hy word as ’n mistikus beskou met werk wat sterk religieuse temas het. Sy werk word beskryf as spiritueel allegories of simbolies. Hy voel hom sterk verbind aan sy werk en huldig die mening dat werk gestalte vind deur ’n proses van kontemplasie en selfoorgawe – ’n strewe na eenheid met die goddelike. Hy beskou alles – van die onbenulligste tot die sublieme – as heilig.

Sy skeppings in hout word vergestaltings van sy persoonlike narratiewe en lewensfilosofie. Lewe en werk het hy merendeels as één verklaar en dit word vir hom 'n definisie van die self. Die kern van sy siening as kunstenaar is dat God die meesterskepper is en dat alles in die natuur daarom volmaak is. Terselfdertyd beskou hy homself as één met hierdie groter goddelike skeppingspatroon deurdat hy glo dat dit die bron van sy kreatiwiteit verteenwoordig.

Munyai se werk is gevoed deur dié siening, en elke houtkerfwerk het ’n diepe religieuse betekenis. ’n Treffende werk – weer eens uit ’n enkele stuk hout – is Sia Lubuli Vha Fhasie (sonder jaartal, 1999), wat ’n figuur op ’n stoel uitbeeld wat afkyk na figure wat aktief na ’n eindpunt of doelwit beweeg. Dit speel weer in op die posisie van God/Christus wat die mens beskermend koester, maar ook op die gesagsposisie van God in beheer van die mens. Die keuse van die hout speel hier ’n belangrike rol – dit bepaal as ’t ware die raam waarin die handeling tussen God en die mens afspeel. (Voorbeeld Sia Lubuli Vha Fhasie)

Dit is slegs enkele voorbeelde van die boeiende werk wat uit Venda ontstaan en nou deel van die hoofstroom van Suid-Afrikaanse en ook wêreldkuns geword het.

Bronnelys
De Jager, EJ. 1978. Contemporary African Sculpture in South Africa. Fort Hare Papers 6(6).
—. 1992. Images of Man. Contemporary South African Black Art and Artists. Fort Hare University Press.
Rankin, Elizabeth. 1989. Images of Wood. Aspects of the history of sculpture, 20th- century South Africa. Johannesburg Kunsgalery.
—. 1990. Black Artists, white patrons: The cross-cultural art market in urban South Africa. Africa Insight, Vol 20.
Sack, Stephen. 1988. The Neglected Traditions: Towards a new history of South African Art 1938–1988. Johannesburg Kunsgalery.
http://www.mukondeni.com/print/node/104: Albert Munyai