Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Landskapskuns : terrein van menslike interaksie met die land

Landskapskuns : terrein van menslike interaksie met die land


Amanda Botha - 2009-05-22

Die konsep landskap vra ook na ’n besinning oor die verhouding tussen die mens en die natuurlike omgewing waarin hy hom bevind. In ’n landskapskildery is daar ook sprake van die uitbeelding van dié verhouding. Kortom: dit handel oor hoe die landskap die kunstenaar se belewenis van sy omgewing vertolk.

Baie verskillende vorme van landskapskuns is oor die afgelope 500 jaar geskep. Dit sluit water- en olieverfskilderye, fotografie, landskuns en -installasies, tuinontwerp, argitektuur en kartografie in. Binne die skilderkuns is dit nodig om stil te staan by verskillende sleuteltemas in landskapskuns, soos die landskap as kulturele konstruksie, topografie, landskap en politiek, en die verskillende vorme waarin die landskap deur die kunstenaar geraam word. Laasgenoemde begrip handel oor die keuse van die kunstenaar om uit ’n landskap ’n spesifieke segment te kies en dit as onderwerp te verken en uit te brei.

In die werk van die drie kunstenaars wat in hierdie artikel bespreek word na aanleiding van voorbeelde van hul werk in die Sanlam-kunsversameling, word spesifiek gekyk na die landskap as ’n konstruksie of ’n teater waarin mense in die vertolking van die kunstenaar op bepaalde maniere optree.

Die skep van ’n landskapskildery is onafskeidbaar van die geskiedenis van die moment of tyd waarin dit geskep word. Dit erken dus ook die intens persoonlike ervarings wat dit gemotiveer het. Hierdie persoonlike ervaring word gefilter deur die kunstenaar en word ’n kunswerk wanneer die fisiese “land” in die uitbeelding van verf en kwas getransformeer word tot wat as “landskapskuns” verstaan word.

Na aanleiding van ’n opmerking van die Britse kunshistorikus Karen Knorr dat “viewers tend to devour images without digesting them”, is dit dalk nodig om kortliks stil te staan by die noodsaaklike vrae rondom landskapuitbeeldings, soos wat dit eintlik beteken om ’n landskapskildery te skep en wat die “landskap” in hierdie konteks sou beteken.

Meer as ’n halfeeu gelede het Kenneth Clark se seminale werk oor landskapkuns verskyn onder die titel Landscape into Art. Die titel veronderstel reeds ’n verhouding tussen die twee substantiewe. Landskap beteken ’n uitsig op ’n deel van ’n geografiese landskap, terwyl kuns impliseer wat gebeur as die landskap deur ’n bepaalde blik van ’n kunstenaar en sy tegniese vaardigheid en insig in ’n skildery omskep word. In Clark se siening was die landskap die grondstof wat deur die kunstenaar geprosesseer word tot ’n objek.

Is dit nie dalk so dat die “land” eerder as die “landskap” die grondstof is wat deur die kunstenaar geprosesseer word nie? Deur ’n waarnemingsproses word die “land” na ’n “landskap” omvorm waardeur die kunstenaar uitdrukking aan sy persepsie of visie gee. Die proses is dus tweevoudig: land na landskap; landskap na kuns.

Die konserwatiewe benadering dat die uitsig op ’n landskap slegs vir die genot is, kan as naïef beskou word. Dit kom op ’n illusie neer. Die landskap verteenwoordig ook die interaksie van die mens daarin. EH Gombrich se baanbrekerstudie, Art and Illusion (1960) bied hierdie omskrywing aan: “The innocent eye is a myth … All thinking is sorting, classifying. All perceiving relates to expectations and therefore to comparisons.”

Gombrich ondersteun die gedagte dat ons kultureel-voorafvervaardigde “mental templates” met ons dra en dat wat ons na kyk, ons bloot vanuit hierdie “mental templates” interpreteer. In hierdie geval word die landskap dan vir die kyker ’n geselekteerde siening, geredigeer en aangepas volgens sekere konvensionele idees oor wat inderdaad ’n “goeie uitsig” (op die landskap) sou suggereer. Die land word dan landskap wanneer dit georganiseer en verklein word tot ’n punt waar die menslike oog dit kan waarneem in sy breedte en diepte binne ’n enkele raam.

In die werk van Walter Meyer (1965–) getiteld From the East (2001), van Lizo Manzi (1964–) getiteld Civil War is a Disgrace (1998), en van Ricky Dyaloyi (1974–) Ongetiteld (2004) word die grense verskuif van die tradisionele siening van  landskap. Hier word die landskap geïnterpreteer in ’n bepaalde tydsgreep om aan die konsep land betekenis te gee. Hier besin die landskapuitbeelding oor die kunstenaars se belewing van die land – Suid-Afrika in die besonder in ’n bepaalde tydvak van ons geskiedenis.

