Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Jan Leendert: 'n verhaal sonder politieke magsbeheptheid en rasseskeiding


Theo Kemp - 2009-11-26

Resensie: Jan Leendert
Lategan P Bredenkamp
Protea Boekhuis, 2009
ISSN: 9781869192662

 

“Met sy kar en vier donkies het hy op ons plaas aangekom op soek na werk; gekom uit die verre Boesmanland, die bruin man en sy vrou.”

Só lui die bykans sprokiesagtige openingsin van Lategan Bredenkamp se Jan Leendert, waarmee hy op die merkwaardige ouderdom van 81 debuteer. Soos baie ander dun boeke wat so dan en wan op jou bedkassie beland, het ek gehoop dat dit ook een van daardie klein stories sal wees wat ’n groot en blywende verhaal in min woorde vir jou bring.

Op een vlak is Jan Leendert ’n sjarmante boek wat jou baie meer vertel as die 96 bladsye wat dit lank is. Die verteller, Pieter, en sy gesin se lewens op hulle skaapplaas in die dorre Karoo verander onvermydelik die dag as Jan Leendert en sy vrou, Katrien, hulle opwagting maak. Jan kom bied sy werk aan en, anders as wat ’n mens van so ’n baas-en-klaas-verhouding sou verwag, staan hy geensins terug vir Pieter se streng pa nie. Inteendeel. Jan maak dit baie duidelik dat hy nie net ’n werker is wat smeek om ’n paar aalmoese nie. Hy is selfversekerd en bepaal self wat hy in rand en sent werd is. Jan verduidelik dat hy “nie sommer enige plek werk nie” en dat hy “partikulêr” is oor die werke wat hy aanpak (10). Hy bevestig dan ook dat sy prys hoog is, want “skaap oppas is belangrike werk. As ’n man wil hê sy skaap moet goed na omgesien word, moet hy daarvoor betaal. Ek sal goed na die skape kyk, maar ek vat g’n nonsies nie” (11).

So stel Jan homself op gelyke vlak aan met die verteller se pa en raak hy vinnig ’n onmisbare deel van die boerdery. Jan se manmoedigheid lei daartoe dat hy onuitwisbare merke op die plaas laat – hy bou onder meer vir homself ’n baksteenhuis en span kampe vir die skape. Maar méér nog: sy identiteit word so met sy nuwe landskap geïntegreer dat hy die plaas opnuut be-teken. Oor die name wat Jan aan die verskillende dele van die plaas gee, sê Pieter dat dit “gekoppel is aan die topografie van die plaas, of aan ’n gebeurtenis wat in of naby die paadjie plaasgevind het” (28–9). Die verteller erken dat “name soos Slangpad en die Erdvarkpad onverstaanbaar [is] vir dié wat nie die geskiedenis geken het nie” (29).

Dit is nie net Jan en Katrien se koms wat Pieter en sy ouers se afgesonderde wêreld binnetree nie. “In die agtergrond het die [Tweede Wêreld-] oorlog aangehou en aangehou voortsleep soos ’n plaag of ’n siekte wat maar net nie wou genees nie,” vertel Pieter (59). Weer eens is dit Jan se dinamiese teenwoordigheid op die plaas wat die “Grootman” (soos Jan onder andere na Pieter se pa verwys) toelaat om vir ’n lang tydperk as offisier in die oorlog deel te neem. ’n Oorlog wat niks met ons te make het nie, soos Grootman erken as hy die dag weer terug is by Jan op die plaas. Volgens Pieter het die oorlog nie net ’n slegte uitwerking gehad nie: die nabye kontak met die dood het sy pa “akuut bewus gemaak van die kortstondigheid van die lewe” en hy het nou ook “meer kontak gesoek met sy medemens” (68).

Jan wil egter nie net sy merk op die plaas laat nie, maar wil graag ’n erfgenaam hê. Katrien kan nie swanger word nie, en sonder om die onthutsende slot te verklap, is dit hier waar Jan se “ordentlikheid” (soos hy homself aan die begin van die boek voorstel) begin verkrummel.

Hierdie boek kan vir seker nie ’n prys wen vir politiese korrektheid nie – daarvoor is hier hopeloos te veel verwysings na “Baas”, “Miesies”, “Jong” en variasies van “Grootman” as aanspreekvorme. Alhoewel die twee hardkoppige mans se vroue uit eie reg sterk is, leef hulle vir ’n groot gedeelte van die verhaal hulle mans se lewens. Maar die verhaal is genadiglik veel meer as net ’n oppervlakkige lees van politieke korrektheid werd. Want dit is juis ’n boek wat alle politieke magsbeheptheid en rasseskeiding wil ophef en ’n storie wil vertel van ’n plaas waar daar nie onderskeid getref kan word tussen die boer en die werker nie. ’n Storie waar alle mense op gelyke vlak uitgelewer is aan gebeure buite hulle beheer, soos wat hulle weerloos is teen die natuur en die dikwels genadelose elemente.

Die gestrooptheid, egtheid en soort naïwiteit aan die verhaal maak van hierdie boek ’n besonderse leeservaring. Dit sê ek nie sonder voorbehoud nie. Dit pla my dikwels dat die skrywer, bykans sonder uitsondering, die verhaal op ’n eenselwige wyse vertel eerder as dat hy ons wys. Verder is baie sinne nog te lomp geformuleer en te alledaags sonder kreatiewe woordekonomiese taalgebruik. Of dit een van daardie klein boekies is wat ’n blywende indruk sal laat – daarvan is ek nie oortuig nie.