Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Vroeë portretstudies wat medemenslike waardigheid en respek boekstaaf

Vroeë portretstudies wat medemenslike waardigheid en respek boekstaaf


2009-07-08

Amanda Botha

Die portretkuns is diep gewortel in die wêreld- en Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis. Die versoeking van ‘n kunstenaar om ‘n beeld van hom- of haarself vas te lê om iets van ‘n bepaalde tyd en ervaring te verbeeld is dikwels aanloklik. Soos Rembrandt en Picasso dikwels gemoeid was met die verkenning van die self, so is daar in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis ook kunstenaars wat hulle herhaaldelik met selfportrette bemoei het om verskillende stadia van hulle lewens te verken en te verbeeld. Onder diegene wat reekse selfportrette daargestel het, tel Gregoire Boonzaier en Marjorie Wallace.

In die volgende twee artikels word spesifiek gekyk na portrette en selfportrette van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat in die Sanlam Kunsversameling opgeneem is.

Die woord portret het in kuns ‘n meerduidige betekenis. Die Oxford English Dictionary het dalk die mees omskrywende verklaring, waarin die portretkuns gelyk gestel word met “‘n ewebeeld” of “afbeelding” van die gesig van ‘n persoon. Dit word van die persoon gemaak deur ‘n tekening, ‘n skilderwerk, ‘n foto, ‘n gravering of ‘n beeldhouwerk. ‘n Ander semantiese verkenning van die term rondom die idee van ‘n ewebeeld lê in die Italiaanse woord vir portret, naamlik ritratto, van die werkwoord ritrarre afgelei, wat beteken "om af te beeld” en ook "om ’n nabootsing te maak” of "om te reproduseer”.

Hierdie eenvoudige verklaring onderskryf die wese van die portretkuns. Maar dit is ook veel meer kompleks. Die afbeeldings word kunswerke wat ten nouste betrek word by die begrip identiteit soos dit waargeneem, uitgebeeld en verstaan word in bepaalde tydvakke van ons geskiedenis.

Identiteit is die merker vir karakter, persoonlikheid, sosiale status, verhoudinge, professionele aansien en gender. Die interpretasie van hierdie kwaliteite wissel na gelang van omstandighede van die tyd en plek waar so ‘n portret gemaak is. Hierdie aspekte van identiteit kan egter nie per se in die kunswerk vasgevang word nie. Dit kan bloot maar gesuggereer word. Hoewel die portret ‘n uitbeelding van ‘n individu is, is dit dikwels ook nie die individuele of die unieke wat beklemtoon word nie. Die voorkeur van die kunstenaar is eerder om op die tipiese of konvensionele kwaliteite te fokus.

Vir die produksie van ‘n portret is dit nodig dat die persoon verkieslik teenwoordig moet wees. Die vertrekpunt is om ‘n afbeelding van die persoon te maak. (Kommissies waar portret aangevra word op grond van foto’s, veral as die persoon reeds oorlede is, kom nie hier ter sprake nie.) Die portretkuns word onderskei van ander kunskategorieë soos geskiedenis, landskap en stillewe juis oor die voorvereiste dat die onderwerp ‘n afbeelding van ‘n spesifieke persoon is. Alle portrette het, selfs as dit poog om realisties te wees, steeds ‘n verwronge, ideale of gedeeltelik visie van die persoon, al word daar weens die term verwag dat die eindresultaat ten minste ‘n ewebeeld van die persoon sal wees. Die beoefening daarvan in vorm en funksie is divers en boonop word dit in verskillende media beoefen wat elkeen bepaalde tegniese eise aan die produksie daarvan stel.

Alle portrette kom tot stand na ‘n reeks onderhandelinge tussen die kunstenaar en die persoon, wat ook ‘n impak op die benadering tot die werk kan hê. Ook het alle portrette minstebns twee aspekte gemeen: die voorstelling staan tussen ‘n bepaalde uitbeelding van die persoon wat eie aan hom is en sekere algemene trekke wat ingewerk word wat iets aantoon van die plek, tyd en status van die persoon, en daar word gestreef om ‘n ewewig te skep tussen die fisieke trekke en ‘n poging om iets van die innerlike manifestasie van die persoon aan die bod te bring. Die portret moet in wese meer weergee as bloot ‘n uiterlike kopiëring van die persoon se voorkoms. Dit is ook nodig dat die verbeelding en die blik van die kunstenaar in die werk neerslag moet vind.

