Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Op reis na Olga Kirsch

Op reis na Olga Kirsch


Egon - 2009-09-23

Toe ek vroeër vanjaar ná verskeie briefwisselings met kenners besluit het om ’n biografie oor Olga Kirsch, die alleen Joodse stem in die Afrikaanse digkuns, na te vors, het my liewe vriendin Santa op Stellenbosch my gewaarsku: “Jy dit doen dit slegs as jy hou van speurder speel.” Goeie advies.

Soos elke moderne navorser het ek my dadelik tot Google gewend, en ek was oorweldig deur die min eerder as die baie feite oor hierdie digteres, wat ná Elisabeth Eybers slegs die tweede gepubliseerde digteres in Afrikaans was. Sonder Daniel Hugo se werk sou daar eintlik niks oor haar as persoon bekend wees nie. Akademici soos Joan Hambidge, wat op LitNet oor haar geskryf het, lewer wel ’n belangrike bydrae om Kirsch in die volksbewussyn te hou, maar wie was Olga Kirsch eintlik?

Ons weet sy was Joods, grootgeword op Koppies in die Vrystaat, 1948 na Israel geëmigreer, en jare later steeds in Afrikaans gedig. Verder is daar maar min oor haar bekend.

Een van my studente se man kom ook van Koppies en ek wend my tot hom. “My oom sou Olga Kirsch geken het – ek gee jou sy adres. Hy woon nog in Johannesburg.” Ek skryf aan die oom. Hy skryf terug dat hy eintlik maar min onthou, maar as ek in Johannesburg is, kan ek kom tee drink. Iemand anders sit my in kontak met prof Stephen Gray. Hy stuur vir my ’n pak artikels met ’n kort briefie om te sê veel meer kan hy nie help nie, maar as ek in Johannesburg is, kan ek maar tee kom drink.

Deur my navorsing leer ek Olga se jonger suster ken – sy woon ’n entjie van my af in Haifa en ons raak vinnig bevriend. Ek ontmoet Olga se twee dogters en ons gesels lekker oor hulle moeder. Die familie besluit om my amptelik as biograaf te ondersteun en gee my die name van familiekennisse in Johannesburg. Ek bel hulle een vir een en elkeen sê: “Ag ek weet nie of ek veel kan help nie, maar as jy in Johannesburg is, kan jy maar ’n koppie tee kom drink.”

Vroeg op die laaste Vrydagoggend van Augustus land ek en Judy op OR Tambo-lughawe, Johannesburg. Ons LitNet-vriendin Marita ontmoet ons, laai ons in haar karretjie en haas ons deur die verkeer in Johannesburg na ons eerste afspraak: prof Stephen Gray in Killarney. Die koppie tee word middagete en vier en ’n half uur later stap ek daar uit oorweldig nie net deur sy gasvryheid en openhartigheid en die rykdom stories nie, maar ook deur die goeie advies “van ’n ou biograaf aan ’n nuwe biograaf”. In my sak is ’n getekende kopie van sy biografie oor Herman Charles Bosman. Nou lê dit langs my bed!

Die volgende oggend gaan ons vir oom Arnold kuier. Hy’t die afspraak so gereël dat ons net ’n uur sou hê, want dan moet hy gaan rugby kyk. Beide hy en sy vrou is opregte Boerejode en oorweldig ons met hulle gasvryheid – beide praat lekker Afrikaans. Op ’n stadium vra sy of ek met ’n Israeli getroud is. “Ja,” sê ek en vat Judy se hand. Sy lag verleë en wens ons alles wat mooi is toe. Voor ons loop, spreek ons af dat ons Arnold vroeg Maandagoggend sal oplaai en saamvat Koppies toe. Oor Olga self het hy min te vertel, maar oor haar gesin en die gemeenskap waarbinne sy grootgeword het, is sy herinneringe ryk.