Die swart Suid-Afrikaanse kunstenaar bevind hom dikwels in twee wêrelde, twee tradisies en twee erfenisse. Dit bied hom die geleentheid om die beste van albei te kies en om daaruit ’n heel unieke kunsskepping voort te bring. Wat herhaaldelik al bewys is, is dat die beste swart Suid-Afrikaanse kunstenaars nie navolgers is nie, maar innoveerders. Hulle skep ’n unieke energie in hul werk. Dit kan meebring dat hulle werk nie onmiddellik hul eie verlede, tradisies of erfenis aanspreek nie, maar onomstootlik in hul eie realiteit staan. Hulle reageer op hulle eie ervarings, eie gevoelens en eie idees. Dit bring ’n nuwe blik op die kunsinterpretasie van die landskap en ander genres.

In sy baanbrekerswerk Images of Man (1992) wys EJ de Jager daarop dat swart kuns van die 20ste eeu hoofsaaklik die mens en sy aktiwiteit as fokus gehad het. In hierdie uitbeeldings word ’n wye verskeidenheid emosies verbeeld en word die skilderye ’n “boodskap” wat die posisie en die gevoelens van die kunstenaar konstateer.

Hy stel dit so: "To many of them life was their only teacher, and their art indicates that they are intensely committed to the partaking and observing of life. Basic to Black art, then, is a fundamental humanism” (De Jager se kursivering).

Fundamenteel probeer die swart Suid-Afrikaanse kunstenaar sy ervaring en sienswyses in ’n objektiewe estetiese taal oordra.

Dit is wat gesê kan word van Manzi en Dyaloyi. Albei kunstenaars – Manzi afkomstig van Oos-Londen, en Dyaloyi uit die Kaapse township Khayelitsha – het hul aanvanklike kunsopleiding by sentrums ontvang wat in die laat sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu spesifiek opgerig is om skoling aan swart kunstenaars te bied. In hierdie kunssentra is kunstenaars bemagtig om ’n spesifieke rol in hul sosiopolitieke en “people”-struggle te speel. Van hulle word verwag om ’n assertiewe rol te speel en ’n bewussyn word geskep om kuns as instrument van kommunikasie binne ’n bepaalde sosiopolitieke milieu te vertolk. Hulle werk is direk in reaksie op die ervaring van die onderdrukte massas in hoofsaaklik die townships. In hierdie uitbeeldings is die verlange en strewe na ’n bevryde samelewing en beter omstandighede vir hul mense ’n sterk onderliggende motief.

Oor Manzi is daar beperkte literatuur, maar wat hom veral as kunstenaar met ’n baie pertinente stem gevestig het, is sy werk Civil War is a Disgrace (1998) [1]. In hierdie werk, olieverf op doek, is die titel van sy werk reeds die “plakkaatopskrif” van wat hy wil sê. Die werk rig hom op die swart gemeenskap en hier word ’n aanklag gemaak teen swart op swart geweld. Hierdie werk, wat ’n toneel uitbeeld in ’n kraalomgewing in die Oos-Kaap, wat volgens koerantberigte van die tyd dui op onderlinge stamverwante geweld waar broer teen broer veg rondom politieke kwessies, spreek Manzi met die werk sy sterkste afkeuring uit. Die woord War op sy skildery tap as ‘t ware bloed af wat die bloedvergieting as skandvlek beskryf – ’n aanstootlike, onnodige vergryp tussen mense wat mekaar onderling eerder moet vind.

Op die geweldtoneel is die polisievangwa aanwesig, maar dit dui nie op sigself op handeling van die polisie nie, eerder op die handeling van mense in die kraal wat aan die brand gesteek is. Die menslike teenwoordigheid is beperk tot enkele ongedefinieerde figuurtjies, terwyl die verwildering in die beeskraal pertinent die aandag trek. Manzi plaas die gegewe in ’n landskap en hy lewer kommentaar oor die optrede van mense op die land. Hier is ’n greep wat ook gesien kan word as ’n verkragting van die land/landskap. Die “slagspreuk” op sy skildery spreek sy diepste afkeuring uit. Wat hier gebeur, kan hy net veroordeel.

Dyaloyi se werk Untitled (2004) [2], olieverf op doek, dui op ’n Kaapse township met ’n blik op Tafelberg op die onderste paneel van die skildery. Dit is waarskynlik Khayelitsha, die geboorteplek en tuiste van die kunstenaar. Die wolke skep ’n andersoortige toneel wat in ’n mate die komposisie oorheers. Duidelik sigbaar in die landskap van wolke is ’n kettingwinkeltrollie met kartonne en ander afval wat ’n manspersoon stoot – terug vanuit die stad na die township. Dit lewer ’n snydende kommentaar op wat die afval van die stad en sy voorstede is: die handelskommoditeit van die verarmde swart man. Die skildery suggereer ’n uitsigloosheid, ’n onveranderlike in die posisie van die swart man. Hy leef op afval/rommel, en die “landskap” van Kaap die Goeie Hoop, wat in soveel liriese afbeeldinge in beide skilderye en foto’s besing en bewonder word, is vir hom uitgesluit. Sy sig is op die rommel – nie op die majestueuse berg en die visuele ervaring daarvan nie.

