Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Die beeldhoukuns van Sydney Kumalo: Op die kruispunt van twee kulture – Afrika en Europa

Die beeldhoukuns van Sydney Kumalo: Op die kruispunt van twee kulture – Afrika en Europa


Amanda Botha - 2010-03-24

In ’n tweede reeks artikels oor Suid-Afrikaanse kuns word weer eens gefokus op die kunswerke in die Sanlam Kunsversameling met Stefan Hundt as kurator. Amanda Botha skryf oor bepaalde kunswerke wat as merkers gesien kan word in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis en verken ook aspekte van die kunstenaar se lewe en werk, om sodoende insig te bied op die invloede wat op die kunstenaar ingewerk het.

 

Sydney Kumalo (1935-1988), wat in Sophiatown, Johannesburg gebore is, het in ’n onderhoud wat in 1972 in Drum verskyn het, vertel hoe hy as skoolseun sy vader, wat ’n huisverwer was, na wit woonbuurte vergesel het en in dié huise sy eerste blootstelling aan kuns gekry het. By die huis het hy dan ure lank geteken wat hy só waargeneem het. By die Madibane Hoërskool het hy kunsklasse bygewoon wat deur ’n Katolieke non, suster Bybrooke van St Cyprian klooster, aangebied is. Sy het aanbeveel dat hy klasse by die Polly Street Kunssentrum in die Johannesburgse middestad moet neem.

As skoolseun sluit Kumalo in 1953 aan by die Woensdagaandklas wat deur Cecil Skotnes, die stigtersdirekteur van hierdie kunsskool, aangebied is. Hy vorder so goed dat hy reeds werk vertoon op die eerste uitstalling van tekeninge en waterverfskilderye wat die studente van Polly Street in die middel-vyftigerjare in die Helen de Leeuw Craftman’s Market aanbied. Die sukses van die uitstalling en die goeie verkope van werk is die eerste bewys aan studente dat ’n lewe uit kuns gemaak kan word.

Dit was veral belangrik vir Kumalo, wat kort daarna met die skielike dood van sy vader die skool moes verlaat om ’n eie inkomste te verdien. Gelukkig kon die Polly Street Kunssentrum aan hom verdere werk bied wat hom as kunstenaar kon vestig.

In die Polly Street Kunsskool is Westerse en Afrika-kunstradisies verken en gemeenplase gesoek om so ’n simbiose tussen die twee tradisies te vind. Die eerste groot opdrag word in 1957 aan die Polly Street Kunssentrum toegeken. Dit word gesamentlik deur Skotnes en Kumalo aanvaar, met studente wat ook daarby betrek word. Dit bied hulle die geleentheid om ’n aansluiting te soek waar Westerse en Afrika-kunstradisies naas mekaar kon staan.

Die Katolieke biskop Gerard van Velsen en die argitek Jan van Gemert vra hulle om  die plafon te versier van die nuwe kerkgebou van St Peter Claver in Seeisoville, buite Kroonstad. Die opdrag was om uitbeeldings te skilder wat vir die swart gemeente relevant sou wees. Met verdere opdragte vir die kerkgebou neem Kumalo onafhanklik die leiding en skep veertien reliëfpanele waarop die Stasies van die Kruis uitgebeeld word, asook twee vrystaande beeldhouwerke van Christus en Maria.

In 1958 verkry Kumalo ’n verdere opdrag van Van Gemert om reliëfpanele en beelde vir die St Martin de Porres-kerk in Orlando te ontwerp. ’n Bepaalde Christelike Afrika-estetika het so ontwikkel, waarvan hy ’n voorloper was. In dieselfde jaar word hy aangestel as kunsorganiseerder om Skotnes by Polly Street by te staan. Kort daarna het hy ook self klas begin gegee. In Polly Street het die klem geval op die onderrig van teken-, waterverf- en modelleerwerk. Vir laasgenoemde is steenmakersklei gebruik wat geredelik in die stad beskikbaar was. Kumalo was dadelik aangetrokke tot modellering met klei. Hy is bygestaan deur Skotnes, wat van die beelde afgietsels in gips gemaak het wat later in beton en terrazzo gegiet is.