Die funksie van ‘n portret kan wissel, veral as dit ‘n openbare figuur is wat verbeeld word. ‘n Boeiende benadering is om na die portret as ‘n biografie te kyk. Die wyse waarop die persoon verbeeld word, word meer as net die fisieke representasie. Die portret is ook ‘n belangrike dokument van ‘n persoon, veral waar meer as net ‘n kop-en-skouers-weergawe ter sprake is. Wanneer ‘n portret bloot as ‘n dokument benader word, kan die outentisiteit van die persoon ook ter sprake kom as te veel klem geplaas word op uiterlike faktore soos die omgewing waarin die persoon geplaas word, die klere wat gedra word of wat in die persoon se hand vasgehou word.

 
Magdalena Maria (Maggie) Laubser (1886–1973), Ou Rosa, 1924, olie op karton

‘n Besonder boeiende portretstudie is Maggie Laubser (1886–1973) se werk getiteld Ou Rosa [1], 1924. Dit is ‘n studie van ‘n kleurlingvrou, waarskynlik ‘n plaaswerker, wat vir Laubser gesit het. Sy kyk effens regs en haar mooi donker gelaatstrekke en netjiese haarstyl suggereer ‘n waardigheid wat dadelik tref. Sy word nie as ‘n kuriositeit of as ’n "inboorling” binne die tradisie van die koloniale periode benader nie, maar wel as ‘n ewemens. Haar eenvoudige rooi rok kontrasteer sterk met haar donker gelaatstrekke en die blou agtergrond waarteen sy geplaas is. Die werk staan buite die Ekspressionistiese benadering van die eksotiese of andersheid; die kunstenaar verbeeld ‘n deernis en respek wat sy teenoor die persoon voel. Die werk deurstraal ‘n gevoel van verwondering wat die kunstenaar met haar onderwerp voel. Hier is sprake van ‘n representasie, gekleur deur die blik van die kunstenaar en ‘n gevoel van integriteit wat uit die vrou straal. Hier is ook die gevoel van biografie – ‘n kykie verby die representasie na die lewe van die spesifieke vrou. Vir die kyker is daar ‘n gevoel van ‘n ontmoeting met Rosa. Dit is ‘n blik wat joune ontmoet.

Laubser het haar ná haar terugkeer uit Europa in die twintigerjare van die vorige eeu op haar familieplaas Oortmanspoort, naby Klipheuwel in die distrik Malmesbury in die Swartland, gevestig. Hier het sy ‘n groot aantal opwindende portrette van veral die bruin plaasgemeenskap geskilder. Haar benadering tot hierdie mense was humanitêr – sy het in hulle haar eie verlange en behoeftes aangevoel en hulle as medemense hanteer. Daar is altyd sprake van ‘n waardigheid in haar portretstudies – ‘n gevoel van respek aan die kant van die kunstenaar teenoor die persoon voor haar.

In haar kleurgebruik het sy steeds gehou by die koel bruin en donkergroen kleure wat aanklank by die Ekspressionisme gevind het, maar geleidelik haar eie palet van primêre kleure deel van haar komposisies gemaak. In Ou Rosa is dit interessant om te let op die vlakke van haar gelaat en hoe haar nek gejukstaponeer word om aansluiting by die liniêre kurwes van haar hare, wenkbroue, skouer- en halslyn te vind. Die ligte skaduvlekke aan die linkerkant van haar gesig gee ‘n gevoel van die geometriese vorme waarop die komposisie berus.

Haar Oortmanspoort-portretstudies, veral van Ou Booi, ‘n honderdjarige Boesman, is welbekend. Lank nadat sy die plaas verlaat het, kon sy nou uit haar geheue hierdie persoonlikhede oproep in ander werk. Hierdie periode verteenwoordig ‘n hoogtepunt in Laubser se werk wat selde later herroep is.