Dyaloyi het as jong seun reeds kunsklasse ná skool bygewoon. Hoewel hy as een van die belowendste skilders van ’n jonger generasie gesien word, bly hy steeds in die township. Hy is gemoeid met die lewe hier, die onveranderlike, en deel ook die hoop op verandering soos dit die inwoners hier tref. Hy voel hom ook ingetrek in ’n soort ritueel wat hom daagliks in die township afspeel. Hy het ná die 1994-verkiesing op die voorgrond getree en het in ’n vroeëre onderhoud gesê dat hy in sy werk “… the black people’s living existence” wil deurgee, ’n begrip wil probeer skep vir daaglikse lewe van mense in die township.

Hy werk hoofsaaklik in gemengde media en is gemoeid met die spel tussen kleur en tekstuur. Hy is intens gemoeid, sê hy, met die instrumente van kunsmaak en met patrone en tekens wat vir hom simboliese waarde het.

Sy temas is die lewe waarin hy hom daagliks bevind, en deur sy werk poog hy om kommentaar te lewer op aspekte soos armoede, industrialisasie, verstedeliking en middelklas waardes. In sy woorde: "I work figuratively to illustrate messages and historical events.”

Wat hom as kunstenaar boei, is die aanpassings wat geverg word van tradisionele plattelandse swart mense wat deur sosio-ekonomiese omstandighede gedwing word om te verstedelik. Hulle tradisionele waardes val in onbruik en raak oorbodig. Dit skep verwarring en onsekerheid. In die plek daarvan moet nuwe oorlewingsmetodes gevind word. Dit, sê Dyaloyi, is wat hy in sy werk probeer uitbeeld.

In die landskapuitbeelding van Walter Meyer, From the East [3], werk Meyer binne ’n bepaalde begrip van realisme. Op hierdie pad met die vragmotor word die handeling van die vragmotor wat op die uitgestrekte pad ry (waarskynlik êrens in die Noord-Kaap), deel van die uitbeelding van ’n nostalgiese landskap, dikwels soos mense dit in hulle geheue sou terugspeel. Meyer gebruik hier die handeling – die vragmotor op pad – om te fokus op die drama van sy landskap. Hy gebruik skerp kontrasterende beelde en kleure en die enkele boom links op die gesigseinder gee iets van die weemoed van die landskap weer.

Meyer is al as ’n "alternatiewe" landskapskilder beskryf – iemand wat die landskap buite die tradisionele idioom van ’n uitsig op ’n idilliese omgewing aan die bod stel. Kyk ’n mens na sy die vragmotor en hoe dit van die gesigseinder na die voorgrond beweeg, is dit gevoel in oomblikke wat hier vasgevang word. Dit is juis die kenmerk van Meyer op sy beste – die vasvang van ’n “verlore” moment, wat ook die kyker in ’n gevoelsmoment van verlange en nostalgie kan vashou. Iets van hierdie ouwêreldse blik is helaas nie meer vir die stedeling beskikbaar nie. In Meyer se landskappe ontneem hy die kyker van enige romantiese blik – hy konsentreer eerder op die ordinêre, en selfs ’n banaliteit, in sy aanbieding.

Meyer wat in Upington woon, is ’n oudstudent van die landskapskilder Nico Roos. Hy het in die tagtigerjare aan die Staatliche Kunstakademie in Düsseldorf studeer, waar sy opleiding in die neo-ekspressionisme en konsepsie- en installasiekuns was.

 

Bibliografie

Andrews, Malcolm. 1999. Landscape and Western Art. Oxford History of Art. Oxford: Oxford University Press.

Botha, Amanda. 2007. Persoonlike onderhoude met Walter Meyer.

Clark, Kenneth. 1949. Landscape into Art. Londen: John Murray.

De Jager, EJ. 1992. Images of man. Contemporary South African black art and artists. Fort Hare: Fort Hare University Press.

Gombrich, EH. 1960. Art and Illusion. Londen: Phaidom Press.

Knorr, Karen. 1991. Marks of Distinction. Thames & Hudson.

Mediavrystelling. 2004. About Ricky Dyaloyi. Johannesburg: Everard Read.

 

Afbeeldings

1. Lizo Manzi, (1964–), Civil War is a Disgrace, 1998, olie op bord, 470 x 665 mm, Sanlam Kunsversameling, 1998/2

2. Ricky Dyaloyi, (1974–), Untitled, 2004, olie op seildoek, 1300 x 1000 mm, Sanlam Kunsversameling, 2004/9

3. Carl Walter Meyer (1965–), From the East, 2001, olie op seildoek, 495 x 645 mm, Sanlam Kunsversameling, 2001/39

 

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<