As beeldhouer het Kumalo soveel potensiaal getoon dat Skotnes gereël het dat hy van 1958 tot 1960 twee keer per week deur Edoardo Villa in beeldhoutegnieke onderrig word.  Hoewel Villa in hierdie tydperk met gesweiste metaal begin eksperimenteer het, het Kumalo by gipswerk gebly. Hy het wel by Villa geleer hoe om armatuur te benut wat groter werke se struktuur verstewig het.

Terra cotta was later sy gekose medium wat later in brons gegiet is. Hy was bekend vir die noukeurige verfyning wat hy altyd aan die model en die gegote beeld gegee het. Die bronsbeelde het hy met ’n donker patina afgewerk.

Dit is ook bekend dat Kumalo by die gietery nog aan die wasmodelle gewerk het.  Volgens Carlo Gamberini van die Vignali Gietery het hy selfs met ’n saaglem aan die wasmodelle gewerk om ’n eiesoortige karakter aan die oppervlaktekstuur te verleen. Later het hy selfs met ’n rasper en vyl die oppervlakke glad geskuur.

In haar studies wys die kunshistorikus Elizabeth Rankin daarop dat Kumalo
aangetrokke was tot bepaalde Afrika-kuns-konvensies wat die tekstuur van die terra cotta of bronsbeelde beïnvloed het. Haar suggestie is dat dit ook ’n nostalgiese teruggryp is na die kerftegnieke wat tradisioneel deel van Afrika-kuns is.

Sydney Kumalo, Horse, c 1965, brons, Sanlam-kunsversameling

’n Voorbeeld hiervan is die werk Horse, 1965 [1] wat die duidelike kerftekstuur toon en herinner aan klassieke Afrika-beeldhouwerk en -mitologie.

Kumalo se eerste publieke opdrag was vir ’n beeld vir die Unie Pawiljoen by die Randse Paasskou in Milnerpark in 1960. Twee jaar later debuteer hy met sy eerste solo-uitstalling by Egon Guenther Galery in Johannesburg. By die uitstalling, wat geopen is deur die musikant Khabi Mngoma, wat later professor in musiek sou word, word Kumalo se werk verbind aan die “verbeeldingryke en spirituele erfenis” van sy voorgeslagte. Mngoma maak die vindingryke opmerking dat hoewel die kunstenaar in ’n stedelike milieu woon en hy daardeur geslyp is en ook deur wit onderwysers onderrig word, hy nie ’n “tribal artist” is nie. Ook het hy nie voeling met sy swart agtergrond verloor nie.

Hy bly tot 1964 verbonde aan die Polly Street Kunssentrum, wat in 1962 onder die toepassing van die Wet op Groepsgebiede vanaf die Johannesburgse middestad na die Jubilee-sentrum in Soweto verskuif het. (Die naam Polly Street as verwysing na die kunssentrum het egter behoue gebly.) Hierna rig hy ’n ateljee in en begin onafhanklik as kunstenaar werk.

Kumalo het sy eerste drie solo-uitstallings in 1962, 1966 en 1967 onder die vaandel van Egon Guenther aangebied. Hy was ’n stigterslid van die Amadlozi Group wat in 1963 en 1964 in Italië uitstallings aangebied het. In 1965 is sy werk gekies vir die African Painters and Sculptors from Johannesburg Exhibition wat in Londen aangebied is. Hy verteenwoordig Suid-Afrika op die Venesiese Biënnale in 1966 en die Contemporary African Art Exhibition in die Camden Arts Centre in 1969 in Londen. Hy neem in 1967 aan die São Paulo Biënnale deel en in 1971 en 1981 aan die Republiekfees se nasionale uitstallings. In 1981 word sy werk opgeneem in die seminale Black Art Today Exhibition in Soweto, wat ook in Botswana aangebied is.

Hy het verskeie geleenthede gehad om oorsee te reis. In 1967 besoek hy Europa, en drie jaar later bring hy as gas van USSALEP besoek aan Europa en Amerika. In die sestigerjare het hy ook gereeld aan groepuitstallings by die Grosvenor-galery in Londen deelgeneem en redelik goed verkoop. In 1985 volg ’n laaste besoek aan die VSA. Hierna vestig hy en sy gesin hul in Molofo-Noord op die Witwatersrand. Op 11 Desember 1988 sterf hy ná ’n kort siekbed.

