Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays > ’n Nuwe status vir Swartafrikaans?

’n Nuwe status vir Swartafrikaans?


Charlyn Dyers - 2010-04-22

Hierdie essay is ’n hoogs persoonlike beskouing van die volgende twee vrae: Wat is Swartafrikaans, en het dit beskerming en ingryping nodig? My belangstelling in hierdie onderwerp spruit uit ’n onlangse gesprek oor swart Afrikaanssprekendes se groter deelname in die debat oor en vir Afrikaans wat op 17 Maart 2010 by die UWK plaasgevind het. Vir die sameroeper, Lionel Adendorff van die Afrikaanse Beraad, is ’n swart Afrikaanssprekende "enigeen wat hom of haar nie vereenselwig met die wit, blanke of Afrikaner-groeperinge van ons land nie en Afrikaans óf as huistaal, straat-taal óf skryftaal gebruik, of ook net die taal kan praat" (e-pos, 29 Maart 2010).

Uit ’n geskiedkundige oogpunt is dit waar dat die meerderheid sprekers van Afrikaans uitgesluit was van die voordele gekoppel aan die groei van Afrikaans as ampstaal en magstaal. Hierdie marginalisering van swart Afrikaanssprekendes kan gedateer word vanaf die GRA se isolering en standaardisering van ’n bepaalde variant van Afrikaans vanaf 1875, wat gelei het tot die vestiging van Afrikaans as amptelike skooltaal en later as ampstaal. Afrikaner-nasionalisme dryf later die wig nog verder in tussen die sprekers van Afrikaans. Maar Swartafrikaans (ek gebruik hierdie konsep in teenstelling met Wit-, Standaardafrikaans) bly groei, bly lewendig, word ’n skeppingsvorm, word van verhoë, preekstoele en in huise, op straathoeke en in die letterkunde status gegee. Sy streeksvariante ontleen uitsprake en idiome aan ander invloede soos Khoesan en ander inheemse tale asook die tale en tongvalle van slawe en koloniste. Maar terselfdertyd kom die golf van Engels, veral as weerstandstaal, en spoel oor talle swart Afrikaanssprekendes, veral diegene wat in stede woon. Hulle begin hul kinders in Engels grootmaak as deel van hul verset teen die Afrikaner-nasionaliste en apartheid. Hulle praat met opset Engels as hulle die poskantoor of enige staatsinrigting besoek om “die boer agter die toonbank ’n les te leer” vir hul daaglikse dieet van vernedering en smaad. 

Nogtans vind totale taalverskuiwing na Engels nie plaas nie, maar wel net gedeeltelike verskuiwing. Engels word in hul Afrikaanse gesprekke opgeneem en die ryke taalvermenging wat later as Kaaps (waar skei ’n mens tog Kaapsevlakte-Afrikaans van Kaapsevlakte-Engels?) bestempel word, kom tot stand. Maar op die platteland, in dorpies soos Elim, Genadendal, Mamre en Laaiplek, is daar min sprake van taalvermenging en praat die plaaslike mense steeds hul keurige, streeksgekleurde Afrikaans. Hoe dan nie? Het hul voorouers dan nie grotendeels bygedra tot die kreolisering van Nederlands wat uiteindelik tot Afrikaans gelei het nie? En hierdie mense voel vere vir die Afrikaans van die Staat, die Afrikaans wat vaal ministers in strepiepakke en hul akoliete praat, die Afrikaans van die polisie wat jou by stasies uitvloek omdat jy op "Slegs Blankes"-banke gaan sit, en van die manne in die GG-karre wat vir jou kom sê jou geboortedorp is nou wit verklaar en jy moet trek ... Inderdaad, hulle haat hierdie stywe, wreed-klinkende variant wat tereg as die taal van die verdrukker bestempel word en juis vir sy vereenselwiging met verdrukking, onmenslikheid en baasskap vervorm word deur bendelede in die swart lokasies om tsotsitaal te skep waarmee hierdie bendes hul ruimtes vreesagtig domineer … want hiérdie Afrikaans is die taal van vrees. En tot vandag, in die era van demokrasie, voel ek as ’n swart Afrikaanssprekende ’n beklemming, ’n ongemak, as iemand hierdie bepaalde variant praat.

Natuurlik geld my ongemak geensins vir alle variante van die sogenaamde "wit" Afrikaans nie. Die skatkis van Afrikaanse letterkunde, vanaf Uys Krige en NP Van Wyk Louw tot by Small, Krog en Dido, het my lewe intens verryk. Johannes Kerkorrel se pragtige, sielvolle interpretasie van "Al lê die berge nog so blou" het my weersin vir boeremusiek (’n kategorie waarin ek alle Afrikaner-musiek gedompel het) heeltemal verander. Geleidelik het ek meer en meer begin belangstel in die nuwe stemme en skeppers van Afrikaanse musiek. Deesdae dans my familie al te vrolik op die maat van die Baarskeerdersbosorkes, eet ons by kerslig terwyl Nianell sing, en swymel ons oor Chris Chameleon se bollemakiesie-stem. Maar asseblief tog nie "De la Rey" nie!