Dit is nodig om uit ‘n sosiologiese oogpunt ‘n enkele opmerking oor die titel met die verwysing van “ou” Rosa te maak. Binne die maatskaplike kader van die tyd is ou nie ‘n verwysing na ouderdom nie, maar ‘n familiêre beklemtoning van die verbintenis met die persoon. Ou binne die Afrikaanse plaasmilieu verteenwoordig ‘n vorm van deernis teenoor die persoon.

Ernst Karl (Erich) Mayer (1876–1960), Portrait of a Warrior Prince, 1925, olie op bord

‘n Portret van besondere kultuurhistoriese betekenis is Erich Mayer (1876–1991) se portret getiteld Portrait of a Warrior Prince [2] , 1925. Die Duitsgebore kunstenaar het in 1898 na Suid-Afrika gekom en het, anders as sy tydgenote, homself nooit as ‘n buitestander geag nie, maar hom intens vereenselwig met sy nuwe vaderland. Hy het hom tydens die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boere geskaar en was ‘n krygsgevangene op St Helena. Hy kon daarna nie na Suid-Afrika terugkeer nie en het eers ‘n aantal jare in die destydse Duits-Suidwes (vandag Namibië) gewoon.

Nadat hy in 1911 na Pretoria teruggekeer het, het hy verskeie portretstudies van Boerekrygers gemaak. Sy werk kenmerk ‘n realistiese benadering waarin hy ‘n uitbeelding van die persoon aanbied, maar tog is daar ook ‘n gevoel van eerbied waarmee hy ook poog om iets van die innerlike lewe van die prins weer te gee.

Rondom 1921 het hy geleentheid gehad om veral ook portretstudies van swart mense, hoofsaaklik Zoeloes, te maak. Sy portret van die Zoeloe-prins is ‘n sy-aansig en beeld iets van die innerlike en fisieke krag van die persoon uit. In die uitbeelding is daar ‘n statigheid wat ook kennis gee van die status van die prins. Soos met Laubser se studie van Rosa word die prins met waardigheid verbeeld.

Die boeiende komposisie waar die prins sentraal geplaas word maar die vlakke in die agtergrond as ‘t ware breek om die figuur sentraal te stel, beeld ‘n innerlike krag, maar ook ‘n menslikheid uit wat uit die skilder se hoek van respek getuig.

Soos Laubser na Wes-Kaapse bruin plaaswerkers as haar modelle uitgereik het, het Mayer, benewens sy studies van Afrikaners aan die Rand, ook mynwerkers as modelle gebruik. By albei is daar – byna teen die gees van die tyd – ‘n uitreiking van respek en deernis na die modelle wat sosiologies in ‘n meer kwesbare posisie as hulle was.

Van besondere betekenis – en waarde – is die twee portretstudies in die twintigerjare wat ‘n respek en deernis vir die ander aandui, ver verwyderd van die koloniale konsep van die eksotiese inboorling. En tog is dit uiteindelik die boeiende van portretstudies. Dit word nooit ‘n volledige beeld van die persoon nie. Die kunswerk fiksionaliseer ook die onderwerp sodat dit in die omvattende spel van die biografie en literêre kunswerk tegelyk onthul en verhul. Daar is maskers ter sprake – ‘n volle blootstelling kan dit nie wees nie. In hierdie twee werke gaan dit ook oor die misterie van die twee persone – mense wie se geskiedenis nie bekend is nie, maar wie se beeltenis deel van die breër Suid-Afrikaanse kunslewe is.

In ‘n volgende aflewering word spesifiek gekyk na ‘n aantal selfportrette van Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Bibliografie

Alexander, FL. Erich Mayer. Standpunte, Jaargang XIV, Nr 2, Desember 1960.

Kanz, Roland en Norbert Wolf. Portraits. Taschen, Köln, 2008.

Van Rooyen, Johan. Maggie Laubser. C Struik Uitgewers, Kaapstad, 1974.

West, Shearer. Portraiture. Oxford History of Art Series. Oxford University Press, 2004.

Afbeeldings

1 Magdalena Maria (Maggie) Laubser (1886–1973), Ou Rosa, 1924, olie op karton.

2 Ernst Karl (Erich) Mayer (1876–1960), Portrait of a Warrior Prince, 1925, olie op bord.

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<