Maandagoggend besoek ek eers ’n ou vriendin van die Kirsch-familie. Sy en haar man wag vir my en ons gesels lekker oor die Kirsch-gesin en hoe hulle en haar gesin vir baie jare goed bevriend was. Beide pa’s is jonk dood en Olga en Shiela se ma’s was goeie vriendinne van toe hulle in 1942 ontmoet het tot Shiela se moeder in die jare tagtig oorlede is. “Sy’t die oggend oudergewoonte haar koffie gemaak en voor die warm stoof gaan sit om haar koerant te lees, en daar is sy rustig dood. Eva, Olga se ma, was erg geskok – hulle het mekaar oor soveel jare ondersteun en bygestaan!” vertel Shiela my.

Ons laai vir Arnold op. Hy ry saam met my in my oulike gehuurde Nissantjie en Judy ry saam met Marita. Al die pad gesels hy en vertel Koppies-stories. Ek luister met groot ore.

In Koppies aangekom, gaan ons eers begraafplaas toe. Daar lê Sam Kirsch, Olga se pa, begrawe. In die skadu van die ou bloekombome eet ons toebroodjies – ek kan sien Arnold is diep geraak deur wat alles gebeur en het bietjie blaaskans nodig. “You’re taking me down memory lane where I haven’t been in years,” sê hy herhaaldelik.

Dan is dit tyd om oom Piet, wat ook saam met Olga op skool was, te gaan ontmoet. Hy’s ’n regte Vrystater, onopgesmuk en sonder nonsens.

“Ek onthou nie rêrig vir Olga veel nie,” sê hy. “Sy was maar net een van die meisiekinders.” Duidelik is sy rugbymaats van daai tyd helderder in sy geheue. Maar sy vrou, Anna, vertel baie stories van Sam Kirsch se winkel, sy hulpvaardigheid en goeie verhoudings met sy Christen-bure.

Die twee ou mans het mekaar jare laas gesien, alhoewel Arnold nog besigheidsbelange in Koppies het. Hulle raak nie uitgesels nie. Die meeste sinne begin met: “Onthou jy nog ...”

“Vroeër was die huurders van ons ou winkels Afrikaners; nou is die een uit Ghana, daar’s ’n Sjinees, ’n Pakistani en ’n Indiër,” vertel hy.

“Ja,” sê Anna kopskuddend, “die dinge het maar kwaai verander ...” Ek kan nie help om aan Olga se gedig “Klein donker meidjie, waarheen is die reis/ deur kaalboom winterstrate? Huis, paleis ...” te dink nie – baie, tog min, het hier in die hartland van die Vrystaat verander.

Na ’n lekker koppie koffie moet ons verder. Arnold wil nog vir ons wys waar sy familie gewoon het, en veral waar die Kirsch-gesin net buite die dorp gebly het. Ons vind nie dadelik die huis nie, maar ’n ou swart man sonder tande en met ’n erge hoes stuur ons na Dawie met die mooiste blou oë. Hy is deesdae die eienaar van die Kirsch-woning en maak dit reg vir die dag wanneer sy gesin soontoe trek. “My vrou wil net daar gaan woon!”

Die huurders wat tans in die huis woon en met eiers in die agterplaas boer, wil nie oopsluit nie, maar Dawie is gedetermineerd en breek in. ?? [ letterlik?] “Julle het ver gereis. Dis belangrik dat julle die binnekant sien. Ek is jammer ek weet nie presies in watter kamer Olga gebore is nie, so jy moet maar al die kamers afneem,” sê hy. Ons fotografeer na hartelus.

Uiteindelik, moeg en oorweldig, groet ons Arnold en Marita. Die oubaas gee ons elkeen ’n stywe omhelsing en ons weet dat die dag so emosioneel en verstommend vir hom soos vir ons was. Hulle vertrek Johannesburg toe; ons ry tot by Zoutspruit Gasteplaas buite Kroonstad, waar ons gasvrou, Rita, op ons wag.

“Ek kan julle ’n kamer met twee beddens gee,” sê sy as ons uit die motor klim.

