Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Onderhoude | Interviews > Valium vir die siel – Albert de Vos oor Gemengde gevoelens

Valium vir die siel – Albert de Vos oor Gemengde gevoelens


Sonja Badenhorst - 2010-02-17

Woordskilder en sosiale kommentator Albert de Vos het reeds drie CD’s op sy kerfstok. Sonja Badenhorst het agter die vlymskerp lirieke van CD nommer drie, Gemengde gevoelens, die man van min woorde probeer opspoor en neerpen.

 


 

Hoe vergelyk Gemengde gevoelens se inslag met Diep Karoo en Wolfman op musikale vlak, sowel as liriekgewys?

Musikaal is Gemengde gevoelens meer gestroop as die vorige albums in die sin dat daar van baie minder ekstra instrumente gebruik gemaak is en op die helfte van die snitte is daar net kitaar en stem. Aanvanklik was ek bekommerd dat die snitte waar daar net kitaar en stem is, gaan afsteek teen die ander, maar dit het goed gewerk.

Lirieksgewys sal ek sê dat Gemengde gevoelens meer persoonlik van aard is, terwyl daar op die ander meer geneig word na sosiale kommentaar.

Bekende oudlid van die Johannes Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band, Willem Möller, het, soos met jou vorige twee CD’s, ook die opname van Gemengde gevoelens behartig. Wat bring Willem na die tafel met sy opnames behalwe sy ondervinding?

Ek het 'n baie groot respek vir Willem as 'n musikant en ook vir sy aanvoeling vir wat ek probeer doen. Veral op Wolfman het Willem 'n baie groot rol gespeel by die verwerkings van die liedjies.

Smaak verskil natuurlik, en sommige mense verkies die unplugged weergawes, maar vir my was dit baie opwindend om die liedjies op Wolfman te hoor verander van die oorspronklike na die finale produk.

Diep Karoo is baie spesiaal vir my omdat dit opgeneem is by Willem se oorspronklike Sharp Studios in Sharpstraat, Yeoville, en sonder die moderne rekenaartegnologie. Baie goeie musikante is op Diep Karoo gebruik en Willem se kitaarspel is uitstekend. Ongelukkig het ek nog net 'n paar van daardie CD's oor.

Jou musiek word telkemale vergelyk met dié van Bob Dylan en jy het inderwaarheid ook Dylan se “I want you” op Gemengde gevoelens verwerk as “Ek wil jou hê”:

die beskonke saligmaker leun
teen die muur waar die moeders ween
en die vas-aan-die-slaap verlosser
wag vir jou en ek wag vir hom.

Het jy besluit om “eg” te bly aan Dylan se weergawe of wou jy eerder jou eie interpretasie weergee?

Daar is al klaar mense wat dink dit is heiligskennis om Dylan te vertaal, so ek het  liewer so na as moontlik aan Dylan se lirieke probeer bly. Die oorspronklike "I want you" word redelik vinnig gespeel, maar ek hou meer van die stadiger weergawe wat Dylan later gedoen het en het die liedjie dus stadig gedoen.

Ek bly hier in die land van skatryk, brandarm, braaivleis en doodslag
My vriend het sy werk verloor en nou’s hy op die hawe 'n nagwag
Snags luister hy na die liedjies op RSG
Gee, gee, gee …

("Een setlaar, een kitaar")

Een setlaar een kitaar” is (klaarblyklik) geskryf na aanleiding van Jeanne Goosen se verwysing na “ouens wat nie kan sing nie". As 'n mens luister na Cohen en Dylan as voorbeelde, het hulle onvermoë om te sing (in die konvensioneel-aanvaarbare wyse in elk geval) hulle geensins gekniehalter in hulle sukses nie. Hul sukses is eerder in die gewig van hulle lirieke. Sou jy saamstem hiermee, en hoe belangrik is lirieke vir jou in vergelyking met die melodie van 'n snit?