Maar om terug te keer na Swartafrikaans: Is dit ’n betoog vir die einde van die marginalisering van die spraakgemeenskap, aldus Christo Van der Rheede se bydrae tot die UWK-beraad, of ’n beter status vir Kaaps? Het Kaaps, wat dinamies, hoogs kreatief, en gedurig aan die groei is, sulke ondersteuning nodig? Gaan kyk gerus die stuk Afrikaaps by die Baxter-teater om te sien wat hoogs talentvolle spelers soos die hip-hop-digters en aktiviste Jitsvinger, Emile Jansen en Blaq Pearl met die variant doen! In sy resensie van die "cutting edge hiphopera" beskryf Keylock (Mail & Guardian, 16-22 April 2010, p 13) Kaapsevlakte-Afrikaans (Afrikaaps) as "an outsider language, disenfranchised, marginalised and largely written out of history and contemporary discourse", en skryf verder: "Cape Afrikaans has pretty much been written out of official history, erased from South Africa’s collective consciousness and left to germinate in ghetto culture."

Is die ommeswaai van hierdie toedrag van sake die kern van die probleem, of loop ons die gevaar hier om verdere verdeling te saai onder sprekers van Afrikaans? Kan ons nie net aanvaar dat al die variante van Afrikaans tot die verryking en groei daarvan lei nie? Kan ons variante rigied van mekaar skei wanneer taal soos water vloei waar jy dit nie verwag nie en mensgemaakte konsepte soos taal en moedertaal al hoe meer in die taalwetenskappe bevraagteken word? Moet ons nie liewers kyk hoe die jeug Afrikaans vir kommunikasie aanwend nie, en veral in hulle gunsteling-kommunikasiemedium, die selfoon-/MXit-/Facebook-boodskap? Let byvoorbeeld op hoe Afrikaans gebuig, vermeng en verwerk word in hierdie data uit ’n huidige navorsingsprojek oor mobiele geletterdheid wat aangepak word deur taalwetenskaplikes en ander akademici van die Universiteite van Wes-Kaapland en Kaapstad (konteks: twee selfoonboodskappe van ’n jong dame aan haar kêrel):

Hun x ka dani di air op my phone siti dt werki x try nu ameka ai x wil graag chat

(Skat, ek kan dan nie die lugtyd op my foon sit nie; dit werk nie, ek probeer nou aanmekaar; ai, ek wil graag gesels.)

Hun no need to be dikbek di air wili load op my phone nie da nx wat ek ka doeni mwah x ga j latwiet wane di air geload is

(Skat, dis nie nodig om kwaad te word nie, die lugtyd wil nie op my foon laai nie; daar’s niks wat ek kan doen nie (soentjie); gaan jou laat weet wanneer die lugtyd gelaai is.)

Die skryfster van hierdie twee boodskappe, soos talle ander jong metropolitaanse mense, pas perfek in by Lytra en Jørgensen (2008:5) se konsep van die postmoderne languagers (taligers), wat nie ’n taal praat nie, maar aspekte en uitdrukkings van verskillende tale wat hulle ervaar, vat en vermeng om te kan kommunikeer. Sulke jongmense oefen beheer uit oor hul taal en besluit self wat tale is en wat hulle mag bedoel - wat Stroud (2007:353) linguistic citizenship (taalburgerskap) noem. En sulke taalgedrag vind ons onder alle moderne jongmense, ongeag kleur, kultuur of politieke alliansie.

Dus, terwyl dieselfde taalstryders, wit of bruin, swart of pienk, nog wil argumenteer oor taal en taalregte, het die trein alreeds die stasie verlaat en word dinamiese nuwe dinge met taal gedoen deur diegene wat werklik die toekoms van die tale sal bepaal – die jeug. Of dit die einde voorspel vir "standaard"-tale of die voortdurende groei van nuwe vorme van spreek, skryf en doen, sal slegs die tyd ons leer.

Charlyn Dyers
Iilwimi Sentrum vir Veeltaligheid
Universiteit Wes-Kaapland.

Bronne
Keylock, M. 2010. Evolution of Afrikaans. Mail and Guardian, 16–22 April, 2010.

Lytra, V en J Jørgensen (reds). 2008. Multilingualism and Identities Across Contexts. Cross-disciplinary perspectives on Turkish-speaking youth in Europe. Copenhagen Studies in Bilingualism Volume 45. Faculty of the Humanities: University of Copenhagen.

Stroud, C. 2001. African mother-tongue programmes and the politics of language: Linguistic citizenship versus linguistic human rights. Journal of Multilingual and Multicultural Development,22:339-55.

Van der Rheede, C. 2010. Status van Afrikaans in Suid-Afrika. Beraad vir Swart Afrikaanses, Universiteit van Wes-Kaapland, 17 April 2010.


Gesels saam op Gerrit Brand se LitNet-blog, DinkNet.