Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Chris Lamprecht se nuwe kunslied-siklus uitgevoer

Chris Lamprecht se nuwe kunslied-siklus uitgevoer


Johann P Boshoff - 2009-07-01

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesviering in Bloemfontein het op 24 Junie ‘n kunslied-etenskonsert in die Odeion ingesluit.

Tydens dié konsert, Jong stemme, het mezzosopraan Leana Lötter en sopraan Marguerite Roos voordragte gelewer van liedsiklusse deur komponiste Arnold van Wyk, Chris Lamprecht en Pieter de Villiers. Lesley Ann Mathews het hulle op die klavier begelei.

Marguerite Roos (sopraan), Chris Lamprecht (komponis), Leana Lötter (mezzosopraan), Lesley Ann Mathews (pianis)


Chris Lamprecht het spesiaal hierdie eerste uitvoering van sy siklus Na-trossies bygewoon. Dit is bekwaam voorgedra deur Lötter en Mathews.

Al vorm Na-trossies in die begeleiding ‘n musikale eenheid, is dit moeilik om in die tekskeuse eenheidsoeking te bespeur. Daar moet egter dadelik gesê word dat Lamprecht hom met sy toonsetting van NP Van Wyk Louw se bekende sonnet “Vroegherfs” opnuut onderskei as een van Suid-Afrika se beste kunsliedkomponiste. Lötter het dié lied met groot onderskeiding, knap diksie en frasering, en uitmuntende stembeheer gesing.

Chris Lamprecht se hele Aan die Noordweste-siklus was waarskynlik dié hoogtepunt van die konsert en is lieflik voorgedra deur Lötter.

Marguerite Roos het verder ‘n besonder fyn vertolking van die tegnies moeilike dog speelse “In my linkerhand het ek twee plankies wat kliek” uit Pieter de Villiers se Môrester en Plankiemesiek gelewer. Die komponis gebruik die klop van die pianis se hand teen die klavier vindingryk om die “kliek” van die plankies te suggereer. Roos het haar verder onderskei in haar sensitiewe voordrag van “Koud is die windjie” uit Arnold van Wyk se Vier weemoedige liedjies.

Lesley Ann Mathews, die begeleier, verdien ‘n pluimpie vir haar tegniese beheersing en vertolking. Dit het die samespel tussen sanger en pianis naatloos laat versmelt.

Die ongelukkig selde gehoorde Afrikaanse kunslied neem ook met dié siklusse sy regmatige plek in die wêreld se Lieder-skat in.

Foto: Johann P Boshoff