Ek kan verstaan dat iemand wat van opera hou, met 'n ander oor na 'n sangstem luister, maar vir my is daar ook tog iets moois in hoe Dylan en Cohen sing, en dit is nie net hulle lirieke wat maak dat ek van hulle hou nie. Op papier kan 'n Dylan-liriek dalk ook glad nie na poësie lyk nie, maar saam met die musiek en met die gevoel waarmee hy dit sing, verander dit na iets heel anders. So ek sou sê die lirieke en die melodie en hoe die liedjie uitgevoer word, werk alles saam, en dit is dalk waar lirieke van suiwer poësie verskil.

Soos bogenoemde twee legendes is jy ook bekend vir jou skerp, soms aweregse humoristiese blik op die alledaagse lewe en ook jou interpretasie van jou omgewing. Op Gemengde gevoelens is “Krismisdaad” – die storie van iemand wat 'n verleidelike duimgooier optel een Kersfees en op die ou end meer kry as waarop hy gereken het - 'n sprekende voorbeeld. Dink jy humor, en meer spesifiek die swart variëteit, sowel as sosiale kommentaar is nodig in ons huidige samelewing ter wille van oorlewing (of dalk net om onsself minder swartgallig te laat voel)?

Laas Kersfees het ek 'n ryloper opgelaai,
Hierdie Kersfees gaan ek na die suburbs vir 'n braai.

"Krismisdaad" is 'n ware verhaal en omtrent my enigste ontmoeting met misdaad in Gauteng. Wat vir my vreemd was, is dat ek ná die onsmaaklike insident geensins ontsteld was nie en die volgende dag lirieke van die ondervinding gemaak het. Ek dink dus humor is goeie gereedskap waarmee onaangename dinge mee verwerk kan word, maar dit kan maklik oppervlakkig word of neig na blote grappigheid. Liedjies, en miskien veral Afrikaanse musiek, word dikwels geassosieer met vrolikheid en grappe, en dié kere wat ek optree, voel ek altyd gedwing om humor ook in te gooi. Dalk lees ek maar net die gehoor verkeerd en is dit my eie persepsie. Ek weet nie.

Twaalf snitte op Gemengde gevoelens is oor 'n tydperk van ses jaar bymekaargemaak en lewe gegee op papier. Is die skryf van lirieke vir jou iets wat natuurlik kom klop aan jou deur in die vorm van 'n muse, of moet jy jouself dissiplineer om tot skryf te kom?

Ek suig nie gewoonlik ’n liedjie uit my duim nie. Wat al dikwels gebeur het, is dat ’n enkele reël na my kom na aanleiding van een of ander persoonlike ondervinding en dan brei ek uit daarop. Omdat ek ’n persoon van min woorde is, voel dit gewoonlik aanvanklik of ek net een versie sal kan skryf, maar dan kom die res verbasend vinnig. Wat dikwels tyd neem, is die melodie en die ritme; vir die liedjie "Langafstandliefde" het ek eers na ongeveer ’n jaar die regte wysie en ritme gekry.

Andries Bezuidenhout het by geleentheid gesê: “Ons probeer deur musiek om die raakpunte tussen digkuns en melodie te ontgin.” Vind jy soms inspirasie in digkuns, en is jy al in die versoeking gelei om 'n Afrikaanse gedig te toonset?

Digkuns is 'n belangstelling van my, maar ek is nie 'n letterkundige nie en sal nie voorgee om 'n digter te wees nie. Ek kan dalk van rymmelary beskuldig word, maar soos Bob Dylan hou ek van rym in my lirieke. Die rym moet egter in toon val met die lirieke en nie die stemming daarvan versteur nie. Wat die toonset van Afrikaanse gedigte betref, dink ek nie dat die soort folk-blues musiek wat ek doen sal gepas wees nie. 'n Mens moet dit maar los vir iemand soos Laurinda Hofmeyr.

Amper almal is huis toe, dis byna middernag
dis net die bittereinders wat vir iets wag
en die laaste paartjie swaai oor die vloer
terwyl Marilyn Monroe oor my skouer loer
ek sal haar graag huis toe wil neem
maar die kanse lyk flou
dis net die duiwel in haar oë
wat my hier hou.