“’n Dubbelbed sal reg wees,” verseker ek haar. Sy glimlag soet en vergesel ons na ons kamer. Dit het alles wat ons harte kan begeer – bowenal stilte. Stilte om die dag se belewenis te verwerk en vir Judy te vertaal wat sy gemis het. Rita se man bring vir ons ’n bottel Nederburg Liriek en baie ys en ons sit onder die grootste bloekomboom wat ek nog ooit gesien het en geniet die wyn. Agtuur sit ons die lig af.

Die volgende oggend na ’n heerlike ontbyt (“Ek het gedink jy sal lief wees vir krummelpap. Daar’s wors en sous, eiers, vrugte, muesli en joghurt, koffie of tee,” het Rita gesê) vertrek ons Bloemfontein toe.

By Eunice Hoërskool wag die vriendelike skoolhoof vir ons. “Hoekom die belangstelling in Olga Kirsch?” vra hy en is bietjie verbaas om te hoor dat Kirsch sekerlik een van sy skool se bekendste dogters is. Hy help ons om deur hulle argief te werk en as dank beloof ek ek stuur ’n artikel oor haar vir die skoolmuseum. Dan beduie hy aan ons hoe om by NALM (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum) uit te kom. Marlene en die ander dames daar is uiters hulpvaardig en ek kan my oë nie glo hoeveel materiaal ek daar vind nie. Weliswaar is die meeste resensies van Kirsch se agt digbundels, maar tussen-in vind ek tog bietjies biografiese inligting. “Ons pos vir jou sommer die afskrifte na Israel,” stel die vriendelike dames voor en ons is dankbaar – oorgewig is deesdae duur. Ons ry laatmiddag moeg maar tevrede uit Bloemfontein.

Judy verkyk haar aan die vlaktes van die suid-Vrystaat en is verstom oor hoe groot die Gariepdam is. Haar kameratjie werk oortyd.

Dis al donker as ons uiteindelik by die Oranjerivier Gasteplaas aankom. Bruce, ons gasheer, is verwelkomend en wys ons ons kamer. “Is dit reg so?” vra hy half bekommerd en ons sien hoe kyk hy die groot dubbelbed.

“Perfek,” sê ons tegelyk en hy glimlag soet.

Dis nie lank nie of ons is in droomland. Dit was nóg ’n interessante dag – ek leer Olga stukkie vir stukkie ken.

Die volgende oggend stap ons af tot op die oewer van die Oranjerivier. Judy is oorweldig deur die natuurskoon van hierdie deel van Suid-Afrika wat sy vir die eerste keer ontdek. Ek herontdek die prag van die uitgestrekte landskap.

By NELM (National English Literary Museum) in Grahamstad wag hulle vir ons – ons het ’n hele korrespondensie oor die afgelope maande gevoer en ons vind artikels wat nie in Bloemfontein beskikbaar was nie. Weer eens tref dit ons hoe graag mense wil sien dat daar iets oor Olga Kirsch geskryf word: sy mag nie vergeet word nie. Hierdie vrou, wat in ’n Engelse Joodse huis op die Vrystaatse platteland groot geword het, maar in Afrikaans bly skryf het, is ’n soort ikoon vir die vreemdeling binne die Afrikaanse letterkunde.

Ek gaan wys vir Judy Port Alfred en die Indiese Oseaan. Ons stap ’n lang ent in die poeierwit sand langs die see en gesels oor Olga en haar gesin, Arnold en Piet, Dawie met sy helderblou oë wat rugby afrig, die mense by die argiewe en hul hulpvaardigheid. Ons erken dat die speurwerk definitief ’n heerlike deel van ons soeke na Olga Kirsch uitmaak en dat ons so dankbaar is dat ons die geleentheid het om hierdie reis saam met sulke verstommende mense mee te maak.

Soos Olga Kirsch meermale erken het, is ook ons harte verskeur tussen twee wêrelde: die suidpunt van Afrika en die Midde-Ooste; soos sy dit beleef het, beleef ook ons dat ons in een woon en na die ander een verlang.