Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Antony Hegarty, die nuwe enigma

Antony Hegarty, die nuwe enigma


Annemarié van Niekerk - 2010-02-19

Antony Hegarty sleur die wêreld mee. Sy sang dryf mense tot poëtiese uitsprake of majestueuse metafore. So beskryf NRC Handelsblad in Nederland byvoorbeeld onlangs sy stem as ’n katedraal.
 
Om na Antony se falsetstem te luister, is inderdaad soos om heilige grond te betree, om jou skoene in eerbied te wil uittrek, want hy kom uit by plekke in jou siel wat jy al van vergeet het.

Eintlik ontglip Antony alle definisies. Hy hoort nêrens en orals. Nie net in ’n katedraal nie, maar ook in ’n operahuis, of die natuur, of tussen die graffiti van seedy klubs. Soos dié van die Lower East Side waar hy die transvestiete onderwêreld soos ’n tweede huid leer ken het. Nie onverwags nie, want van kindsdae af het hy sy refleksie in die beeld van Boy George gesien – die behoefte aan ’n identiteit van andersheid, die droom om iets buite homself te wees, die verlange om hom in ’n ander lewe te projekteer.

Dis daar in die klubs van New York City se East Village waar hy as eksentrieke twintigjarige sy lewe as kunstenaar begin het. Aanvanklik nog as intermezzo tydens extravaganzas met naakte manne – ’n misterieuse wêreld van kamoeflering, kostuums en maskerades. Omdat hy self met sy seksualiteit speel, het hierdie wêreld Antony se androgene wese soos ’n handskoen gepas. Soms is hy man. Dan weer vrou. En by tye dra hy die onskuld van ’n ietwat verbaasde kind.

Hy is nie net in sy identiteit vrydrywend nie, maar ook in sy musiek, want soms loof die klank wat hy voortbring, die lewe, en dan weer klink dit soos die pyn van ’n verwonde dier – iets wat lank nadat jy opgehou luister het, in jou maag bly vassteek. Jy kan hom nie vasvat nie. Sy groep, Antony and The Johnsons, waarby hy sanger en komponis is en dikwels ook die klavierbegeleiding doen, word getipeer as ’n sogenaamde New Weird America band, ’n musiekgenre wat teen 2000 ontwikkel het en veral gekenmerk word deur eklektisisme.

Dat jy Antony nie in ’n blik met ’n etiket kan druk nie, is ook te sien in sy gehore. Diegene wat hy in sy ban het, kom uit alle ouderdomsgroepe en alle lae van die musiek- en kunswêreld. Dis ’n mengelmoes van jongmense, ouer garde, weirdo’s, musiekpuriste, freaks, klassici, homoseksuele, heteroseksuele, transvestiete, getatoeëerde liggaamsbouers, bleeksiele met swart kringe om hul oë, iedereen.

Antony is gebore in 1971 in Sussex, Engeland. Op sy tiende het hy saam met sy gesin na die VSA verhuis, waar hy later eksperimentele teater aan die Universiteit van New York studeer het. In hierdie tyd het hy ook begin met ’n eksperimentele teatergroep, Blacklips. Hierna beland hy in die klubs van die Lower East Side, waar hy meer as tien jaar lank opgetree het.

En toe, in 1998, het Antony saam met The Johnsons sy CD-debuut gemaak. Maar dit het tot 2003 geneem voordat sy ware talent opgemerk is deur Lou Reed en Hal Wilner. Hulle het hom ’n rol aangebied in Reed se wêreldtoer van The Raven, ’n Edgar Allan Poe-projek, en toe was daar aan sy gewildheid geen keer meer nie.

Sy groot deurbraak het in 2005 gekom met die verskyning van sy CD I am a Bird Now, ’n album waaraan Lou Reed, Boy George, Rufus Wainwright en Davendra Banhart meegewerk het. Hierdie album het die musiekwêreld laat sidder en dit was vanselfsprekend dat dit met die Britse Mercury Prize vir die beste album van 2005 bekroon sou word.