Sydney Kumalo word hoog aangeslaan in die Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap – baie sien hom ook as doyen van Suid-Afrikaanse swart beeldhoukuns. Hy het ’n belangrike invloed uitgeoefen op Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Ezrom Legae, Leonard Matsoso en Louis Maqhubela, terwyl hy vir ’n jonger geslag kunstenaars soos Vincent Baloyi ’n rolmodel was.

Kumalo was ’n intense waarnemer van die lewe. Vir hom was die menslike vorm die beste uitdrukkingsmiddel vir sy artistieke gevoel. Sy kuns kenmerk ’n opregte en sensitiewe persoonlike visie van en ingesteldheid op die lewe. Daar is getuienis van ’n sterk en onafhanklike verbeelding en die vermoë om spirituele en emosionele eienskappe en konsepte in suiwer estetiese vorme te vergestalt. Hy het ’n fyn oordeelsvermoë gehad en was bewus van waartoe hy as beeldhouer in staat was. Sy beeldhouwerke dra die wesenstrekke van suiwer estetika wat aan sy werke ’n waardigheid, spiritualiteit en universaliteit gee en met die beste in klassieke Afrika-kuns vergelyk kan word.

Hoofsaaklik twee temas het Kumalo geïnteresseer: die menslike figuur en die dier – laasgenoemde dikwels vergestalt in ’n antropomorfiese vorm. Binne die Afrika-kultuur, veral in sy rituele, mitologie en kuns, kan mens en dier verskillende rolle vertolk en so verskillende verbeeldings- en simboliese waardes aanspreek. Dit is duidelik in Kumalo se werk dat hy dit goed begryp dat mens en dier ’n verwantskap het, en in sy werk is hulle verweef om vorm gee aan ’n aardse realistiese uitdrukking.

Sydney Kumalo, Man and Beast, c 1981,brons, Sanlam-kunsversameling

Hiervan is die werk Man and Beast, bons, 1981 [2],’n goeie voorbeeld.

Kumalo se werk is grootliks selfverklarend en het ’n onmiddellike impak op die kyker. Sy sukses is daarin geleë dat hy aspekte van twee verskillende style – Westers en Afrika – in ’n nuwe sintese verbind. Sy vorms evolueer uit tradisionele Afrika-beeldhoukuns wat hy met Europese beeldhoutradisies verweef. By laasgenoemde vind hy aansluiting by die Duitse Ekspressionisme, spesifiek by Ernst Barlach, Jacob Epstein en Henri Laurens.

In Kumalo se latere werk is ’n dinamiese ritme wat wegbreek van die statiese rigiditeit van stamverwante kerfwerk na ’n gesofistikeerdheid van verstedeliking. Hy staan op die kruispunt van twee kulture. Sy driedimensionele werk word gekenmerk deur ruimtelike vlakke en kontoere. Die kyker is bewus van die fyn ruimtelike spanninge tussen die subtiele asimmetriese vorme wat hy verbeeld.

Soms is daar ’n gevoel dat sy werk uit ’n boomstomp gebeeldhou word, al is hout nie sy medium nie. Die natuurlike beperkings van die boomstomp is van fundamentele belang in tradisionele en klassieke Afrika-beeldhoukuns. In Kumalo se werk tref ’n mens dit in die silindriese vorm van die menslike figuur aan – in die soliditeit van die massa; die afwesigheid van enige noemenswaardige buitebeweging van die sentrale spil van die stuk en in die bonkige, kort ledemate.

In sy werk het hy baie van die formele estetiese kenmerke van die klassieke Afrika-beeldhoukuns opgevang. Hy gebruik byvoorbeeld ’n sekere distorsie van die langwerpige torso, wat aan sy werk ’n bepaalde monumentaliteit en eenvoud van vorm gee. In die algemeen is baie van die gesigte van sy beelde soos Afrika-maskers. Die gebruik van komposisionele aspekte van sekere klassieke Afrika-beeldhoukuns - soos om die arms aan die res van die liggaam te heg - kom ook duidelik in sy werk na vore.