("Die duiwel in haar oë")

In jou musiek speel vrouens – in watter vorm of gedaante ook al - 'n groot rol. Is hulle 'n belangrike (en moontlik onontbeerlike) katalisator tot jou musiek?

Dit is seker die moeilikste een wat jy my vra. Op Diep Karoo en Wolfman het ek nie eintlik van vrouens gesing nie, maar wel op Gemengde gevoelens. My lirieke is negentig persent outobiografies, maar om die stories agter die liedjies te vertel, voel ek, sal van die magic wegneem - elkeen wat daarna luister moet maar sy eie storie opmaak. Ek kan ook probeer slim wees en sê dat die vrouens simbole is vir die vroulike skaduwee in my onderbewuste ... of so iets.

Nou hiermee saam verwys jy ook gereeld na die demone/duiwel en die ewige versoeking. Is die struggle tussen goed en kwaad vir jou 'n ewe belangrike onderwerp om aan te raak in jou musiek?

Ja, dit is beslis 'n tema al van Diep Karoo af. Ek het gemengde gevoelens oor wat goed en wat kwaad is en is geïnteresseerd in die grys gebied waar 'n mens nie seker is of jy te doen het met (metafories gesproke) 'n engel of 'n demoon nie. Ek het baie godsdienstig grootgeword en baie te doen gekry met charismatiese kerke, en vandaar al die Bybelse verwysinge in my lirieke.

Elf uit die 13 snitte op die CD is Afrikaans. Hoekom die behoefte om twee Engelse (en waarvan een 'n vinniger, meer “upbeat” inslag het) by te gooi?

Ek het 'n aantal Engelse liedjies onlangs geskryf en dit is amper asof sommige lirieke na my toe kom eerder in Engels as Afrikaans.

Die titel Gemengde gevoelens verwys onder andere ook na die twee verskillende tale. Suiwer Afrikaans is vir my belangrik in 'n sekere konteks, maar wanneer ek lirieke skryf is dit meer in die alledaagse praattaal – alhoewel ek dit probeer vermy om te veel Engelse woorde in my Afrikaanse liedjies te gebruik.

 

Jy’s eintlik 'n apteker van beroep – of dalk eerder 'n musikant wat "moonlight" as 'n apteker bedags. Skiet jou lirieke wortels as weerstand teen 'n grotendeels klinies-wetenskaplike omgewing, of waar kry jy inspirasie?

Ja, gedeeltelik is die musiek 'n teenvoeter vir die soort werk wat ek doen, maar ek dink selfs al het ek 'n meer kreatiewe beroep beoefen, sou ek nog steeds musiek en lirieke as 'n emosionele uitlaatklep nodig gehad het.

Jy het in 'n vorige onderhoud gesê dat sing vir jou meer as 'n stokperdjie is, maar eerder deel van jou persoonlikheid en siel. Loop 'n musikant nie hierdeur die gevaar om as’t ware ingesluk te word deur dit wat hom voed nie? Waar trek jy die streep – of is dit nodig vir die kreatiewe proses om nie die streep te trek nie?

Ek besef dat my lirieke dalk te persoonlik kan raak en dan nie betekenis vir iemand anders gaan hê nie, en ek moet oppas daarvoor. Verder verander ’n mens se emosies ook met tyd en kan dit gebeur dat dit half moeilik raak om ou liedjies met oortuiging te sing. So, dit is dalk nodig om in die kreatiewe proses ’n streep te trek.
  • Wolfman en Gemengde gevoelens kan afgelaai word by www.rhythmrecords.co.za en Diep Karoo behoort ook binnekort daar te wees. Vir inligting oor optredes kan mense aansluit by die Facebook fan page (Albert de Vos) en van die e-pos-opsie gebruik maak indien CD’s per pos bestel wil word. E-pos: [email protected]