Benewens fassinerende lirieke gebruik Antony ’n sangregister waarby hy resonansie op so ’n manier gebruik dat dit byna bomenslik oorkom. Dié resonansie produseer hy in die holtes van die mond en neus, eerder as in die bors soos wat dit konvensioneel gedoen word. Boonop gebruik hy sy stembande op so ’n manier dat hy dun, yshelder klankvlakke produseer, klank wat byna hang (die Engelse woord “hover” beskryf dit eintlik beter).

Inspirasie vir sy I am a Bird Now-album het hy uit sy innerlike lewe geput, sê hy in ’n onderhoud, en hierin betrek hy veral die tema van transgressie: geslagtelike transgressie, maar ook die oorgaan van lewe tot dood.

Hy laat die seedy klubs agter en begin sy verskyning maak op belangrike podiums soos dié van Carré in Amsterdam. Daarna het Carnegie Hall en operahuise wêreldwyd vir hom die deure oopgemaak.

Vir dié wat al deur hom betower is, is daar goeie nuus, want sy splinternuwe album, The Crying Light (2009), het die lig gesien, ’n CD wat hy self as “pastoraal” bestempel en – anders as die binnewêreld-inspirasie van sy vorige – oor sy verhouding met die wêreld handel. Die transgressie-tema is hier natuurgerig en handel veral oor die siklusse van die seisoene, oor verval en vernuwing. Hy verduidelik in ’n onderhoud dat hy hiervoor spesifiek instrumente gebruik het wat die effekte van “landskaplikheid” oproep, soos orkesfragmente wat ’n bosagtige atmosfeer skep – die suggestie van ’n oop ruimte met daaromheen die aanwesigheid van ’n woud.

Maar alle kunstenaars het ghoeroes. Bronne van inspirasie. Elektrisiteitsgeleiders. So ook Antony. Syne is die Japanse danser Kazuo Ohno, wat ná die Tweede Wêreldoorlog een van die grondleggers van butoh was – ’n dans wat gaan oor die “kontak met die hede”. Van Ohno het Antony geleer om meer bewus te word van sy eie verbondenheid met alles om hom in die natuur: ’n boom, ’n vis, ’n voël, ’n plant; maar ook ander gewone dinge: ’n tafel, ’n stoel, ’n vaas – ’n verbondenheid wat ’n gevoel van vertroue en veiligheid gee, sê hy. As kind het hy ’n poster van Ohno bo sy bed gehang, en vandag gebruik hy, as huldeblyk, die intussen 104-jarige danser met ’n witgeverfde gesig, onherkenbaar as man of vrou, op sy CD-omslae.

Antony verduidelik dat butoh die voortvloeiing is van dit wat jy om jou beleef, of wat jy in jou geestesoog beleef. So het Kazuo Ohno se dans op die podium dikwels plaasgevind onder vervoering van die gees van sy oorlede ma of ouma: “In performance I watched him cast a circle of light upon the stage, and step into that circle, and reveal the dreams and reveries of his heart. He seemed to dance in the eye of something mysterious and creative; with every gesture he embodied the child and the feminine divine. He’s kind of like my art parent,” sê Antony. Soos wat Ohno sy dansbewegings laat inspireer deur sekere beelde, so ook laat Antony sy sang inspireer deur beelde: “As ek staan en sing dink ek: ’n swerm ganse vlieg deur my bors.”

Antony kom staan nie op ’n verhoog om net vooraf ingeoefende klanke voort te bring nie. Deels wel, maar veral laat hy sy stem reageer op die stemming wat sy gehoor uitstraal. So tree sy stem in interaksie met dit wat hy om hom voel en die beelde wat dit by hom oproep. Elke uitvoering word iets unieks. Daarom is dit nie vir hom maklik om in ’n siellose studio op te neem nie. Daar moet hy staatmaak op die beelde in sy kop, verduidelik hy: om in ’n studio te sing is soos om vlinders te vang, sê hy.

As jy Antony nog nie ken nie, is dit hoog tyd dat jy jouself die guns bewys om deur sy klokstem meegesleur te word na daardie rou binnewêreld waar jy vreemdeling voel, maar terselfdertyd ’n intieme tuiskoms ervaar.