Sydney Kumalo, Woman with Bird, 1977, brons, Sanlam-kunsversameling

’n Voorbeeld hiervan is Woman with Dove, 1977 [3], wat ook aanklank vind by die werk van die Britse beeldhouer Henry Moore.

Hy het ’n baie persoonlike en inheemse styl ontwikkel wat gekenmerk word deur sy eie innovasies en uitvoering. Sy werk weerspieël nietemin ’n baie intieme begrip van klassieke Afrika-kultuur se onderliggende beginsels, eienskappe en waardes. Hy het dit geassimileer en selfs daarop voortgebou. Dit het die uitnemendheid van sy werk verhoog, en in die wyse waarop hy die verlede en die hede suksesvol geïntegreer het, is hy ’n toonbeeld van ’n kunstenaar wat die twee wêrelde – kontemporêre 20ste-eeuse kuns en antieke Afrika-kuns - by mekaar kon laat aansluit.

As tekenaar was hy ook baie behendig. In latere jare het hy heelwat werk in gemengde media geskep wat in die algemeen goed ontvang is op uitstallings in Johannesburg. Sy tekeninge het steeds die menslike figuur as middelpunt gehad – dikwels beeldhoukundig in voorkoms met sterk vorme.

Sydney Kumalo, Untitled, 1973, gemengde media op papie, Sanlam-kunsversameling

Die tekening, wat ongetiteld [4] is, toon die vervlegting van menslike en dierlike vorme.

Kumalo se kuns word deur sy estetiese voorkeure gelei. Hy  het ’n outentieke figuratiewe ekspressionisme, ’n fundamentele kwaliteit van die 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse swart beeldhoukuns, ontwikkel. In baie opsigte het hy ’n kontemporêre of moderne inheemse Suid-Afrikaanse beeldhoukuns ingelui. Dit het hy gedoen deur  ’n besondere assimilasie van klassieke Afrika-kuns en die waardes van Westerse kuns. Sy bydrae lê juis in die legitimiteit van dié kruisbestuiwing. Tereg het hy in sy leeftyd vele toekennings vir sy werk ontvang.

Bibliografie

De Jager, EJ.,1992. Images of Man. Contemporary South African Black Art and Artists. Fort Hare University Press in assosiasie met die Fort Hare-stigting.

Drum, 8.12.1972, pp 43-44.

Harmsen, Frieda (red). 1996. Cecil Skotnes. SA Nasionale Galery, Kaapstad.

Hobbs, Philippa en Elizabeth Rankin. 1997. Printmaking – In transforming South Africa. David Philip, Kaapstad.

Miles, Elza. 2004. Polly Street. The Story of an Art Centre. The Ampersand Foundation, Johannesburg.

—. 1997: Land and lives. A story of early black artists. Human & Rousseau, Kaapstad, en Johannesburg Kunsgalery.

Nel, Karel, Elizabeth Burroughs en Amalie von Maltiz. 2005. Villa at 90. His life, work, and influence. Jonathan Ball Publishers, Johannesburg en Shelf Publishing, Johannesburg.

Rankin, Elizabeth. 1989. Images of Wood. Aspects of the history of sculpture, 20th-century South Africa. Johannesburg Art Gallery.

—. 1994. Images of Metal. Post-War sculptures and assemblages in South Africa. Witwatersrand University Press, Johannesburg.

Sach, Steven. 1989. The neglected tradition. Towards a new history of South African Art (1930–1988). Johannesburg Art Gallery.

 

Afbeeldings

  1. Sydney Kumalo, Horse, c 1965, brons, Sanlam-kunsversameling
  2. Sydney Kumalo, Man and Beast, c 1981,brons, Sanlam-kunsversameling
  3. Sydney Kumalo, Woman with Bird, 1977, brons, Sanlam-kunsversameling
  4. Sydney Kumalo, Untitled, 1973, gemengde media op papie, Sanlam-kunsversameling

(Voorbeelde van Kumalo se werk is uit die Sanlam Kunsversameling)

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<